Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 11 - Louisa du Toit - Страница 4
1
ОглавлениеBo-op die rant, in die skaduwee van ’n sambreelvormige kokerboom, kom Nelis Hoffman tot stilstand. Sonbesies reg bo hom swyg verskrik. Wat ’n vreemde landskap, soos op die maan. Hy benut die blaaskans om sy kleinerige tas van een sweterige hand na die ander te skuif. Sy ander bagasie het hy op die stasie beveilig. Nou druk hy sy los hand teen die boomstam, verbaas oor die sysagte gladheid daarvan teenoor die growwe aalwynagtige blare.
Hy strek hom tot sy volle lengte, asof hy so bo die grondlangse hitte kan uitstyg. Of dalk is dit maar net ’n oorblyfsel van die bietjie karate wat hy op laerskool gedoen het. Hy strek hom graag, ook heel eerste soggens as hy wakker word. Die menseliggaam vra daarna, so glo hy. Vandag bied die heilsame gewoonte hom egter geen verligting nie.
Wat soek ek hier? wonder hy met verbystering, asof hy lank in ’n dwaal was en nou tot helderheid kom. Hier in die vreemde mengeling van klipwoestyn en swoel rivieroewer? Hoe sal hy ooit hier tuis kan raak, inpas by die gevestigde inwoners wie se huise daar voor hom van oos na wes gestippel lê?
Noudat hy hier staan, kan hy na weerskante toe kyk. Agter hom lê die dorp waar hy ’n uur gelede met die trein aangekom het. Voor hom lê sy bestemming vir die volgende drie maande of langer: ’n klipperige vallei met die verskuilde rivier heel agter, dan die bewerkte lappieslande, en heel voor – naaste aan die vreemdeling wat op die klipperige rant talm – die onegalige ry huise teen ’n watervoor soos ’n blink naelstring.
Hy het hom dit anders voorgestel: dat hy hom vas teenaan die rivierstroom sal bevind, daagliks blootgestel aan sy oerkrag. Want hy het hierheen gekom om sy eie terapeut te wees, sy psige te ontleed, vas te stel waarom hy, ’n uitmuntende swemmer, in gebreke gebly het om ’n kind uit ’n kolkende spruit van ’n waterdood te red. In daardie antwoord sal hy moontlik vrede vind.
Dit is meer as een misverstand wat hom hier laat staan. Toe hy aansoek doen, het hy aanvaar dat die skool in die dorp is. Die Onderwysgaset het dit so laat klink, dalk met opset, in die hoop om iemand vir die afgeleë skooltjie aangekeer te kry. Roosville, Driekolk Primêre Skool. Tydelike pos vanaf Januarie, met die moontlikheid op ’n permanente aanstelling. Dis die “kolk” wat sy oog gevang het.
By die stasie moes hy egter verneem dat die bestemde takskooltjie deel vorm van die aparte klein nedersetting Driekolk, sewe kilometer noord. Hoe om daar te kom, wou Nelis weet, net om te hoor dat daar rivierboere is wat “lusern inry”; na die stoor op Roosville, soos hy kon aflei. Dalk laai een hom op. In hierdie hitte kan hy nie daarvan droom om die afstand te voet af te lê nie, is hy meewarig ingelig. Hy is aangesê om net te wag, daar sal wel ’n geleentheid opdaag.
Dit was ook so. Redding was naby in die vorm van ’n vreemde voertuigie genoem ’n “tjor”, gemaak van ’n motor se kajuit en onderstel met ’n tuisgemaakte bak agterop … die drywer met songelooide gesig en slap hoedjie. “Dis Hans Esau wat goeters op die stasie kom afhaal. Hy sal jou tot duskant Driekolk se rant kan vat. Die pad na sy plekkie draai daar af.”
“Dit sal my baie help, dankie.”
“Onthou net, hy’s doof. So geword van dinamiet. As hy te sag praat, moet jy met jou hand opper beduie. En as hy te hard praat, moet jy affer beduie.”
Dit word ’n stamperige rit met Hans Esau se lippe wat aaneen roer. Nelis het wyslik besluit teen die nodelose oefening van “opper” en “affer”. Ten slotte het sy weldoener met drie vingers in die lug oor die rant beduie. Wat duidelik moes beteken dat Driekolk vlak anderkant lê.
Dus was die voetreis nie te ver nie, maar hy het hom nogtans met die son se krag misgis, ten spyte van ’n paar genadige ronddrywende wolke. Tuis in die Boland was dit koel, hier bevind hy hom meteens in stekende hitte; daarby is hy die enigste siel op twee bene. Dalk word hy self as ’n soort “loafer” aangesien, ’n verloopte handelsreisiger, veral met die tas. Dit kan lyk of hy monsters van ’n nikswerd produk saamdra, waarmee hy mense wil verkul.
Moes hy tog maar gekom het met sy eie kar, wat hy in die sorg van die Eksteens gelaat het, Reinet se ouers? Opreg jammer vir die motor waaraan hy nog afbetaal, het hy bedenkinge gehad oor die paar honderd kilometer van onbekende grondpad. Dis Reinet wat hom aangeraai het: “Hoekom ry jy nie die eerste keer per trein nie? Los jou kar by ons. Mits ek af en toe daarmee mag ry, net in die dorp.”
“Nou ja, ek weet jy is ’n goeie bestuurder, jou pa het jou geleer,” het hy toegegee.
Behalwe die ligging van die skool, is daar ’n rits kleiner misverstande. Hy is byvoorbeeld verkeerd aangetrek. Hy het reeds op die trein sy baadjie uitgetrek, toe sy das losgewoel, moue opgerol, hempkraag losgeknoop.
Dit kan ’n verdere misverstand wees, of ’n dwase besluit, om twee weke voor die skoolopening reeds te kom, sonder om iemand daarvan te verwittig. Maar hy wou niemand tot las wees nie, ’n ophef vermy. Ongemerk aanland, hom oriënteer. Die oorsprong van die naam Driekolk vasstel. Al wat hy tot dusver kon uitvind, is dat dit dui op drie klein watervalle in ’n vlak rivierkloof. Kan hulle woes raak? Vreesaanjaend, sodat dit hom van angs verlam? Soos hy dit langs daardie spruit ondervind het waar Banie Hougaard sit en visvang het, met blitse wat om hom speel? Sodat hy weggery het, sy stram voet rukkerig op die pedaal, sy hand ’n klou om die rathefboom?
Daar is geen wind nie, maar die mate van skaduwee sorg tog vir ’n geringe afkoeling van sy sweetklam lyf. Wat maak dit ook saak hoe hy lyk? Hy gee nie meer om nie. Hy is verby denke en gevoel, so in die godverlatenheid, een klein mens onder die wye, sondeurbakte uitspansel. In sy kop draai die woorde uit De Kleine Rudolf: “Ik heb mijn leven uit de hand gegeven.” Wat nou verder met hom gebeur, moet maar gebeur, soos met die randfiguur Rudolf met sy slaprandhoed, uit Nelis se eens voorgeskrewe boek. Hy besef dat hy self ’n hoed kort, soos Rudolf se “flambard”.
In die singende stilte hoor hy nou ’n vae ruising wat dié van water kan wees. Ver na regs, in die kloof, sonopkant. Dit smelt saam met die geskril van sonbesies wat hervat het, en die gesuis van verhitte bloed teen sy oortromme. Dit moet die watervalletjies wees. Hy hunker na die koeligheid wat dit belowe, verlang na sy studiejare toe hy provinsiaal geswem het. En dit durf tog nie. Hy het vier maande gelede ’n angsaanval gekry wat hom gekeer het om Banie Hougaard van ’n waterdood te vrywaar. Dis die naakte feite wat besig is om hom stelselmatig te vernietig. Alvorens hy begrip ontwikkel oor hoe dit moontlik was, sal hy nie vry wees nie.
Dan hoor hy, agter hom uit die dorp se koers, die gedreun van ’n voertuig. Hy kyk vlugtig om: dis ’n rooi vragmotor met ratelende oop bak wat stadig teen die rantjie uitgeskud kom, op die stuk pad wat hy reeds afgelê het. Lusernbale by die stoor afgelaai, so weet hy nou al. Dit was ’n goeie oes, het hy iemand hoor sê; min plae en deur die genade genoeg water vir natlei.
Met die sweet klamwarm tussen sy blaaie en die bril ’n gewig op sy neus, voel hy hom ’n misplaaste verskynsel. Teen die klipperige helling het alles ingekring en gestol: die kokerbome wat hulle dor, profetiese vingers die lug insteek; die witgebleikte vuursteenklippe onder die koorsige son wat roerloos in die aswit hemel hang. Die paar wolke het weggedrywe.
Hier is dit net hy wat beweeg, en die rooi vragmotor wat trekkerig sing. Sodra dit op die gelykte is, sal hy, die onwaarskynlike padloper, onder die bestuurder se aandag kom. Dit kan ’n hulp wees, maar ook ’n vernedering.
Hardnekkig bly hy vorentoe kyk, na die strepie huise teen die blink watervoor. Die bestuurder, al laai hy hom nie op nie, sal kan beduie waar die eenmanskooltjie met onderwysershuis is. Of sal hy tog maar hoop dat die voertuig hom liewer verbysteek? Sy tong kleef aan sy verhemelte, hy wil nie vrae beantwoord nie. Met teenstrydige gevoelens hoor hy hoe die vragmotor spoed verminder totdat dit sidderend langs hom luier.
Toe eers, onwillig, kyk hy op in die vol, beswete gesig agter die stuurwiel. Die fris jong man se hare is sweetklam en deurmekaar. ’n Wit voorkop verklap dat hy normaalweg hoed dra. Seker afgehaal dat sy kop lug kan kry. Hy moes wel lusern afgelaai het, want droë blaartjies warrel op die stampende bak toe die lorrie tot stilstand kom. Daar is ’n aantal bokse agter die kajuit tussen die relings gepak. Negosie by die winkel op die dorp gekoop?
Iets in sy voorkoms, die houding van die swaar kop miskien, herinner Nelis pynlik onverwags aan BH, by wie hy op die laerskoolpersoneel was solank hy ’n agterstallige graadvak inhaal. Hy sien voor sy geestesoog selfs die handtekening: BH Hougaard, met die “g” wat eindig soos die onderlyf van ’n spokie in tekenprente.
En onvermydelik skuif die wipperige seunsgestalte van Banie Hougaard sy geheue binne. Hy moet veg om die emosies wat heftig en onkeerbaar in hom opspring van sy gesig af weg te hou. Hoe bekend is hierdie geveg tog, en hoe moeg is hy daarvan. Durf hy hoop dat innerlike genesing naby is? Hoe, weet hy nog nie. Hy het nagelees, artikels afgedruk uit sy eie handboeke, uit vakliteratuur in die biblioteek.
Hy het besluit hy moet sy eie binneste stukkie vir stukkie ontleed, in verskillende situasies met water. Nie mak water, getem vir menslike doeleindes en plesier nie, maar as landmerk wat die geskiedenis deurvloei, soms deurklief. Maar al wat hy tot dusver kon vasstel, is dat hy nie ’n waterfobie het nie.
Daar lê koel spot in die vreemdeling se oë toe hy die ryloper bekyk. Baadjie aan ’n vinger oor sy skouer gehaak, hemp op die punt van uithang, sweetblink gesig, losgeraakte kuif, skoene vol stof. Darem tog iets wat koel is, dink Nelis terwyl hy dapper die blik beantwoord. ’n Fris bruin arm, oortrek met sweet en lusernstof, lê op die vensterraam. Die kakie-hempsmou is opgerol tot waar die dik boarmspiere begin wys.
“Van waar, Gehasi?”
“Net van die stasie,” antwoord Nelis met gevatheid wat hy nie voel nie. Hy is vies om dit te moet noem, want hy besef nou dat niemand te voet hier verkeer nie, veral op die middaguur.
“Jinne, en hy kan versies maak ook.” Die jong man kruis sy arms op die stuurwiel. “Jy’t nie heelpad geloop nie, dan sou jy al uitgepaas het.”
“Nee, Hans Esau het my tot by sy afdraaipad opgelaai.”
’n Spontane lagbui. “Met daai krokkie van hom?”
“Hy was die engel op my stofpad,” antwoord Nelis doelbewus hooghartig.
“So praat ’n geleerde bek mos. Kom,” sê die vreemdeling en beduie weer met die kop. “Klim in. ’n Baadjie, verdomp, waar het jy ooit gesien? En g’n hoed op sy kop nie.” Hy reik deur sy venster, gryp die baadjie en prop dit langs hom op die kussing. “Jou soetkysie kan tussen die bokse kom.”
Nelis gooi sy tas agterop en rek sy treë voor om die verbleikte rooi neus van die vragmotor. Die ding lyk of hy jou onverhoeds kan bespring. Hy sukkel met die lendelam knip van die linkerdeur.
“Dit wil nie oop nie,” roep hy na ’n rukkie bo die gedreun van die enjin.
Die kêrel grinnik toe hy oorleun en die deur oopknip. “Werk makliker van binne af,” deel hy hom gul mee. “Hier is ’n man te besig om nog stukkende goeters reg te maak.” Nelis klouterklim tot op die kussing.
Dis nou rantaf en die lorrie knikstamp half op sy eie, sonder ekstra petrol. Dis asof die gesnor en die ongemaklike rit alle begeerte tot gesels uit Nelis se gestel dryf, sodat net die vermoeidheid oorbly. Die kussing is geslyt en ’n staalveer druk teen sy rug, maar selfs dit verhoed nie dat sy liggaam verslap en willoos agteroor lê nie.
Hy voel hoe hy inskuif in die rol van blote waarnemer, traag om te reageer of selfs die geringste beweging uit te voer. Of dit in die kajuit koeler is as buite, is ’n ope vraag. Tussen hulle lê sy baadjie, met ’n werkshoed bo-op. Dit, dat die man tyd gevind het om met halwe veragting die baadjie onder te plaas, ontgaan nie Nelis se aandag nie. “Ek is Hoffman,” sê hy pligshalwe en wonder of sy trae stem enigsins hoorbaar is.
“O.” Dit klink of sy weldoener dit weet, of vermoed het, maar hy verklap niks. “En wat het vir Hoffie besiel om so skelmweg hier aan te kom?”
Nelis antwoord nie, ofskoon hy die moeite ontsien om hom te vererg. In werklikheid kan hy die ware rede, dat hy onder ’n wanindruk oor Driekolk se ligging was, nie noem nie. En dat hy ’n ophef wou vermy nie. Op hierdie oomblik lyk die gedagte aan ’n ophef egter so belaglik dat hy liewer nie daarvan wil onthou nie. Dis bedrywige mense hierdie, mense wat oorleef in ’n klipperige riviervallei waar alles van dou tot donker vermoedelik dreun en zoem. Dit kos nie veel verbeelding om die tafereel te bedink nie.
Dis asof alles ineenvloei: die son wat voel of dit laag en swaar oor die rante en vallei hang, die gesing van die kragtige hoewel verrinneweerde rooi lorrie, die reuk van petrol, sweet, lusern en pypolie, die dik bruin hande op die stuurwiel … ineenvloei in een sterk mag wat hom uitskuif, teen die kussing terugdruk.
Hy kyk weer na die man se hande, dan na sy eie: die bleek polse, blou are wat week en onbeskermd onder die huidoppervlak loop, soos uitgebleikte plante wat rigtingloos agter ’n ontwykende son aan groei. Hande wat passief gebly het toe hulle daadkragtig moes optree. Waarom, waarom, waarom?
