Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 7 - Louisa du Toit - Страница 10
7
ОглавлениеDie winter stuiptrek.
Die warmer dae word verwelkom, veral ter wille van Tillie, wat neerslagtig bly en nou veel baat daarby vind om son en buitelug te geniet. Heeltemal aangesterk wat betref haar beserings in die ongeluk, is dit glad nie meer nodig dat sy in die bed bly nie.
Maar haar bene rem nog aan haar liggaam soos dooie takke aan ’n boom. Aanvanllik het sy hulle gehaat, die gevoellose ledemate waarteen sy gedurig moes vaskyk as sy in haar stoel sit. Later het sy haar daarmee begin versoen soos ’n mens sou doen met ’n vreemde gesig. As dit koud genoeg was, het sy hulle met ’n kombers bedek. En toe die dae eers begin warmer word, was sy meer gewoond aan hulle voorkoms. Hulle is tog mooi gevorm en die vel is soos suiwer marmer.
Nou sit sy dikwels op die agterstoep waar een toegeboude dwarsmuur ’n warm hoekie verseker. ’n Entjie van die stoep af weg, half onder die groot seringboom, staan die wit rondawel waar Deon tuis is, en die pers bougainvillea maak ’n kleurige vlek op ’n andersins kaal agtergrond. Sy dink nog baie aan Bennie, hoewel nie meer met die felle telleurstelling van vroeër nie. Nou is sy bly dat alles gebeur het met die maksimum skok. So kan sy in een proses van alles herstel.
Vir niks ter wêreld sou sy die herinneringe aan daardie bykans twee maande saam met Bennie uitgewis wou hê nie. Dis ’n ondervinding wat die poorte van geluksaligheid vir haar ontsluit het, wat die magiese begrip “liefde” deur eie ondervinding by haar tuisgebring het. Om vir een mens op aarde so spesiaal te voel, die warmte daarvan. Agterna bekyk, staan sy verstom oor haar eie onverskrokkenheid teenoor Matilda se strenge oorheersing, waardeur sy die geheime ontmoetings met Bennie bewerkstellig het. Sy het hom die eerste keer by Hannah Thirion ontmoet.
“Kan ek u terugneem, juffrou?” het hy aangebied toe sy teen skemer aanstaltes maak om huis toe te gaan.
“Dis nie nodig nie,” het sy byna oorhaastig gekeer. “Ek het te perd gekom, dankie.”
“Dis interessant. Is dit nog ’n gewoonte hier rond?”
“Nie eintlik nie, maar ek is lief vir perdry.” Haar stiefpa het dié liefde raakgesien en gesorg dat sy ’n perd kry. Nou hoor sy dat, terwyl sy in die hospitaal was, Matilda stilweg die perd na ’n buurplaas gestuur het.
Maar daardie dag het hy en Hannah saam met haar uitgestap en sy het geweet dat Hannah hom alles omtrent haar sou vertel sodra sy weg is. Haar huislike omstandighede.
Drie dae later het Hannah haar kom besoek. “Ek is hier op ’n sending,” het sy spoedig gebieg. “Bennie wil jou beter leer ken.”
“Sê maar vir hom dis onmoontlik,” het Tillie skynbaar onverskillig geantwoord. “As my ma so iets agterkom, is die duiwel los.” Maar haar hart het woes geklop.
“Ek het hom reeds gewaarsku,” het Hannah volgehou. “En dis glad nie so onmoontlik nie. Julle ontmoet by ons plek.” Hulle het ook, en enkele kere selfs by sy woonwa, waar hulle warm geliefkoos maar nie te ver gegaan het nie. Nie dat dit maklik was nie. Tillie se hande roer in haar skoot.
