Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 76

11 Maart

Оглавление

Wie is U, Here?

Hy het op die grond neergeval en ’n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” “Wie is U, Here?” vra hy toe. “Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dit is vir My wat jy vervolg.” Handelinge 9:4–5

Hierdie merkwaardige keerpunt in die lewe van ’n jong, godsdienstige fanatikus is een van die treffendste voorbeelde van hoe God in mense se lewens ingryp. Daar is dié kere waar mense op grond van omstandighede of ’n innerlike drang tot inkeer en besinning kom. Maar dan is daar dié kere wat God op ’n wonderbaarlike manier ingryp om iemand se lewe radikaal te verander. Saulus van Tarsis was so iemand.

Saulus het hom daarvoor beywer om die Christelike kerk wortel en tak uit te roei. Hy was ’n tradisievaste Jood wat geglo het dat die Messias nog moet kom. Hierdie nuwe sekte het ’n heel ander storie verkondig en was ’n bedreiging vir die gevestigde tradisie. En hoe het hy nie met drif en geweld sy taak uitgevoer nie! Tot op ’n dag toe hy onderweg na Damaskus was om met die Christene daar te gaan klaarspeel.

’n Verblindende lig uit die hemel het op hom gestraal. Toe hoor hy die stem wat vir hom vra: “Waarom vervolg jy My?” waarop Saul antwoord: Wie is U, Here?

Die jong Saul het gereken dat hy besig is om vir God ’n guns te bewys deur die Christene uit te roei. Toe moes hy uitvind dat hy inderwaarheid besig was om vir God self te vervolg. Want op sy vraag kom die antwoord: Ek is Jesus. Dit is vir My wat jy vervolg.

Dit was die keerpunt in Saul se lewe. Op daardie onvergeetlike dag is Paulus, die kampvegter vir die Christendom, gebore. Wanneer God se lig ’n mens se lewe bestraal, gebeur daar wonders. Onversetlike teenstanders word geesdriftige kampvegters.

Dankie, Here, dat U van die felste teenstanders geesdriftige medewerkers kan maak. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх