Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 11 - Louisa du Toit - Страница 8

5

Оглавление

In die dik geel lig van laatmiddag stap Nida die entjie na Bella Meyer toe, sowat ’n kwartier met die voetpad teen die grootvoor. Sy word, soos altyd saans, omhul deur die afkoelende geur van modder en groenigheid.

Tussen hulle en die Meyers is daar slegs een huis, feitlik leegstaande, slegs ’n deeltjie bewoon deur die huurder, oom Salie Steenkamp, sommer “Stinkham”; dis fonetiese assimilasie, het sy op skool geleer, soos Thirion wat Tierjon word. Die fluks, stil oom bewerk die besproeiingserf pragtig, die landerye ’n plesier vir die oog; hy gaan net naweke na sy gesin op die buiteplaas, waar hy weens droogte en teenslae uitgeboer het.

Die volgende werf is dan Boel-hulle s’n, lowergroen beplant deur Bella met die groen vingers. Boel sê sy ma kan ’n blikbeker onderstebo plant, dan skiet dit wortel.

Nida weet dat sy weer eens sal jok, vir Bella sal sê: “My ma stuur groetnis.” En Bella sal maak of sy dit glo. Deur die jare het sy geleer om haar besoeke aan Bella Meyer met skuldgevoel te paar. Sy het daaraan gewoond geraak, maar dit bly nietemin pynlik, veral noudat sy volwasse is. Sy hou van die vrou; sedert haar vroegste kinderjare was sy lief om weg te glip, “bietjie soontoe op te loop”.

Die Meyers was “inkommers”, nie oorspronklike setlaars nie. Nogtans was Boel nog jonk genoeg vir Driekolk se skool. Alles wat Boel as jongste kind in die huis geniet het, is so ongemerk met haar gedeel, lekkernye gebêre tot sy kom, ’n fyn afgewerkte poprokkie hier en daar. Een keer ’n kundige laphoedjie. “Net ’n sirkel,” het Bella tevrede uitgelê toe dit so mooi op Nida se kop pas. “En dan rondom die bol ingetrek. Hoededraad om die rantjie styf te laat staan.” En ’n oorgetrekte knoop reg bo-op die kroontjie om dit af te rond, het Nida ingenome gesien. Dit was blommetjieslap, en sy het baie mooi gevoel toe sy tuis daarmee aankom. Haar ma het bloot gekyk, niks gesê nie. Dit ook nie laat verdwyn, wat maklik sou wees nie. Dit het net per abuis saam met die witgoed in bleikmiddel beland en fleur en kleur verloor.

Soos Nida ouer word, moes sy na elke besoek feitlik terugsluip met die vooruitsig om verantwoording te moet doen. Hoe goed onthou sy daardie onderonsies wat eintlik maar kruisverhoor was. “Was jy weer by die Bella?” Altyd “die” Bella, om afstand te skep of minagting te kenne te gee.

“Sy’t my laat roep, Ma.” ’n Ligte leuen. Boel sou dalk net by die skool sê, eers by Driekolk en later op Roosville: “My ma sê sy het jou lank laas gesien.”

Leen se klagtes was altyd min of meer: “Mens kuier mos tog nie op die hitte van die middag nie”, of: “Wat het die Bella dan beter as wat jy in jou eie huis het?” Of: “Watse gunste en gawes het jy nou weer gaan bedel?”

“Dis … dis sommer ’n ou poprokkie wat sy my gegee het.”

“Hmf. Splinternuut gemaak, kan ek sien. Was Boel ook daar?”

“Ja, Ma; hy help tant Bella boontjies kerf om in te lê.”

“Watter soort jongetjie sit oordag in die huis? Jou broer moet maar werk. Ja-nee, jou broer moet maar werk.”

Laasgenoemde was ná Nida se pa se dood. Dit sou nie help om te verweer dat Boel maar net nie ’n sukkelaar soos Arno is nie. En dat die Meyers nie te suinig is om werkers te huur nie.

“Arno het nie tyd vir nonsens nie. Hy het nie ’n pa nie; hy moet werk.”

“Boel het ook nie ’n pa nie, langer as Arno al.”

“Maar hy het dik geërf. Het jy nog nooit gewonder hoekom nie?”

“Diamante?” het Nida gewaag. “Hoekom het Pa dan nie ook maar met diamante geld gemaak nie? Dit behoort aan niemand nie, dit kom uit die grond. Soos lusern. Was Pa net te bang?”

“Jy weet nie wat jy praat nie. Dis ’n kwessie van tronksit.”

Die versetspel het mettertyd subtieler geword. “Vir wat sit jy jou strooihoed op?” Nida het lankal die kappie-juk afgewerp.

“Ek gaan sommer ’n entjie stap, Ma.”

“Stap dan lande se kant toe, dan vat jy vir Arno ’n koffietjie saam.”

“Ek wou nie so ver stap nie; ek het nog huiswerk.”

“Nou gaan doen dan eers jou huiswerk. Plig voor plesier, sê ek altyd.”

“Watter plesier, Ma? In ons huis? Ma speel seker.” Nida was eindelik groot genoeg om te kritiseer, en verbaas om te vind dat haar ma ’n mate van kritiek toelaat, solank sy die laaste woord het.

Toe Nida matrikuleer en by oom Gert in die winkel begin werk, het sy openlik te werk gegaan, soos op ’n Saterdagmiddag: “Ma, ek stap bietjie oor na tant Bella toe. Het Ma ’n boodskap of iets?”

“Van wanneer af laat ek en sy mekaar iets weet?” En, grimmig: “Jy moet oppas. Mense kan begin dink dat jy agter Boel aan loop.”

“Laat hulle dink wat hulle wil, Ma. Ek weet wat ek weet.”

Toe Boel werklik begin flikkers gooi, het sy versigtig geword. Sy was nie ryp vir sy attensies nie. Sy sou Bella net besoek as sy weet Boel is Roosville toe, of elders. Sy en Bella kon nou volwasse geselskap voer.

Die afgelope agt dae was nogal besig, met die onderwyser se koms en die losiesstorie. Daar was eers die vinnige reggryp van die buitekamer. Verder het sy ongemerk toegesien dat haar ma die vleis sag genoeg stowe en behalwe die styselkos (altyd mielierys of stampmielies of rys of koring), darem ten minste nog een bykos het. Vir slaai is daar ’n opslagtamatiestoel. By oom Gert se winkel is aartappels te koop, en Leen druk nogal graag pampoenpitte in die grond.

Maar dis nou reeds ’n paar dae sedert sy van Boel verneem het dat sy ma olik is. Vanmiddag lyk dit of sy kan wegglip soontoe. Sy is reeds tuis van die werk af, maar die son sit nog hoog. Haar ma het vir Arno koffie weggebring. Om Arno te versorg, sy koffie self weg te neem, sy skoene skoon te maak, sy skeergoed te bêre, is meer as blote roetine. Dis ’n gewyde ritueel elke dag, wat noodwendig gepaard gaan met die neurie van ’n hallelujalied. Hoeveel kere het sy haar ma sien afkoers na die lande, platkappie op die kop, skottelgoed in die doek. Elke duik in die aluminiumketeltjie vertel ’n hoofstuk van die verhaal van Leen Thirion se liefde vir haar seun. Nog nooit was dit iemand anders beskore om met ’n parslap naby Arno se kerkpak te kom of sy kouse op te vou nie.

Nida was nooit daarop afgunstig nie. Sy was te gewoond aan Arno se waarde as onontbeerlike man-in-die-huis, die een wat die skoorsteen laat rook. Sy moet dan ook toegee dat hy ’n harde werker is, al is hy nie iemand met vergesig nie. ’n Mens moet hom die krediet gee dat hy besig is om ongemerk sy eie jeug en kanse op ’n huwelik op te gee ter wille van sy ma en suster.

Sy self sal haar potjie kan krap, maar wat sou haar ma sonder Arno gedoen het? Haar ganse lewe en belange en toewyding sirkel om hierdie stukkie grond wat sy saam met haar man help tem en opbou het, toe hulle nog beginners was. Nou is die pa weg en die seun is groot, en Arno vorm die siel en kern van die bestaanslewe hier.

Vanmiddag sal haar ma lank by Arno talm, want daar wag nie pligte tuis nie. Nelis Hoffman se motor het in die dorp aangekom, en hy het gesê dat hy saam met Dewald ’n geleentheid kry om dit te gaan haal. Hy sal dalk daar eet, en Leen moenie vir hom aandete hou nie.

Dit nou na gisteraand se telefoonoproep wat hom laat uitroep het: “Jy het wát?” So hard dat die geslote middeldeur dit nie genoegsaam kon demp nie.

Daarna, so weet sy, het hy met sy suster gesels en aan tafel allerlei familienuus aan haar, haar ma en Arno kom oordra. Maar die klank van sy stem in daardie ontstelde uitroep kan sy nie vergeet nie. Soos sy oë, die middag toe sy en Boel hom by die skoolhuis afgelaai en hy hulle so verlore agterna gekyk het. Hy is nie ’n onvertroebelde man nie. Wat anders sou hy hier kom doen, as wegvlug van iets, of wil kom genees? Sy studie, glo. Meer tyd, minder buitemuurs. Dit klink alles flouerig. Dis meer as vertroebeling, dis ware leed.

Sy wil liewer nie daarby betrokke raak nie. Sy het lekker gelag toe haar ma vertel dat hy ’n groot, onoopgemaakte pak Engelse Sout in sy kamer het, en of Nida ook sal gaan kyk, en hom sal vra of Leen daarvan kan kry om rondom die verwaarloosde perskebome in te werk. Dit werk glo baie goed.

“Los die man se goed uit, Ma,” het Nida haar aangeraai. “En hou op om my na sy kamer toe te stuur, ek kom nie daar nie. Wil Ma stories hê?”

Eendag, wanneer sy Hoffman beter ken, sal sy hom die staaltjie van die Engelse Sout vertel. Dit lyk nogal of hy ’n sin vir humor kan hê. Dit het sy veral agtergekom tydens hulle eerste ete saam aan tafel.

Dit was die dag na sy aankoms en ’n mens kon sien hy is nog rou, iewers diep binne. Aan tafel was dit steeds ’n kwessie van Arno se lusern en Boel se baalpars en die moontlikheid van reën, omdat dit so uiters bedompig is. Die onderwyser het met verbasing en ongemak kennis daarvan geneem dat ’n mens hier nie sommer om reën moet bid nie: dit kan ’n lusernoes beduiwel.

“Hy wil nie dat die son op jou skyn nie, dis al,” het haar ma teenoor Arno gemopper. “Hy” was natuurlik Boel. Haar ma noem nie graag sy naam as sy dit kan verhelp nie, net soos sy ma “die Bella” is. En Leen was veral versigtig voor die vreemdeling.

“As dit so aanhou, sal ek maar self ’n pres moet koop,” het Arno beswaard opgemerk.

Haar ma het vinnig opgekyk. “Hoeveel is dit?”

“Duisende rande.”

Daar was onderdrukte konsternasie in die lug. Nida kon dit nie verhelp om te voel dat Arno van die drama hou, veral toe Hoffman ook beïndruk skyn te wees nie. Arme Arno, hy kry so selde die kans om mense te laat opkyk.

Haar ma was nou baie beslis: “Ag, nee wat, my kind; so baie geld. En breek die ding net, dan sit jy weer met die onkoste.”

“En as Boel s’n breek?” kon Nida nie anders as om onskuldig kwyt te raak nie. Sy weet tog dat Boel dit feitlik verniet vir Arno doen, veral as Arno hom weer help lusern uitry of bale afry dorpstoor toe.

Sy het haar ma duidelik onkant gevang. “Wel, so maklik breek hulle darem seker nie. Nie as hulle so baie kos nie. Nog ’n stukkie brood, meneer?”

Nida en Hoffman het spontaan mekaar se blik gevang oor die breedte van die eenvoudig gedekte tafel, en daar was ’n fyn glimlag in sy oë. Sy hande moes besig bly om hom sy pose te laat behou. Gevolglik het hy nog een van haar ma se formidabele snye brood op sy bord gelaai. Lank nadat hulle ander klaar was, het hy nog daaraan gesit en peusel. Nida het hom verlos deur aan te raai dat hy dit as toebroodjie na sy kamer toe saamvat “vir die hol kolletjie later”. Nie dat hy iemand met ’n groot eetlus is nie, en uitsoekerig ook glad nie.

Sedertdien voel sy dat hy haar ma se eienaardigheidjies met daardie fyn sin vir humor waardeer, en sy is so dankbaar daaroor. As Boel dit maar kon regkry. Maar met Boel is dit anders: dit het ’n bose kringloop geword. Haar ma hou nie van hom nie, en in reaksie daarop jaag hy haar al verder die harnas in, dikwels moedswillig.

Nida gaan sommer na die agterdeur van die Meyers se huis. Soos die meeste huise, is hierdie een ook agterstevoor gebou. Die idee moet seker wees dat die bewoners self moet kan uitkyk op die grootvoor, na die lande en rivier se kant toe, daar waar die lewe lê. Maar Bella hou nie van oopstaande deure, selfs in somertyd nie. Dit verleen iets geheimsinnigs aan haar huis.

Nida trek die gaasdeur oop en voel aan die deurknop, maak die deur op ’n skreef oop. “Tant Bella, kan ek maar deurstap?” roep sy. Van Boel het sy verstaan dat sy ma in die bed is. Daarom is sy verras toe sy haar trompop in Bella vasloop.

“Nieds.” Daar is onverbloemde vreugde op die ouer vrou se gesig. Dis die naam wat sy en Boel oorgeneem het van Nida se pa, die eerste en enigste een wat haar so genoem het. Nog altyd hou dit vir haar iets van waardering, van vertroulikheid in. “Jy was so lank laas hier. En ek was so siek soos ’n hond, man.”

“So het ek van Boel verstaan. Weet jy wat het hy gesê, tant Bella?”

“Nee, maar ek wil hoor.” Daar is afwagting op die byna te mollige, effens donsige gesig.

“Hy sê hy’t altyd gedink as ou Bella die emmer skop, kan hy daar in ons pakkamer intrek – maar noudat dit so lyk, het ons iemand daar ingesit.”

Bella lag heerlik, en Nida vermoed dat die helfte van die vermaak te danke is aan die lotsbestemming van die pakkamer. “Nee, Boel gaan nog lank met my sit. En ek hoor julle het nou ’n loseerder. Geleerde een daarby.”

“Dis eintlik my ma se loseerder, maar dit raak tog ons almal.” Nida probeer haar gesig, warm van die stap, met haar sakdoek koel waai. Die aandstond bring afkoeling buite, maar tussen mure word die daghitte steeds vasgekeer.

“Wag, kind, ek skink vir jou koeldrank. Dis goed jy het in hierdie wêreld grootgeword. Ek het mos sonsteek gekry ’n rukkie na ons hier ingetrek het.”

“Ek onthou. Snaaks, ek onthou alles van julle eerste jare hier, al was ek nog so klein.”

Daar kom ’n vreemde blik in Bella Meyer se oë by die aanhoor van Nida se woorde. “Alles?” vra sy gedemp.

Nida voel vreemd genoeg ongemaklik. “Ja, wel, alles wat van belang is, seker.” Oor die verskuldigde slagding sal sy liewer nie praat nie. Dalk is dit wel betaal, en die geld deur haar pa in sy sak gesteek.

Dis of Bella Meyer haar regruk. Sy stryk onbewustelik die halslyn van haar ietwat laag gesnyde rok reg en die ou, onblusbare glinstering kom terug in haar oë. “Dan onthou jy seker ook die dag toe Boel sy bottel melk oor jou kop omgekeer het.”

Nida lag. “Ja, hy het mos bottel gedrink tot nadat hy in die skool gekom het.” Sonder wrewel dink sy daaraan dat Bella se vel nie meer so glad is dat sy haar hals behoort te ontbloot nie. Maar die gedagte is nie giftig nie.

“Sy bottel moes altyd op daardie tafeltjie gereed staan as hy by die huis kom.”

Nida vind dat sy vanmiddag met meer belang en gevoel kan deel in die herinneringe aan Boel se kinderjare. Dis of dit vandag omgewe is met ’n waas van dierbaarheid, sodat sy skielik na sy werklike teenwoordigheid verlang. “Waar ís Boel?” vra sy ongeërg.

“Seker maar iewers rond. Dis beter dat hy wegbly, anders eis hy jou hele geselskap op. En ons het baie om te gesels, Nieds, jy was lank laas hier.”

Dis maklik om met Bella Meyer te gesels. Sy kan met soveel oorgawe borrel dat jy agterna soms nie weet hoe jy so spontaan meegedoen het nie. Hulle praat verder oor die sonsteek wat Bella gehad het, Boel se arm wat kort daarna gebreek het, sy pa se noodlottige ongeluk toe hy met ’n trekker besig was.

“Ja, Nieds, ’n mens hoor dikwels een sê hy wil nie hier of daar begrawe lê nie, omdat hy daar te swaar gekry het. Maar ek het vir Boel gesê hy moet my op geen ander plek as Driekolk begrawe nie; ek wil begrawe lê waar emmers van my trane geval het.”

“Nie so neerslagtig nie, tant Bella. Daar was tog baie vreugde ook in jou lewe hier?”

“Nooit ongemeng nie, nooit.”

“Ek glo dit nie. Wat van Boel? Julle is mekaar se hele lewe.”

“Dit lyk my nie ek is meer sy hele lewe nie, Nieds.” Sy sê dit egter lighartig en stryk haar nog digte, opgekamde hare terug met die gebaar van gewoonte.

“Hoe so?” Nida gewaar egter reeds ’n ligte roering in haar gemoed, omdat sy vermoed waarop die woorde afstuur.

“Dit moet ek vir jou vra. Sê my, die loseerder sal nie dalk tussen jou en Boel kom nie?”

“Daar is mos niks tussen my en Boel nie.”

“Miskien nie wat jy van weet nie, of hoe?”

Nida glimlag saam, omdat sy eintlik niks kan teenwerp nie. In alle gemoedelikheid is die situasie raak opgesom. Dis immers presies wat sy onlangs begin ontdek het: dat sy nie geweet het hoe diep haar gevoel vir Boel reeds ontwikkel het nie. Dis asof die koms van die vreemdeling haar oë daarvoor oopgemaak het. Hoe, weet sy nie. Dalk omdat Boel deeglik jaloers is.

“Ons is so gewoond aan mekaar,” ontwyk sy nietemin Bella se gretige blik.

“Dan moet julle versigtig wees. Hoe graag ek jou my eie dogter wil noem, wees dan liewer versigtig en geduldig.”

“Lyk ons dan oorhaastig?” frons Nida.

“Ongelukkig nie, anders sou ek julle aangespoor het. Maar om te trou net omdat julle aan mekaar gewoond is …” Daar is ’n soort harde verset in Bella se oë toe sy dit sê.

“Wat dan?” dring Nida saggies aan. Die onderwerp is na aan haar hart. As sy tog maar met haar eie ma ook so vrymoedig kon gesels het.

“Dan ontmoet jy later die een wat jy in die eerste plek moes ontmoet het.”