So het alles dan gekom en verbygegaan. Nou is sy terug in die groef van onderworpenheid en slaafse navolging. Uiterlik beoordeel is sy slegter daaraan toe as voorheen, maar tog vir altyd ryker. En wat onmoontlik gelyk het, begin gebeur: sy kry weer belangstelling in die lewe. So amuseer dit haar byvoorbeeld om te sien hoe Irma en Matilda keer op keer teen mekaar afgespeel word. Sy is ’n toeskouer by ’n stiergeveg en Irma die toreador wat telkens koel opsystap met die rooi doek, terwyl Matilda die verwoede aanstormer is. Eienaardig genoeg, steur haar ma haar nie so veel aan Deon en vererg sy haar nie so maklik vir hom nie. Dalk probeer sy hom op dié manier doelbewus die buitestander hou.
Deon … as Bennie soos Deon kon wees, sou daar nooit ’n probleem gewees het nie. Intuïtief weet sy dat die hulpeloosheid van haar toestand nooit vir Deon hinder nie. Dis moeilik om te verklaar; miskien is dit die feit dat hy sy lewe lank liefde ontbeer het, en daarom die waarde van uiterlikhede gering ag. Ook oor Irma se teenwoordigheid voel sy innig dankbaar. Met gemengde gevoelens het sy daarvan kennis geneem dat Irma haar werk bedank het en vir ’n onbepaalde tyd op die plaas sal bly. Aan die een kant het sy met volkome begrip besef dat die verbreking van die verlowing regstreeks hiertoe gelei het. Aan die ander kant vermoed sy met ’n vae skuldgevoel dat haar toestand iets met die beslissing te doen het.
Tog is daar ’n onderliggende gevoel van dankbaarheid in haar hart omdat die stiefsussie wat vir haar so baie beteken, nou weer binne haar bereik is. Doelbewus probeer Deon en Irma haar ophef uit die toestand van willoosheid waarin sy verval het. Hulle het selfs vir haar ingeteken op oorsese tydskrifte, omdat sy lief vir lees is en Matilda weinig Afrikaanse tydskrifte goedkeur. Naaldwerk trek haar nie en van die huislike pligte het sy met graagte afstand gedoen.
Die steeds lang aande van nawinter bring hulle deur met speletjies wat selfs haar stiefpa se belangstelling prikkel. Wanneer Matilda haar dan gewoonlik uit die voete maak om te ontkom aan die “ledige tydmorsery”, word dit meestal ’n gesellige aandjie.
Totdat Matilda wel ingryp, een aand toe Deon en Irma ’n pak kaarte te voorskyn bring. Matilda was in die badkamer doenig. Toe sy die vrolike gelag uit die kombuis hoor, dra haar voete haar onwillekeurig soontoe. Asof versteen steek sy in die deur vas toe sy die toneeltjie aanskou; ’n heel gesellige spelery om die kombuistafel, met haar man ook in die kring en Irma wat besig is om die kaarte te skommel en te deel. Die uitbarsting is onmiddellik en onvermydelik. “Wat maak julle met die duiwel se speelgoed? Vuur toe! Vuur toe!” Sy beduie na die stoof.
Verslae kyk die drie jonges haar aan, terwyl haar man stadig sy stoel begin agteruitstoot. Toe kyk Irma kalm af op haar hande en deel die kaarte verder. Tot die uiterste toe geterg, staan Matilda ongelowig en kyk na hierdie openlike verset teen haar gesag. Sy word wit, en die gloed van wraak spring in haar oë toe sy stadig op Irma begin afstap. Tillie se mond is droog en sy is op die punt om te gil, toe Deon Irma se hand teëhou en die kaarte bymekaar maak. “Ons speel op ’n ander keer,” sê hy skaars hoorbaar.
Net asof daar ’n ander keer sal kan wees. Matilda het ook dit bederf, vir goed.
Hoewel Irma dit nie probeer toon nie, is sy hewig ontsteld. Dit verg moeite om skynbaar kalm te bly sit terwyl dit lyk asof Matilda haar wil aanrand. Onvergeetlik is eensklaps weer in haar die verstikkende vrees by die aanskoue van die dreigende vrou, die vrees wat sy gedink het iets van die verlede is. Oomblikke lank is sy weer die senuagtige kind wat retireer voor die woede van die vrou wat nader en nader kom soos ’n tierwyfie wat bekruip … totdat die prooi sal omspring en blindelings vlug. Toe Deon haar hande half saam met die kaarte vasvat, kon sy voel hoe haar hande liggies ruk.
Toe Tillie reeds versorg en in die bed is, tik Deon teen Irma se ruit. “Kom ek gaan jou koudlei,” sê hy toe sy die gordyn wegtrek en deur die halfoop venster uitkyk. Hy staan effens verleë in die halfdonker. Dit was wel sy doel om haar te nooi om saam met hom te gaan stap sodat sy kalmer kan word, maar hy kan nie sy onderliggende motief aan haar verraai nie: dat sy rondawel koud en leeg is en hom geen rus bied nie.
Toe hulle met die wit werfpad aanstap onder die lig van ’n koue maan, praat sy oor die voorval wat nog in hulle albei se gedagtes spook: “Deon, Matilda het sielkundige behandeling nodig. ’n Besoekie af en toe aan die dokter is nie genoeg nie. Sy gooi die pille waarskynlik ook in die asblik.”
“Sal jy die moed hê om dit vir haar te noem?” Hy klink byna geamuseerd.
“Maar enigeen kan tog sien sy is nie normaal nie.”
“Enigeen behalwe sy self. En dis nogal waar dat ons haar ’n bietjie tart. Ons kon mos weet sy sal die aapstuipe kry as ons kaart speel.”
“Ek kan dit nie help nie. My hele wese kom in opstand teen so ’n verwronge uitkyk.” Van haar kalme onaanraakbaarheid, wat kenmerkend was van haar gedrag op kantoor, het weinig oorgebly na ’n paar weke in haar ou omgewing.
“Sy kan nie anders wees nie; verstaan jy dit nie?”
“Dink jy dan werklik dat sy altyd so was?” dring sy aan.
“Hoe sou ek weet? Dalk het sy ’n ellendeling van ’n eerste man gehad.”
“Of dalk het sy hom vergiftig. Ja, dalk dryf haar gewete haar.” Irma gaan stilstaan in die koue, maanverligte paadjie. “Die ding is, dit word al hoe erger. Dis asof sy nou meer hatig en agterdogtig op ons is as ooit tevore.”
Hy kom ook tot stilstand, naby en reg teenoor haar sodat sy byna sy asem kan voel. “Dis verstaanbaar, Irma. Ons het grootgeword.”
Dit duur ’n rukkie voordat sy die betekenis van sy woorde snap, en selfs toe is sy nie seker of sy hom reg verstaan het nie. “Jy bedoel tog nie … jy wil tog nie sê dat sy ons, vir jou en haar dogters, van ’n vryery verdink nie?”
“Ja, dis wat ek bedoel,” erken hy onomwonde.
“Maar, liewe land, dis tog ongehoord … ek kan geen beter woord daarvoor kry nie.”
“Is dit …?” Enkele sekondes kyk hy roerloos na haar, dwing haar om terug te kyk. “Hoekom ongehoord?” Verward sien sy net die donker poele waar sy oë is, die vae omlyning van sy ruie hare. “Net omdat ons so gewoond aan mekaar is?”
Terwyl hulle so bewegingloos staan, word sy bewus van ’n vae spanning, ’n gevoel wat sy etlike kere in die laaste tyd ondervind het en toegeskryf het aan ’n heraanpassing na lang afwesigheid. Nou ondervind sy dit egter soveel intenser, noudat sy vorsende oë haar tot ’n antwoord dwing. Oomblikke wag sy op dit wat sy onvermydelik voel aankom: dat hy haar sal aanraak, dat hy deur ’n warm aanraking bevestiging sal bied vir die onsigbare lyn van spanning tussen hulle. Dan voel sy egter die verslapping in die gespanne atmosfeer en sy weet dat die oomblik verby is.
