Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 7 - Louisa du Toit - Страница 8
5
ОглавлениеHulle besoek Tillie eers die volgende namiddag weer. Matilda het self agterin geklim, asof sy haar van die twee jongeres wil isoleer.
Op pad dorp toe sien Deon en Irma tegelyk dieselfde ding en hy kyk met ontnugtering in sy oë na haar. Sonder ’n tweede gedagte bring hy die motor tot stilstand en klim uit.
“Wag vir my,” beveel Irma en gooi haar motordeur oop.
“Is julle besete? Bly weg van daardie vuilgoed af,” gil Matilda agter hulle aan.
Dis ’n ander woonwa, dink haar man verbaas waar hy stil langs haar sit. Laat Matilda dit maar self agterkom.
Asof sy nooit gepraat het nie, stap Deon en Irma aan na waar twee kindertjies in die skaduwee van die woonwa sit en speel. Die jong vrou in die tent kom haastig orent en stryk vlugtig oor haar kortgeknipte hare.
“Waar is meneer Martin?” vra Deon toe hulle klaar gegroet het.
“O nee, my man is nou in sy plek. Hy het ’n motorongeluk gehad en het siekteverlof ingesit. Ons moes net spring om hier te kom.”
“Ons weet van die ongeluk,” sê Deon. “Vir hoe lank is hy weg?”
“Eintlik het hy ’n verplasing aangevra. Ek sal glad nie omgee om hier te bly tot die werk klaar is nie; dis naby die dorp. Ons was al op godverlate plekke.”
Toe hulle terugstap, sê Deon met ’n grimmige stemklank: “Jy moes die ander wang ook geklap het.”
“As ek dit net kon bykom. Hy het dit nie aangebied nie.”
“En nou, voorwaarts. Reguit na Tillie toe,” merk hy bitter op. Hulle swyg toe hulle binne hoorafstand van die motor kom.
“En toe, het julle klaar die duiwel kos gegee?” vra Matilda ysig. Sy het heeltyd sit en anderpad kyk en gesorg dat sy niks raaksien nie.
“Die duiwel het verkas na ’n koeler plek toe. Bennie Martin is weg,” vul Deon aan toe hy sien dat Matilda nie dadelik begryp me.
“Jy bedoel?”
“Net wat ek sê. Weg. Hy is weg.”
“Jy kan mos sien dis ’n ander woonwa, my vrou,” lig haar man haar in, hierdie een keer meester van die situasie. “Kyk, daar is dan ’n vrou en kindertjies.”
Irma krip ineen in afwagting van die uitbarsting. Toe luister sy verbaas hoe Matilda verlig sug: “Dank die hemel. As die versoeking self weg is, kan Tillie dalk berou kry.”
Sonde … sonde … peins Irma verbitterd; die refrein van jare. Daar moet sekerlik ’n ander uitweg uit die sonde wees as die vergelding wat Matilda verkondig. Wat van vergifnis?
Die suster gaan saam tot in Tillie se kamer om te kyk of sy wakker is. “Kom maar binne,” praat sy van die bed af.
Tillie kyk op. “Kan ek alleen met jou en Irma praat, Deon?” vra sy dadelik sonder om te groet.
“Jy kan maar voor my ook praat, kind,” sê Matilda afkeurend.
“Sal u asseblief doen soos die pasiënt versoek?” vra die suster ondubbelsinnig. Dis duidelik dat hulle almal bra moeg vir Matilda se inmenging is.
Toe hulle alleen is, kyk Tillie hulpeloos na hulle op. Haar oë blink asof dit gloei van koors. “Ek weet julle was by Bennie. Julle sou mos nie verby hom gery het nie. Ek weet julle het gegaan ter wille van my. Ek wil graag die waarheid weet.”
Deon buk langs haar en druk sy wang teen haar voorkop in so ’n innige gebaar dat Irma een wilde sekonde glo dat hy self op Tillie verlief is.
“Hy is weg, kleintjie,” sê hy sag, en dis asof elke woord met moeite uit hom geforseer word.
Tillie knik effens, so beheers dat slegs ’n senuweeagtige fladdering soos ’n skaduwee oor haar gesig gly. “Ek het vermoed. Maar dankie, nou weet ek.”
Versigtig waag Irma om te vra wat sy so vuriglik verlang om te hoor: “Daar is nog geen teken van lewe in jou bene nie?”
Sy kry slegs ’n skud van die kop as antwoord.
“Wil jy nie maar die fisioterapeut toelaat om …”
Weer ’n skud van die kop. Nie koppig nie, net vasbeslote.
“Nie die geringste teken nie? In jou tone?” dring Deon angstig aan, terwyl hy kyk na die heuweltjie van haar tone onder die hospitaalbedsprei. Dis duidelik dat hy self graag ondersoek sou wou instel, maar hom daarvan weerhou.
Slegs weer ’n hoofskuddende nee.
“Dokter meen dit kan vanself weer regkom,” sê hy.
“Dan is dit goed. As dit vanself regkom. Maar nie met ’n geroei en gestoei van my kant af nie. Dis al hoe ma my sal duld, en hoe my lewe draaglik sal wees.”
“Sy kry self medikasie vir haar senuwees,” opper Irma onbedag.
“Ek sou seker ook, as ek ’n moeder in haar posisie was.”
“Ai, Tillie …” is al wat Irma verder uitkry.
“Ek het julle gevra om my nie te paai nie,” herhaal Tillie haar aanvanklike versoek. “Ook nie te bejammer nie.” Tog lig sy haar hand en raak liggies aan Deon se skouer om te wys dat sy nie kwaad is nie. “Moenie sleg voel oor my nie. Daar is ten minste nie pyn in my bene nie. Roep nou maar vir Pa en Ma.”
“Jy bedoel Ma en Pa. Onthou wie eerste kom, “ merk Irma doodluiters op en gaan uit na waar haar pa en Matilda verderaan in die gang staan. Toe stap sy by hulle verby na buite. In die motor stoot die snikke verstikkend in haar keel op.
Hulle ry eers ’n halfuur later. Byna vergeet sy om haar brief aan Johan te pos. Dis ’n lang brief vat sy die vorige aand geskryf het; ’n innige ontboeseming van sorg oor Tillie se toestand en van verlange na hom, van neerdrukkende heimwee na sy teenwoordigheid, na haar werk en haar woonstelletjie. Toe sy die brief oorlees nadat sy dit klaar geskryf het, het sy dadelik geweet dat dit te openlik nostalgies is. Wel, dis hoe sy voel, het sy na lang oorweging besluit. Dis hoe sy waarlik en opreg voel. Sy vra Deon om voor die poskantoor stil te hou.
“Gee maar vir my,” bied hy aan.
“Toe maar.” Sy hoop hy verstaan dat sy nodig het om die brief self in te gooi, asof dit ’n deel van haar is wat sy moet afstaan.
“My ouma het altyd gepraat van die krip wat agter die perd aandraf,” merk Matilda op toe sy snap dat Irma ’n brief wil pos.
“Gelukkige perd,” is al wat Deon sê, tot haar verontwaardiging. Hy hoor Irma se pa gedemp lag.
Dis vir Irma’n bevryding van die neerdrukkende atmosfeer in die motor toe sy die paar treë heen en weer stap. Toe sy die brief in die gleuf stoot en dit hoor afgly, ondervind sy ’n vreemde gevoel van verlies. Dis byna onmoontlik om te glo dat sy Johan net twee dae gelede laas gesien het. Dit voel soos ’n ewigheid. Hoeveel te meer moet hierdie paar dae nie vir Tillie soos ’n oneindigheid voel nie, dink sy skielik met heldere insig; vir haar wie se hele lewe verander het en wat veel verloor het van die weinig wat sy besit het.
Vanaand sal sy vir Johan bel, besluit Irma skielik. Matilda kan maar slange vang as sy wil, sy sal vir die oproep betaal. Om net sy stem te hoor, sal soveel verligting bring. Die blote voorneme beur haar reeds op.
“Is die ritueel verby?” vra Deon toe sy inklim.
“Deon, dis ’n briéf,” antwoord sy byna katterig. Hy moet tog weet Matilda sit gereed om skietgoed in die hande te kry. Hoekom laat hy haar belaglik voel? Haar gevoel vir Johan is nie iets om mee gek te skeer nie.
“Ek het nie gesê dis ’n pakkie wierook nie.” Deon klink ook effens vererg.
“Nie dat dit my sou verbaas nie,” werp Matilda in en voeg by, totaal onnodig: “Of doepa.” Sy slinger die dubbelsinnige opmerking na Irma terwyl sy eintlik na Deon se agterkop kyk.
