Читать книгу Mara - Lisette van de Heg - Страница 5

Hoofstuk 3

Оглавление

“Kan ek maar hier by jou kom sit, kind?” Ek skrik, maak my oë oop en kyk reg in die gesig van ’n ou non.

Nee, liewer nie.

“Natuurlik.” Ek skuif ’n bietjie op en trek die reissak reg. Dit het halfpad van my skoot afgegly.

“Wil u by die venster sit?” Ek stel die vraag bloot uit beleefdheid.

“Nee, nee, ek sal hier sit.” Sy gaan sit langs my op die bank en kreun saggies toe haar gewrigte kraak.

“Oud en lamlendig.” Sy glimlag vir my, maar ek trek die sak stywer teen my vas en skuif ’n sentimeter nader aan die venster.

“Suster Olivia.” My hoop op rus verdamp toe sy haar hand na my uitsteek. Versigtig vat ek die ou hand en voel bros beentjies onder my vingers beweeg voordat ek my hand kan terugtrek.

“Maria Klomp.” Ek sê niks verder nie en kyk deur die venster buitentoe, waar daar nou ’n groot gedrang is. Daar kon nie baie tyd verloop het vandat ek gaan sit en ingedut het nie, maar tog is daar nou baie meer mense. Asof almal in ’n skuilplek gesit en wag het vir die regte oomblik om aan te breek.

Toe die trein uiteindelik vertrek, kyk ek ongeroer na Vlissingen se stasie wat voor die venster verbygly. Ek dink nie ’n oomblik aan my eie dorp, familie en dorpsgenote nie. Dis erg genoeg dat ek in die komende maande daardie deel van my lewe met my sal saamdra. Ek voel vervloek en vloek my verlede in stilte. Dalk sal ek dit dan kan begrawe en vergeet.

“En waar gaan die reis heen, as ek mag vra?” Weer die ou non. Kon sy nie maar op ’n ander plek gaan sit het nie?

Ek sê vinnig ek het ’n lang reis voor my, tot in Velp. Tot my verbasing begin sy opgeruimd glimlag terwyl ek praat.

“Ag, maar dis wonderlik, kind. Ons Liewe Heer het jou beslis op my pad gebring. Ek gaan ook Velp toe. Ons kan saamreis. Ag, hoe lekker. Ek het ’n hekel aan treinry, weet jy?” Haar plooie rimpel en ontrimpel ritmies soos sy praat, en een wit haar op haar ken beweeg op en af.

“Ek dink nie u Liewe Heer was daarvoor verantwoordelik nie,” sê ek stuurs. Die idee dat God hom steeds met my lewe bemoei, staan my glad nie aan nie, en die woorde het oor my lippe gekom voordat ek hulle kon keer.

“O.” Sy bly stil en vra nie verder uit nie. In plaas daarvan vat sy haar rosekrans en begin saggies mompel.

Skaam oor my woorde kyk ek by die venster uit na die landskap wat verbyrol. Die stilte wat ek so graag wou hê, is onaangenaam, noudat ek self daarvoor verantwoordelik was met my onvriendelikheid. Ná ’n paar minute kan ek nie anders as om verskoning te vra nie.

“Ek is jammer, suster Olivia, ek moes dit nie gesê het nie.” As ek die vrymoedigheid gehad het om meer te sê, sou ek vir haar verduidelik het hoekom ek nie glo dat haar Liewe Heer daarvoor verantwoordelik was nie. Ek bly egter stil, want sy stel sekerlik nie in my redes belang nie. ’n Verskoning is ’n verskoning, nie ’n verduideliking nie, het Mamma altyd gesê.

Die ou non kyk glimlaggend na my en sit haar hand liggies op myne. Onwillekeurig wil ek my hand terugtrek, maar ek kry dit reg om my te beheers en bal net my vuis.

“Dis in orde. Ons praat nie weer daaroor nie, reg so?”

