Читать книгу 21+ - Группа авторов - Страница 11

Die padda en die maan

Оглавление

Op ’n nag is ’n padda getref deur die skoonheid van die maan.

Ek dink ek is verlief, het hy homself wysgemaak, terwyl hy sy groot Italiaanse oë rol. Maar toe hy probeer naderkom en haar silwer weerskynsel soen, het hy alleen daarin geslaag om swart rimpels op die wateroppervlak op te skop en ’n nare ruik van die moeras te laat opstyg. Dit het gelyk of die maan in afgryse van hom vlug; van verrotte poel tot verrotte poel.

Terwyl hy liefdekwake uithyg en wanhopig roei met sy kort beentjies, het die padda die beminlike maan gevolg. Hoewel sy hom maagdelik ontwyk het, het sy nooit meer as ’n sprong voor hom gebly nie, en gelyk of sy hom uitnooi om haar aan te hou volg. Die padda het met verdubbelde ywer gesing sodat sy stem nog skorrer geword het.

Ten slotte was hy so uitgeput dat hy op ’n waterlelieblaar moes uitklim. Hy had groot behoefte om homself te troos, maar omdat hy langsaam en log in die hoof was, kon hy alleen begin filosofeer op die wyse eie aan paddas. Nou toe nou! het hy homself wysgemaak, dit kom my voor dat die maan nogal onverstaanbaar is. Sy hardloop weg as ek naderkom. Miskien is dit moontlik dat sy ’n rede daarvoor het. En hy het sy agterpoot gelig om te krap agter die vrat wat hom in oomblikke van spreekwoordelike verwarring as oor gedien het.

Terselfdertyd het hy sy eie weerspieëling in die water langs hom bemerk. Vergeleke met dié van die maan was dit ’n lasterlike beeld ontsier deur boggels en skubbe.

Hoe afstootlik! het die arme padda gedink, en in die water ingekrabbel om in haas en skaamte weg te swem na ’n donker hoek.

Maar na hy ’n klein afstandjie geswem het en omdraai om ’n laaste pynlike blik van vaarwel te gee, was hy eers beangs en toe verheug om te sien dat die maan nou besig is om hom te volg.

Hy het opgehou met swem, bewend met die gedagte: Dis moontlik dat sy my tog lief het. Miskien is ek mooier as wat ek lyk.

Hy het sy pote saggies beweeg, wagtend. Die maan het ook gewag. Die padda het sy groot mond liefderik verwring, maar hoewel die maan stralend geglim het, het sy stil en roerloos gebly.

Hierop het die padda spelonkig geglimlag, vol van ’n minnaar se wyse begrype, en saggies vorentoe be­weeg. Die maan het agteruit geskuif. ’n Waansinnige agter­volging het begin totdat die padda heeltemal uitge­put moes uitkruip op die oewer waar die modder koel en sag teen sy wreed-skoppende bors was. Toe hy sy oë eindelik weer uitpeul, het hy die maan van die waterkant teen hom sien glimlag, skaars een sprong ver.

“Ek verstaan nie,” het die arme padda gekreun, “ek is ’n eenvoudige siel, ek verstaan nie.”

En terwyl hy sy beminde met ’n jammerlike stemtoon aanspreek, het hy gevra:

“Waarom vlug jy as ek naderkom, en volg jy as ek vlug?”

Die maan het bly swyg. Alhoewel getrou aan die aarde en die poel van die padda, is sy van ’n ster gemaak en kan sy haarself nie verduidelik nie.

“Dit lyk my die lewe’s ’n lastige affêre vandat ek minnaar geword het,” het die padda aan homself gesê. “Wie weet of dit nie beter sal wees as ek gaan wegkruip waar ek haar nie meer kan sien nie?”

En terwyl sy hart voel of dit kan breek, het hy homself in die water gewerp en diep in die modder ingevroetel tot op die bodem van die poel waar hy kon nadink in die vrede van algehele en min-eisende duisternis.

Na ’n tydjie was die padda gedwing om terug te keer na die oppervlak, belaai met ’n paar meer vratte. Weer eens het die sien van die maan waar sy silwer en lieflik op die water drywe, sy hart verlei om met woeste en nuttelose waansin teen sy ribbekas te skop. Hy moes terugvlug na die modder. Maar nie eens die heel lelikste padda kan uitsluitlik op die bodem van duisternis lewe nie, hy moes weer terugkeer.

Nou toe nou! het hy gedink. Dis selfs moeilik om ’n padda te wees!

In wanhoop het die padda oplaas sy oë gesluit.

“Ek sien niks nie!” het hy verbaas gesê, terwyl hy vir die eerste keer in sy lewe ’n ware woord kwaak. Toe het hy homself meer versekerd wysgemaak:

“Maar ja! Die maan is ’n illusie wat vir haar bestaan van my oë afhang. Kyk, kyk net, dis duidelik dat ek nou niks sien nie!”

Van daardie dag af was die padda weer ’n vrye padda, onderhewig alleen aan chroniese hoofpyn. Naderhand het hy bedrewe in wyse streke geword, en het hy dit geniet om die maan vol in die gesig te kyk en hees te kwaak:

“Die maan is ’n illusie!”

4/’50

21+

Подняться наверх