Daar is by geeneen van hulle die drang om verder te stap nie; terwyl hulle terugstap, is daar ’n tasbare stilte tussen hulle. Opeens is dit ’n onbekende man wat langs haar stap. Sy kyk tersluiks op na sy groter gestalte en dof sigbare gelaatstrekke en verstom haar daaroor dat sy ooit kon dink dat sy hom ken. Omdat sy die eensame jong seun sien groei het tot ’n man, het sy daarop aanspraak gemaak dat sy hom begryp. Nou weet sy dat slegs sy mees elementêre eienskappe en aspirasies aan haar bekend is.
Sy het onlangs dorp toe gery om pos te kry omdat Tillie graag haar tydskrifte wou hê. Daar was ’n dik brief aan Deon, gepos in Kaapstad. Van Deirdre, natuurlik. Sy het dit in sy rondawel op die tafel gesit en geweet dat hy dit daar sou vind.
Toe hy vir middagete inkom, het sy net gevra: “Jou brief gesien?”
“Klaar gelees,” was sy niksseggende antwoord.
Toe hulle na ete op die stoep sit, het Tillie haar gevra om die landboutydskrif vir Deon te vat. Toe sy aan die oop rondaweldeur tik en instap, was hy besig om sy brief weer te lees. Sy het ongemaklik gevoel, en hy ook.
“Ek lees dit oor en oor soos ’n verliefde skoolseun, nè? Is dit hoe dit lyk?” het hy hom verontskuldig. “Die verskil is net dat ek nie verlief is nie.” Sy het verbaas na hom gekyk, gemerk dat hy dit bedoel. “Nog nie,” het hy bygevoeg. “Sy is te vaag. Sal haar eers moet sien.”
“Dan sal jy seker ’n plan moet maak,” het sy effens sarkasties aangeraai.
“Die plaas en alles hier hou my te vas.” Hy kyk nie na haar terwyl hy dit sê nie.
“Klink vir my na ’n flou verskoning.”
“Tref dit jou nie dat ek haar … enige meisie, niks kan bied nie? Ek is niemand en ek het niks.”
Hy klink eerlik, nie selfbejammerend nie. Sy luister half verbaas. Sy het nooit besef dat hy ’n familielose, besitlose jong man is, en dat dit hom in ’n verhouding kan kniehalter nie. Die werk op haar pa se plaas kan nie juis as vastigheid beskou word nie.
’n Vlugtige oomblik wonder sy hoe dit moet wees om hom werklik te ken, om sy gedagtes en gevoelens te deel … Voel sy nie maar net so ontwortel soos hy nie? Trouens, in die gevoel dat daar nêrens in die lewe eintlik meer ’n plek is waar sy tuishoort, ’n persoon aan wie sy behoort nie, wy Irma haar meer en meer aan Tillie. Die gevoel van kameraadskap en liefde tussen hulle verinnig. En mettertyd begin Irma, deur ’n fyner aanvoeling van Tillie se gemoedslewe, haar bewus word van ’n subtiele verandering in die jonger meisie se gemoedstoestand. Daar is vibrasie … lewe.
Sy het eers gedink dat die verandering te danke is aan toenemende lewenslus namate die liggaamskragte terugkeer. By tye het sy egter aan ’n ander moontlike oorsaak begin dink.
Een aand in die vroeë lente word haar vermoede bevestig, nie sonder ’n mate van skok nie. Dit is die eerste aand wat warm genoeg is om die inwoners na buite te lok. Hulle beplan om op die stukkie grasperk te eet. Dit word al groenerig na die winter, iemand het seker onthou om dit nat te lei. Waarskynlik Deon.
