Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 11 - Louisa du Toit - Страница 7

4

Оглавление

Die rit saam met Dewald, per volgelaaide lusernlorrie, is anders as saam met Hans Esau en met Boel. As Nelis nou terugdink, was die dag van gister een deurmekaar gekoekte warspul, volvoer met die verwagte rustelose nag.

Hy het nogal ingesluimer, maar die wind moes weer eens gedraai en die riviergedruis nader gebring het, want hy het ’n soort wakkerdroom belewe, met die verdrinking van Banie soos hy dit in sy kop uitgewerk het: kop wat soos ’n prop uitskiet en weer verdwyn, spartelende arms. Sekerlik het Banie nie stilweg verdrink, sierlik en netjies nie?

Hy was te ontsteld om verder te slaap, te verward, te ontnugter ook: hoe kon hy dink dat ’n geografiese skuif sy trauma kan besweer? Sy antwoord moet hy op ’n interpersoonlike vlak soek; dat hy in sy diepste onderbewussyn graag die klein onrusstoker Banie Hougaard uit die pad wou hê. Sy aandadigheid, al het hy nie die kind ingestamp nie.

Die oggendstond en ver hanegekraai was ’n verligting. Toe Dewald vroeg kom, het Nelis reeds op die stoepmuurtjie gesit en wag. Hy kon sy goed op die stasie kry en is daarna voor die groterige winkel afgelaai terwyl Dewald die bale aanry lusernstoor toe. “Ek sal jou later by die skoolraadskantoor om vat. Maar koop eers wat jy nodig het en eet iets in die kafee,” het Dewald hom aangeraai. “As jy beter toegerus is, sal jy beter kan besluit oor ta’ Leen Thirion se aanbod.”

“Wat is fout met haar?” het Nelis vinnig gevra, voor sy moed hom begewe.

“Niks. Mense spot ligweg met haar omdat sy so kompleet haar eie aard het. Maar ek kom goed met haar oor die weg. Sy is eintlik ’n diep mens. Weet hoe om te ly en te verduur. Nie een wat spog of kla nie.”

Nelis het niks verder uitgevra nie. Dit kan lyk of hy te veel in die Thirions belangstel. Hy het dus die meeste van die dorpstydjie gemaak, hom aan mense voorgestel as hulle hom nuuskierig aankyk. Iets genuttig, enkele inkope gedoen. Ook telegramme gestuur . Sy suster Freja s’n: Veilig aangekom. Nog vreemd, raak tuis. Brief volg. Reinet s’n was moeiliker. Die atmosfeer in die poskantoor het hom ’n innige vlaag verlange na haar gegee. Omdat sy jonk in matriek was, het sy eers onbepaald by die huis gebly. In plaas van die voorgenome studie en tot haar ouers se misnoeë, kry sy toe die nodige opleiding; eers vir die telefoonsentrale en toe dit outomaties raak, in die poskantoor self. Met planne om klashulp by die skool te word, op grond van haar studie. Of dit was om naby hom te wees, het Nelis weer eens vermoed. Hy wou hom nie so aanmatig dat hy dit ooit hardop sê nie.

Hy wou dieselfde as vir Freja telegrafeer, maar voeg toe nadat hy gedink het die volgende by: Sien jou as motor kom kry. Dis vaag genoeg, hy noem geen datum nie. Mens moet nooit op staande voet oor ’n groot saak besluit nie. Maar jy moet ook nie onbepaald die druk van omstandighede weerstaan nie. Dis dalk net jou lotsbestemming wat aanklop.

Hy ry saam met Dewald terug Driekolk toe. Of die skoolraadsvoorsitter hom gesoen het, wil Dewald met sy nou reeds bekende laggie weet. “Jy was immers die enigste aansoek. Nie eers drie maande lank wil iemand hierheen kom nie. Die owerhede was raadop met onse ou skooltjie.”

“Wel, dis nou mý skooltjie, en ek gaan hom oppas. Solank ek hier is, in elk geval.” Hy moet hom nie kompromitteer nie. Wat hy nou as ’n uitkoms sien, kan vorentoe ’n kruis word.

“Verskoon dat ek vra, maar mans swot nie dikwels meer onderwys nie.”

“My suster het my rigting uitgekies. Omdat ek so goed met haar krosie was. Ek was haar nie-amptelike au pair en naskoolsorg.” Hy voeg by, ingeval dit sy persoonlike geskiedenis kan verhelder: “Ons het ons ouers vroeg verloor, so ek het maar vanuit haar huis skoolgegaan.”

“Dis ’n mooi storie, en dit oortuig my. Maar hoekom jy na hierdie uithoek toe gekom het …”

“Die pad het so vir my oopgemaak. Ek kort nog ’n vak vir hoërskool.”

“Nie dat ons kla nie. Kom, ek help jou goeters afdra. Ek wil ook kyk of Komien toe vandag die skool kom skoonmaak het.”

“Dit sal ’n groot verskil maak. Ek moet sê, ek voel al meer tuis as gister.”

“En mevrou Thirion?”

“Ek sal so sononder se koers afstap soontoe. Dalk aanvaar ek haar aanbod.” Hoe kan hy vertel van sy rustelose eerste nag alleen? En durf hy wag dat dit beter word, as hy weet dit kan net erger word?

“Dis dan goed so. En rus nou eers oor die ergste hitte, jy weet mos al?”