Waarom het hy nie afgeklim, Banie Hougaard gekonfronteer, hom met visstok en al van die spruitoewer weggedwing, in die kar gegooi en huis toe gevat nie? Net omdat hy ’n klein storiedraer en bedorwe brokkie was, oor wie al die onnies ligweg gekla het? Hy, met sy ewige “pea-shooter” waarmee hy die meisietjies terg? Wat alles ontken het wanneer ’n onnie hom durf aankla? Nee, dit kan nie wees dat hy om daardie rede passief gebly het nie. Die mens is instinktief ’n redder van die mens, behalwe as sy gees kromgetrek is.
Ses maande gelede was hy ook bruingebrand, nie soos sy weldoener nie, maar bruin genoeg vir ’n dorpenaar. Miskien sal sy gesonde kleur hier terugkom, en vrede in sy gemoed ook. Op hierdie oomblik lyk dit meer as onmoontlik, lyk die rede vir sy koms misplaas en onlogies. Maar hy is jonk, hy wil nog lewe. Hy moet die vreetwurm uit sy kop uit wegkry.
Water. Die begrip het in sy brein oorheers. Hy moet gaan na ’n plek waar water is, volop water wat onstuimig kan raak.
Nou lê die blink kronkels van die rivier egter kundig versteek en hy, wat gekom het om klaarheid te kry, lê reeds soos ’n uitgewekene hier teen die warm kussing van ’n vreemdeling se meganiese rooi monster.
Hy skrik sigbaar uit sy gedagtes op toe sy ietwat brute gasheer skielik langs hom praat: “Jy sal eers saam met my moet ry om die goed by ons winkeltjie af te laai, dit maak eenuur toe. Almal rus as dit hard middag word.”
Hy praat asof hy Nelis se bestemming ken, en dit maak nie meer saak nie.
“Dis reg, dankie.”
“Ek het gaan bale aflaai by die stoor. Moes eers rusie maak oor die graad.”
Verwag die man ’n antwoord? Maar hy praat in elk geval voort, sy stem te hard, omgekrap. “Die tyd is naby dat ek vir myself ’n moerse groot lusernmeul koop. My eie lusern maal en uit die hand verkoop aan buiteboere. Dit nie eers baal nie.”
“Vindingryk,” mompel Nelis. Die onderwerp kan hom nie werklik boei nie. Daar is groter oorwegings wat in sy bloed klop.
“Dit sal my nie die liefling van die verdomde koöperasie maak nie, maar dis elke man se gouigheid.”
Nelis swyg. Die woorde “elke man se gouigheid” bly egter hinderlik vassteek.
“Dan laai ek jou met die terugkom by die skoolhuis af. Gaan jy alleen daar bly?”
Hoeveel meer vermoed of raai die man? Lyk hy na ’n geslae hond wat ’n lêplekkie op ’n ou goiingsak kom soek? “Jy raai nogal raak.”
’n Swaar lag vul die bedompige kajuit. “Sê maar net dis die bril, los al die ander goeters uit.” Hy blik skuins na die rof opgevoude baadjie. “En in my agterkop onthou ek van die nuwe skoolmister wat sal kom. Toe sien ek ’n vrinneling oor die rant sukkel.”
“Is ’n vrinneling, ek bedoel ’n vreemdeling, dan so ’n snaaksigheid hier?”
“Die kleinste kind sal al die mense hier rond vir jou by name kan opnoem.”
“Ek hoop nie my aanstaande leerlinge is so verveeld nie.”
“O, die klompie sal natuurlik eerder buite as binne wil wees. Maar sal ek sommer ’n paar van onse mense vir jou opnoem?”
Nelis wens dat die gesprek liewer wil doodloop, maar hy knik net. Hy sal immers dadelik by die samelewing moet inskakel.
“Kyk, daar’s natuurlik ek myselwers. Het ek jou al gesê wie ek is?”
“Nee, nogal nie.” Hy verstaan die versoeking om “burgemeester” te raai.
“Boel Meyer.”
Nelis ervaar ’n tikkie binnepret. ’n Meer gepaste naam kan jy kwalik bedink. Hy kyk sydelings na die vol, effens sinnelike mond, die gevulde wange. Tog straal daar ’n ruwe, onweerstaanbare manlikheid van hom uit. Gelukkig, darem, het BH Hougaard se beeld gewyk die oomblik toe die vreemdeling begin praat. Behalwe die swaar kop, is daar niks verder wat hom aan BH herinner nie. “Aangename kennis,” sê hy.
“Aag, skei uit met die manierlikheid, skoolmister.” Hy beduie na die strepie huise. “Jy kan nie almal op een slag sien nie. Dis sewentien huise met hulle erwe, so al teen die grootvoor af.” Hy kyk skuins na Nelis asof hy weet dat dié verkeerd sal verstaan. “’n Erf is nou nie ’n skwêr tuintjie soos julle dorpenaars dit verstaan nie. Dis ’n lap grond wat bewerk word, etlike morg.” Hy beduie: “Daar ver regs, oos, steek my en ou Bella se huis uit. Dis my ma. Sien jy, die groen werf? En ek is baie lief vir ou Bella, hoor.”
Was dit verdedigend? Hou almal dalk nie van “ou Bella” nie? Nelis merk op dat “ou Bella” se huis, sover hy kan sien en soos Boel tereg sê, ’n lowergroen werf het. Ander is kaal, soos die huis reg onder hulle, daar waar die pad vurk. Bar is ’n beter woord, met uitsondering van ’n yslike kameeldoringboom by ’n buitegeboutjie. Maar hy voel hom tot hierdie gestrooptheid aangetrokke. Geen voorgee of versierings om te ontken dat dit eintlik halfwoestyn is nie. Hy sal wel nou-nou hoor wie daar bly. Dis die naaste huis aan die skool, feitlik regoor, net met ’n steil stappie teen die rant af.
Want Nelis het reeds die twee klein gewitte geboutjies op linkerhand gesien, maar hy het voorlopig anderpad gekyk. Nou voel hy skerp teleurstelling deur hom vloei. Hy moet aanvaar dis sy bestemming. Vanaf die rant se kruin kon hy dit netnou nie sien nie. Dit lê teenoorgesteld van die ander huise, geskei deur die grondpad. Nie eers naastenby aan die soom van die pad nie. Ver van die waterkanaal, wat nog te sê die rivier of “die drie kolke”. Kaal tussen die klippe. Geen koelteboom eers nie. Hy gru effens as hy dink hy moet alleen daar bly. Hy is nie ’n kuddedier nie en hou van sy privaatheid. Maar verkieslik nie fisiek eenkant nie. Hy hou van mense naby en om hom. Alleen wees is reg, maar nie eenkant nie.
Boel volg sy blik. “Ja, dis jou koninkryk. En hier reg voor ons waar die pad vurk, sit ou Leen Thirion se plek.”
Dis die kaal werf met die enkele wyd spreiende boom.
Regoor die huis draai Boel links en ry weswaarts met die knikkerige stofpaadjie. Dis asof hy ekstra stof oor “ou Leen Thirion” se werf probeer opwerp. Dan voeg hy by: “Tog nou net jammer haar dogter is my meisie. Eendag wou ek haar nog sê dat sy net myne is, maar dalk moet ek nou opskud.”
Is dit ’n dreigement? Ek soek nie jou meisie nie, Meyer. Ek het vir Reinet, ek was net te versigtig, of onnosel, om met haar te trou en haar saam te bring. Jy sien, Meyer, daar het iets gebeur wat my ’n skaduwee maak van die man wat ek was.
Hulle steek ’n wingerd verby wat nie huis het nie. “En hier is ons winkel,” hervat Boel. “Ek is ’n aandeelhouer. Jy sal nou-nou sien hoekom ek so sê.”
Die winkel is skynbaar net ’n handelspunt, met Driekolk Algemene Handelaar in tuisgeverfde letters teen die muur. Die tradisionele reuk van velle, koffie en seep, beeld Nelis hom in. ’n Plek waar jy tussenin basiese benodigdhede koop sonder om dorp toe te ry.
“Behoort eintlik aan ou Gert Smit. Mankpoot en befoeterd. Was ook ’n lusernboer, maar hy het uitgeboer. Die ander spul, laer af teen die grootvoor, hoef jy nie nou al te ken nie.”
Nelis is dankbaar. Die enkele name drywe reeds rond in ’n groot onbekendheid. Trouens, dit lyk asof alles wat hy rondom hom aanskou, kan losraak en saam met die deinende hittegolwe in die lug ronddrywe. Hy is oorvermoeid en oorspanne. En in sy lewe het hy nog nooit so warm gekry nie. Binne die pype van sy langbroek voel sy bene lou en klewerig.
Hulle ry deur die oopgegooide draadhek wat toegang tot die winkelwerf verleen. Boel spring uit en laat sy deur sommer oophang. “Wil jy ook af? Ek gaan ’n paar woorde met iemand besonders gesels solank die goed afgelaai word.”
Nelis hunker na die beskutting van ’n dak, al is dit net vir ’n rukkie. Daarby is hy nogal nuuskierig. Kan die iemand besonders die meisie wees? Wie anders? Hy klim ook uit en maak seker hy los die deur half oop, gedagtig aan die steeks knip.
“Nieds!” roep Boel luid naby die ingang. Nelis staan langs hom, volg sy blik en sien die meisie wat by die toonbank met papierwerk besig is. Dis skemerig binne. ’n Waaier wentel in die lae plafon, so traag dat Nelis hom die stofdeeltjies op die vlerke kan verbeel. Dan tog elektrisiteit? Of net vir diegene wat kans sien vir die koste om dit aan te sluit?
Sy maak vir eers of sy Boel nie raaksien nie. “Nieds,” roep hy weer. “Middag, Nieds.” Hy sê eintlik “marrag”, ietwat oordrewe asof hy die geldigheid van sy streeksuitspraak aan die vreemdeling wil demonstreer.
“Ja, dag, Boel. Ek sal oom Gert sê jy het sy goed gebring. Hy sal met jou regmaak.” Sy kyk nou op. Haar oë flits verby hom na Nelis. Sy knik eers net. Hy is bly dat sy nie ’n vertoon van die ontmoeting maak nie. Is dit nie juis wat hy wou verhoed nie? Hy sou nogtans graag haar hand wou druk. Hy kan nie net soos ’n semelpop daar bly staan nie.
“Nie eers ’n botteltjie koeldrank om dankie te sê nie?”
“Jy weet oom Gert laat nie net vat nie. Betaal eers. Maar ons het koue water,” besluit sy, kom agter die toonbank uit en loop na ’n yskas met ’n ronderige deur. Die winkel is skemerig. “Het jy toe begin wegry?” vra sy sonder omkyk.