Haar rystoel langs die kombuistafel gestoot, maak Tillie toebroodjies terwyl Irma die koue vleis en tamaties sny. Met hande deemoedig saamgevat onder haar voorskoot, staan Matilda voor die stoof en wag dat die water moet kook. Tersluiks hou Irma haar dop en voel ’n verbasende gevoel van vertedering in haar opstyg by die aanskoue van die vrou wat so ongelukkig en vereensaam daar staan en peins met haar blik in die vuur. Haar nogal mooi, hoewel hoekige gesig, vertoon byna sag. Ek sou haar tog kon liefhê, dink Irma vir die eerste keer. Ons almal sou haar kon liefhê, as sy dit net wou toelaat.
Die ete is spoedig gereed, en word op skinkborde uitgedra. Deon en Vader bring seilstoele van die stoep af, asook die verweerde rottangtafeltjie uit “Tillie se hoekie”, daar waar sy op koue oggende in die sonnetjie sit. Soggens op die voorstoep, namiddae op die agterstoep. So het sy twee geliefkoosde plekkies afgebaken.
Tillie het haar stoel eiehandig gestuur tot op die randjie van die stoep en wag nou om afgehelp te word. Dit het ’n onskadelike speletjie geword wat Tillie plesier: die wedywering van haar ma om altyd eerste by die stoel te wees, sodat Deon nie vir Tillie kan uittel en dra nie. Soms storm hy doelbewus op die stoel af terwyl Matilda haar ook so ongemerk moontlik haas om eerste daar te wees.
Ook nou stap hy vinnig die treetjies op en wil haar afdra om ook in ’n seilstoel te sit, maar Matilda is hom voor. “Vat eenkant,” beveel sy hom en pak die stoel stewig vas. Blaas-blaas van inspanning voltooi sy die selfopgelegde taak.
Dis heerlik buite. ’n Byna lou windjie dra die geur van nuwe groei, en onder hulle voete ruik die gekneusde nuwe gras skerp en soet. Almal verkeer in ’n goeie stemming en laat reg geskied aan die eenvoudige maal. Met stille hoop merk Deon dat Irma se oë vanaand lewe het, dat die dooie, siellose gevoel wat daarin kom lê het na die breuk met Johan, geleidelik besig is om te vervaag.
“Dit word gou koud hier buite,” kla Matilda later.
“Dis ook nog skaars Augustus, tante moenie te vinnig te veel verwag nie,” is Deon se vriendelike opmerking.
“Laat ons dan maar dank en ingaan,” sê sy teenoor haar man.
Toe hulle opstaan, stap Deon doelbewus op Tillie af. Hy is in ’n speelse bui en raap haar op van die stoel, glimlag in haar oë asof hulle ’n groot geheim deel. Hy het voor ete gestort en lyk fris en aantreklik in die wit hemp. Toe hy vir Tillie teen hom ophys, is sy gesig warm naby hare.
Gewoond aan die growwer aanraking van sy werksklere, is sy skielik intens bewus van die warmte van sy liggaam onder die dun hemp, die bonsing van sy hart wat die gesonde borskas teen haar liggaam laat dein. Vir ’n wilde oomblik begeer sy dat hy sy laggende lippe op haar mond wil druk … sy warm, polsende lippe op hare in ’n liefdesoen.
Slegs een oomblik duur die betowering, ’n oomblik waarin sy verward probeer vasstel wanneer presies die groot wonder in haar hart plaasgevind het. ’n Oomblik egter, waarvan die werklikheid ook tot Irma deurgedring het. Sy kyk op om die blik van Tillie op Deon se lippe te sien rus met onmiskenbare hunkering.
’n Koue gevoel kom in Irma op, dreig om haar keel toe te druk toe sy onmiddellik die situasie snap, bevestiging vind vir die vermoede wat sy geruime tyd reeds koester. En toe sy opkyk, weet sy dat Matilda dit ook gesien het. Daar is ’n wilde glans van ontnugtering in die ouer vrou se blik, in haar hele houding. Toe Irma weer na Deon kyk, sien sy dat sy glimlag weg is.
