Читать книгу Mara - Lisette van de Heg - Страница 4

Hoofstuk 2

Оглавление

Vlissingen. Die laaste keer dat ek daar was, was ek ’n klein meisie met ’n nuwe pa. Ons het pas bruilof gevier, was vol toekomsplanne en op die punt om te vertrek na “die nuwe gemeente”. Vol vertroue het ek my ma se hand vasgehou, sy het vir my geglimlag en ek het geweet alles sal reg uitwerk.

Ek het ’n nuwe pa! Ek is opgewonde toe ons in die hawe aankom en ek die bote sien. Seemeeue roep mekaar terwyl hulle in sirkels oor ons sweef. Ek kyk op, my mondjie oop van verrukking. Ek wys met my hand en lag uitbundig, totdat sy stem my verwondering ru versteur.

“Kom nou. Dadelik!”

Hy gryp my hand. Ek loop gehoorsaam agter hom aan en kyk glimlaggend na hom op. My nuwe pa neem my saam na ’n nuwe lewe. Hy gaan vir ons sorg en Mamma sal nie meer hartseer wees en treur omdat my regte pa dood is nie.

Vlissingen. Dit lyk of herinnerings aan gelukkiger tye jare lank hier op my gewag het. Asof die water ’n onsigbare grens vorm tussen hier en daar, tussen hede en verlede. Net toe ons die hawe invaar, hoor ek die skel kreet van ’n seemeeu en ek kyk op. Ek wil so vry soos daardie meeu wees en dalk is dit nou my kans. ’n Glimlag laat my mondhoeke lig en ek beweeg my tong, reg om ’n kreet te gee, net soos die seemeeu gedoen het. Toe sien ek Pieters kyk vir my en ek hou my in. Ek loop terug na die middel van die dek waar my koffers nog lê en tel dit op. Met my bagasie in my hande kyk ek hoe Pieters die kotter laat vasmeer.

Die dominee het geweier om ’n chaperone te reël. Hy het ook my ma verbied om saam te kom, en sy het dit so aanvaar.

“Jou dogter sal regkom, op haar manier.”

Mamma het geknik, haar lippe styf opmekaar. Ek kon die woede wat sy al weke lank soos ’n mantel om haar dra, nie net sien nie, ek kan dit ook voel. Ek het haar gevra wat verkeerd is.

“Jy maak my woedend, Maria.”

“Maar, Mamma …”

“Nee, Maria, daar is al genoeg gesê …” Haar stem steek vas en sy draai van my af weg. Haar hoekige skouers weer my af.

Daarna probeer ek haar met my optrede paai. Ek voer elke opdrag uit sonder om te kla, ek soek ekstra werkies en bring vir haar lekkergoed as verrassing, gekoop van my eie spaargeld. Al waarop ek hoop, is dat sy haar arm om my skouers sal sit, maar sy verydel my hoop net daar.

“Jy moes nie die moeite gedoen het nie, Maria.”

Uiteindelik het ek nie meer hoopvol na haar gekyk nie, want van haar kan geen hoop meer verwag word nie.

“Daar moet jy wees, Maria!” Pieters het langs my kom staan en skree ondanks sy nabyheid, terwyl hy na die oorkant van ’n besige straat wys.

“Die gebou daar. Het jy hulp nodig?”

Ek skud my kop, want ek weet hy wil so gou moontlik van my ontslae wees sodat hy sy dag nog nuttig kan gebruik. Hy help my tog nog met my bagasie en sit dit vir my op die kaai neer.

“Baie dankie, Pieters.” Ek skud sy hand, sit die reissak se band oor my skouer, tel die twee koffers op en begin loop.

Die gebou waarheen ek moet gaan, is groot en hoog en lyk aan die buitekant soos ’n paleis, met versierings en ’n torinkie en gebrandskilderde vensters. Ek kan my nie indink dat ek sommer net daar kan ingaan nie.

Ek kies die middelste een van die drie hoë deure en volg die ander reisigers wat almal doelgerig hulle pad vind. Links en regs sien ek waglokale, en daar is ’n bord wat die koninklike waglokaal aandui. Nie vir my bedoel nie. Die mense wat voor my uitloop, lei my outomaties na ’n kaartjieskantoor. Ek gaan ’n entjie weg staan en sit die koffers langs my oop die vloer neer.

Ek haal die reissak van my skouer af en maak dit oop terwyl ek probeer om kalm te bly en soos ’n ervare reisiger te lyk. Tog haal ek vinniger asem en bewe my vingers toe ek die boekie beetkry waarin ek al die gegewens oor my reis neergeskryf het. Ek het die treinrooster by die winkelier geleen en alles noukeurig oorgeskryf, tot die afkortings van die stasies se name, uit vrees dat ek die verkeerde roete sal neem. Vinnig blaai ek na die regte bladsye en kyk na die rytjie plekname wat ek eintlik al uit my kop ken. Ek moet net ’n kaartjie koop, so moeilik is dit tog nie.

Met ’n klap maak ek die boekie toe en druk dit terug in my reissak.

Ek tel die koffers op en gaan staan in die ry.

Die mense voor my is hoofsaaklik handearbeiders, lyk dit vir my, te oordeel na hulle klere. Hulle is duidelik gewoond aan per trein reis en klets ontspanne met mekaar, terwyl die ry stadig aanskuif. Agter my kom nuwe mense aan en dit lyk of hulle ook dood op hulle gemak is.

Elke keer as iemand gehelp is, tel ek die koffers op, gee ’n tree vorentoe en sit die koffers dan weer langs my voete neer. Buk, optel, loop, neersit. Eenvoudige bewegings, maar my vingers bewe ál meer en ek begin sweet hoe nader ek aan die kaartjieskantoor kom.

Die dominee het my genoeg geld gegee, maar nie omdat hy my goedgesind is nie. Dis net vir die skyn. Tante mag nie dink dat daar nie na my omgesien word nie.

“Koop ’n kaartjie vir die tweedeklas.”

Ek het geknik. Vanselfsprekend. Vir die skyn sal ons enigiets doen. Ek gaan tweedeklas reis, en as dit moontlik is, selfs in ’n vrouewa, hoewel ek by die winkelier gehoor het dat dit nie meer by alle treine voorkom nie.

Uiteindelik is ek aan die beurt.

Die man agter die toonbank gaap langdurig agter sy hand en knip sy oë ’n paar keer.

“Goeiemôre, juffrou. Wat kan ek vir jou doen?”

“Ek wil asseblief ’n kaartjie koop.”

“Dis duidelik, ja. Waarheen wil jy gaan?”

“Na Velp, meneer.”

“Watter klas?”

“Tweedeklas, asseblief.”

Die man trek ’n groen blok papier na hom toe en begin vinnig daarop skryf. Hy kyk op.

“Vir een persoon?”

“Ja, meneer.”

Hy sit sy pen neer en stempel die papier.

“Dit sal sewe gulde vyf en vyftig wees, juffrou.”

Ek haal my beursie uit die reissak en grawe in die vakkie met munte. Ek soek drie riksdaalders en ’n dubbeltjie uit om vir die man te gee, maar laat die dubbeltjie val en dit rol oor die vloer. Ek buk en probeer die muntstukkie opraap, maar kry nie die gladde metaal vasgevat nie. Ek verbeel my die mense in die ry agter my gaan om my loop. Iemand anders gaan my plek inneem en ’n kaartjie koop.

Eindelik vat ek die dubbeltjie vas en gaan staan weer regop. Die mense agter my staan nog rustig en wag, en ek gee die geld vir die man agter die toonbank. Ek weet my wange is rooi en ek voel ’n sweetdruppel op my neus. Vinnig sit ek die geld in die bakkie wat daarvoor bedoel is en vee dan met my mou oor my neus.

Die man sit my kaartjie aan sy kant van die ruit in ’n soortgelyke bakkie. Toe draai hy dit; ek kry my kaartjie en hy sy geld. Hy draai dit weer en ek kry my kleingeld.

“Kan u vir my sê op watter perron ek moet wees, meneer?” Ek buig effens vooroor om sy aandag te trek, want hy kyk reeds oor my skouer na die persoon wat agter my staan.

Hy wys vlugtig met sy hand.

“Perron twee, jy kan dit nie miskyk nie. Volgende!”

Sonder om hom te bedank gee ek van die toonbank af pad. Ek druk my beursie en kaartjie in die reissak. Dan kyk ek om my rond. Daar is verskillende groepe reisigers en hulle loop in verskillende rigtings. Ek tel my koffers op en loop ’n entjie terug tot in die ontvangsaal waardeur ek netnou gekom het. Ek kyk rond totdat ek uiteindelik die bordjie sien wat ek al vroeër opgemerk het.

