Читать книгу 21+ - Группа авторов - Страница 10
Gondel-deuntjie
ОглавлениеIn brons piazza San Marco glimlag ’n vrou teen die duiwe wat afsneeu uit die katedraal se somer-koepels. Haar plomp arms strooi saad en krummels, en roer die aardbolle wat haar grootse liggaam bedek met die see en land van Afrika, Asië en die ander vastelande gedruk op kaliko van die nuutste mode, bewyse van Demeter se ver en hooghartige reise. ’n Gehurkte fotograaf herhaal met hande en snorre die toeris-gefladder van duiwevlerke afgevlei van hul hemel van rococo goud. Die warm son giet sy olie-geel glas oor die vet, swetende vrou, oor stad en lagune.
In die palazzo se sombere gange wandel ’n meisie voor die meesterwerke vir ’n tyd lank in mummi-fikasie van die tyd gered. Sy staar na elke skildery op dieselfde haastige, soekende wyse, ’n mandoliene in haar bewende hand en haar mond nog steeds gevlek met granaatappel-rooi.
Toe sy die marmertrappe afdaal, skeur die skielike son haar mond tot heftige gebloei in haar asbleek gesig. Skraal en bang in haar swart rok en hare haas sy oor die piazza waar die diamantplaveisel die brons leeu se brul matematies herhaal.
“Kom, moeder,” fluister sy.
Die vrou draai om, in statige verwatenheid omring sy haarself met wentelende heelalle. ’n Duif bly sit op haar goue hare: ’n grys, watte-omhulde siel.
By die kaai wag ’n gondel met slanke skoen-kurwes wat uitnooi tot magiese loop op water. Die gondelier se leeragtige gesig word gedurig verteer deur gape onderwyl hy sy passasiers in hul karmosyn kussings inhelp. Bo sy swart broek en wit bloese is alleen sy strooihoed vrolik met linte, sprekend van die gebruiklike aanmoediging verleen aan die rite sonder keuse.
Terwyl hulle in die kanaal onder die donker boog van die Brug van Sugte deurgaan, neem die meisie haar mandoliene op haar skoot en laat die bewing van haar vingers oorvloei in die trilling van die snare. Kristaldruppel na kristaldruppel drup haar treurigheid af in die water wat flikker met groen en amber vlamme. En klim tussen strenge mure en seniel-grynsende vensters, op na die hemelsblou son. En sterf, sug weg tot lig alleen bly, onvermurfbaar op water, steen, lug. By elke luie voorwaartse leun en roei word die gondelier se gesig verrimpel deur nog ’n leeragtige gaap.
Die vrou neem die duif tussen haar handpalms en gooi haar hoof agteroor om met hesig-onbeskaamde stem te sing. Dit is ’n romantiese en welbekende gesig waar oos en wes mekaar pralend-amfibies op water en land ontmoet; die gondel met sy musikale vrag dra die stad se bewondering soos ’n armband iedere keer as dit onder die slanke boog van ’n brug deurgly. Langsaam sirkel die gondel verby paleise, markbote en die luisterryke skares op parade; sirkel deur die stollende namiddag, altyd nader aan die middel van die stad waar getye en winde verrot in ’n maalgat van stom vergete.
Een vir een breek die snare van die meisie se mandoliene. Haar ooglede val swaar en toe, en terwyl haar wysvinger swakkies die een oorblywende akkoord sing, eentonig oor en oor, loop haar mond leeg van kleur. Die vrou hou trots aan met sing. Van haar handpalms se geskulpte gestreel oor die duif, en van die gulhartige heuwel van haar bors en keel, styg haar stem soos ’n blom herhaaldelik gebore in vleeskleurige blare. Met elke gaap van die gondelier gly die gondel dieper in in die skemerhart van die stad; in in nou kanale waar afval in nare ruike drywe, gekronkel om grysbeskuimde huise waar selfs die see se skurende gety en die skoon vee van die wind verlore geraak het in die doolhowige baarmoeder van koors en uitgewasemde awenddaal.
Die laaste snaar van die mandoliene breek.
“Moeder,” snik die meisie, en syg oor die rand. Die gebreekte snare sleep en haar neergestorte hare sleep swart in die water, swart doodskleurig soos die gondel wat onherroeplik koers na die nag. Die duif ontsnap van tussen die vrou se hartvormige hande en wiek saggies op in die donkerende lug, terug na haar nes in die vergulde dom. Dan eers hou die vrou op met sing. Sy leun vorentoe, lig die doodsbleek meisie op en neem haar teen haar bors en beweeg nie weer nie. Nag kom met sy sluiers van rookgeskroeide slym. Die gondel kan nie gesien of gehoor word nie.
Elke môre, van ver oorkant die lagune, van tussen die sipres-gekroonde eilande waar die see die fabelagtige skubbe van visse laat glinster, kan gesien word hoe die gondel terugkeer na die stad, gebore uit die stralekrans van die stygende son.
3/’50