Ook hy sou dit nooit in sy lewe weer kan vergeet nie; daardie een oomblik toe Tillie in sy arms verslap het, met haar lippe halfoop, wagtend … en die wroeging in die lang ure van die nag, toe hy hom verwyt het dat hy daarna gesoek het, dat hy sy hande liewer van die begin af tuis moes gehou het. Maar, genade, sy is vir hom soos ’n suster. Was haar gevoel vir hom die afgelope maande, dalk jare, selfs lank voor die ongeluk, dalk dieper as wat sy besef het? Was Bennie Martin in so ’n geval net ’n tussenspel? Of is dit eers tydens die afgelope twee maande, waarin sy liggaamlik so afhanklik van hom was, dat sy toegeneë tot hom begin voel het?
Dis geen spoke wat hy sien nie; dis geen mistasting nie. Oombliklik toe hy haar optel, het hy gevoel dat dit anders was as die vorige kere. En Irma het dit ook gesien. En Matilda. Dit was asof alle gedagtes, alle bewegings gestol het vir daardie een tydlose moment.
’n Onmoontlike situasie is geskep. Hy sal Tillie nooit op daardie manier kan liefhê nie. Voorheen was dit vir hom ’n voorreg om haar te bederf, te terg, te vertroetel. En, die afgelope tyd, rond te dra en te versorg. Die afgelope twintig maande, saam met haar op die plaas, het sy net so na aan sy hart gekom as wat ’n beminlike sustertjie sou doen as hy een sou gehad het. Skielik, egter, toe hy vanaand besef het wat gaande is, het daar ’n behoedsaamheid in sy bewegings, in sy hele houding teenoor haar ingesluip.
In die lang nag wat volg, ondersoek hy sy eie gemoed om te weet of haar verlamming enigsins sou kon verhoed dat hy op haar verlief raak. Nee, het hy egter besluit. Duisend maal nee. Hy, ’n onterfde wat die liefde betref, sou so iets nooit ’n rol laat speel nie. Daarvoor het hy te lank gesmag na die ware, onvervalste liefde van enige mens.
En Deirdre is in dieselfde bootjie as hy. Sy sal liefde en afhanklikheid maklik kan verwar. Hy moet liewer nie ’n verhouding tussen hulle probeer bewerkstellig nie. Maar sê nou hy maak ’n groot fout? Sê nou maar hulle is vir mekaar bedoel? Sy verpleeg, sy het ’n sin vir naastediens. Dis ’n beroep wat iemand volwasse en toerekenbaar sal maak.
Maar hoe kan hy vir Deirdre óf vir Tillie probeer lief raak, as sy hele wese na Irma hunker?
Sy probleem met Tillie is die dringendste. Irma het dit ook gesien, die verklaring wat Tillie woordeloos in die openbaar afgelê het. As hy nog enige hoop durf koester het, vervaag dit nou. Irma sal nie na geluk gryp ten koste van Tillie nie. Maar weet Irma dat sý die een is? Kan sy werklik nog onbewus wees van sy verterende gevoel vir haar? Of het haar passie vir Johan haar blind gemaak vir enige ander attensies?
Hy kan nie haar raad vra nie. Hy staan in hirdie saak alleen. En wat van Matilda? Dis ’n element waarmee deeglik rekening gehou moet word. Matilda het gesien en Matilda sal nie vergeet of oorsien nie. Sy sal optree, dalk spoedig ook, en drasties.
Hy kan nie aan die slaap raak nie. Hewiger as ooit voorheen teister sy gedagtes hom in die stilte van die rondawelruimte. Koerslose gedagtes oor sy eie leë, doellose bestaan. Môre sal dit anders wees, probeer hy hom wysmaak toe die newels van die slaap eindelik begin aansluier.
Maar die volgende dag is dit nie anders nie. Die boodskap is nog in Tillie se oë, sonder dat sy bewus is van die opsigtelikheid daarvan. Die subtiele verandering wat Irma voorheen by haar bespeur het, is nou opvallender omdat dit vasknoopplek gevind het.