Gelukkig trek sy haar hand terug toe ek knik. Ek vee my hand aan my rok af en steek my hande in my mantel se sakke. Veilig onder die materiaal, onaanraakbaar.

Die trein wieg skielik heen en weer en ons skouers raak aan mekaar. Die trein begin stadiger ry en fluit skril. Ek kyk vinnig buitentoe, nuuskierig oor wat daar te sien is, maar ek merk niks anders as ’n dik wolk stoom wat langs ons hang nie. ’n Rukkie later waai die wolk weg en ek sien ons ry steeds deur weivelde.

“Dis nog ’n rukkie voordat ons gaan stop. Die trein begin al tien minute voor die tyd stadiger ry. Jy kan nog rustig agteroorsit. Middelburg is ’n mooi dorp. Ken jy dit?”

Ek skud my kop. “Nee, ek was nog nooit ver van die huis af weg nie.”

“En nou maak jy so ’n groot reis? Jy is baie dapper, Maria Klomp.” Die non slaan haar hande in haar skoot saam. “Ek was nog nooit ’n reislustige mens nie, maar ’n goeie vriendin het my raad gevra. Anders sou ek nooit hierdie rit aangepak het nie.” Sy knipoog vir my, en ek glimlag effens. Ek kon nog nooit knipoog nie en elke keer as ek probeer het, is ek uitgelag. Daarom het ek jare gelede al besluit om ’n knipoog met ’n glimlag te beantwoord.

“Wat bring jou so ver van die huis, Maria?”

Ek wil antwoord, maar weet nie wat om te sê nie. Ek dink nog daaroor toe ’n golf van naarheid my oorval. Angstig kyk ek rond; ek weet nie wat om te doen nie.

“Is iets verkeerd, kind?” Die non staan bekommerd op en klop my liggies op die rug. “Sommige mense word naar van treinry.” Sy buig oor my en draai die venster ’n bietjie oop. “Vars lug sal help.”

Ek knik, maar weet dis nie die rede nie. Ek het net vergeet om iets te eet en nou keil my leë maag my op.

Met krakende knieë en ’n ligte gekreun gaan suster Olivia weer sit. Ek lig my kop na die oop venster en probeer om soveel vars lug moontlik in te asem met die hoop dat dit sal help. Ek haal stadig en diep asem. Ná ’n rukkie voel dit of die naarheid ’n bietjie minder word en ek soek haastig in my sak na ’n toebroodjie. Die eerste hap is vreeslik, soos gewoonlik, maar ek weet ek sal gou beter voel sodra ek kos in my maag het.

Ek vergeet heeltemal van die non totdat sy weer begin praat. “Dit lyk of ek verkeerd was.”

Met ’n servet wat ek saamgebring het, vee ek die krummels van my mond af. Ek het geen idee wat sy bedoel nie en kyk afwagtend na haar.

“Ek bedoel dat die trein jou naar maak,” verduidelik sy. “Jy is duidelik …”

Sy hou abrup op met praat en kyk my in die oë. Toe kyk sy na my maag en daarna na die ringvinger van my linkerhand. Toe sy daar niks sien nie, kyk sy na die ringvinger van my ander hand.

“Ekskuus, ek praat altyd my mond verby.” Sy sluk moeilik. “Jy is natuurlik naar van treinry.” Haar vonkelende oë word dof en sy kyk weg.

Dit is asof hierdie vreemde vrou se verwarring dit vir my nog duideliker maak waarom my ma haar van my onttrek het. Ek het skielik die behoefte om te praat, te verduidelik, begrip te vra. Maar natuurlik hou ek my mond styf toe en kyk weer by die venster uit. Ek sien nou tog ’n paar huise en voel hoe die trein stadiger en stadiger ry totdat dit uiteindelik stop by ’n stasie wat vir my minder oorweldigend lyk as dié van Vlissingen, hoewel dit ’n groot gebou is. Hier is geen indrukwekkende versierings, kroonlyste en ornamente nie.