“Ja, die eerste vrag, maar al weer met ’n bakleiery met ou Alf Schutte. Dan glo te klam. En die bale lê nog my land vol soos die dom hoenders op ou Leen se werf.”
“My ma se hoenders het meer verstand as jou lusernbale,” wys sy hom tereg.
Nelis voel beïndruk, nie soseer deur die gevatte opmerking nie as deur haar gedrae stem en gemaklike manier. Onbedreig, dis die woord. Sy haal ’n glasbeker water uit. Hy weet dis koel. Dit moet wees, om verligting te bring vir sy tong wat soos kladpapier voel. Hy moet halfpad gedehidreer wees.
“Kyk hier,” sê Boel, “wat ek vir ons langs die pad opgetel het. Sal ons hom hou?”
Sy sit die water op die toonbank neer en stap nader. Nelis kom agter dat haar bewegings net so beheers en afgerond soos haar stem is. Haar geel linnerok is mouloos en eenvoudig. Sy is nie veel korter as hy nie. Slank van bou. Daar is ’n band met die kleur van skilpaddop wat die blondbruin hare uit haar gesig hou. Origens is dit in ’n soort bol gedraai en vasgesteek, vir koelte in die nek. Haar verskyning in hierdie warm, sweetharde werklikheid is verfrissend. En tog is sy doodgewoon, maak selfs ’n ietwat ongeërgde indruk, met die sjarme van onopgesmuktheid.
“U is seker die nuwe onderwyser,” raai sy sonder moeite. “Uit Wes-Kaap se koers. Meneer Hoffman, nè. Maar nou al?” Met die effense glimlag verskyn daar regop kepies langs haar mond.
“Ja, hy is die nuwe latswaaier, maar ons noem hom sommer Hoffie,” lê Boel beslag op wat ’n gesprek tussen Nelis en die meisie sou kon word. “En Hoffie, dis Nida, die meisie wat nog nie weet sy is net myne nie. Verstaan jy nou van my aandele in ou Gert se winkel?”
Sy laat haar nie uitlok nie. “Ag, Boel, jy hou jou tog weer so snaaks. Goeiemiddag, meneer Hoffman.”
“Hoffie,” dring Boel aan. Hy klink selfs ergerlik omdat sy hom teenstaan. “’n Meneer sou beter geweet het as om te voet oor die rant te stap. Ou Dowe-Hans het hom darem glo van die stasie af opgelaai. So, nie meneer nie.”
“Nelis,” tree die nuwe aankomeling tussenbeide. “Net Nelis.” Hy bied haar nou sy hand. Haar vingers is nie koel of warm nie, net reg. Noudat sy oë aan die skemerigheid gewoond raak, kan hy sien dat haar oë iets soos grysbruin is.
“Dalk later, ek bedoel die voornaam,” besluit sy. “Maar welkom, nietemin.”
“Ek sou darem dankie sê vir die guns wat ek vir jou en ou Gert gedoen het. Wat van ’n lekker klapsoen, Nieds? Vanaand, by jou huis?”
“Sal ek dan maar daarvoor bly lewe?” Sy klink totaal ongeraak. Sy roep agtertoe: “Oom Gert, Boel het die goed gebring.”
“Waar’s Hendrik?” roep ’n knorrige manstem terug.
“Hy is gou huis toe, oom, sy ma is siek. Moet ek die kontant vir Boel gee, of krediet op die boek skryf?”
“Vra hom self.”
“Krediet is orraaiterig. Pyn die ou se poot weer? En dis nie eers onweer nie.” Boel praat moedswillig hard. Want “ou Gert” het inderdaad by die middeldeur kom loer, knik ’n groet aan Nelis.
“Dalk is hy net nie vir jou lus nie.” Sy skink die water in twee erdebekers. Nelis drink meer beheers as Boel, wat sy kop agteroorgooi en sluk. Sy adamsappel beweeg kragtig.
Nelis bekyk onwillekeurig vir Nida toe sy omdraai om die beker in die yskas terug te sit. “Ons sal maar self moet afdra,” raai sy aan. Hy onthou die stadige lig wat in haar oë gekom het toe sy begin gesels. Dit het die ingedagte peinsing verplaas.
Dis ’n eenvoudige, afgeronde, vertroude gedagte wat van hom besit neem. Nelis Hoffman het vir Nida Thirion ontmoet. Net ontmoet, dis al. Maar hy sal hierna altyd van haar bly weet. En sy van hom? Nee, sy is mos Boel s’n alleen. Dit maak nie saak nie. Hy het vir Reinet, en hulle weet van mekaar, al wou hy hom tot dusver nie amptelik verbind nie.
Maar dit is vir hom heilsaam om kennis te neem van ’n afgeronde mens, iemand soos Nida Thirion. Versoen, heel. Veral vir iemand so stukkend soos hy. Hy wil ook weer so wees. Dis immers waarom hy hierheen gekom het, al het hy hom dit veel anders voorgestel.
Nelis help die goed afdra. Boel belet vir Nida toe sy nader staan. “Weg uit die son, jy, meisiemens.” Sy mond is nie ’n oomblik stil nie. Hy is die groot orator, tuis in hierdie omgewing. Hy skroom ook nie om griewe te lug nie, oud of nuut, soos teen die koöperasie-kêrel.
