Читать книгу 21+ - Группа авторов - Страница 12
’n Vlermuis in die park
ОглавлениеDie ondergaande son verguld die bome van die park en glimlag ’n laaste keer teen die meer se swane en grotte. Op die openbare banke begin die ou here hul koerante en die ou dames hul breiwerk vou om sedig na die versierde ysterhekke van die aandmaal te wandel. ’n Groepie kinders hou aan met speel in ’n sandgat. Hul hoekie lê af van die gruispaadjies, weggesteek agter ’n prieel rankrose wat goud en oranje in die skuins son gloei. Die prieel is ’n halfmaan lig en kleur wat so dralend huiwer om uit te doof, dat baie getroue beloftes wagstaan oor die kinders se spel: die reënboog aan die hemel, die hartstogtelike Kersfeesboom, die dag ewigdurend nuut gebore.
Plegtig en stil speel die kinders. Hul speletjie bestaan net uit rondvroetel in die sand, maar onder hul vingertoppe floreer kastele en reise, en die druiwekorrels van hul oë weerspieël geen ander visioen as dié van die oomblik se glansende kom en gaan. Vir hulle sal kindermeide en aandhonger onregverdig soos paaiboelies verrys uit ’n wêreld wat ’n vingerspoor in sand moes gebly het.
Skielik stoot ’n vlermuisagtige kop na vore deur die rose, en verskyn ’n ou vrou wat haar arms verontwaardig flap terwyl haar swart doodskleed van ’n rok rondruk bo haar afgesakte kouse.
“Pieter! Pieter!” skree sy. “Hoe durf jy! Stoute klein duiwel! Jy wéét jy moet huis toe kom!”
En terwyl sy naderkom en haar dun nek rek soos ’n pluimveedier met slangagtige bedoelings, mompel sy dreigemente teen een van die kinders.
By die sandgat kruip ’n seuntjie van vier jaar haastig terug oor die heuwel sand. Die ander kinders hou op met speel, en kyk sonder ’n woord of beweging. Die ou vrou hardloop om die sandgat en gryp na die seuntjie. Maar hy krabbel weg op die sand, skoppend en huilend. Spoeg spat uit die ou vrou se mond, en onbewus van die skouspel wat haar onderklere aanbied, klou sy haar pad op agter hom aan. Terwyl sy hom afsleep, probeer die seuntjie vergeefs aan die sementrand klou.
“Ek wil nog speel,” snik hy, “ek wil nog speel.”
Die ou vrou ruk hom op sy bene en bring haar blouige lippe naby sy gesig om ’n stroom onsamehangende verwyte en speekseldruppels oor hom uit te reën. Al die tyd sit die ander kinders, nog ’n seuntjie en drie klein meisies met helder rokkies, en toekyk; hulle oë sien alles raak, sonder uitdrukking.
Toe sy klaar is met hom en links en regs klap om die sand uit sy klere te kry, sleep die ou vrou die snikkende seuntjie weg.
Onder die prieel waar die laaste glanse van die son onmerkbaar op die boog donkerende blare vervaag, ruk sy hom skielik ruweg om en wys na die vier klein regters in die sand.
“Kyk!” skree sy, haar arm bewend in selfregverdiging gehef.
“Kyk! Skaam jy jou nie? Kyk, hulle kyk na jou. Hulle sien jou!”
Dan sleep sy hom weg in die aand.
5/’50