Die non laat nie die saak daar nie en raak vlugtig aan my mou. “Dit maak nie saak nie, kind. Moet jou nie steur aan hierdie dom ou non nie. Dit is die grootste vloek in my lewe dat ek nooit geleer het om my tong te bedwing nie. Die heilige apostel Jakobus sê dit so mooi in sy brief, en ek het al so baie probeer om dit te doen …” Sy bly ’n rukkie stil en dit lyk of sy ingedagte raak. “Moet my asseblief nie kwalik neem dat ek verkeerde afleidings gemaak het nie.”

Sy bly stil en ek besef sy wag op ’n antwoord van my, die losbandige, swanger, ongetroude, jong vrou. Ek sluk en wil antwoord, maar die klanke weier om oor my lippe te kom totdat ek uiteindelik daarin slaag om ’n sagte gefluister uit te kry.

“Reg.”

My ma sou my ’n klap teen my agterkop gegee het as sy my dit moes hoor sê, want dit is onbeleefd en kan skaars beskou word as die aanvaarding van ’n verskoning, maar suster Olivia ontspan merkbaar en maak ’n kruis. Dan slaan sy haar oë na die hemel en prewel ’n sagte dankgebed. Toe vat sy weer haar rosekrans en begin mompel.

Ek kyk in stilte na haar, gaan sit regop, met my rug stewig teen die leuning van die bank gedruk, en prent myself in dat elke stasie wat ek vandag agterlaat ’n stap verder is.

Die res van die roete tot by Roosendaal waar ons moet oorklim, praat ons nie. Maar hierdie keer voel ek nie ongemaklik daarmee nie. Ek staar by die venster uit en laat die landskap by my verbystroom. Met elke boom, elke weiveld, elke dorp en elke stasie waar ons verbygaan, laat ek ’n klein deeltjie van die las wat op my druk van my afgly. Eers toe ons Roosendaal nader, raak ons weer aan die praat. Suster Olivia het ingedut en sit saggies en snork langs my. Ek druk liggies aan haar elmboog en maak haar wakker.

“O gaats, is ons al in Roosendaal?” vra sy. “Die tyd vlieg wanneer ’n mens slaap. Dankie vir die wakker maak, Maria Klomp; sonder jou sou ek sommer verbygery het. Is dit reg met jou as ons verder ook saamry?”

Hierdie keer vra sy my sonder verwysings na haar Liewe Heer, en ek knik dankbaar, want ek sal haar hulp goed kan gebruik.

Toe ons in die trein na Arnhem sit, is ek so dankbaar vir haar geselskap dat ek ’n bietjie toegeefliker raak.

“Sonder u sou ek nie reggekom het nie.”

Suster Olivia het gesorg dat my koffers in die regte trein gelaai word, sy het ons deur die stasie tot by die regte perron uitgebring en sy is die een wat die regte trein gevind het. Ek het rigtingloos soos ’n afkophoender agter haar aangeloop en dankbaar alle hulp aanvaar.

Die trein waarin ons nou sit, lyk baie soos die vorige een, al het ek die idee dat hierdie een onlangs skoongemaak is. Die reuk van groen seep hang om ons en herinner my aan die tyd toe ons op die plasie gewoon het. Ek het Mamma baiekeer gehelp om die kombuisvloer te skrop. Ons het dan op ons knieë gesit en Ma het my ’n borsel gegee. Ek het goed gekyk wat sy doen en haar dan probeer na-aap. Wanneer ons klaar was, ons knieë nat van die water en ons hande glad van die seep, het ons na mekaar gekyk en tevrede gelag. Selfs in die tyd van die Groot Griep, toe Pappa dood is, net soos Oupa en baie mense wat ons geken het, kon daar op sekere oomblikke tog nog gelag word. Wanneer het die lag uit ons huis verdwyn? Hoe het dit gebeur? Het dit te doen gehad met die huis self, het ons lag in die plaashuis agtergebly toe ons weggetrek het? Dalk sal ek die geluk terugkry, noudat ek daarheen gaan. Ek knyp my oë toe en probeer onthou hoe die plasie gelyk het. Daar was ná ons vertrek soveel dae van heimwee dat ek nie gedink het ek sal die besonderhede vergeet nie, maar noudat ek my dit probeer voorstel, bly dit wasig.

