Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 7 - Louisa du Toit - Страница 6
3
ОглавлениеIrma omhels haar pa. Op hierdie oomblik verdwyn die afstand wat deur die jare so onoorbrugbaar geword het. Sy is weer die dogtertjie wat saam met haar mammie kos na die lande toe neem en dan in sy arms in hardloop.
“Pappie, hoe is sy?” Die kleintydse aanspreekvorm kom vanself na vore.
Hy staan nou verleë terug, bewus van hoe sy enigste kind verander het. Hy groet eers vir Deon met die hand voordat hy antwoord: “Hulle praat nie van opereer nie. Die inwendige bloeding is gestop, en sy het ’n bloedoortapping gekry. Maar met so iets kan … iets daarvan kan in haar longe, bloedstroom … trombose, niemand kan sê …” Hy mompel onsamehangend, haal hulpeloos sy skouers op. “En so deurmekaar, so onrustig. Haar hande …”
Sy haak vertroostend by hom in.
“Ek het julle seker laat skrik,” verskoon hy sy teenwoordigheid. “Maar ek het in my kop uitgewerk hoe laat julle hier kan wees, en ek was op die uitkyk. Sy is niks slegter of beter nie. Dis net dat ek haar ma nie van haar bed af kan wegkry nie. Goed gery, Deon?”
“Dankie, oom. Die pad was plek-plek maar sleg.”
“Baie moeg, seker.”
“Irma het my help bestuur. En julle?”
“Ook maar moeg. Ek het deur die dag ’n bietjie geslaap by Sus. Die vrou bly maar by Tillie en knip ’n uiltjie so tussendeur.”
Hulle stemme is gedemp en hulle voetstappe op die teerblad klink soos heiligskennis in die ure voor dagbreek.
“Laat ons maar binnegaan,” por Deon en neem die huiwerende Irma aan die arm. Dis vir hom makliker, dink sy. Hy weet hoe dit daar binne lyk. Maar dit voel asof daar aan haar eie voete onsigbare gewigte hang wat haar bewegings bemoeilik en haar wil terughou van die toneel wat op haar wag.
Die nagsuster kyk op toe hulle by haar kantoortjie huiwer. Sy staan op en kom tot by hulle. “Ek is bly juffrou is hier,” sê sy toe Deon haar aan ’n bleek Irma voorstel. “Juffrou Deysel het aaneen na jou geroep.”
“Is sy al by haar bewussyn?” vra Irma onmiddellik, hoopvol.
“Sy is baie deurmekaar. Maar as sy wel bykom, sal dit haar goed doen om u te sien. Julle is skynbaar baie geheg aan mekaar. Meneer Barnard het my vertel.” Sy kyk na Deon, wat knik. “Ons was almal geheg aan haar,” sê hy skor.
“Was?” glimlag die vriendelike vrou.
Deon skrik self toe hy besef wat hy gesê het.
“Moenie so pessimisties wees nie. Volgens enigiets wat die dokters kan vasstel, moet sy buite gevaar wees. Ons hou nie daarvan dat sy koors het nie, daar is antibiotika in die drip gesit. Sy is tog net so onrustig. Ons het haar nou iets ingespuit wat haar kalmeer. Ons moes haar hande vasmaak, anders peuter sy met die aarvoeding. Mevrou De Wet was nie gelukkig daaroor nie …” Sy kom dalk agter dat dit na skinder klink, swyg verder.
Hulle stap woordeloos deur die gang, ’n bedrukte groepie.
Voor ’n privaatkamer met die nommer 18 kom die suster tot stilstand, stoot die halfoop deur geluidloos verder oop en loer na binne. Sy beduie met ’n vinger op die lippe. Dan wink sy na hulle en stap self voor. In ’n gemaklike stoel sit ’n verpleegster. In ’n soortgelyke stoel, aan die ander kant van die bed, Matilda. Laasgenoemde se oë was geslote toe hulle inkom, maar toe Irma weer kyk, is hulle oop, rooi en dik van gebrek aan slaap. Toe Irma na haar toe aankom, gee sy ’n ligte snuifgeluid en draai haar wang vir ’n piksoen. “Môre, Maria,” fluister sy korrek. En, aan Deon: “Jy het ook jou tyd gevat. En dit alles onnodig. Dits g’n so erg dat Maria moes kom nie.”
Toe staan Irma voor Tillie se bed. Haar eerste indruk is een van verligting. Deon het die waarheid gepraat: geen verbande, geen wonde behalwe vir die klein skrapie oor die linkerwang en blou knop op die voorkop nie. Behalwe die aarvoeding aan ’n staander is daar geen pype of mediese ingrepe nie. Dis waar, die hande is vasgemaak, maar sy lê nou nogal stil. Die kateter langs die bed lyk steurend, maar dis immers net prakties. En dit lyk of sy rustig slaap. Die inspuiting het dan reeds sy werk begin doen.
Dan kan dit nie so erg wees nie, wil Irma haarself gerusstel, en weet nie waarom dit haar nie troos nie. ’n Mens vergeet dat sy werklik so klein en weerloos is, dink sy met brandende oë. Die donkerblonde hare wat Tillie nooit mag afgeknip het nie en wat sy altyd in ’n aantreklike bol op haar kop gedra het, baie teen Matilda se sin, lê nou in ’n dik vlegsel oor die kussing. Fyn barsies lê oor die kleurlose lippe, donker vlekke onder die geslote oë met die lang wimpers. Slegs die geringe deining van die borskas onder die komberse verraai lewe, en die feit dat die wang warm is toe Irma die rug van haar hand daarteen lê. Maar dat sy darem self asemhaal … geen asemhalingsmasjien nie.
Skielik begin Irma se lippe onbeheers bewe en sy voel die warm trane onkeerbaar oor haar vermoeide ooglede stoot. Tevergeefs soek sy na ’n sakdoek in haar jas se sakke, onthou dan dat dit in haar handsak in die motor is. Met die rugkant van haar hande vee sy deur haar oë. Dis ook te warm vir die jas hier binne. Sy stroop dit af, en Deon vat dit aan.
Deur die newels van trane doem iets wits voor haar op; dis Deon se sakdoek. Sy vingers sluit om haar pols en hy lei haar weg na die bankie wat hy onder die bed uittrek.
Sy was ook vlietend bewus van Matilda se afkeurende blik op haar kurwes onder die trui, toe sy haar jas afstroop. As sy die verloofring gesien het (en sy sou, want haar oë mis niks), gee sy geen blyke daarvan nie. Diep-in weet Irma meteens waarom sy so dringend gehaal moes word: dis met die hoop dat sy vir Matilda hier by die bed sal wegkry. Deon, haar pa, die suster, selfs Tillie in haar onderbewuste, almal hoop daarop. Want Matilda wil hier sit as Tillie bykom, sodat sy haar kan bykom. Gepaste woordspeling.
’n Beeld uit die verlede skiet skielik verwarrend deur Irma se gedagtes. Drie kinders speel skool teen die kweekwal. Die onderwyser slaan met ’n takkie kastig die jongste van sy twee leerlinge ’n skewe hou teen die sitvlak omdat sy parmantige dinge sê. Op die ingewing van die oomblik slaan die dogtertjie dood neer. “O, genade, wat sê ek vir haar ma? En vir die inspekteur? Irma, draf gou na my huis toe en vra vir my vrou om vlugsout te bring.” Nie een van hulle het regtig geweet wat vlugsout is nie, maar dit was ’n woord waarvoor Matilda lief is. Toe gil die “dooie” skielik: “Nee, ek wil brandewynwater hê!” Irma en Deon wou hulle morsdood lag daaroor, en lank nog moet Tillie die spottery verduur. Maar deur die trane van lag kon Irma ’n angstige gevoel nie keer nie. Dis baie jare gelede, maar sy dink nou weer daaraan. Toe Tillie, soos nou, doodstil gelê het met geslote oë en die dik vlegsel oor die kweek, het ’n warm, benouende angs oor Irma gestoot.
Sy trek aan Deon se trui sodat hy afbuk na haar: “Onthou jy hoe Tillie haar dood gehou het teen die kweekwal?”
Hy lyk bekommerd, kyk ondersoekend in haar gesig af asof sý die pasiënt is.
Met die moeë besef dat sy nog niks anders as net groetwoorde teenoor Matilda gebesig het nie, wil Irma pligshalwe na haar toe gaan. Sy bly egter willoos op die bankie sit. Hulle het buitendien niks vir mekaar te sê nie, en hulle is niks aan mekaar verskuldig nie. Matilda het opgestaan en roer haar gespanne skouers. Irma se blik dwaal na haar pa met sy krom skouers en niksseggende gesig. Grotesk val Matilda se skaduwee oor hom. In haar skaduwee, peins Irma; altyd in haar skaduwee.
Die suster het lankal weer geloop. Sou Tillie so hopeloos wees, dink sy skielik gejaag, dat hulle maar die familie vryelik laat kom en gaan? Maar nee, sy moenie so dink nie. Tillie is tog nie ernstig beseer nie. Waarom is daar dan hierdie teisterende gevoel van onheil?
Sy dwing haar gedagtes weg, probeer aan Johan dink. Sy staan op en kyk deur die ruite uit in die nanag. Sy probeer hom vind, sy gestalte, sy beeld, maar nog nooit het sy so ver van hom af gevoel nie. Sy bring ongemerk haar verloofring tot teen haar lippe, soen dit, asof sy haar wil vergewis van iets. Dan, as sy haar skielik bewus word daarvan dat die klein beweging almal in die stil kamer se aandag getrek het, dat almal uitdrukkingloos na haar kyk, draai sy skaamkwaad haar rug verder op hulle.
Later kom Deon lang haar staan. “Dis drie-uur,” sê hy. Sy kyk ongelowig na hom, dan na haar eie horlosie. Is hulle werklik nog maar ’n uur hier? Die tyd het gestagneer. “Sommige van ons kan maar net sowel gaan slaap,” vervolg hy. “Tant Bets het beloof om beddens reg te hou.” Sy besef dat dit waar is. Tillie se toestand kan nog lank onveranderd bly. Tog maak nie een van hulle aanstaltes om die plan deur te voer nie. Almal wil waarskynlik hier wees as sy haar oë oopmaak, verbaas rondom haar kyk, fronsend begin vrae vra.
Later gaan sy tog na Matilda en buk langs haar stoel: “Wil ma en pa nie ’n bietjie gaan slaap nie?”
Matilda skud haar kop skaars merkbaar. “Nee, Maria,” sê sy, en Irma moet haar inspan om alles te kan hoor, “al lê my kind vanaand hier deur ongehoorsaamheid, verlaat ek haar nie.” Die streng lippe sluit weer dig.
Irma gaan langs die bed staan om weer af te kyk na Tillie. “Ek kan verstaan hoekom jy nie wil terugkom nie, Tillie,” begin sy prewel, toe sy geskok ontdek wat sy besig is om te sê.
Vieruur.
As sy net vars lug kon skep, maar ’n mens kan jou nie losskeur van hierdie droef, broeiende atmosfeer nie. Daarom bly sy maar langs die bed staan en kyk af in haar stiefsussie se gesig, en die verpleegster kyk met vermoeide oë na dieselfde toneel.
Dan kom daar beweging in die lossies vasgemaakte hande. Tillie draai prewelend haar kop heen en weer op die kussing. ’n Oomblik lank fladder die blou oë oop … net ’n oomblik, maar dis genoeg vir Irma. Die verpleegster is langs haar en hulle kyk vinnig, met iets soos triomf, na mekaar.
“Sy het haar oë oopgemaak,” sê Irma vir die ander drie, maar meer spesifiek vir Deon. In ’n oogwenk is hy ook langs haar. Haastig kom Matilda orent, grimmig omdat Irma haar uitsig versper het sodat sy die eerste teken van lewe nie self kon gewaar nie.
“Ek wens ek kon dit sien,” sê Deon saggies. “Ek het sowaar gesit en dut.” En dan: “Is julle seker?”
“Ons het dit altwee gesien,” antwoord die verpleegster.
Tillie se lippe beweeg. Irma buig af na haar, maar kan geen geluid waarneem nie. Tillie!” fluister sy dringend. “Dis Irma! Ek is hier, sussie!”
Toe gaan die bleekblou, groot oë weer eens oop, maar langer hierdie keer. Nou kan niemand meer twyfel nie, en almal is inderdaad om die bed. Maar Irma weet dat Tillie heel eerste vir háár gesien het, dat sy bewus is van haar teenwoordigheid. Daar is ’n flou maar onmiskenbare stroom van bewussyn tussen hulle.
“Ek gaan vir suster sê,” kondig die verpleegster aan. Binne ’n paar sekondes is hulle terug, en die suster beveel dat hulle liewer nou moet gaan. “Dit kan haar te opgewonde maak om julle almal te sien, en dit kan haar net meer deurmekaar maak as sy nie alles verstaan nie.”
“Sy het my nou op haar nodigste!” protesteer Matilda oorspanne.
Die suster glimlag onversetlik, en dis ’n glimlag wat eintlik te kenne gee dat sy nou genoeg van hierdie vroumens gehad het. “Hier is ek baas,” sê sy onverskrokke, “en ek beveel dat my pasiënt onmiddellik met rus gelaat word. Sy kan net meer gedisoriënteer raak. Ons sal u bel as daar enige wending kom. ’n Klomp moeë, bekommerde familie help haar niks.”
“Ons verstaan,” sê vader, en dis sy eerste woorde in ’n lang tyd.
“Solank jy nie namens mý praat nie,” kry Matilda die laaste woord in. Maar sy weet wanneer sy haar moses teëgekom het, en daarom verlaat sy die kamer saam met die ander.
Dis ’n verlepte viertal wat voor tant Bets se dorpshuis uit die motor klim. “Ek hoop nie ons maak haar wakker nie,” sê Deon. “Het oom die sleutel?”
Dis egter reeds te laat. Bets is in elk geval nie ’n laatslaper nie. Iewers in die huis gaan ’n lig aan, en net daarna die stoep s’n. Sy sluit oop en in haar warm, lang kamerjas kom sy hulle tegemoet.
“Dis om koue te vat … uit die warm bed,” maan Matilda skerp.
“Koue my voet. Ek kom uit om vir Irma welkom te heet.” Die volgende oomblik is Irma vas teen die sagte, moederlike boesem, en sy kan haar verbeel dis haar eie moeder.
“My liewe kind, jy lyk nou nog meer na jou oorlede ma as ooit tevore!” roep Bets uit sonder dat sy Irma se gelaatstrekke duidelik kan onderskei. Irma het nog nooit na haar ma gelyk nie, maar dit laat tant Bets goed voel om so voor te gee; sy het haar oorlede suster aanbid. En in elk geval is die hou na Matilda gemik.
Deon haal die tasse uit die kattebak en tant Bets loop voor om kamers aan te wys.
“Wil jy bad, kind?” vra sy, nadat sy eers noukeurig aangaande Tillie se toestand uitgevra het.
“Nee wat, ek gaan met klere en al op die bed neerval.”
Irma trek slegs haar jas uit en haal Johan se portret bo uit die kleinste tassie. Toe sy op haar rug onder ’n duvet lê met die gesig van Johan voor haar, kan sy vir die eerste keer ontspan. In hierdie uur van die oggend kan sy beter vashouplek aan sy beeld kry as verlede nag in die hospitaalkamer; want nou is dit tyd dat hy opstaan, skeer, aantrek, werk toe ry, besigheid doen, praat, lag.
Ook kan sy hom in hierdie melankoliese oomblikke alle misverstand vergewe. Die verskille wat andersins onoorbrugbaar is, word nou uitgewis deur die afstand en die verlange. Sy voel goed. Ontspanne, vergewensgesind. Want so seker soos wat die son aanstons sal opkom, glo sy dat Tillie sal regkom. Sy sal in elk geval nie doodgaan nie. Aan ander moontlike skade probeer sy nou nie eers dink nie.
So tref Deon haar aan toe tant Bets hom met ’n warm melkdrankie na haar kamer stuur: aan die slaap op haar rug, met Johan se portret onderstebo op haar bors. Dit lig en sak ritmies soos sy asemhaal. Hy sit die glas neer.
Toe neem hy die portret saggies weg en draai dit om. Met ’n ligte skok kyk hy vas in een van die aantreklikste mansgesigte wat hy nog ooit gesien het. Toe hy die portret versigtig regop op die bedkassie neersit, merk hy dat sy hande liggies bewe.
Jy lyk mos soos ’n fllmster, liewe vriend, dink hy toe hy ’n laaste blik werp in die rigting van die bedkassie. Daar is egter geen glimlag op sy gesig toe hy die glas wegneem en die lig afskakel nie.
