Читать книгу Mara - Lisette van de Heg - Страница 3

Hoofstuk 1

Оглавление

Die nag is nog diepdonker toe dit tyd word om te vertrek. Ek het nie geslaap nie. Met trae bewegings trek ek my aan vir die reis wat voorlê. Ek het warm klere nodig, want dit is ’n guur nag. Met elke kledingstuk wat ek aantrek, skerm ek my liggaam ’n entjie verder af. Met my hand teen die koue glas gedruk, kyk ek ’n laaste keer by my slaapkamervenster uit en sien die hemelruim treur.

My ma treur nie, sy weier steeds om na my te kyk en sê nie ’n woord nie. Ek steek my arms uit, omhels haar en hoop op ’n woord, ’n gebaar, ’n soen. Maar verniet. Sy is sonder emosie, soos ’n gebeeldhoude stuk marmer, en uiteindelik gee ek haar ’n soen op die wang en laat my arms sak. Ek klem my kake styf opmekaar en draai van haar af weg om my koffers, wat al gereed staan, op te tel.

Ek neem nie veel saam nie. My klere, ’n troufoto van my ouers wat ek al jare lank wegsteek, ’n stapeltjie briefpapier, ’n pen. Allerlei kleinighede. En ek besef my lewe is so nietig dat ek dit in twee eenvoudige koffers kan stop en saamneem.

Met die koffers in my hande en die reissak oor my skouer maak ek die deur oop en tree oor die drumpel tot in die reën. Ek begin loop sonder om om te kyk, want ek weet die dominee sal my volg. Die klank van sy voetstappe agter my bevestig my vermoede. Die dominee loop saam om my op die eerste deel van die reis te begelei.

Hy sê nie ’n woord nie. Ons loop om die pastorie, deur die hekkie, by Hooghe Breestraat in en verby die wit kerkie na Havenstraat. Ons voetstappe klink hard in die onverligte en verlate straat. In Havenstraat sal dit nie stil wees nie; daar is die vissers al ’n ruk lank hard aan die werk, amper gereed om uit te vaar.

Ek ril toe ’n paar reëndruppels in my nek beland. Die stilte tussen ons word net verbreek deur die geluid van ons weergalmende voetstappe en die reën wat van die dakke afstroom. Die stilte gons in my ore en dit word ál harder sodat ek my hande oor my ore wil sit en alles uitsluit. Maar dis nie moontlik nie; ek moet die koffers dra. Ek wag vir sy woorde en vermanings, maar die stilte duur voort.

Toe die eerste liggies van die stormlanterns in die verte sigbaar word, haal ek verlig diep asem. Mense. Stemme. Geluide.

Ek kyk ’n laaste keer oor my skouer, terug in die tyd, en wens my ma is agter my, liefdevol soos sy altyd was, maar sy is nie daar nie en ek kyk weer vorentoe. Wat voor my lê, is my toekoms, en sy sal nie meer ’n deel daarvan wees nie, dit is vir my duidelik. My ma het hom gekies en niks sal dit kan verander nie.

Hy versteur die stilte en die gedagtes aan my ma met sy bevel.

“Gee vir my die koffers, Maria.”

Natuurlik, ons moet die skyn bewaar. Altyd die skyn. Die buitewêreld.

“Hier,” sê ek.

Ek moet die lus onderdruk om die koffers uit my hande te laat val terwyl ek doodgewoon aanhou loop, maar in plaas daarvan gaan ek staan om die koffers vir hom aan te gee. Ondanks die feit dat ek handskoene dra, ril ek toe ons hande vlugtig kontak maak. Ek kyk na die grond en wag totdat hy weer in beweging kom. Dit is nog net ’n klein entjie. Noudat ons aan die einde van Havenstraat gekom het, kry ons die reuk van seewater en vis, vergesel van die klanke van skreeuende manstemme, ratelende kettings wat teen mekaar slaan en ’n bootenjin wat aangeskakel word.

Klanke wat my reis sal begelei. Ek volg die dominee gehoorsaam toe hy doelgerig na die kotter genaamd Coby loop.

“More, more, dominee!”

“Pieters.” Die dominee knik sy kop liggies, maar aan sy skouers wat verstrak, kan ek sien hy vererg hom vir die plat taalgebruik. Ek kon nooit verstaan hoekom hy hierdie uithoek as standplaas gekies het nie, want hoe kon hy verwag dat hier geletterde mense sou woon en kerkgaan?

“Haai, Maria.”

“Goeiemôre, Pieters.” My stem is net ’n fluistering, maar dit lyk nie of dit Pieters pla nie. Hy beduie ons moet aan boord kom en neem die koffers by die dominee oor. Hy wys my die luik wat na die bootruim lei en begin dit ooptrek, maar ek skud my kop. Ek bly liewer op die dek, selfs al reën dit. In die ruim is dit donker en benoud, benouend en eensaam. Pieters wys my in die middel van die kotter ’n plekkie waar ek kan sit, tussen die vate waarin hy normaalweg die mosseloes vervoer. Intussen praat hy met die dominee. Ek weier om daarna te luister en slenter verby die vate na die boeg. Water uit die kanaal spat liggies op en meng met die reëndruppels wat steeds val.

