Читать книгу Mara - Lisette van de Heg - Страница 8

Hoofstuk 6

Оглавление

Tante het my nog nie veroordeel nie en sy lyk vriendelik. Soms wonder ek of iets van haar in my ma te vinde is, baie diep weggesteek. Die een oomblik kan ek nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat hulle baie na mekaar aard nie; die volgende oomblik verskil hulle so dat dit lyk of geen familieband bestaan nie. Ek het Tante soveel moontlik van haar suster vertel. Sy lyk gelukkig noudat ek die leemte kan vul wat in die loop van tien jaar ontstaan het. Ek vra my af of dit met my net so sal gaan. Bestaan ek nog vir my ma en vir hom wat my sy dogter noem? Is ek vir goed uit hullegeheue gewis en gaan hulle vir hulle vriende en kennisee vertel dat ek dood is, in die niet verdwyn het? Dié gedagte maak my bang, wantwat as hulle my dood verklaar? Wat is ek dan nog, wie is ek dan?

In die dae wat volg, kom ek agter dat ek meer sin kry in regte maaltye en ek voel ál fikser. Vreemd genoeg lyk dit of my maag nou eers hier by Tante begin groei, asof daar nou uiteindelik ruimte voor is. Ruimte vir my skaamte.

Die moegheid het ook minder geword, en toe Tante my vra of ek haar wil help met die appel- en peeroes, knik ek en gaan my gedagtes terug na die verlede. Ek kan die potte met gestoofde pere al amper ruik.

Die volgende dag begin ons met die plukkery. Nadat ons die diere versorg het, vat Tante die kruiwa en vra of ek saamkom terwyl sy die plukhaak vir my aangee. Saam loop ons na die boordjie, waar verskillende soorte appel- en peerbome staan. Tante het ’n deel van die oes gepluk voordat ek aangekom het, maar wat oor is, kan ons nou saam doen.

Tante stoot die kruiwa tot by ’n boom en klim op die houtplank wat sy bo-oor die kruiwa gesit het. Op dié manier kan sy baie van die takke bykom. Sy laat dit aan my oor om die vrugte wat hoër sit met die plukhaak los te skud.

Ek steek die haak in die lug op en wil ’n tak skud, maar halfpad laat ek die stok sak en maak my oë toe. Ek het Ouma vroeër ook gehelp, ek kon die appels optel wat sy laat val het, maar …

“Tante, moet ek nie eers strooi uitsprei nie?”

Tante kyk om na my en knik.

“Kan ek dit gou gaan haal?’

“Ek het matjies gevleg. Kyk maar in die kruiwa.”

“Tante het dit saamgebring! Hoekom het Tante nie so gesê nie?”

Tante glimlag, maar antwoord nie. In plaas daarvan neurie sy ’n wysie terwyl sy ’n tak kaalpluk.

Ek loop na haar toe, vat die strooimatjies en gaan sprei hulle op die grond onder my boom uit. Ek skud weer met die haak aan die takke. Die appels kom maklik los en val op die matjies, sonder om te erg te kneus. Een appel rol weg. Ek tel dit eerste op, maak dan die matjies leeg, stapel hulle opmekaar en gaan na die volgende boom.

Ek dink aan Mamma, wat vir my presies voorgeskryf het hoe om die takies in en om die huis te doen. Dit het gevoel of sy elke sekonde by was om my tereg te wys, en as ek iets vergeet het, het sy kwaad geword.

Tante het my net die plukhaak gegee en niks van die strooimatjies gesê nie. Ek is bly ek het self daaraan gedink.

Die daaropvolgende dae word bestee aan die verwerking van die oes. Ons skil tot daar berge skille lê. My vingers kry verskillende blase en kleure, ook snye van die kere dat die mes glip. Ons kook potte vol vrugte tot moes, konfyt en jellie. Ek kan sien Tante hou van wat sy doen. Al neurieënd maak sy die inmaakflesse skoon, steriliseer dit met kookwater en vul dit met die resultaat van ons arbeid. Elke dag verskyn ’n nuwe voorraad flesse wat sy noukeurig van ’n etiket voorsien, waarop sy allerlei inligting skryf. Van die plukdatum tot die inmaakdatum.

“Hoekom skryf Tante dit alles daarop?”

Sy knipoog vir my voordat sy antwoord.

“Sommer net omdat dit vir my lekker is.” Sy wys na ’n etiket wat sy sopas geskryf het.

“Sien jy dit? Ek hou daarvan om ’n gepaste naam te bedink vir alles wat ek gemaak het, dan smaak dit lekkerder.” Saam gepluk staan daar op die etiket.

Ek glimlag en skil nog ’n appel vir die moes wat ons vandag gaan maak.

“Moet jy nie vir jou familie en vriende skryf nie?” Dié vraag kom totaal onverwags en laat my skrik.Vinnig dink ek ’n simpel verskoning uit.

“Die posbode herken dalk my handskrif en vra die dominee oor my uit.”

Tante Be bars uit van die lag en skud haar kop sonder om iets te sê. Ek is bly sy hou nie aan vra nie. Wat kan ek nou eintlik sê? Dat ek weier om ’n enkele gedagte oor my lewe, wat nog te sê van ’n brief, aan my ma of die dominee toe te vertrou? Dat ek, behalwe hulle, niemand anders agtergelaat het op die dorp waar ek so lank gewoon het nie?

Ek huppel in die middel, arms ingehaak by Elzemarie en Joanne. Ons sing ’n vrolike liedjie en strompel laggend in by die kombuis, waar Mamma ons opgewek groet. Sy het net mooi vir ons limonade ingeskink en ’n bordjie met koekies op die tafel neergesit toe die deur oopvlieg.

“Wat gaan hier aan, Anna?”

“Maria het twee vriendinnetjies saamgebring. Stel hulle nou mooi voor, Maria.” Ek sien hoe Mamma se wange rooi word en haar stem bewe, maar ek verstaan nie hoekom nie. Ek staan netjies op soos ek geleer is en gaan agtereenvolgens agter Elzemarie en Joanne staan om hulle voor te stel. Albei bly sit en kyk gefassineer na die man wat hom my pa noem, hulle nuwe dominee.

“Ek kan nie hierdie lawaai verduur nie. Sorg dat hulle stil is, Anna! Hoe dink jy moet ek Gods Woord ontvang as hierdie kinders,” hy spoeg die laaste woord met geweld uit, “so ’n duiwelse kabaal opskop!”

Hy kyk ons die een ná die ander skerp aan, loop by die kombuis uit en slaan die deur hard agter hom toe. Ek sluk swaar toe ek op my tone na my stoel terugloop en weer gaan sit. Die koekies lyk skielik nie meer so lekker nie en die limonade smaak nie so soet soos altyd nie.

Sonder ’n woord sit ons by die tafel. Toe, gans te vinnig, is Elzemarie se koekie en koeldrank op. Sy staan van haar stoel af op, loop na my ma en groet haar beleefd met die hand.

“Ek moet nou huis toe gaan, mevrou.” Die woorde kom sag oor haar lippe, maar duidelik genoeg dat ek dit kan hoor. Nog voordat Mamma kan reageer, staan Joanne ook op en volg Elzemarie se voorbeeld.

Mamma stap saam met die meisies deur toe en waai vir hulle toe hulle wegstap. Ek sit op my stoel en hoor hoe hulle gaan, maar ek groet hulle nie en waai nie vir hulle nie.

“Ek dink jy moet darem vir jou pa en ma ’n brief stuur. Hulle sal wil weet hoe dit met jou gaan.”

Ek kan met moeite my ergernis wegsteek toe Tante tog weer daaroor praat. Sy bedoel dit goed met my en kan onmoontlik verstaan waar my weersin vandaan kom.

“Ons sluit jou brief elke maand by myne in. Goed?”

Ek knik terwyl ek weet die briewe sal in die niet verdwyn, sonder om ooit gelees te word.

In stilte skil ons voort totdat daar ’n enorme hoop appels op die tafel lê. Tante staan op en haal haar grootste pot van die rak af.

“Sal ek dit gou opsit, of wil jy dit doen?”

“Mag ek dit doen?” Ek is al halfpad op. Mamma het my altyd weggehou van die stoof. “Jy sal net brand stig, Maria.”

“Natuurlik mag jy dit doen. Gaan jou gang. As jy jou ma se talent geërf het, gaan dit heerlike appelmoes wees.”

Ek lig my wenkbroue en kyk na my tante. Bedoel sy wat sy nounet gesê het? My ma se talent – sy wat net in die kombuis gekom het om eenvoudige etes te berei?

“Wat bedoel Tante?”

Tante glimlag en gaan weer sit.

“Wanneer ek net dink aan haar appelmoes, begin my mond water,” sê sy. “En haar gestoofde pere. Heerlik! Kook sy dit nog altyd op dieselfde manier?”

Ek skud my kop.

“Ek kan nie onthou dat ons ooit appelmoes of gestoofde pere gehad het nie.” Tante kyk geskok op en maak haar mond oop om iets te sê, maar ek spring haar voor.

“Ons het net geëet wat ons nodig het. God het dit vir ons gegee, en ons moet dankbaar wees daarvoor.”

Voor my sien ek die smaaklose etes wat ons elke middag afgesluk het. Dikwels was alles fyngemaak tot ’n kleurlose, onaptytlike pappery. En verder het ons bruinbrood of rogbrood geëet, met Sondae ’n bietjie botter en ’n snytjie kaas daarop. Die dominee het uiteraard elke dag brood met botter en kaas gekry, want hy was die heer van die huis.

“Net wanneer ons gaste gehad het, was daar iets ekstra om te eet. Maar dit het nie dikwels gebeur nie, want Mamma het ’n hekel aan ’n deurmekaarspul.”

“Wat het met haar gebeur?”

Tante klink geskok, maar sê niks.

“Die appelmoes …” vra ek. “Hoe moet ek dit doen?”

Buiten die inmaak van vrugte, is daar ook die daaglikse take. Vir Tante begin die dag vroeg en ek is vasbeslote om my by haar ritme aan te pas. Daarom staan ek ná die eerste dag vroeg genoeg op om haar te kan help. Tante het ses koeie wat twee keer per dag gemelk moet word. Ek onthou nog hoe Oupa my vroeër aan die melk laat proe het terwyl dit nog warm was en ek onthou hoe hy op die stoeltjie tussen die koei se pote gesit en aan die spene getrek het om die melk te laat uitspuit.

Ek het dit nog nooit self gedoen nie en kyk nou toe terwyl Tante my wys hoe. Sy het my ’n ekstra stoeltjie vir my gegee sodat ek langs haar kan sit en alles goed kan sien.

“Vryf eers jou hande ’n bietjie warm,” sê sy. “Dis nie lekker vir die koei as jy met koue hande melk nie.”

Toe sy dit gedoen het, sit sy haar hande om die spene en begin met stadige, gelykmatige bewegings trek.

“Jy moet ondertoe trek en terselfdertyd knyp, maar nie te hard nie, hoor. Anders slaan die koei jou met haar stert.”

Ek sien hoe twee straaltjies melk in die emmer spuit. Dit lyk nie moeilik nie, en dit lyk nie of die koei ongemak verduur nie, want sy bly rustig staan en kyk nie op of om nie.

“Wil jy probeer, Maria?”

Ek aarsel ’n oomblik lank. Die koei is groot en warm en baie naby, maar ek sê tog ja. Tante staan op en ons ruil plekke. Tante sit haar stoeltjie agter myne en buig oor my. Sy vat my hande en sit dit op die spene. Haar lyf is styf teen myne.

Dit is anders, sê ek vir myself, en ek bly doodstil op die stoeltjie sit. Sy is ’n vrou, sy is my tante, maar sy is ook groot en sterk. Toe haar vingers my hande die regte bewegings laat maak, haal ek ál vinniger asem en ek voel hoe die wêreld om my begin draai. Ek wankel op die lae stoeltjie en val amper op die grond. Dis net Tante se arms om my wat my regop hou.

“Maria, is alles reg?” Sy trek my agteroor en laat my teen haar borste leun. Ek kan haar hart hoor klop. Die ritme van haar hartklop raak verstrengel met syne. Te naby. Hy is heeltemal te naby. Ek probeer hom wegstoot, maar hy is te sterk en te swaar.

“Gedra jou, Maria.”

Te naby. ’n Suisende gestamp in my ore meng met sy hygende asemhaling. Met moeite kry ek genoeg lug in my longe. Te naby.

“Moet jy iets eet, of het jy iets anders nodig?”

Bekommerd laat Tante my stadig los, maar ek kan voel sy hou my dop. Ek draai om sodat ek na haar kan kyk.

“Niks is verkeerd nie,” lieg ek. Stadig tel ek tot tien terwyl ek rustig en diep asemhaal.

“Ek was net ’n bietjie duiselig, dis niks. Dit gebeur maar in my toestand.” Ek glimlag floutjies.

“Kom ons doen dit ’n ander keer. Kyk vandag maar net hoe ek dit doen.” Tante staan op en steek haar hand na my uit. Sy trek my regop en kyk aandagtig na my om te sien of alles reg is. Al bewe my bene, bly ek stilstaan. Ek kyk reguit in haar oë. Sy hoef nie van my swakhede te weet nie. Oënskynlik gerusgestel knik tante Be vir my en gaan sit weer tussen die koei se pote. Met kalm bewegings gaan sy voort om te melk en toe sy klaar is, vat sy die emmer en stoeltjie en gaan na die volgende koei. Ek volg haar gehoorsaam en kyk wat sy doen, maar my gedagtes is êrens anders, in ’n eensame en bang hoekie.

Eers toe Tante klaar is en die emmers in die melkkanne leegmaak en ek haar help om die emmers skoon te maak, vervaag die herinnerings. Ek voel hoe ek kalmer word. Saam tel ons die melkkanne in die kruiwa. Vanaand ná melktyd moet ons al die kanne langs die pad sit sodat die melklorrie dit kan oplaai.

Ons loop na die skuur waar Tante twee sôe en ’n slagvark het. Toe die skuur se deur oopgaan, kry ek die reuk wat ek nog goed onthou. Varke is vuil diere en ek hou my asem op terwyl ons binnetoe loop. Dit lyk nie of dit Tante pla nie.

“Volgende week kom die slagter,” sê sy. “Dit sal jammer wees as jy dit moet misloop, Maria. Is jy baie seker jy wil nie …”

“Ja, Tante.” Ek val haar in die rede voordat sy haar sin kan voltooi. “Niemand mag weet ek is hier nie. Ek sal na my kamer gaan en my daar besig hou.”

“Dis jammer.” Tante Be vryf haar hande teleurgesteld, maar dit lyk of sy daarby berus dat ek nie by sal wees wanneer die vark geslag word nie. Ek is self bly ek het ’n goeie verskoning om nie by hoef te wees nie.

Ek het al destyds ’n hekel gehad aan die slagter wat net op ’n spesifieke dag kom om sy werk te doen. Daardie man met allerlei gereedskap wat my so laat gru het. Oupa was ál een wat geweet het hoe erg dit vir my was. Hy het altyd gesorg dat die slagter met middagete ’n hele ent van my af sit. Soms het hy dan oordrewe vir my geknipoog.

“Wat gaan ons dan doen as die bure saans kom kuier?”

“Ek bly dan ook in my kamer, ek kan nie anders nie. Die dominee was duidelik genoeg in sy brief. En …”

Ek bly stil, maar my gedagtes glip na mevrou Kleut en haar opmerkings. Ek kyk af en sien die klein bultjie wat my maag maak. Ek ril en voel hoendervleis op my arms. Tante kan daarvan dink wat sy wil, maar ek is nie van plan dat iemand my in hierdie toestand sien nie. En veral nie ’n slagter nie.

Tante voer die varke, en ons is gou weer buite.

“Nog net die hoenders, en dan gaan ons ontbyt eet,” sê sy en loop voor my uit na die hoenderhok, wat nog verder van die huis af is. Onder haar arm het sy ’n mandjie wat sy uit die skuur saamgebring het. Ek herken die mandjie van vroeër. Om die hoenders te voer was een van die take wat ek as sesjarige toegelaat is om te doen en ek onthou nog hoe lekker dit vir my was om vir die hoenders graan te strooi.

Tante maak die hok oop en die hoenders kom buitentoe, nog voordat die eerste graan op die grond lê. Terwyl Tante die die voer kwistig uitstrooi, loop ek by die hok in op soek na eiers. Ek tel my voorskoot op en sit die eiers een vir een daarin. Tante het goeie lêhenne en sy behoort ’n aardige bedraggie op die mark te kan verdien as sy elke dag soveel eiers het.

Toe ons klaar is, het dit al stadigaan ’n bietjie ligter geword. Ons loop in die oggendskemer terug kombuis toe waar ’n stapel pannekoeke wag.

Mara

Подняться наверх