Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 73

8 Maart

Оглавление

In God se teenwoordigheid

Die serafs het mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.” Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore!” Jesaja 6:3, 5

Een van die redes waarom ons oor sonde so ligtelik dink, is dat ons vir God net nie ernstig genoeg opneem nie. In die Bybel hoor ons male sonder tal dat God sonde haat, maar ons skuil gerieflik agter God se genade en ontferming en gaan maar lustig voort met sondige praktyke. Mense gaan selfs so ver as om te beweer dat daar ’n verskil tussen die God van die Ou Testament en die God van die Nuwe Testament is – die een is ’n kwaai veroordelende God, terwyl die ander ’n genadige en liefdevolle God is. En hoe ver van die waarheid is dié bewering tog nie!

Die feit is dat God heilig is en met sonde nooit, maar nooit vrede sal maak nie. Jesaja besef dit terdeë toe hy in ’n hemelse gesig iets van God se heiligheid ervaar. Hoe nader ’n mens aan God beweeg, hoe dieper kom jy onder die indruk van sy almag en heiligheid, en hoe sterker is die besef van jou eie onreinheid. In God se teenwoordigheid ontdek jy die behoefte om deur Hom aangeraak en gereinig te word.

Moet ons nie met groter ontsag in God se teenwoordigheid te staan kom nie? Moet ons nie weer opnuut ’n besef kry van God se heiligheid nie? En moet ons nie opnuut weer besef dat sonde nooit vir God aanvaarbaar kan wees nie? Hy het immers so ernstig daaroor gedink dat Hy my en jou sonde aan sy eie Seun gestraf het – nie sodat ons maar rustig met sonde kan voortgaan nie, maar sodat ons telkens weer deur die kruis tot orde geroep kan word.

Here, leer my om oor sonde te dink soos U daaroor dink. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх