Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 81
16 Maart
ОглавлениеDie wagtende vader
En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan. Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom. Lukas 15:20
Miskien moet die verhaal van die verlore seun ’n uitgebreide opskrif kry: Die verlore seun en die wagtende vader. Die hoogtepunt van die verhaal word tog eers bereik toe vader en seun mekaar ontmoet.
Die pa van die verhaaltjie was ’n besondere mens. Selfs nadat die seun op so ’n robuuste manier sy erfporsie opgeëis het en terstond die huis verlaat het, het die pa nie moed opgegee nie. Hy het die kind liefgehad. En daarom het hy gewag. Ook nie tevergeefs nie, want op ’n dag was daar op die gesigseinder ’n figuur wat naderkom … Die pa was oorstelp van vreugde. Hy het die arme, verflenterde, afgetakelde kind so innig jammer gekry. Sy heel eerste reaksie was blydskap. Hy hardloop nader, omhels en soen sy kind. En toe die seun met sy voorbereide toesprakie van skulderkenning vorendag kom, val sy pa hom in die rede. Hy beveel die werksmense om gou te maak en vir die man klere en skoene en ’n ring te bring. Die kind word eervol terug verwelkom, want, so sê die pa: Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore en ek het hom teruggekry (vers 24).
Die wagtende pa. Groter liefde kan ’n mens nie kry nie. Dit is die beloning van inkeer en bekering, nie die klere en skoene en vetgemaakte kalf nie, maar ’n pa wat glimlag.
En so is dit met God. Hy is die wagtende Pa. Hy dwing niemand terug nie. Maar Hy wag dat mense sal terugkom. Want Hy het hulle lief. En watter fees is dit nie wanneer Pa en kind mekaar kan omhels nie!
Here, dankie dat U ook vir my met ’n glimlag omhels het. Amen.