Die trein skommel en ek stamp teen suster Olivia, wat al weer sit en slaap. Ek kan haar dit nie kan kwalik neem nie. Sy skrik wakker en kyk reguit in my oë.

“Treinry is maar ’n eentonige besigheid,” sê sy en kyk mismoedig oor my skouer na die weivelde wat verbykom.

Ek knik, maar reageer nie verder nie. In plaas daarvan buk ek af en steek my hand in die sak op soek na nog ’n toebroodjie om die naarheid wat weer opstoot teen te werk. Suster Olivia kyk hoe ek eet, sonder om ’n woord te sê. Dit lyk of haar gesig vasgeklem is in die swart-en-wit kap op haar kop.

“Is dit nie hinderlik nie?” Die woorde is oor my lippe voordat ek dit kon keer. Ek skrik self daarvoor en voel hoe my wange warm word. Vinnig vat ek nog ’n hap van die toebroodjie om my onbehaaglikheid weg te steek.

“Die kap bedoel jy? Nee, nogal nie. ’n Mens raak gewoond daaraan. In die begin voel dit ’n bietjie vreemd, maar ná ’n ruk is jy nie meer bewus daarvan nie.”

“Dit lyk vir my eensaam en moeilik om ’n non te wees,” sê ek toe my mond weer leeg is.

“Soms was dit so, ja.” Suster Olivia kyk mymerend weg en begin toe glimlag. “Maar ek het soveel goeie dinge in die plek daarvan gekry.”

Ek knik terwyl ek nadink oor hoe haar lewe moes gewees het. Miskien is dit tog lekker om in ’n klooster te woon. ’n Plek met slegs vroue is veiliger as enige ander plek. Geen manslyf om in eensaamheid teen te stry nie, geen skaamte of vrees nie.

“Hoe het u ’n non geword?”

Dit lyk of suster Olivia nie my vraag hoor nie, want sy kyk verby my by die venster uit en skommel heen en weer op die trein se ritme. Uiteindelik antwoord sy tog.

“Dit het vir my gelyk na die beste ding om te doen.”

Sy kyk vinnig na my en ek sien ’n hartseer glans in haar oë wat my verbaas.

“Ek het nie oor die regte redes gegaan nie, Maria, hoewel ek dit later tog geleer het. Nee, toe ek my geloftes afgelê het, was ek ’n jong meisie en kon ek nie aan ’n beter oplossing as dit dink nie. Eintlik het ek gevlug.”

Sy glimlag effens.

“Dis maar goed moederowerste het dit nooit geweet nie. Sy was ’n harde mens. Oorweeg jy ook so iets, Maria?’

Ek skrik vir haar onverwagte en reguit vraag en kyk vinnig by die venster uit. Asof suster Olivia my gedagtes kon lees. Sonder om na haar te kyk, gee ek ’n veilige antwoord.

“Ek is ’n Protestant.”

“Wel, wel!” Laggend klap suster Olivia haar hande. “Wie sou dit nou kon dink? Die hele tyd het ek aangeneem … Jou naam is mos Maria …” Sy klap weer hande en lag vrolik. “’n Protestant en ’n Katolieke non, dit wys jou net, Maria, dat ons Liewe Heer hom nie aan sulke dinge steur nie.”

Ek knik, maar sê nie dat ek nie met haar saamstem nie. Haar Liewe Heer is nie meer by my lewe betrokke nie en dalk was dit net ’n deel van sy wrede grap om ons te laat ontmoet.

