Читать книгу Mara - Lisette van de Heg - Страница 7

Hoofstuk 5

Оглавление

Woorde op papier. Briewe vol venyn. Sielewroegings. Mag ek maar vir u skryf? Ek reken nie op ’n antwoord nie en vra maar net ’n oor wat sal luister.

Wat kan ek verwag van my verblyf op hierdie plek? Ek is bang ek moet vier maande lank leef met die afkeuring en minagting van ’n tante wat ek nie goed ken nie. Is dit beter of slegter as ’n lewe in die pastorie?

Aarselend loop ek by die trap af. Ek weet nie hoe laat dit presies is nie, maar dit is beslis later as wat Tante gewoond is om op te staan. Ek wil liefs sonder om ’n geluid te maak ondertoe loop en stilletjies in ’n hoek gaan wegkruip, maar die trappies kraak met elke tree wat ek gee.

Eindelik is ek onder. Ek bly ’n rukkie staan en luister of ek êrens geluide hoor wat my kan vertel waar Tante op hierdie oomblik is, maar dit is stil en ek loop na die kombuis toe.

Ek klop aan die deur en stoot dit dan stadig oop. Dit is heerlik warm in die kombuis en my oë gly reguit na die koolstoof. Dit straal ’n behaaglike hitte uit en ek lei af dat Tante al lank op is. Ek maak die deur saggies agter my toe en loop verder die kombuis in. Die reuk van varsgebakte pannekoeke hang in die lug. Pannekoeke! Dit het ek lanklaas geëet.

Op die tafel lê ’n papiertjie en ek loop daarheen om te sien wat daarop staan. Ek is in die skuur by die varke. Is nou-nou terug.

Ek kyk by die venster uit, met die vae verwagting dat ek Tante sal kan sien, maar die venster is te klein en die skuur te ver weg. Buitendien is Tante waarskynlik nog binne-in die skuur. Moet ek soontoe gaan om vir haar môre te sê?

Ek gaan stilletjies op die punt van ’n stoel sit. Ek hou my bene netjies langs mekaar en sit my hande in my skoot.

Wat gaan Tante sê wanneer sy inkom? Dit is duidelik dat sy al ure op is en ek het die hele tyd gelê en slaap. En natuurlik gaan sy vrae vra. Ek kyk weer by die venster uit, bang dat ek haar sal sien en dat sy met lang treë op my afgestap sal kom.

Sy gaan my vra wie die pa van die kind is en sy sal wil weet hoe lank ek hier gaan bly. Sy gaan my vermaan en teregwys en miskien nog uitskel ook. My hande volg hulle eie wil en trek aan die fraiings van die tafeldoek. Met vinnige bewegings maak ek ’n vlegseltjie. Dan vat ek drie ander fraiings om nog een te maak.

“Is jy ’n bietjie grieperig, Maria?” Dié opmerking van mevrou Kleut klink vriendelik genoeg, maar sy hang op ’n vreemde, nuuskierige manier oor die toonbank om my te bekyk. Haar glimlag lyk nie vir my opreg nie en ek voel hoe my wange rooi word.

“Jy lyk die laaste tyd ’n bietjie bleek.”

“Mamma wil asseblief ’n pond suiker hê,” sê ek.

“En nog iets?”

“Meel.”

“Hoeveel wil jy hê, Maria?”

“ ’n Pond, nee, twee.”

Ek steek my hande in die sakke van my mantel en maak my so lank moontlik, terwyl ek probeer om my maag in te trek.

“Het jy Helène onlangs gesien, Maria?”

“Hoe bedoel u?”

“Ag, jy weet mos. Daai mens van die onderdorp.” Mevrou Kleut wys met haar kop in die rigting wat sy bedoel. Sy wag nie vir my antwoord nie, maar sis: “Sy sê sy’s al weer swanger.”

Sy kyk na my met opgetrekte wenkbroue.

Ek weet nie wat om te sê nie, sit die geld op die toonbank neer en vat my inkopies. Sonder om te groet hardloop ek by die winkel uit. Ek struikel oor die drumpel, maar slaag daarin om regop te bly. Die suiker begin gly en val amper. Met my ken keer ek die pak sodat dit in my arm bly lê. Eindelik gaan ek staan. Ek hurk om al die inkopies weer op te stapel. My hande bewe en ek hou die papiersakke styf vas om te keer dat iets val. Mevrou Kleut se woorde weerklink nog in my kop. Helène is swanger. Swanger. Die vreeslike waarheid wat ál duideliker word, stuur ’n rilling deur my lyf.

Daar hang twaalf vlegseltjies aan die tafeldoek toe ek skielik die gekletter van klompe hoor. Ek kyk vinnig deur die venster en sien Tante aankom. Haastig begin ek aan die fraiings pluk om die vlegseltjies te ontrafel. Tante sal sekerlik kwaad wees as sy sien wat ek gedoen het; ek moet sorg dat sy niks agterkom nie.

“Goeiemôre, Maria!”

“Goeiemôre, tante Be.” Ek is nog nie klaar nie. Onhandig, frommelend probeer ek om voor die vlegseltjies te gaan sit terwyl ek die fraiings uitmekaartrek.

“Het jy lekker geslaap?”

“Ja, baie dankie.”

“Wat sit jy so en peuter met jou hande? Maak jy nog altyd vlegseltjies van tafeldoeke se fraiings?”

“O. Jammer. Ek …”

“Dis goed so. Laat ek sien.”

Sy kom nader en bekyk ’n vlegseltjie.

“Net soos vroeër, ek onthou dit nog goed.” Sy glimlag stralend. “Het jy lus vir pannekoek?”

Ek knik en sit my hande weer in my skoot. Met my rug reguit en met my maag so klein moontlik bly ek stilsit. Wat moet ek doen? Wat verwag sy van my? Gaan die verwyte nou begin? Dalk wil Tante wag tot ná ontbyt. Ek maak my oë toe en ril.

“Kom kyk ’n bietjie, Maria.”

Ek staan vinnig op en gaan na haar.

“Ek sal jou wys waar alles is sodat jy self kan regkom in die kombuis.”

“Die plek vir die borde en potte is vanselfsprekend,” sê Tante terwyl sy na die borderak wys, waaraan die skeplepels ook hang. Daaronder is die blou potterakke, met die potte op die boonste en die deksels op die onderste rak. Net soos ek dit onthou.

Tante loop na die groot kombuiskas en maak die deure oop.

“Hier hou ek die suiker, sout en meelblom. Daar is nog ’n klomp goed in die kas, maar jy kan dit later op jou gemak bekyk.” Sy klap die deure toe en loop na die spens. Sy maak die deur oop.

“Jy kan dit sekerlik nog onthou?”

Ek loop agter haar aan en sien in die skemerdonker die rakke teen die mure wat volgepak is met Keulse potte en inmaakflesse. Vol inmaakflesse.

“Tante het genoeg voorraad.”

Sy draai om en kyk glimlaggend na my.

“Ja, en nou kan ons dit lekker saam opeet.” Ek draai om en loop terug na die kombuis.

“Ons gaan dadelik eet. Sal jy die borde dek?”

Ek knik sonder ’n woord en haal twee borde uit die borderak, kry eetgerei en twee kommetjies vir die melk. Tante verdwyn weer in die spens en kom terug met botter en ’n potjie konfyt. Sy haal ’n suikerpot uit die kombuiskas, en gou-gou sit ons aan tafel en kyk ek hoe Tante die seën vra. Met my oë wyd oop kyk ek na haar gesig, die ronde wange en sag bewegende mond. Sy lyk vir my mooi en liefdevol.

Mara

Подняться наверх