Читать книгу 21+ - Группа авторов - Страница 9

Moeder koei

Оглавление

Paul Roux was ’n krombeen-boertjie wat sy twee liters wyn per dag gedrink en sy lande en vrou met strenge reëlmatigheid vir hul jaarlikse oeste geploeg het.

Maar hoewel hy teen elke wind en weer gehard was, kon Paul Roux nie die skok weerstaan nie toe yster-ruspes so groot soos die burgemeester se huis, die dorp ingekruip kom met ’n gesnork van rook en donder uit hul lelike snoete. Die aanblik van die Duitse invallers het hom sy verstand op die plek laat verloor; sy gesig het ’n idiotiese gestaar aangeneem; en sy mond het begin oophang in ’n kwyling van skrik wat jare lank sou duur.

Daar, in sy land, het Paul Roux op hande en knieë geval en viervoetig begin wegkruip na die koeie in sy stal. Asof hy homself wegsteek van mense het hy op die strooi tussen die breë warm lywe ingekruip, veilig by ’n moederlike selfbehaaglikheid onkundig van oorlogvoer.

Die bruin Jerseykoei naaste aan Paul Roux het hom vreedsaam besnuif. Sy het niks gevaarliker gedoen nie as herkou en saggies sug elke keer as haar krip leeg was, en af en toe het sy hom met haar geduldige tong gelek om die melk in haar uier aan te moedig.

Paul Roux het ongevoelig gebly vir al die pogings van die buitewêreld om hom sy menslike verstand terug te besorg. Die speeksel het aanhou drup van sy rukkende lippe, en sy gebrabbel het geklink kompleet soos ’n kalf se eerste mankolieke geblêr. So gou sy bure hom met geweld na sy bed in sy huis gesleep het, het hy na die stal teruggekruip. Nie te lank nie of hy het deur die strooi begin vroetel om hom welgeluksalig teen die kalm heup van die bruin Jerseykoei vas te druk: dit was asof hy haar uit al die ander as sy moeder uitgekies het. Sy vrou was later verplig en bring sy kos daar na die stal en bind hom vas aan ’n stoel sodat sy hom met ’n houtlepel kon voer. Soms het sy kwaad geword en die Jersey met ’n riem bygedam.

Die Beskawing het aangehou om die stal met afkeurende blikke binne te kom. Geleerde persone het Freudiaanse beswerings gemompel en geprofeteer dat alleen ’n tweede skok van gelyke hewigheid as die aanblik van die Duitsers, Paul Roux aan die mensdom terug kon besorg. Maar terwyl die jare verbyrol, en hy eers die terugtrekkende Duitsers getoon is, tóé die oorwinnende Amerikaners op nog groter tenks, die dorpenaars wat skreeu en vlae waai, en selfs hoe ’n ander man sy vrou voor sy oë besit – het Paul Roux se oë dof en bollend soos dié van ’n pasgebore kalf gebly, en sy lippe kwylrukkend soos tevore. Al die tyd het die Jerseykoei haar kouseltjies gekou en haar welriekende asem oor haar hanskalf geblaas wanneer sy hom moederlik lek. En vyf lange jare het Paul Roux se lande braak gelê.

Toe, een goeie môre net na Hitler se dood en die vredesluiting, moes die verstomde dorpenaars sien hoe Paul Roux uit sy stal uitgestap kom. Nadat hy by die kraan neergebuk het om ’n groenerige vuilis en ’n ruik van versuurde melk van sy gesig te was, het hy sy huis ingegaan en sy vrou en kinders gegroet soos ’n man wat so pas uit die dode opgestaan het.

Toe hy hoor dat pryse gestyg het tot tien keer meer as voor die oorlog, het Paul Roux gevloek. Daardie selfde dag nog het hy bewys dat die vyf jaar vir goed agter die rug was deur sy verpligtinge teenoor sy vrou en sy lande weer naarstig na te kom. Die volgende dag het hy aan sy familie aangekondig:

“Ons kan een van die koeie aan die slagter verkoop. Pryse is goed.”

Asof om homself te verduidelik, het hy bygevoeg:

“Ons kan die Jersey verkoop, die bruine wat in my oë geskyt het.”

3/’50

21+

Подняться наверх