“Ek gaan nou, Maria. Sorg goed vir jou tante.” Ek het hom nie hoor nader kom nie en skrik. Asof hy ’n liefdevolle pa is, buk hy vooroor en gee my ’n soen op die wang terwyl hy my terselfdertyd iets venynigs toesis.

Ek ril en kan dit nie vir hom wegsteek nie. Hy bly styf teen my staan en kyk glimlaggend op my af.

“Jy weet dis waar,” fluister hy. “Jy is nie ’n snars beter as Helène nie.”

Sy asemhaling skroei my vel en ek wil wegkom, maar daar is nie beweegruimte nie, net die reling. En die kanaal. ’n Onmoontlike moontlikheid, want ek kan nie swem nie. My oë soek vir Pieters, maar hy is druk besig en kyk nie om na ons nie. Ek wil nie die dominee ruik nie en probeer ophou asemhaal.

Uiteindelik gee die dominee ’n treetjie agteruit en ek haal verlig dieper asem. Hy hou aan om my strak en vol verwagting aan te kyk, totdat ek besef wat hy wil hê.

“Tot siens, Pa.” Die woorde kom oor my lippe, maar is sonder enige betekenis. Tog knik hy tevrede.

“Tot siens, Pieters.” Die dominee klim van die kotter af, draai om en steek sy hand in die lug.

“Sal jy mooi na haar kyk?”

“Reg so, dominee.” Pieters steek sy hand op, sonder om na die dominee te kyk, en terselfdertyd knipoog hy vir my. “Die drol, natuurlik sal ek mooi na jou kyk.”

Ek glimlag, dankbaar vir Pieters se verontwaardiging. Toe draai ek om en kyk uit oor die water wat voor my lê. Ek moet vorentoe kyk, omdat daar niks meer agter my is nie. Daar staan nie ’n geliefde op die kaai om vir my tot siens te waai nie en daar is geen dierbare herinnering om te koester nie.

Die wit onskuld van die kerkie agter my het lankal vergeel en is uiteindelik swartgeblaker deur ellende. Sondag ná Sondag het ek daarheen gegaan en elke Sondag, voordat ek deur die groot deure binnetoe loop, het ek opgekyk en gehoop dat die windvaan in die vorm van ’n vis met ’n dowwe slag op die grond sal val. Dat dit in duisend stukke uitmekaar sal breek, elke stukkie klein genoeg om dit met my voete te kan verpletter. Dit het nooit gebeur nie.

Ek weet die wit kerktorinkie steek trots bo die huise uit, maar ek weier om na daardie beskuldigende vinger te kyk. Dáár is hy in kontak met sy god, dáár kry hy toestemming om te doen wat hy gedoen het, dáár is hy die gehoorsame dienaar. Ek gaan nou terug na die huis van my jeug, die bosse en weivelde, die herinnerings aan Oupa en Ouma. My gedagtes raak vlugtig aan die skimagtige figuur wat aan die einde van hierdie reis vir my wag. Tien jaar lank het ek haar nie gesien nie en nou moet ek in een huis met haar gaan saamwoon, in afsondering, soos ’n kluisenaar.

’n Seun van om en by veertien kom aan boord en ek besef die bemanning is nou voltallig. Dit is maar ’n klein kottertjie en ’n halwe hulp is genoeg vir Pieters. Die anker word opgetrek, die toue word losgegooi en gou-gou is ons aan die beweeg. Ek bly by die boeg staan. Met my kake styf op mekaar geklem voel ek die laaste reëntrane op my vel. My oë bly droog ondanks die knop in my keel, ondanks die kind in my maag. Ek verlaat die dorp met die wit kerk, die dominee en die vrou wat eenmaal my ma was en ek kyk nie om nie, maar sy woorde agtervolg my en ek gly terug in die verlede, terwyl die vissersboot my na my eerste bestemming neem.

Ek huppel aan Mamma se hand. My twee vlegsels wip met sagte plofgeluidjies op my skouers en dit is vir my lekker. Soms draai ek my kop so vinnig moontlik van links na regs sodat my vlegsels deur die lug vlieg en ’n sirkel om my kop vorm, maar nie nou nie, nou laat ek hulle plof. Met elke huppeltree. Plof. Plof.

“Netnou val hulle af,” sê Mamma en trek glimlaggend aan my hare. Haar glimlag is vriendelik en herinner my aan Ouma en tante Be wat op die plasie agtergebly het. Hulle drie se monde lyk vir my eners.

Ons kom by die mark aan en Mamma trek my aan die hand deur die stalletjies. Sy gaan staan by die groentestalletjie en soek mooi rooi appels uit. Ek trek aan haar rok se mou.

