Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 66

1 Maart

Оглавление

Praat met jouself

Toe kom hy tot inkeer en sê: “My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger.” Lukas 15:17

Die woord wat die begin van die proses van bekering die beste beskryf is “inkeer”. Jy moet eers tot inkeer kom voordat jy tot bekering kom. Inkeer is ’n gesprek met jouself. Jy kry duidelikheid oor jou lewe. En dan neem jy ’n besluit met die oog op die toekoms.

In die verhaal van die verlore seun vind die inkeer plaas wanneer hy te midde van sy ellendige toestand na sy vader se huis begin terugverlang. Die verhaal van die verlore seun teken vir ons in hooftrekke die verloop van sake wanneer ’n verbondskind koers verloor. Hierdie kind was aanvanklik deel van die vaderhuis waar hy al die voorregte van die vaderhuis geniet het. Toe die dwaling: ’n keuse weg van die vader vir die plesier van ’n ongebonde leefstyl. Toe breek die krisistyd aan: ’n glinsterlewe hou nie te lank nie. Dit stuur op broodsgebrek af. En dán: die inkeer …

Hierdie eenvoudige verhaal word op duisende maniere in mense se lewens gerealiseer. Die manier waarop die dwaling plaasvind, die soort van krisis wat mense tot inkeer dwing, is verskillend. Maar die belangrike feit is dat daar ’n oomblik aanbreek waar jy bewustelik tot besinning kom. Bestek neem. Wat maak ek hier? Is ek gelukkig? En dan die terugdink aan dit wat ek prysgegee het. Het ek dalk in Jeremia se woorde ’n waterbron verruil vir gebarste reënbakke?

En so, al pratende met homself, ontdek die wegloopkind sy diepste nood. Praat gerus ’n slag met jouself. Is jy iewers ver van die huis?

Here, miskien is ek wel in die huis, maar tog nie naby genoeg aan die Vader nie? Gee vir my helderheid oor myself. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх