Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 67
2 Maart
ОглавлениеDie vaderhuis
Toe kom hy tot inkeer en sê: “My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger.” Lukas 15:17
Die gevaar bestaan dat ’n mens die gelykenis van die verlore seun kan oorvereenvoudig. Dit word ’n verhoogstuk waar jy maar net ’n toeskouer is. Jy is verstom oor so ’n arrogante klein nikswerd wat sy pa se goeie bedoelings vertrap. Jy gril behoorlik wanneer hy hom met prostitute en drinkebroers ophou. En miskien verlekker jy jou oor sy uiteindelike lot wanneer hy tussen die varke beland. Dit bly ’n ander man se storie. En dan het die storie vir jou heeltemal betekenisloos geraak. Die storie kry eers waarde wanneer jy een van die karakters word. En wanneer jy ontdek dat die vaderhuis en die ver land een en dieselfde plek kan wees, en om die waarheid te sê, meesal dan ook so is.
In die storie gaan dit oor ’n innerlike ingesteldheid en die wyse waarop dit in verhoudings uitdrukking vind. ’n Mens kan binne die veilige grense van die vaderhuis ’n verlore kind wees. As jy met selfsugtige verwagtinge leef, gedurig soek na bevrediging van natuurlike drange, niks vir die mense naaste aan jou omgee nie – dan is jy klaar in ’n ver land. Dit gaan dus nie oor die regte plek nie, maar oor die regte gesindheid. En ten diepste gaan dit oor liefde vir die vader en nie oor die vader se bankrekening nie.
Daar is so baie kerkmense wat lank nie meer tuis voel in die vaderhuis nie. Nog steeds kerkgangers, maar lankal uit pas met hulle Hemelse Vader. Prostitute is waarskynlik nie hulle probleem nie, maar ’n gebrek aan ’n innige gemeenskap met die Vader.
Hemelse Vader, bring my tog op koers as my gedagtes en dade na ver lande begin afwyk. Amen.