Die treinrit is eentonig en die non raak weer aan die slaap. Ek sorg angsvallig dat ek wakker bly, want dit voel vir my na iets verskrikliks as die trein jou na ’n onbekende, ongewenste bestemming neem. Noudat ons Arnhem nader, lyk dit of die omgewing sy arms na my uitstrek, asof ek welkom geheet word in my tuiste. Die reën waarmee die dag begin het, het opgeklaar en plek gemaak vir ’n blou lug met dik stapelwolke. Sonstrale val soos goue kettings tussen die wolke deur en raak aan die aarde, wat daardeur ’n warm gloed kry. Ek sien ’n ganspaartjie wat langs ’n smal sloot op die uitkyk staan, en glimlag toe hulle heldhaftig bly staan terwyl die trein verbyrammel. Langs die spoor staan mooi plaashuise en ek sien net een enkele draad vol wit wasgoed, wat herinnerings by my oproep aan Ouma se wasdag. Maandag is wasdag. Blykbaar steur die een wat hierdie draad vol wasgoed gehang het haar nie aan die ou gebruike nie.

Sou Tante steeds die ritme van vroeër volg? Vir alles op die plasie was daar ’n tyd, al weet ek nie meer presies watter bedrywigheid by watter tydstip hoort nie. Soveel herinnerings het vervaag of selfs heeltemal verdwyn. Sal ek Tante nog herken wanneer ek uiteindelik in Velp aankom?

Ek haal vinniger asem en maak my oë toe. Ek probeer my voorstel hoe Tante lyk, maar kan niks anders van haar onthou as haar Sondagmus nie. Hoe sal ek haar op so ’n groot stasie kry? Tydens die treinrit het ek die reisigers gesien op die stasies waar ons gestop het, almal doelgerig en seker van hulle saak. Hulle het hulle bagasie gekry, hulle geliefdes gegroet en die stasie se ontvangsaal verlaat terwyl hulle hard praat en lag, of soms in stilte, maar hand aan hand. Hoe sal ek haar tussen al daardie mense herken? Ek buk om my sak op te tel en sit dit op my knieë. Ek hou die leerhandvatsels styf vas; die vel van my vingers verkleur afwisselend wit en rooi, terwyl ek my probeer voorstel hoe my tante lyk wat ek tien jaar laas gesien het. Al doen ek ook my bes, onthou ek niks anders as haar mus nie.

“Ons is amper daar, Maria.”

Ek reageer nie.

Dit lyk of suster Olivia aanvoel dat iets die afgelope paar minute verander het, want sy sit haar ou hande op myne. Ek moet my weer inhou en verstrengel my vingers styf inmekaar om nie te laat blyk dat ek liefs my hande sou wou wegruk van haar goedbedoelde aanraking nie.

“Waarvoor is jy bang?”

Dit voel of die ou vingers myne dwing om te ontspan, terwyl ek nadink hoe om sinvol te reageer. Uiteindelik antwoord ek in ’n sagte fluisterstem.

“Alles.” My tante se reaksie. Haar gewilligheid of onwilligheid om my onderdak te gee.

“Kom iemand jou haal?”

“Ja …” Maar ek het haar jare laas gesien. Ek weet nie meer wie sy is nie.

“Familie of ’n onbekende?” hou suster Olivia aan om te vra.

“Familie, my tante.” Wat sekerlik nie lus is vir ’n ongetroude, swanger susterskind nie.

“Weet jy wat, ek bly by jou totdat jy en jou tante mekaar gekry het.”

My skouers ontspan ’n bietjie en ek sak terug in die bank.

“Baie dankie.”

Sy vra nie nog verduidelikings nie en ek wei nie uit nie, maar danksy haar vriendelike woorde voel ek beter. Ek is nie nou alleen nie, die ou vrou sal by my bly totdat ek Tante onder oë kry. Sal Tante glimlag en my omhels? Of sal sy net soos die dominee wees, van buite mooi en goed – op die stasie vriendelik, in die teenwoordigheid van ander mense – maar van binne lelik en hard?