Nida weet sonder twyfel dat Bella van haarself praat, en dit vul haar met weifeling. Dis dinge hierdie wat sy nie die reg het om te weet nie. Dit skommel die beeld van gawe Bella Meyer hinderlik deurmekaar.

“Moet maar nie verder met my daaroor praat nie,” sê sy, en bedoel dit.

“Die een of ander tyd moet ek tog, Nieds.”

“Waarom?” ’n Duistere onrus sak van iewers op haar toe.

“Omdat hy my gevra het om dit te doen.”

“Hy?”

Dit lyk of Bella die woord nie hoor nie. “En selfs al het ek hom dit nie beloof nie,” vul sy byna fluisterend aan, “dan nog … omdat jy sy oë het.”

Nee, is Nida se eerste gedagte. Die skok neem gestalte aan en oorweldig haar binne oomblikke. Hierdie vrou en my eie-eie pa, hy wat my eerste Nieds genoem het.

Nee, nee, nee. Die noot wat sy in Bella se stem gehoor het, die ondraaglike weemoed – dit was nie regtig daar nie, omdat dit nie daar durf wees nie.

Sy weet sy moet opkyk in Bella Meyer se oë, maar hierdie een keer is sy te lafhartig om iemand se blik te ontmoet.

Sy wil vir altyd in haar koeldrank sit en afkyk, omdat sy minstens die bodem kan peil. Maar Bella se oë sal op hierdie oomblik onpeilbaar wees, omdat sy aan hom dink; aan Arnold Thirion, die goed geboude, netjiese man met die vroeë grys teen sy slape, die beheerste beweging van sy hande as hy sy dogtertjie op sy knie tel sodat sy lank en doodstil by hom kan sit. Dan het sy veilig gevoel, afgesonder van haar ma se voortdurende drukte.

Toe sy eindelik opkyk, wens sy dat sy hierdie oomblikke tussen haar en Bella Meyer kan uitwis, vir ewig wegveeg. In ’n oogwenk lê al die teer, ongeskonde herinneringe aan die man wat haar pa was, in skerwe, want sy lees erkenning in die oë voor haar, die skynsel van vergane hartstog.

Met skok na skok skiet vergete dingetjies Nida te binne: hoe sy eendag hier aangekom en haar pa ewe tuis langs die kombuistafel gekry het, terwyl hy vir haar ma gesê het dat hy na die Meyers se katoenplukkery wil gaan kyk omdat hy self katoen wou aanplant.

En nog verder terug, onthou sy Boel se pa se begrafnis. Haar ma sou nie gaan nie; hoofpyn, het sy gesê waar sy in die skemer kamer gelê het.

“Dan bly ek en die kinders ook maar,” het haar pa lamlendig gesê waar hy net binne die deur staan, die tweetjies aan weerskante van hom. Sy en Arno het na mekaar geloer, teleurgesteld in hulle heerlik morbiede verwagtinge van die middag. Hulle het vroeër katdoringtakke gaan sny, ’n krans gevleg en wilde blomme daarin gedruk. Die blomme het vinnig verlep, dit onthou sy. En dat die katdoring jou geniepsig kon steek.

“Nee,” het haar ma onverwags skerp gesê en haar half orent gelig op die bed. Haar stem was sterk vir iemand met ’n kwaai hoofpyn. “Nee, gaan, jy moet gaan. Jy moet hom gaan help begrawe.”

“Loop julle twee kombuis toe,” het haar pa beveel en haar en Arno met sy hande teen hulle ruggies voortgedu. Toe het hy die kamerdeur toegemaak, maar dit was nie dig genoeg om die hoë noot van haar ma se histeriese stem uit te sluit nie.

Nou weet sy: voor Meyer se dood reeds was dit aan die gang, hierdie skreiende skande; want iets anders kan dit nie genoem word nie. Dit wat nou in so min woorde aan haar geopenbaar is.

Want om Bella Meyer op hierdie oomblik te sien, is om te weet. Hard tref die waarheid haar: hierdie vrou, aan wie sy so verknog is, is ’n konkelaar en Delila. As niks anders dit verklap het nie, dan die laerige hals wat nog altyd te veel gewys het, veral in hierdie konserwatiewe omgewing. En haar eie pa, met die sagte geel snor, die goeie oë, sagte hande. Sy krimp ineen.

“Nieds?”

Die huiwerige stem dring tot haar deur, en sy kyk op. Sy raai dat haar oë vol pyn is, gekwes, gebroke, en sy probeer dit nie verbloem nie.

Dis of Bella skrik. “My liewe kind,” sê sy ontsteld, “vind jy dit so erg? Dan is ek spyt dat ek jou vertel het. Maar hy het dit van my verwag. Ek moet jou eendag vertel, het hy gesê, sodat jy nie ’n misplaaste vaderbeeld ronddra nie.”