Deon swyg, skuldig oor die insinuasie wat die gevolg was van sy onskuldig bedoelde opmerking. En Irma voel ’n oomblik asof sy die voorwerp van ’n sameswering is, ’n verworpeling wat haar geboortereg verkoop het. Dis Matilda, dink sy met ’n diepgewortelde wrokgevoel; Matilda wat die oorsaak is dat sy soos ’n indringer voel in die huis van haar eie vader.
Watter konsternasie het dit tog veroorsaak toe sy Matilda nie “ma” wou noem nie. Onuitwisbaar voel sy nog die angs in haar, die benouende besef dat sy in ’n hoekie gedryf word: “Pappie” wat nou “Vader” word omdat Matilda voel dis meer respekvol, hy wat mooipraat en en verduidelik dat dit nou haar nuwe moeder is. Tillie se grote ogies. Matilda wat gespanne wag op haar eerste oorwinning oor die koppige stiefdogter.
“Sê nou ‘Ma’, of daar’s moeilikheid,” het Vader gedreig-pleit. Die waardigheid wat hy voor sy nuwe vrou wou handhaaf, het ’n ultimatum vereis.
Skielik kry Irma ’n ingewing. Goed, sy sou nie meer “tannie” sê nie. “Matilda,” antwoord sy dapper. Toe smelt haar dapperheid voor die aanskoue van haar vader, nou skielik ’n vreemdeling, wat dreigend oor haar troon.
“Ek sê mos Ma. Má Tilda!” verduidelik sy paniekerig. Sy sien nie hoe die twee getroef na mekaar kyk nie, vlug net huilend na buite waar sy teen die muur gaan staan en snik. Toe gaan die sagte armpie om haar nek: “Hoekom huil jy?” vra die dogtertjie aan wie sy tot dusver min aandag gegee het.
Hulle gaan langs mekaar sit. “Ek is bly jy is hier,” sê Tillie. “Is jou pa kwaai?”
“Nie so kwaai soos Matilda nie,” antwoord sy eerlik.
So diep ingedagte sit sy, dat sy nie opmerk hoe Deon haar reeds geruime tyd tersluiks dophou nie. Toe hy eindelik haar blik vang, sê sy oë aan haar: Ek is jammer.
By die huis help sy Matilda met die aandete. Gee die duiwel wat hom toekom, dink sy, maar Matilda is ’n knap huisvrou. Die huishouding loop altyd op geoliede wiele. Maar dan het sy eenkeer gehoor dat Langenhoven gesê het as jy wil weet of ’n vrou kwaai is, kyk of haar vloere blink. Sy dek tafel terwyl Matilda wors en eiers in die pan bak. Daar is nie elektrisiteit op die plaas nie en Deon het met die komstaanslag vuur in die stoof gemaak. Dis nogal aangenaam gesellig so op die wintersaand, al die onderstrominge ten spyt.
Die eerste aand het Irma gesukkel met die dowwe lig, maar sy moet toegee dat die lig van lamp en kers ’n manier het om saam te snoer, selfs waar soveel disharmonie bestaan tussen die mense wat ’n kring in die lig vorm. En dis asof mens jou gevoelens beter kan verberg in die subtieler atmosfeer.
Hulle dek in die kombuis omdat dit te koud in die eetkamer is. Hoe anders sou dit tog nie kon wees nie; ’n laggende moeder, gelukkige kinders wat trots hulle vriende huis toe bring.
Hoe sal sy ooit vir Johan hier kan ontvang? Ondenkbaar.
“Iets ruik tongafbytlekker,” sê Deon toe hy van buite af inkom.
“Jou bolip?” terg Irma.
“Moenie stuitig wees nie, Maria,” maan Matilda uit tweede natuur.
“Boemerang. Jy wil mos,” sê Deon en plaas die emmer melk op die klein tafeltjie. “Buite waai ’n windjie wat deur murg en been sny.”
“Ek skep op,” sê Matilda, Die warm gloed van die stoof dring deur tot in elke koue hoekie. Deon stook die vuur weer eens goed voordat hy kom aansit. Selfs Vader ontdooi en gesels ’n paar woorde, al is dit meestal oor werk. “Het jy die gus-ooie uit die lusernkamp laat bring?”
“Ja, oom Isak.”
Dis net as hy haar pa aanspreek dat Irma onthou haar pa het ’n naam.
“Lekker reën gehad, regtig; ons sal minder weggooi-ooie hê vanjaar.”
Maar oor my werk en my lewe vra hy niks uit nie, dink Irma met ’n gevoel van swaar verlies. Sou dit hom werklik nie raak aan wie ek verloof is nie? Sy kan die swygende man nie vereenselwig met die liefdevolle vader wat eens haar vertroueling was nie.
Daar is geen Boekevat nie. Skielik op ’n aand, jare gelede, het vader nie volgens gebruik die Bybel deur Irma laat haal nie. Dit was asof hy na ’n lang tyd van rustelose soeke tot ’n besluit geraak het. Toe Matilda op skerp toon wou weet wat nou, het hy uitgestap in die nag en laat eers teruggekom. Die huisgodsdiens het ’n vergete aksie geword. En tog kan Irma haar herinner dat sy hom by verskeie geleenthede onverwags in ’n biddende houding betrap het.
Hulle ruim op en was skottelgoed.
“Nou gaan ons almal slaap,” kondig Matilda aan.
“Ek en Deon gaan nog eers ’n bietjie voor die vuur sit en gesels,” weerspreek Irma haar met opsetlike behae. Sy knipoog ongemerk vir Deon.
“Nou ja, dan sit ons maar nog ’n bietjie,” besluit die ouer vrou rats hoewel teensinnig. Toe sy die geamuseerde blik sien wat gewissel word tussen die ander twee, vlieg sy vervaard op: “Gaan julle gang. Onthou net wat met Tillie gebeur het.”
“Nou gaan jy te ver!” Irma spring self op, onmagtig om die mens op hierdie oomblik “Ma” te noem, aangevuur deur ’n wilde opstand, erger as ooit voorheen. “Dit kan wees dat Tillie daar lê deur iemand anders se sondes …”
“Heel moontlik …” antwoord Matilda snedig as sy veelbetekend kyk na die vuur in die jong meisie se oë en op haar wange, na die glansende goudbruin hare en die slanke, lewende liggaam. “Dis hoekom jy kans sien om so onbeskof met my te praat.”
“Bly liewer stil, Irma,” waarsku Deon gedemp.
“Nag, kinders,” prewel Isak de Wet verslae en gaan kamer toe.
“Vader …” Met bewende knieë gee Irma ’n tree agter hom aan, en die vasgekeerdheid, die desperate smeking in haar stem spreek so duidelik tot hom dat hy in die gang gaan staan en huiwerig omkyk. Een oomblik vang sy blik dié van sy enigste dogter, en wat hy daarin sien, laat hom ineenkrimp. Dis meer as ’n aanklag, meer as ’n woordelose smeking. Dis ’n verwyt in vuur, ’n verskriklike vinger teen die muur: jy is geweeg, geweeg en te lig bevind …
Hy vlug byna ylings na die kamer, voel die oë van sy oorlede vrou op hom brand vanuit die portret teen die skemer gangmuur.
Grimmig deur die koppige teenkanting van Irma, volg Matilda hom, terwyl sy die gangdeur opsetlik wyd agter haar laat oopstaan. Subiet gaan Irma dit toemaak met ’n harde slag en leun met haar rug daarteen. ’n Ligte bewing gaan oor haar hele liggaam, asof sy ’n riet is wat sidder in die wind: “As ek vir haar sê dat ek nog onskuldig is, sal sy seker waansinnig aan die lag gaan.” Sy sê dit meer tot haarself as tot Deon, wat twee stoele voor die vuur regskuif.
“Hoewel ek nie dink jy het ekstra vuur nodig nie. Jy sal jou uitbrand, Irma.”
“Hoe kan jy so kalm bly, Deon? So baie opvreet? Hoekom pak jy nie jou goed op en gee pad nie?”
“Hoekom sal ek? Sy peuter nie veel met my nie, en ek en jou pa kom goed klaar.”
“Maar Deon, hoe kan ’n mens so erg haat en wantrou?”
“Ek vrees dis moontlik. Sy is die lewende getuienis daarvan. Kom ons aanvaar maar net sy is ongebalanseerd.”
“Ongebalanseerd.” Sy lag deur haar neus. “Sy is versteur in ’n ernstig graad. En dit het erger geword vandat ek laas hier was.”
“Kom sit hier, meisie.”
Rustig druk hy nog houtjies by die stoof se bek in. Die aangename rookgeur en die geknetter van veldhout laat die kalmte oor haar neersak. Sy wil net so bly sit met toe oë, agteroor geleun in die diep stoel, sonder om te dink aan Tillie in die wit-wit kamer, met die grou leemte in haar gemoed en die ongelooflike leweloosheid in haar bene.
Sy maak haar oë oop, merk dan tot haar verwarring dat Deon blykbaar heeltyd na haar gesit en kyk het. Vir ’n wilde, onkeerbare oomblik wens sy dat hy na haar toe wil oorleun, haar teen hom vastrek sodat sy daar ’n klein bietjie beskerming, ’n klein bietjie menslike warmte kan vind. Sy slaan haar blik neer en die bloed stoot in haar wange op.
“Bakvissie,” terg hy. “Is dit so snaaks dat ek na jou kyk?”
“Het jy ’n nooi?”
“Nee. Jy kan maar probeer.”
“Ek is ernstig; ek wil werklik graag weet.” Hy merk in haar ernstige, openhartige blik dat sy nie wil gekskeer nie en voel skielik behoefte daaraan om haar in sy vertroue te neem.
“Daar is ’n meisie wat saam met my in die kinderhuis grootgeword het,” erken hy.
“Deirdre Johnson? Jy het my al van haar vertel. Ek dag dis sommer kalwerliefde.”
“Blykbaar nie. Sy verpleeg nou in Groote Schuur.”
“Hoe weet jy dit?”
“Sy het na al die jare vir my geskryf. Daar was mos ’n foto van my en jou pa in die landboutydskrif, by ’n tentoonstelling. En sy het dit gesien.”
“Hoe toevallig.” Irma kan nie help dat sy effens sarkasties is nie. Om dit te versag, voeg sy by: “En voel julle dat julle mekaar weer vind … na al die jare?”
“Jy weet hoe dit is met pen en papier,” antwoord hy niksseggend.
“Het jy haar vertel van jou studie … en hoe gáán dit hoeka met jou studie?” stuur sy die onderwerp veilig weg van die vreemde meisie. Dink Deon dalk aan haar elke keer as hulle Tillie besoek en hy die verpleegsters sien, kraakwit geklee en met dienende hande?
Hy is skynbaar ook dankbaar om die onderwerp te verander. “Ek hoop om volgende jaar my graad te kry.”
“Uitstekend, En daarna? Gaan jy hier bly? Tog seker nie vir altyd nie.”
“Dit was nie voorheen die plan nie. Nou weet ek egter nie. Ek dink aan Tillie.”
Die verwysing na haar skuif ’n ondeurdringbare wolk voor hulle in.
“Wat sou jy anders wou doen?” probeer sy die gesprek in die tevrede loomheid van die vuurgloed herstel.
“Die radio het my nog altyd getrek.”
“Radioman Deon Barnard. Jy sal altyd welkom wees by my en Johan in die huis in Johannesburg.”
“Deirdre woon in Kaapstad,” herinner hy haar, skielik meer geslote.
Sy voel soos ’n gek, probeer dit egter nie toon nie. “Wat Tillie betref, dis onbillik om te verwag dat jy jou toekomsplanne volgens haar moet reël. Ek is heeltemal bereid om haar te versorg as dit nodig word. Sy hoef nie haar hele lewe hier te bly nie.”
“Dit sou nie miskien onbillik teenoor Johan wees nie?”
Was daar ’n stekie in sy stem, ’n voorveronderstelling dat Johan nie hiermee genoeë sal neem nie? Sy swyg ontwrig.
“In hierdie hool van verwyt en predikasie kan ek nie bly, nie eers ter wille van Tillie nie,” roep sy dan saggies uit.
“Daarom is ek bereid om self hier te bly as dit nodig word. Ek het dit reeds gesê.”
“Die tyd sal leer. Ek wonder wat sy werklik dink en voel daar waar sy lê, Deon?”
“Dit moet ’n onbeskryflike gevoel wees, van pyn, ellende en verlatenheid.”
“Dit klink verskriklik as jy dit so stel.”
“Ek weet nie hoe sy anders kan voel nie.”
’n Rukkie is dit doodstil terwyl die vuur laer begin brand. Irma dink aan haar voorneme om Johan te bel, dog die heerlike warm kombuis maak haar onwillig om op te staan. Tog werk die vooruitsig om sy stem te hoor soos suurdeeg, tot sy eindelik haar knus plek verlaat.