Toe Irma om elfuur wakker skrik, weet sy ’n paar sekondes nie waar sy is nie. ’n Aangename loomheid deurtrek al haar ledemate en pen haar magteloos op die bed vas. Dan begin dinge vaste vorm aanneem en nugtere denke stroom haar verstand binne. Tillie … is Tillie …? Maar die hospitaal sou gebel het as daar ’n terugval was. En sy het aan die slaap geraak met Johan se portret op haar bors. Dan ken tant Bets nou reeds my hartsgeheim, dink sy glimlaggend as sy haar kop draai en die portret langs haar sien staan.
Eindelik kry sy haar trae brein en spiere so ver om saam te werk en haar orent te lig. Sy swaai haar voete van die bed af en stap wankelrig venster toe. Sy knip haar oë teen die verblindende voormiddagson en kyk op haar horlosie. Wanneer laas het sy so laat opgestaan? Maar dan, wanneer laas was sy feitlik ’n hele nag wakker?
Dis doodstil in die res van die huis. Dan hoor sy egter uit die kombuis die klank van ’n kastrol wat op die stoof geplaas word. Dis tant Bets. Iets ruik baie aptytlik.
“Ek is bly jy het lekker geslaap, hartjie. Ek het vir Deon met ’n drinkdingetjie na jou kamer gestuur, maar toe was jy glo klaar aan die slaap.”
Irma voel ’n blos in haar wange opstoot. Dan is dit Deon wat haar geheim gesien het, nie tant Bets nie. “Niks weer van Tillie gehoor nie?” vra sy angstig, maar ook om die aandag van haar verleentheid af te lei.
“Ja, Deon het soontoe gebel voor hy weg is. Sy het nie weer haar bewussyn verloor nie. Sy slaap nou, maar sy het glo weer na jou gevra.”
“Ek sal gaan sodra ek klaar gebad het,” belowe Irma verheug. “Is Deon plaas toe?” Sy sien skaars hoe tant Bets bevestigend knik, want haar oë merk die varsgebakte skons op die tafel. Dit was dan die heerlike geur wat die huis deurdring.
“Die resep wat jou ma ook altyd gebruik het,” word Irma onnodiglik herinner en kry ’n koppie stomende tee met ryk melk. “Mens moet altyd keer, of dit rys oor die pan se rand.”
“Alles wat tant Bets maak, is lekker,” prys Irma haar opreg.
“Dis my roeping, hartjie. Ek het nooit man of kinders gehad nie,” bely die grys vrou sonder ’n spoor van spyt.
“Die snaaksste ding op aarde. Kan ek nog ’n koppie tee kry? Ek het nie besef ek is so honger nie.” Irma het al ’n hele skon baasgeraak.
“Dis omdat die spanning nou gebreek is, noudat dit blyk ou Tilletjie is buite gevaar.” Voordat Bets nog bewus kan word van die teenwoordigheid van trane, is dit reeds daar. “Jy weet, my kind, julle is maar my kinders, jy en Tillie en tot Deon ook. En ek dink die Vader vergewe my as ek meermale begeer het om julle meisies uit Matilda se hande te vat en self groot te maak. As die lewe vir Tillie te swaar geword het, het sy maar partykeer saam met jou pa in dorp toe gekom en dan ’n paar uur hier by my gebly.”
“Het tant Bets nog die ou motortjie?” vra Irma om ’n ligter toon aan die gesprek te gee.
“Ja, my kind, al spot die dorpenaars al met hom,” Irma lag lekker.
“Die weggaan het jou goed gedoen. Ek onthou jy het in die laaste tyd, voor jy weg is, nooit meer gelag nie. En Deon sê my jy is verloof?”
Irma steek haar hand uit en tant Bets beskou die ring van alle kante. “En wanneer is die plan?”
“Nog geen vaste plan nie, tant Bets.”
“En het Deon jou vertel van Bennie Martin?”
“So ’n ietsie. Het tannie hom geken?”
“Hulle was een of twee keer hier aan.”
“En waar is hy nou?” vra Irma versigtig. Die idee dat hy nie veel besorgdheid oor Tillie toon nie, begin hinderlik by haar posvat.
“Ek sou my nie gou weer naby waag as ek hy is nie,” meen tant Bets onomwonde. “Toe hy uit die hospitaal kom nadat hulle hom klaar ondersoek het, het Matilda hom by sy motor ingewag …”
Irma sidder en voel ’n geregverdigde simpatie met die vreemdeling. “Ek twyfel buitendien of hy en Tillie sal trou,” mymer sy swaarmoedig. “Dis nog drie jaar voor sy mondig is.”