So erg? Of sy dit so erg vind? En is dit ooit die waarheid, of wil Bella net bisarre behae uit die openbaring put? Watter pa sal opdrag gee dat sy kind se herinnering aan hom geskend word? Ru geskend? ’n Bewende woede neem van haar besit. “Slagding, ba. Die offer was veel groter.” Sy spoeg die woorde uit.

“Offer? Waarvan praat jy?”

“My ma het gesê jy skuld haar ’n slagding se geld. Nou sê ek maar net: die offer was toe al die tyd haar man. My pa.”

“Moet dit nie erger maak as wat dit is nie, kind.”

“Niks kan erger wees nie. En ek is nie jou kind nie, tant Bella. Jy het my net gepamperlang omdat ek iets van hom is. Jy kon só iets van hom behou.”

“As ek geweet het jy gaan so ’n bohaai maak, het ek jou liewer nie vertel nie,” sê Bella spytig. “Dis tog verby en begrawe.”

“Begrawe, ja.” Met bitterheid onthou sy haar pa se begrafnis waar Bella kastig in die agterste rye gestaan het, met ’n swart hoedesluiertjie voor haar sedige gesig. Dalk in haar mou gelag, want dis haar minnaar daardie, en niemand weet nie. Maar nee, sy vrou het tog geweet. Met die vorige begrafnis al, Bella se man s’n, het Leen geweet. Diepe skuldgevoel vreet in Nida. Sy het veel om goed te maak teenoor haar ma. Op haar eie manier, in stilte, sal sy dit doen.

“Net een vraag, tant Bella: as jy dan my pa belowe het om my te vertel, hoekom nou eers? Of hoekom juis nou?”

“Jy bedoel noudat jy en Boel … Dis juis dit, Nieds: ek het gewag tot ek seker is dat jy vir Boel lief genoeg is.”

“Dalk moes jy eers sekerder gemaak het, tant Bella.”

“Jy is liewer vir hom as wat jy weet. Jy sal hom nie los nie.”

“Ek kan hom nie los nie, want ek het hom nie.”

“Moenie nou dom besluit omdat jy vir my kwaad is nie.” Buite die venster begin die aandskemer verdiep, maar dis nog lig genoeg dat Nida kan sien hoe ’n ligte wind stofslangetjies opjaag. Die werf is wel begroei, maar grondlangs is die sand altyd gewillig om oor te neem.

“Dom besluit? Wie kan praat van dom besluit?”

“Luister wat ek sê. Vat vir Boel, jy kan nie beter doen nie. Jy wil tog ook wegkom uit daardie huis van jou ma.”

“Soos ek nou voel, bly ek vir ewig by haar. As dit haar sal troos.”

Bella kry ’n grinniktrekkie om die mond: “As jy dalk jou hoop op die nuwe onderwyser vestig, vergeet maar van hom. Hy het nie die paadjie vol duwweltjies laat word voor hy sy meisie agter hom aan laat kom het nie.”

Nida frons, en Bella benut die oomblik van onsekerheid: “Weet jy dan niks? Die nuwe sentrale op Roosville. Dis sy wat die kar vir hom gebring het. Dit was duidelik ’n afgespreekte ding.”

Die nuus is nie swaar of skokkend om te verwerk nie. As dit waar is, is sy bly vir Hoffman se onthalwe. Sy self vind in hom niks meer nie as ’n terloopse nuwe vriendskap, interessant, belese, privaat, gekwel. Was dit al die tyd oor die meisie? Moes hy hard sukkel om haar te oorreed om te kom?

“Dit help nie jy probeer my aandag aflei nie, tant Bella. Ek wil een ding nog sê: my pa het darem by my ma gebly. Hy was elke nag by die huis. Dis jy wat die oorskiet gekry het. Hy het by haar geslaap, agter ’n toe kamerdeur. Ek is seker, as ek by die sleutelgat sou wou loer en luister …”

Bella word rooi tot in haar reeds fyn gerimpelde nek. “’n Man het sy huislike pligte. Maar o, die gesteelde uurtjies …”

“Moet jou nie laat flous nie. Ek dink hy het meer by sy kastige streng vrou gekry as by jou met al jou lonkies en tooiseltjies. Ek dink ook, tant Bella, dis tyd dat jy nie meer sulke kaal rokke dra nie. Het jy al gehoor van ‘mutton dressed as lamb’?”

“Moenie te ver gaan nie, Nieds.”

“Nieds is my pa se naam vir my. Noem my Nida.”

“Hoe ook al. Ek en jy moet nog ’n ver pad saam loop. As skoonma en skoondogter.”

“Dink jy ek sal nóú …?” Nida stik in haar woorde.

“O ja, jy sal. Want op sy eie sal daardie broer van jou net so uitboer.” Sy klap haar vingers. “As Boel nie hand bysit nie, gaan julle almal nog in die grootpad sit.”

“Dan sit ons daar.” Sy spring op.