“Gaan jy slaap?” vra Deon teleurgesteld. “Ons sit nog skaars ’n kwartier.”
“Ek wil vir Johan bel.”
“Kom ons drink eers ’n koppie tee. Die Sodom sal hom nie insluk as jy nog tien minute wag nie,” terg hy. “Sal ek dit doen?”
“Ek sal vir ons kom maak wanneer ek klaar is.”
“Nee dankie, daardie tee sal hopeloos te sterk wees.”
Sy lag, tog sien sy nie kans om langer te wag nie. Sy is verlig toe die sentrale haar direk vra om aan te bly. Dis te hope dat hy tuis is; anders sal sy later weer probeer. Dit duur nogtans ’n hele rukkie en die koue in die gang bekruip haar mettertyd totdat sy klappertand. Sy sien hoe Deon vanuit die kombuis vraend sy baadjie omhoog hou.
“Ja, asseblief,” roep sy sag. Hy kom dit om haar skouers hang, bly staan verspot met sy arm om haar skouer asof hy die besitter is en nie Johan nie. Sy stoot hom laggend weg. Dan klop haar hart vinniger as sy hoor hoe die gehoorbuis opgetel word. Hy is tuis, jubel dit in haar; hy het nie behoefte daaraan om uit te gaan sonder my nie. ’n Oomblik hinder dit haar dat die middeldeur nog oopstaan, dat Deon die gesprek kan aanhoor. Gelukkig is Matilda en haar pa se kamerdeur toe. Dan vervaag alle gedagtes as sy die stem aan die ander kant hoor.
“Hallo,” klink dit in haar oor.
“Johan?”
“Wou jy met hom praat?”
Met verwarring besef sy dat dit nie Johan se stem was nie, maar ’n lae, gevoelvolle vrouestem. Ontnugtering stoot onkeerbaar in haar op.
“Ek sê, wou jy met hom gepraat het? Wie sal ek sê is op die lyn?”
Nog antwoord sy nie. Die volgende oomblik klink Johan se stem in haar oor. Sy hoor die ligte ontsteltenis in die klank daarvan.
“Wie praat?’
“Irma, Johan.”
“Dis ’n verrassing, liefste. Ek het gister ’n brief vir jou gepos.”
“Ek merk jy het geselskap.” Haar stem is niksseggend.
“Sê my darem eers naand.”
“Moenie so onseker klink nie, Johan. Dis ek wat onseker moet voel. Wie is sy?”
“My suster. Tevrede?” Sy stem rys hoër. “Of my niggie; net soos jy verkies. Is dit verbode om geselskap te hê?”
“Miskien net ’n bietjie ongewens in jou geval, as die geselskap in ’n verloofde man se woonstel is.”
“Ja, dit kan seker so voorkom. Maar ons gesels net ’n bietjie oor die goeie ou dae. Jy weet, ek het met haar uitgegaan voordat ek geswig het voor jou bekoring.”
“En dit moet my beter laat voel?” Sy is meteens bewus van die gewig van die verloofring aan haar vinger. “Ek is besig om te swig voor jou selfingenomenheid.” Sy sit klem op elke lettergreep.
“Kom nou, Irma, jy weet jy sit maklik op loop.”
“En ek weet ook nou dat jou … jou danige sielkundige ontleding van my optrede al die tyd gegrond was op ’n skuldige gewete.”
“Liefste, net omdat ek en jy kuis lewe, op jóú versoek, het jou tog nie laat glo ek is ek is ’n onskuldige jong seun nie?”
“Hoogstens gehoop. Wat doen jou geselskap op die oomblik?”
“Sy is besig om te glimlag. Miskien weet sy nie dat sy hierna sal ophou glimlag nie. Sy wou juis die guns vir my doen om my telefoon te beantwoord … en nou kos sy my dalk die liefde van ’n meisie wat ek werklik hoog ag.”
Irma hoor die meisie iets sê, waarop Johan ergerlik iets terugsnou, naby genoeg aan die gehoorbuis dat sy alles kan hoor: “Jy het wel deeglik gehoor dis ’n hooflynoproep. Jy kon vermoed dis van haar af.” Sy stem raak dowwer: “Jy kon my geroep het om te kom praat.”
“Johan. Neem eers afskeid van my. Daarna kan jy aandag aan jou gas gee.” Irma se stem is so koud soos die muur waarteen sy leun.