Perron twee. ’n Pyl dui die rigting aan en ek sien op die horlosie wat reg langs die bordjie hang dat ek hoogs betyds is. Tog loop ek so vinnig moontlik na die perron. Liewer te vroeg as te laat.

“Kaartjie, asseblief.”

’n Man keer my voor voordat ek die perron kan betree en steek sy hand na my uit. Sonder om te verstaan kyk ek na hom totdat ek die kaartjieknipper in sy ander hand sien. Ek haal my kaartjie gou uit en gee dit vir hom.

“Hier is dit.” My stem bewe. Ek kyk na links toe ek ’n waarskuwende fluit hoor, ’n kort klank gevolg deur ’n lange. Ek sien hoe ’n trein stadig en met baie gesis en rook die stasie instoom. As dit my trein is, moet ek gou maak.

Ek kyk weer na die man, wat die kaartjie op sy gemak by my gevat het en dit nou knip. Alles verloop traag. Hy wys met sy duim oor sy rug na die trein wat intussen tot stilstand gekom het en gee die kaartjie terug. Ek vou dit vinnig dubbel en druk dit in my beursie. Ek gryp my bagasie en loop na die perron, al stoeiend met my reissak, wat dreig om van my skouer af te gly, en die twee koffers wat teen my bene stamp en my hinder in my strompelende aantog trein toe.

Op die perron laat ek toe dat ’n kruier my help en ek kyk toe hoe hy my koffers aansleep na die bagasiewa. Die reuk van olie en roet wat die lokomotief oor die perron laat walm, maak my naar en ek is bly dat iemand my bagasie by my oorgeneem het sodat ek dit nie meer hoef te dra nie. Dankbaar gee ek die kruier ’n ruim fooitjie, en behulpsaam beduie hy my na die regte wa.

“As jy nou gou ’n sitplekkie soek, sal jy beslis nog by die venster kan sit.”

Hy salueer met sy hand teen sy pet en verdwyn, op soek na ’n volgende passasier.

Ek besluit om sy raad te volg en klim in die wa wat hy vir my aangewys het. Ek kry ’n plek by die venster in die eerste leë kompartement wat ek teëkom. Uitgeput sak ek neer, met die reissak nog oor my skouer. Ek maak my oë toe en haal diep asem.

Dan haal ek die sak van my skouer af en sit dit op my skoot.

Ek kom agter ek is moeg, doodmoeg.

Agter my toe ooglede sien ek my ma se gesig, en syne. Langs mekaar, albei ongenaakbaar, ’n verenigde front. En weer wonder ek wat geword het van die vrou wat my ma was. Wanneer het hy haar siel in hom opgesuig en die lig in haar oë gedoof? Maar het hy dit werklik gedoen?

In die begin, toe ons pas in die pastorie gaan bly het, was my ma nog soos ek haar altyd geken het. Ons het saam op ’n ontdekkingstog deur die ruim huis gegaan en ek het haar gehelp om die kamers skoon te maak. Toe ons klaar was met ons werk, het sy tee gemaak wat ons dan saam gedrink het. Soms op ’n mat op die vloer, van een van die kamers van die nuwe huis. Ons hou piekniek, het Mamma dan gesê, en ons het gemaak of ons buite is, in een van die weivelde rondom die plaashuis.

“Ons sal tante Be en Ouma nooi om vir ons te kom kuier,” het sy gesê. En nog dieselfde aand het sy dit aan die dominee voorgestel. Ek het langs haar gestaan en my hande van opwinding gewring. Vol verwagting het ek geglimlag vir die man in die swart pak wat my nuwe pa is, en ek het geluister hoe Mamma die voorstel maak.

“Nee.”

Die antwoord was kort en duidelik en het geen ruimte gelaat vir vrae, twyfel of hoop nie. Ek het na Mamma gekyk met die verwagting dat sy weer gaan probeer, maar sy het hartseer vir my geglimlag en haar kop geskud.

Ek het Ouma en tante Be gemis en Mamma het hulle ook gemis. Ek het geweet omdat sy dit vir my gesê het, maar sy het nooit weer daaroor gepraat wanneer die dominee by is nie, en ek het ook stilgebly. Toe die nuus kom dat Ouma dood is, het Mamma dae aaneen gehuil, maar ons het nie daarheen gegaan om haar begrafnis by te woon nie. Mamma het bleek en stil geword, en ek het haar stilletjies dopgehou.

Mara

Подняться наверх