“Jy kan nie so gaan nie. Drink jou koeldrank.”

“Ek sal stik.” En dis waar. Haar keel is te dik om te sluk.

“As jy vir Boel nou wegstuur, terwyl jy hom eintlik klaar toegeneë is, watter rede sal jy hom gee? Hy sal weet dis nie oor die onderwyser nie, dié is geholpe.” Daar lê ’n trek van oorwinning in die ouer vrou se oë.

“Weet Boel nie? Van jou en my pa?”

“Ai, nou is die liewe tant Bella sommer jy en jou. Maar nee, Boel weet nie. En as jy hom heeltemal wil breek, as jy wraak wil neem, vertel hom dan.”

“Ek sal hom nie vertel nie.” Sy stoot moeisaam die gaasdeur oop, hoor duideliker die ruising van die rivier. Dis hierso nader as by hulle eie huis. Hoe half ontsteld was Nelis Hoffman toe hy daaroor uitgevra het. Sy blik was vertroebel, en in die hitte het sy digte kuif oor sy voorkop begin hang.

“Kan ek jou woord vat? Boel is al wat ek het. Hy moenie sy ou Bella verag nie.”

“Ja, vat my woord. Ek sal hom nie vertel nie. Maar of iets tussen my en hom kan oorleef, weet ek nie. Dit verstaan jy tog, tant Bella.” Sy het haar beskaafde toon teruggekry, maar daar is niks liefdevols meer, soos in al haar onkundige jare van verafgoding nie.

Toe Nida deur die groengeurige aand langs die grootvoor begin terugstap, sien sy Boel se lorrie huis toe aangery kom. Sal hy weet sy was daar? Sal Bella hom vertel?

Sonder om dit te kan verklaar, ervaar sy ’n dringende verlange na hom, so sterk dat dit eintlik fisiek is. Om teen sy groot lyf vasgedruk te word, sy sweet en pyprook in te asem. Is Bella dan reg, dat sy reeds liewer vir hom is as wat sy weet?

Naby hulle eie werf kyk sy ver links, die rant op, na die twee gewitte geboutjies langs mekaar, skool en skoolhuis. Nelis Hoffman werk dikwels daar, skynbaar beangs oor die vooruitsig om soveel grade in een vertrek te moet onderrig. Word dit donker, gebruik hy die skool se gaslamp wat Dewald aan die gang gekry het met nuwe gaassakkies en paraffien. Nelis is trots dat hy die werking onder die knie gekry het. Wanneer sy dan, soms reeds donker, vanuit hulle kombuisdeur die lig daar bo sien doof, weet sy dat hy met die voetpad langs na sy buitekamer sal kom.

Toe sy die warm huis vanuit die koelte binnekom, sit haar ma langs die kombuistafel. Die stoof is dood, genadiglik. “En hoekom loop Ma nie deur stoep toe nie?” vra sy, nie onvriendelik nie.

“Hiervandaan kan ek die pad teen die rant af dophou,” erken Leen. “Om sy ligte te sien. Hy is oppassend op sy kar, lyk dit vir my. Hy moet maar die waenhuis gebruik en Arno kan nog altyd die bakkie onder die boom trek.”

“Arno hou in elk geval graagter buite as binne stil, minder moeite as hy wil ry,” stem Nida saam. Sy gaan teenoor haar ma by die kaal kombuistafel sit.

“Ek het gewag om te hoor wat jy wil eet. Hier is vir Arno ’n stukkie koue vleis en brood as hy inkom.” Niks oor haar dogter se besoek aan Bella Meyer nie. Sodat Nida wonder: het my gesig iets verklap? My vriendeliker-as-gewoonlik-houding?

Maar Leen dink nog oor die loseerder, want sy voeg by: “Vir hom het ek ’n koue aartappeltjie gehou.” Dit was ’n wonderlike meevaller om uit te vind dat Hoffman, behalwe kênfroet-perskes, suurroom op sy brood en vleiskluitjies, ook van koue aartappel hou. Daar staan min of meer altyd een, op ’n kleinbord met ’n omgekeerde bakkie oor.

“Ek wil tog regtig nie eet nie, dankie, Ma. As ek later honger word, sal ek vir my ’n broodjie kom smeer en melk drink.”

“Dis stil sonder hom,” mymer Leen. “Al werk hy net in sy buitekamer. Hy stel so in alles belang. Die stukkie aluin aan ’n toutjie om die troewel water af te sak.”

“En die perskepit,” stem Nida saam. En hoe verwonder hy hom aan die grootvoor wat so stil vloei, met die geil groeiende ballerjak wat hy wilde kruisement noem. Sy sien hom saans in die skemer daar sit, hande om sy opgetrekte knieë, peinsend. Hy het hom verbaas oor hoe alle honde begin blaf as die volmaan opkom; hoe die lig so helder skyn dat jy daarin kan lees; hoe dit vir almal dan moontlik word om later as gewoonlik met die buitewerk voort te gaan.