“Irma, meisie, luister. Moenie neersit nie. Luister net een oomblik na my.” Sy stem is oorredend, desperaat, innig.
“Dankie vir alles wat mooi was tussen ons, Johan. Van die res neem ek graag afskeid.”
“Ek wil jou nog hê, luister dan tog.”
“Jy wil my nog hê? Omdat ek nog nie ’n trofee op jou jagrak is nie? Ek is dankbaar ek kan met ’n skoon gewete aan ons verhouding kan terugdink.”
“As jy dink my enigste motief is om jou in die bed te kry … selfs ék kan opreg liefkry, Irma. Dit het ek besef toe ek jou ontmoet het.”
’n Oomblik huiwer Irma, wil sy swig voor die ernstige pleittoon in sy stem. Hy hoor die huiwering, gryp die oomblik aan: “Irma …?”
Dan hoor sy egter ’n lae, intieme lag iewers naby hom opklink en die woede skuif soos ’n sluier oor haar oë, stoot verstikkend in haar keel op. Met ’n finale, doodse klikgeluid plaas sy die gehoorbuis terug.
Sy druk haar gloeiende voorkop teen die koue muur en vou die te groot mansbaadjie van Deon stywer om haar skouers vas. Sy merk nie hoe hy opstaan en nader kom nie. Toe hy by haar staan, bewe sy soos iemand wat kouekoors het.
“Was dit nodig om te luister?” vra sy koud en stap kombuis toe.
“Ek moes seker nie,” hoor sy hom sê waar hy agter haar aankom. “Maar ek kon my nie sover kry om die deur toe te maak nie.”
Sy ignoreer sy teenwoordigheid en sit soos ’n slaapwandelaar voor haar en uitkyk.
“Moet ek liewer loop?” vra hy later bedremmeld.
“Nee, bly asseblief by my.”
Hy buig vooroor en karring in die vuur, steek nog hout in. Sterk staan sy profiel teen die vuurgloed afgeteken, die grimmige lyn van sy mond en ken.
“Arme Tillie …” is al wat sy uitkry.
En Deon verstaan dat sy nou ’n geringe deeltjie van Tillie se innerlike lyding begryp. Hy gaan by die agterdeur uit na sy rondawel, terwyl ’n koue stroom lug die kombuis ’n paar oomblikke lank binnedring. Irma weet nie hoe lank hy weg was nie, is skaars daarvan bewus dat hy terugkom. Dis duidelik dat hy dit nie regkry om haar alleen te laat nie. ’n Oomblik bly hy staan nadat hy die deur weer agter hom op knip gedruk het. Met onleesbare gevoelens staan hy en kyk na die stil meisie in die diep stoel. Die vuur brand laag en so ook die kers in die blaker. Dit vul die vertrek met ’n onwerklike waas.
Hy maak ’n bietjie melk op die stoof warm en gooi dit in ’n glas. Saam met ’n wit pilletjie bied hy dit vir haar aan: “Dit sal jou laat slaap,” sê hy.
“Ek wil nie slaap nie.” Tog neem sy dit as hy dit na haar bly uithou. “Waar kry jy dit?”
“Die suster het onder die tafel deur vir my tweetjies gegee. Ek het vir haar gesê ek dink jy kan dit nodig kry.”
Hy bly nog in die stoel langs haar sit. Sy het nie weer gepraat nie, maar staar in die sterwende vuur totdat hy haar ooglede sien swaar word. Toe trek hy haar op en stap met die kers voor haar uit kamer toe.
“Goeienag,” sê hy, maar hy hoor haar nie antwoord nie. Hy stap weer by die agterdeur uit na buite, waar hy tien minute in die koue nag staan en opkyk na die uitspansel. Dan stap hy terug na Irma se kamer, waar die deur nog oop is en die kerslig in die gang val. Hy bly in die deur staan toe hy sien dat sy reeds slaap.
Versigtig stap hy nader. Die foto van Johan staan nog op die kassie langs haar bed. Sy het daarna gekyk voordat sy aan die slaap geraak het, weet hy. Ook hy kyk nou lank daarna.
“Jou mooi vark,” sis hy onhoorbaar terwyl hy sy kake oudergewoonte op mekaar klem. “As ek jou en Bennie Martin na ’n eiland kon verban.”
Hy blaas die kers dood en plaas dit binne haar bereik. Toe hy in sy koue rondawel kom, voel dit vir hom asof hy van ’n ver reis teruggekom het.