Die trein ry stadiger en ek weet ons nader Arnhem se stasie. Nog net een keer oorklim, dan is ons daar. Die laaste stukkie na Velp sal nie lank duur nie. Ons kry weer by die venster twee sitplekke langs mekaar. Ons is moeg en staar woordeloos by die venster uit. Die trein stop heeltemal te gou weer.

Ek help suster Olivia om uit te klim, en sy sorg weer dat ons ons koffers kry. Daar staan ons aan die einde van ons reis, met ons bagasie tussen ons. Soekend kyk ek om my rond en ek weet nie eintlik wat om te verwag of te doen nie. Toe sien ek haar aangeloop kom.

“Tante Be, hier is ek!” Ek roep dié woorde, ondanks die twyfel wat ek voel. Die vrou wat langs die trein af loop en aarselend by die waens inloer, kyk op en begin lag. Ek vergeet ’n oomblik lank my vrees en loop haar ’n entjie tegemoet, maar terwyl ons nader aan mekaar kom, voel ek weer die spanning en gaan huiwerig staan. Dit is dan dit, die doel van my reis. Skielik wil ek omdraai en weghardloop na ’n plek waar niemand my kan sien nie, ’n plek waarvan niemand weet nie.

“Maria, is dit regtig jy? Natuurlik is dit jy, jy lyk na Anna.” Sy vat albei my hande en kyk na my met ’n vriendelike glimlag op haar gesig. Dit laat haar ronde wange nog verder uitbol totdat dit amper aan haar wimpers raak.

Ek kyk na haar, maar kan nie ’n woord uitkry nie. In my kop dwarrel beelde van Mamma en Tante totdat hulle inmekaarvloei en een word. Hulle lyk inderdaad besonder baie na mekaar. Tante Be is ’n paar jaar ouer as Mamma, maar sy lyk vir my jonger. Sy het ’n sprankelende lig in haar oë en lagplooie om haar mond. Heeltemal anders as Mamma. Dit is asof ek na ’n lewende weergawe van Mamma kyk, asof Mamma niks meer is as ’n portret op ’n linnedoek nie. Die kleure is perfek en al die besonderhede klop, maar die lewe, die lig, kan nie op die linne vasgevang word nie.

Natuurlik is daar ook verskille. Mamma is tenger, en noudat ek Tante sien, besef ek ook dat Mamma bleek is. ’n Vrou met sagte hande wat altyd in die huis bly. Nie Tante nie. Sy het ’n gesonde blos op haar wange en die hande wat myne vashou, is eelterig en sterk. Met ’n skok dring dit tot my deur dat Mamma se hande vroeër net so gevoel het. Sterk, geletsel en grof, maar warm en vriendelik. Sterk genoeg om jou vas te hou as jy val.

Tante Be vat my arm en trek my saam na my koffers toe. Suster Olivia staan nog daar en wag. Sy het ’n glimlag op haar gesig en knik bemoedigend vir my. Ek stel Tante aan haar voor en hulle babbel ’n paar minute.

“Tot siens, liewe kind.” Dit is tyd om afskeid te neem. Die non omhels my en ek ruik haar asem, wat effens na peperment ruik; ek voel hoe die stywe kap teen my hare vryf. Die laaste keer dat Mamma my op hierdie manier omhels het, is in my geheue gegrif. Dit was in die winter toe ek twaalf geword het, ’n koue winter. Daar was ys op die slote en ek wou dolgraag skaats. Niemand het my verbied om dit te doen nie, maar ek het geweet dis omdat ek nie gevra het nie. As ek wou skaats, moes ek dit skelm doen. Ek het laatmiddag van die huis af weggesluip en na die plek gegaan waar ek afgespreek het om Aleide, die koster se vrou, te ontmoet. Ek het haar wysgemaak ek het toestemming om te skaats, en sy het beloof om haar kleindogter se skaatse saam te bring. Sy was op die afgespreekte plek, maar sy het nie tyd gehad om te kyk hoe ek skaats nie.