Die melkery van die bokke na sononder, in die takkraal. Hy wou weet of almal nog takkrale het, moes verneem dat die meeste ander boere hulle eie groot sementstene maak en krale bou. Die skaap slag van enkele dae gelede het hom soos ’n magneet getrek. Hy het hom eers vergewis van die feit dat almal hier rond self slag. Hy wou die keelafsny nie sien nie en het sy rug ferm daarop gedraai, maar daarna die kleurvolle binnegoed van die slagdier bewonder. Die geel buikvet, die groen van die galblaas. “Dalk moes ek ’n snydokter geword het,” het hy gereken. Hy het nogtans goed weggelê aan die niertjies en lewer in ’n suurderige meel- en asynsousie, dik geskep oor ’n sny soetsuurdeegbrood. Nida het hom geterg dat ’n sjirurg darem seker nie sy pasiënt sou opeet nadat hy sy binnekant bewonder het nie.

Hy weet nie dat dit spesiaal vir hom is dat ’n skaap geslag word nie, anders is dit bokvleis. Oor hulle werfhaan wat saans so fladderend en skreeuend sukkel om op die stellasie te kom, het hy nie gelag nie. Daar was vreemde mededoë in sy blik. Oor die motte en besies wat saans teen die lampglas tik, kla hy nie. Alles boei hom. “Dit lewe,” sê hy meer as een keer, sodat sy wonder wat sy beheptheid met die dood dan is.

“Jy moet tog maar bietjie meer met hom gesels, my kind. Anders begin hy al hoe meer geselskap op die dorp soek. Veral as hy sy kar het.”

“Hy het reeds geselskap op die dorp, Ma.” Nida hou haar stem simpatiek. “Sy meisie. Dis sy wat sy kar gebring het. Sy werk glo op die sentrale.”

“O,” sê Leen, met al die verydeling waartoe ’n moederhart in staat kan wees. Sodat Nida haar jammer kry. Sy kyk om haar heen na die redelike bar kombuis, maar in haar ontstemming kan sy vir die eerste keer die adel van eenvoud raaksien. Die blinkgeskuurde panne en die spane teen die muur, alles nodig en bruikbaar. Die houtkas, die dankbare stoof, die saf gewaste gordyne wat die basiese doen: beskutting teen die elemente bied.

Bella met haar valletjies en voerings, gordyne oorgetrek met pienk kunssy wat sy trots “rayon-silk” noem. Die kunsblomme, vasies en mooigoed wat vir ’n dogtertjie so betowerend kon wees. Dis waar dat Bella se oordaad later jare vir Nida begin opval het, maar haar toegeneentheid was te groot om te veroordeel.

Goed, vervreemding van so ’n aard kom selde net van een kant. Haar ma moes noodwendig ook skuld gehad het aan die onvolkome huwelik. Deur haar gebrek aan spontaneïteit, haar geneul oor klein dingetjies, geld en kos en hoenders, haar onbuigsaamheid. Maar as mens so wil redeneer, sal alle gevalle van ontrou en egbreuk goed te praat wees. En haar ma het ’n sagter, dieper pit waarvan haar eie man tog moes weet.

Sy verstaan nou beter waarom haar ma Arno feitlik verafgood. In hom moes die mislukte vader herskep word, hy moes bewys wees van Leen Thirion se toewyding en haar vermoë tot opoffering en trou.

Daar is een vraag wat by haar spook: noudat sy in Bella ontnugter is, noudat aanbidding omgeslaan het in veragting, waarom verlang sy vanaand na Boel met ’n gloed wat haar wil verteer? Is dit omdat hy eindelik nie meer vaar onder die erevaandel wat sy ma omvou nie? Sy lorrieligte het oor die werf aangevee gekom en daar agter die stuurwiel sou hy self wees, die swaar kop, die hare deur die hoed verlê, die dreunstem en ou pyprook, die reuk van sy dagsweet. Saans dompel hy hom in die grootvoor om skoon te kom, onbegaan dat mense laer af die water moet drink. Want almal doen dit en, sê Boel verder, as water oor sewe klippe gevloei het, is dit gereinig.

Sy wonder wat Nelis Hoffman van hierdie spreekwoord sal sê. Hy, wat so deur water geboei en ontroer word dat hy nie kan wag om by die drie bruisende kolke uit te kom nie. Hy het nou ’n kar, hy kan sy meisie saamvat om te kyk. Die pad is rybaar tot in die vlak kloof tot naby die sluise waar die grootvoor ontspring.

Nida skrik toe Leen vra: “Hoekom huil jy dan, my kind?”

“Ek?” Sy vee oor haar wange, en dis klam. “Ek verlang sommer na Pa,” sê sy die eerste ding wat in haar kop kom.

Want sy kan geen beter naam vind vir die naamlose, skreiende weemoed in haar nie.

Louisa du Toit Omnibus 11

Подняться наверх