Tillie is weer gelukkig. Deon weet dit nog nie, maar hy sal mettertyd weet, glo sy naïef.
Die straling van haar groot oë kan nie ongemerk verbygaan by die ander, en veral nie by Matilda nie. Sy kyk na die byna verhewe skoonheid op die gelukkige gesig van haar enigste dogter. Dit help nou veel, dink sy paniekerig. Sy het vir Bennie Martin verwilder omdat sy dit haar plig as moeder gevoel het, en hier is die nuwe bedreiging onder haar eie dak.
Sy het nogal gedink hy voel iets vir Irma, maar nou is haar voete onder haar uitgeslaan. Sy het met haar eie oë aanskou; sy het gesien dat Tillie verlief is op hom. Sy moet dit keer. Deon is ’n nog groter bedreiging as wat die witkopvloek was. In laasgenoemde geval moes Tillie haar bene opoffer; wat sou die prys wees van haar tweede dwaling?
Dit dryf vir Matilda uit in die nagte, sodat sy gaan kombuiskaste regpak, tot die ander huisgenote se irritasie. As sy slaap, jaag verwarde drome haar gemoedsrus nog verder weg. Binne enkele dae word die situasie monsteragtig groot in haar malende brein.
Sy het die hele komplot klinkklaar deurskou: Irma en Deon is samesweerders. Met Irma se grondige kennis van die groot, sondige stad, sou sy Tillie se ontvoering kon bewerkstellig. Hulle wil haar hier wegvat, na ’n spesialis toe wat haar bene kan herstel sodat sy in Deon se arms kan val. Wat sy buitendien besig is om te doen, letterlik. Skaam die meisiekind haar nie?
Matilda neem haar voor om ’n stokkie voor hulle planne te steek. Sy moet haar inspan om dit te verhoed. Sy sal vir Deon wegjaag as dit nodig is, want Isak het geen sê nie. Maar vir Irma sal sy moet uitstaan, want dis Isak se eie bloed. Sy sal haar lewe gee om te red wat daar van haar enigste meisiekind te redde is.
Die dun skeiding tussen normaal en abnormaal wankel gevaarlik.
Na drie dae gaan sy in die aand na die rondawel. Dit is die eerste keer dat sy vir Deon ooit hier besoek. Die deur is oop en sy sien hom in die ligkring sit, gebuig oor sy boeke. Geruime tyd hou sy hom vanuit die donker dop met oë wat in haar kop brand van woede en konsentrasie. Sy hemp hang oop en vertoon sy gladde, sterk borskas. Die prag van sy manlike jong liggaam steek soos ’n lem in haar hart. Watter wapen het sy as Tillie se moeder hierteen?
Partykeer doen mens iets in goedertrou, en dan word dit ’n adder in jou boesem Sy het goed bedoel om by die gemeenteplan in te val en ’n hawelose kind onder haar dak te vat. Die onskuldige seuntjie het nou ’n man geword, soos klein roofdiertjies groot roofdiere word. Stap vir stap kon sy nader op die maat van die verterende gedagte. Die pantoffel smoor die geluid van haar voetstappe. Sy staan reeds in die ligstreep voordat hy haar gewaar. Met genot sien sy die skok in sy oë, die onbeskryflike verwarring.
Met wye oë en droë lippe staar Deon na die verwronge gesig voor hom. Sy is nie normaal nie, skiet dit deur hom. Irma was reg. Sy moet weggevat word. Twee maande in ’n kliniek, en sy sal weer reg wees. Hy weet, daar was eenkeer ’n huismoeder met die probleem, en sy was gou-gou weer haar ou self. Maar wát is Matilda se ou self, en hoe lyk dit?
Eindelik wurg sy die woorde uit en sien hom, selfs in die dowwe lig, verbleek tot aan die lyn van sy hare. “As jy met my meisiekind lol, maak ek julle altwee dood!”
Haar stem is ’n hees, duister fluistering. Toe loop sy met lang treë weg in die nag.