“Sal jy versigtig wees? Waar is jou ma?” Ek het geknik en ’n opgemaakte verskoning gemompel, waarna sy in haar haas nie goed geluister het nie. Sy is terug huis toe, en ek het die skaatse aan my skoene vasgemaak. Ek het lank gelede geskaats, die laaste keer op die plasie, maar wou nie daaraan dink nie. Ek het my op die ys begeef en daar was niemand anders nie – dit het al begin skemer word en dit sou binnekort aand wees – en ek was so vry soos ’n voël.

Die plotselinge gekraak en die koue van die water sal ek nooit vergeet nie. Die ys het net skielik onder my voete verdwyn en ek was deurnat. Ek het dit met baie moeite reggekry om weer uit die koue water te kom. Bibberend het ek op die wal gestaan en besef dat ek my geheim sou moes deel. Hiermee sou ek nie ongesiens kon wegkom nie. Ondanks die koue wat my lyf deurtrek het, het ek stadig huis toe geloop. Ek het die skaatse aan mekaar vasgebind en oor my skouer gehang. Die gewig van die ysters het met elke tree swaarder geword, terwyl ek nagedink het oor die gevolge van my yspret.

Ek het in ons straat afgeloop na die pastorie. Daar het nog in die studeerkamer lig gebrand en ek het skielik hoop gekry. Sou dit moontlik wees om hom te mislei? Miskien as Mamma saamwerk. Ek het agterom geloop en die deur so saggies moontlik oopgemaak. Nie saggies genoeg nie, want Mamma het my gehoor en was binne sekondes by my. Sy het verwyte in my oor gefluister en my terselfdertyd omhels. Sy het my by die kombuis ingetrek en my ’n plekkie langs die koolstoof gegee waar dit warm was. Toe het sy my klere van my lyf af gestroop en ’n dik kombers om my gedraai. Daarna het sy haar arms weer om my geslaan en my op haar skoot laat sit. Met haar fluisterende asem teen my vel het sy bekommerde vrae gevra. Toe het sy stilgebly en ek het haar hartklop onder my oor wat op haar bors gerus het, gehoor. Ek was gekoester in haar warm omhelsing. Ek het besef ek het na haar verlang. Op daardie oomblik was ek seker alles sal regkom. Niks was verder van die waarheid af nie.

“Sal ek u weer sien?” Die woorde kom oor my lippe en dit lyk of hulle wegwaai voordat die non hulle kan hoor, maar sy het my gehoor en omhels my weer.

“Wie weet. As die Liewe Heer wil. Wie weet.”

Sy los my en draai om; dit lyk of sy ook moeite het met ons afskeid. Ek kyk na haar klein gestalte in die swart habyt en forseer ’n glimlag, al voel ek hartseer. Dis beter so, ek mag nie te veel waarde heg aan menseverhoudings nie.

Die non draai terug en omhels my weer. Ek voel hoe sy iets in my jassak druk. Sy fluister nog ’n laaste “laat dit goed gaan met jou” in my oor. En dit is dit.

My onhoorbare “tot siens” vergesel haar toe sy van ons af wegstap. Ek sien hoe sy in die rigting loop van ’n ander, jonger non, wat haar opgewonde groet. Ek bly kyk totdat ’n groep mense by ’n trein saamdrom en ek die nonne nie meer kan sien nie.

Ek steek my hand in my sak en kry ’n klein, opgevoude papiertjie. Ek vou dit oop en sien haar naam en adres. Suster Olivia woon eintlik in Amsterdam. Watter vreemde sameloop van omstandighede het ons by mekaar uitgebring?

Mara

Подняться наверх