Dit sal ’n wyse stap wees as Boel Meyer vir Nida Thirion aankeer, dink Nelis met ’n tikkie nyd wat hy terstond onderdruk. Boel sal hom uitbrand as hy nie iemand soos sy het wat hom ewe koel in toom hou nie. As sy net nie ook in die proses uitbrand nie. Dit lyk darem nie of Boel van plan is om haar te verniel nie.
’n Diepe dankbaarheid stroom deur hom toe hy besef dat hy besig is om aan mense te dink, oor hulle probleme te besin. Miskien lê sy terugkeer tot ’n normale lewe tog hier, al is dit dan langs ’n ander weg as wat hy beoog het.
Toe dit klaar is, bied Boel aan: “Nieds, kom ek vat jou gou huis toe.”
“Dis nog nie eenuur nie,” antwoord sy. “En ek het vir my ma gesê as ek nie vir ete huis toe kom nie, kan sy maar my kos bêre.”
“Ou Gert kan darem wragtag die rukkie alleen regkom. Dis waar, hy is mank, maar hy is nie afgedooi nie.” En, toe sy nog huiwer: “Ek bring jou twee-uur terug.”
“Nou ja, my ma het van die goedjies nodig wat jy gebring het. Gee my een minuut om dit uit te soek.”
“Nou roer jou dan, ons moet eers vir Hoffie aflaai.”
Sal die man daarmee aanhou solank ek hier bly? So wonder Nelis, maar vra dit nie. Hy besef nou Boel kon hom baie maklik eers afgelaai het. Maar nou ja, dalk is dit toegesluit daar bo. Hy sal wel iewers buite kan sit en wag solank een van hulle iemand bel en oor die sleutel uitvind. Hy dink daaraan dat hy self eintlik ’n paar goedjies moes gekoop het. Maar hy wil nie nou ’n demonstrasie maak en hulle ophou nie. Hy sal oorleef.
Hulle wag nie lank nie. Boel vat die bruin kardoes wat sy dra en sit dit agterop. Sy lyk verleë toe sy die hoë kajuit moet bestyg om in die middel te sit. Nelis kyk beleef weg, hoewel hy graag haar enkels onder die kuitlengte somerrok sou wou sien. Dus lewe hy nog? Dus is alles in hom nie dood, weg, vergaan nie? Hoe lank terug voel dit dat hy laas met belangstelling na mooi jong vroue se bene gekyk het, selfs en veral Reinet s’n?
Boel sit sy hoed op en bondel Nelis se baadjie onder die voorkussing in. Hy protesteer nie, veral aangesien die baadjie so totaal uit pas met die weer is. Eindelik is hulle al drie ingewig, en hy is bewus van Nida se dy wat onvermydelik aan syne raak.
“Arno sit al op hete kole om jou pres te kry,” sê sy toe hulle ry. En, asof sy Nelis se vrae aanvoel: “Arno is my broer. En ’n pres is ’n baalpars, meneer Hoffman. Maar dis hoe ons sommer praat.”
“So lei ek af.” Dis ’n buitestander wat praat, ’n oningewyde.
“Daar’s ’n stukkie wat ek nog nie kon pres nie; dit bly net eenvoudig te klam,” antwoord Boel. “Jy hoor mos ek moes vanmôre met ou Alf baklei.”
“Jy hou nie vir Arno bloot moedswillig aan ’n lyntjie nie?” vra sy agterdogtig en draai haar kop om na Boel te kyk. Haar nek is roomwit onder die weggekamde hare.
“Nooit,” ontken Boel, maar die lag lê vlak in sy stem. “Ek sal hom mos nie aan ’n lyntjie hou net omdat hy gevrek is nie.”
“Ek wens ek kon met jou stry,” sê sy na ’n paar oomblikke se stilte.
“Toe maar, hy kan nie help dat hy ou Leen se kind is nie. Laat ons maar bly wees jy aard nie ook na haar nie.”
Nelis voel ongemaklik onder die redelik ongunstige bespreking van mense wat hy nog nie leer ken het nie, Nida se broer en ma.
Hulle ry die geringe draai om Nelis af te laai. Daar is ’n eie paadjie vanuit die grondpad na die twee wit geboutjies. Toe hulle naby kom, besef hy sy penarie sterker. Dit maak tog saak hoe hy die plek aantref. Hy het nie eers benodigdhede om vir hom ’n koppie tee te maak nie. Hy het geen oomblik aan selfversorging gedink nie.
Hy het onlogies geglo daar sal ’n paar moontlikhede van etes naby die skool wees. Dis toe hy nog aan die dorp self gedink het. Maar nou pas hy sy verwagtinge aan. Die huise hier is net-net te ver om gou oor te glip vir ete, en hy wil tog nie in ’n stywe sitkamer sit en geselsies maak terwyl hy vir opskeptyd wag nie. Al wil hy nie, moet hy dalk dink aan volle losies. Van die skoolkinders se ouers het tog seker ’n gaatjie vir hom, en sal ’n ekstra geldjie goed kan gebruik? ’n Buitekamer of buitedeur, dis al wat hy vra, so privaat moontlik. Hy moes ook vooraf gevra het, dan sou daar sekerlik iets vir hom gereël gewees het.