“Hoekom pluk ons nie appels van ’n boom af nie?”

“Ons het nie ’n boord nie, liefling, daarom moet ek appels koop.”

Ek knik en dink aan ons nuwe huis met die klein tuintjie. Daar is regtig nie ’n boord nie. Mamma onderhandel met die verkoper oor die appels en groente, en uiteindelik kom hulle ooreen. Ek bly aan haar hand vashou, maar kyk intussen om my rond.

Die stalletjie langsaan is ’n visstalletjie en ek staar na die verkoopsman. Hy het ’n wit voorskoot aan en roep die hele tyd terwyl hy met sy een hand ’n vis van die stapel afhaal en met sy ander hand die kop afsny.

Ek ril, maar hou aan kyk, geboei deur sy voorkoms, sy werk en veral sy stem. Hy brul, en ek is seker almal op die dorp kan hom hoor. Hierdie man sal beslis ’n goeie dominee wees; die hele kerk sal hom kan hoor.

Skielik knik die man laggend vir my en met ’n vinnige beweging gooi hy iets in my rigting. Voordat ek weet wat gebeur, voel ek iets kouds teen my neus bots.

Ek gil, baie skril en hard, en voel aan my neus, maar daar is niks.

Die man lag bulderend en ek sien hoe mense omkyk.

Mamma hurk besorg voor my en vra wat dit is.

Ek weet nie wat dit is nie en kyk verleë grond toe. Toe sien ek iets op my klomp lê. Ek gil weer en spring op om die ding te laat afgly. Mamma skrik en trek my nader. Ek bewe en hou haar styf vas.

Stadigaan kalmeer ek en toe Mamma opstaan, hoor ek ’n vrouestem.

“Ek het gesien wat gebeur het. Hy het die seester na haar toe gegooi en dit het haar neus getref.”

Daar staan ’n vrou langs ons met ’n seuntjie aan haar hand. Sy het rooi hare en ’n rooi neus, en groen oë en ’n groen rok. In haar uitgesteekte hand is die ding wat eers op my voet gelê het.

“Vat hom,” sê sy vir my. “Dit kan niks aan jou doen nie; dis net ’n seester.” Sy glimlag vir my en aarselend steek ek my hand uit om die ding by haar te vat. Toe ruk Mamma my hand weg.

“Hoe durf u! Ek mag nuut wees op hierdie dorp, maar ek weet wat u is. Los my dogter uit!” Mamma gryp my hand en druk so hard dat dit seermaak, maar voordat ek kan protesteer, trek sy my daar weg. Sy loop so vinnig dat ek moet hardloop om by te bly. Sonder om by enige van die ander stalletjies te stop, loop Mamma met my deur die strate, terug na die pastorie.

“Wat is verkeerd, Mamma, hoekom loop ons so vinnig?” Ek huil, my voet haak aan ’n straatsteen en ek struikel. Net omdat Mamma my so styf vashou, val ek nie op die grond nie.

Uiteindelik begin sy stadiger loop en dan gaan sy staan. Haar wange is rooi en haar oë lyk nog altyd kwaai, maar toe sy na my kyk, sien ek hoe hulle geleidelik sagter word.

“Ag, liefling, dit was nie my bedoeling om jou seer te maak nie. Dit was …” Mamma sluk en maak haar oë vinnig toe. “Daardie vrou op die mark is ’n baie slegte vrou, Maria. Ek wou nie hê sy moet met jou praat nie. Sal jy dit mooi onthou? Jy mag nooit met haar praat nie! En ook nie met daai seuntjie nie. Hulle is slegte mense. Baie, baie sleg.”

Mamma kyk my ernstig aan en ek knik gehoorsaam. Ek knik so heftig dat my vlegsels plofgeluidjies maak, nie lekker ploffies nie, ernstige ploffies.

Pieters se stem ruk my uit my gedagtes en ek draai na hom. Hy skree op sy dekhulp en nie op my nie, sien ek nou. Die seun spring behendig heen en weer oor die dek en voer die bevele uit wat Pieters hom skree.

Dit het opgehou reën en ek vee met my mou oor my gesig. My woljas het gesorg dat ek grotendeels droog gebly het, maar die water is steeds koud op my wange. Ek ril en wonder hoe lank dit nog sal duur voordat ons ons bestemming bereik.

Pieters en die seun is druk besig, en ek draai weer om. Vorentoe kyk. Van nou af moet ek net vorentoe kyk. Ek klou aan die nat reling vas en kyk na die water waaroor ons gly. Weer kom die gedagte by my op dat die water die oplossing vir al my probleme kan wees. Dit sal ’n einde kan maak aan alles waarmee ek worstel, ek sal in die diepte verdwyn en niemand sal my ooit weer sien nie.

Niemand sal my mis nie.

Ek skud my kop en maak my rug reguit. Vorentoe kyk. Die verlede maak nie meer saak nie. Vandag is die eerste dag van my nuwe lewe.

Mara

Подняться наверх