“In ander lande is dit agtien,” klik Bets spytig. “Maar sodra daardie dag aanbreek, moet jy haar help om ook hier weg te kom.” Bets se lippe trek ferm.
“Vir seker!” Irma ledig haar tweede koppie tee nadat ’n tweede skon met dik botter na binne verdwyn het. Sy staan op. “Verskoon my, ek sal graag nou gaan bad. Ek is haastig na Tillie toe. Slaap die ander nog?”
“Ek dink so. Maak maar saggies en gou, anders wil Matilda sekerlik saamgaan.”
As ek en Tillie maar by haar kon grootgeword het, dink Irma met ’n gevoel van warme toegeneentheid. Miskien sou Tillie dan nie nou … Maar nee, dit kan ’n mens nie beweer nie.
Sy beskou haar gesig in die badkamerspieël. Haar vel lyk verwaarloos en haar hare dof. Die warm water verdryf egter die laaste greintjie moegheid uit haar gestel. Hierna skoon aantrek en dan uit in die vars lug, dink sy byna opgewek.
Sy was vinnig haar hare en blaas dit droog, sodat dit vanself ’n sagte omraming vir haar gesig vorm. Terwyl sy vinnig en geoefen grimering aansit, dink sy geamuseerd aan die dae toe sy so moes grimeer dat Matilda niks agterkom nie.
Die nag wat verby is, voel soos ’n vae nagmerrie waaraan sy nie vattigheid kan kry nie. Tillie sal gesond word, jubel dit in haar. En as Tillie regkom, sal alles regkom. Sy sal mondig word en ’n nuwe lewe binnegaan. Watter probleem is nou eintlik onoorkomelik? Deon sal sy graad kry, en dit sonder die hulp en aansporing van sy eie mense wat hom weggesmyt het, soos hy sê.
En sy en Johan sal trou. Hulle kinders sal gewieg word aan die moederlike boesem van ouma Matilda, in wie die vuur van haat en wantroue mettertyd sal uitbrand.
Irma glimlag oor haar vergesigte toe sy ’n sagte, songeel wolrok oor haar kop gooi.
Sy tref tant Bets in die voortuin aan. “Kan ek tante se motor leen?”
“Seker, my kind. As jy nie skaam is nie, ek is nie.”
Toe die motortjie met die nodige lawaai vat en Irma versigtig agteruit ry uit die motorhuis, verskyn Matilda in die voordeur. Heftig beduie sy dat Irma vir haar moet wag, terwyl sy krampagtig met die een hand haar kamerjas toehou. Joviaal wuif Irma terug en glimlag breed terwyl sy wegry. Wonderlik dat sy nie meer vir Matilda bang is nie. Vir Tillie sal daardie dag ook kom. Wat haar pa betref, die huwelik was immers sy eie keuse.
By die hospitaal word sy dadelik na Tillie geneem. “Spesiale vergunning, omdat sy na u gevra het,” verduidelik die nuwe suster aan diens. “Dokter wil andersins nog geen besoekers by haar toelaat nie.” Die manier waarop hy dit sê, laat vir Irma die waarheid besef: die ongewenste besoeker is Matilda, Tillie se eie ma.
Tillie glimlag vermoeid toe Irma binnekom. “Ek was so bang dat ma dalk sou saamkom,” erken sy onbeskaamd. Haar stem is nog skaars meer as ’n fluistering, sodat Irma vooroor moet buig om alles te hoor wat sy sê. “Van nou af sal my lewe ’n volmaakte hel wees.”
Irma luister ontsteld na die moeë verbittering. “Alles sal nou regkom, sussie,” troos sy hulpeloos.
“Alles sal nie regkom nie, Irma!” Tillie sluit haar oë en die trane pers onder die willose ooglede deur. “Daar is iets verskrikliks met my aan die gang …”
“Tillie, wat sê jy!” roep Irma gesmoord uit.
“Nie wat jy dink nie, Irma. Ek het dit nog vir niemand gesê nie, hoewel die suster al gewonder het hoekom my bene so lui is.”
“Lui? Wat probeer jy vir my sê, Tillie?” vra Irma met ’n onrustige voorgevoel.
“My bene en voete is dood, Irma. Morsdood.”