Hy wonder nou hoe hy so lukraak kon optree, en dit oor ’n plek wat net ’n eenmanskool het. Om die waarheid te sê, die praktiese sy van die saak het nooit in die tyd vandat hy die aanstelling gekry het baie sterk by hom opgekom nie. Hy weet net die vroulike leerkrag wat hier was, het hulle naby die end van die skooljaar in die steek gelaat. Iemand van die dorpskool is op wisselbasis uitgestuur om alles net tot in Desember aan die gang te hou, sodat die skooltjie se voortbestaan nie in die gedrang kom nie.
Daar was slegs die ander, oorwegende motief: hy moet wegkom van BH Hougaard, van die swaar smart in sy oë. Om slangbyt te behandel, ontvang jy ’n serum wat uit slanggif ontwikkel is. So het hy geredeneer. Deur water het sy verbreking gekom, deur water moet hy dit probeer heel. Of dit hoegenaamd logies is, vra hy hom nie af nie.
Hy weier om sy bekommernis aan Boel Meyer en Nida Thirion te toon. “Sou die skoolhuis oop wees?” vra hy asof terloops.
“Ja, wat. Niemand sal die vlermuise steel nie,” antwoord Boel. Die lighartige woorde jaag die twyfel sterker in Nelis op.
Ook Nida word nou deur die situasie getref: “Is daar enigiets afgespreek?” vra sy. “U het vroeg gekom.”
“Ek kan my eie potjie krap,” ontwyk hy.
“Sover ek weet, is daar darem ’n bietjie huisraad,” onthou sy twyfelend. “Ek weet nie van kombuisgoed nie.”
“Solank daar ’n sitplek en slaapplek is.” Ontwykend. “Ek sal gou regkom.”
“Maar etes en so?”
Nou het sy hom vas. Dis tog duidelik dat hy niks anders as een medium tas by hom het nie. “As ek my goed op die stasie gaan kry, sal ek goedjies koop. Môre. Of by julle winkeltjie,” ontwyk hy steeds.
“Maar intussen?”
“Intussen karring ek maar so aan.”
“Dewald Venter is mos nog die skoolkommissielid hier op Driekolk?” vra Nida vir Boel. “Ek is uit voeling met skoolsake.”
“Ek ook,” sê hy. “Kan ons nie iets daaraan doen nie, Nieds?”
Nelis kan voel hoe sy stil en verleë raak onder die betekenis van die subtiele vraag.
“Ek sal nou dadelik vir Dewald gaan bel,” belowe sy. “Daar’s seker geen telefoon in die skoolhuis nie, en buitendien is dit dalk tog toegesluit.”
“Dan sal ek maar moet inbreek,” probeer Nelis die kwessie verlig. “Of buite sit en wag tot hy hopelik kan kom oopsluit.”
Toe hulle teen die skuins, klipperige werf stilhou, kom ’n skoonmaakster juis met besem en stoflap om die hoek gestap. “Hulle maak darem nou al skoon,” kondig hy onnodig aan en probeer die verligting uit sy stem hou. “Dan sal dit oop wees.”
“Dis Komien,” sê Nida. Sy, Boel en die skoonmaakster roep ’n ingewyde groet oor en weer. Almal hier ken vir almal.
Oomblikke later staan hy op die grond met sy tas in die hand. ’n Groot eensaamheid dreig om hom te oorweldig. Hier sing net sonbesies. As daar tog ’n ander geluid van verwelkoming ook was. Want Boel het nie die lorrie se enjin afgeskakel nie en die geluier doof die ver gedruis van die water uit.
In ’n spytige oomblik dink hy: hy moes geswig en vir Reinet saamgebring het, as sy vrou. Sy kan haar korrespondensie-studie vanaf die mees afgeleë plek voortsit; as sy dan wil, want danig gemotiveerd is sy beslis nie. Dis egter nie veel meer as ’n desperate gedagteflits nie. Die tyd was vir hulle twee saam immers nie ryp nie.
Dan voel hy dat hy móét vra, om sekerheid te kry. “Die dowwe geraas van water,” vra hy meer aan Nida as aan Boel, want laasgenoemde sit reeds met sy hand gereed op die rathefboom. Hy is haastig, ’n man wat in die werk staan en nie onderbreek wil word nie. Toe Nelis se sin halfpad strand, voltooi hy dit so goed hy kan: “Mens kan dit nie nou hoor nie, maar … dis seker die drie watervalle waarvan ek gehoor het?” Hy beduie slapweg noordoos.
Sy kyk vlugtig na Boel, vraend. Dan verhelder haar gesig: “O, jy is reg, ja. Ons is al so gewoond daaraan dat ons dit nie meer hoor nie. Ons sal jou tog eendag gaan wys hoe die rivier daar bo oor die rotsblokke stort. In die nag as die wind draai, hoor ’n mens dit beter.”
Maar moet ek dit duideliker hoor? “Hou dit nooit op nie?” vra hy ademloos en sy oë boor dringend in hare.
Hy sien die stadige lig van verwondering in haar blik en besef dat sy stem te heftig was.
Dis Boel wat antwoord: “As die rivier baie leeg is, ja. Of as dit hoogwater is. Solank ons die geraas hoor, is ons tevrede. Dan is ons hele wêreld reg.”
Hulle hele wêreld, ja. Maar syne?
Hy probeer kalm voorkom. Maar toe hulle wegry, met ’n laaste belofte van haar dat Dewald dadelik gebel sal word, weet hy dat Nida Thirion die onsteltenis in sy houding moes gewaar het.