Nelis sluimer vermoeid op die warm bed in. Hy het nie op groot skaal uitgepak nie, omdat hy nie weet of hy weer sal moet inpak nie. Die goed wat in die skoolvertrek hoort, het hy wel oorgevat.

Hy was vandag by die bank aan en het gesorg vir genoeg kontant om ’n maand se losies vooruit te betaal. En in elk geval moet hy sy baadjie terugkry. Dis ’n verskoning, indien dit sou blyk dat mevrou Thirion haar bedink het.

Hy weier om te erken dat sy voorneme enigiets met Nida te doen kan hê. Hy kan trouens van Boel se kant af probleme te wagte wees as hy saam met Nida onder een dak verkeer. Hy is gister duidelik genoeg gewaarsku.

Hy weier ook om, soos gister, weer loerjan te speel. Hy onthou die beeld van Nida met die strooigeel sonhoed. En dis al wat hy behoort te onthou. Hy gaan nie op haar en Boel spioeneer, in die man se slaai krap nie. Sy is niks van hom nie. Dis Reinet wat op hom wag. Hy dwing Reinet se beeld na vore: vlinderlig, gesellig, borrelend. Ook toe-eienend, ja.

Hy talm tot dit goed skemer is. Die mense hier eet seker laterig saans. Hy vermoed daar word gewerk tot dit te donker is, en daar is diere wat versorg moet word. Soveel kon hy darem al bedink of uitvind.

Hy sluit die deur sonder om iets saam te vat. As die onderhandeling met mevrou Thirion slaag, kan hy reeds vanaand daar eet en besluit wat om te kom haal. Wat van sy vuil wasgoed? Hy voel ietwat oorweldig deur die onbekende druk van ’n eie huishouding, hoe klein ook.

Byna oorhaastig, asof hy dalk sou kon omspring, kies hy die voetpad tussen die melkbosse en blinkblaarbosse deur; so het Dewald die plantegroei aan hom uitgewys. Hy steek die stofpad oor wat die slagaar van die lintvormige klein nedersetting vorm. “Boontoe” en “ondertoe”, so lui dit.

Hy begin stadigaan besef dat hy nie baie maklik aansluiting by hierdie mense sal vind nie. Losweg aangenaam verkeer, ja, maar nie inherent deel word nie. Hierdie landskap en sy inwoners word nie maklik geopenbaar nie. Hy is nie ’n boorling nie.

Almal is bedrywig, hardwerkend, besig om op koorsagtige wyse ’n bestaan aan die weerbarstige oewer te ontworstel. Hier oorheers die arbeid van die hande. Hier is slegs plek vir gereedskap, mense en diere wat hoogs funksioneel is. Geen sagte oord vir ’n gekwelde siel nie.

Dis bo alles ’n basiese lewe. Jane Venter het eenvoudige kos opgedis: sag gestoofde bokvleis, stoweperskes, stampmielies. “Blamaans op Sondae,” het sy met selfvertroue gelag.

Die veeleisende ou skoonpa, oom Ou-Deew, hanteer sy met redelike gemak. Sy is een kwart Engels van afkoms en as die ou te veel raas en kla, slaan sy oor na Engels. Die “volksverraad” gee hom dan stilstuipe en almal kan hulle normale gang gaan, lag Dewald onderlangs.

Oom Ou-Deew se stories was eindeloos, en die egpaar het vir Nelis wenkbroue gewikkel toe hy begin vertel van die trop mak ganse wat sy oorle’ pa gehad het wat elke aand op ’n sekere plek amok gemaak het wanneer hulle aangejaag word, “tot my oorle’ pa eendag sou uitvinne …”

Sy skoondogter het taktvol dog ferm onderbreek “dat die meneer moeg is na die treinreis en seker ’n uiltjie wil gaan knip”, waarop die ou vererg teengekap het: “Uiltjies, ja, maar ganse tel niks, niks. Dis ook oor julle jonger geslag nooit na iets wil luister nie, dat julle nooit iets sal weet nie.” Dis slegs die vernuftige tienjarige Fransie wat sy oupa se storie aan tafel graag enduit wou hoor, maar sy ma het hom kundig koudgelei.

Dis waar, hulle is dankbaar oor sy koms. Hulle, of Dewald altans, aanvaar sy motivering van ’n stiller plek sonder buitemuurs, al is dit tydelik, ter wille van voltooiing van sy studie. Maar hy is en bly iemand wat sy brood in die skaduwee verdien. En so sal hy ’n vae gestalte in hulle ervaringsveld bly, veral as hy nie tussen hulle woon, onder een dak nie. So maak hy hom wys. So vergoeilik hy sy voorneme om van die losiesaanbod gebruik te maak.

Die versoeking is groot om by die oopstaande agterdeur met gaasdeur aan te meld, want dit lyk na die mees logiese ingang. Hy is bewus van kombuisgeluide, en die lokkende geur van pangebakte vleis of wors walm na buite.

Liewer nie hierdie kant nie, besluit hy dan, al is hy waarskynlik reeds raakgesien. Nie te gou te eie raak nie. Hierdie saak moet op formele vlak geloods word. Daarom stap hy om na die eintlik ondienlike voordeur, wat ook oop staan hoewel ’n toegerankte stoepie dit beskut.

Sou hulle vanuit die kombuis sy doelgerigte gang vanaf die rantjie tot hier dopgehou het? Of is hulle te besig? Daar is nie die gegons van stemme wat mens in die gesellige aandsamesyn sou verwag nie. Stil mense, dus.

Die toegerankte stoepie, saam met die watervoor wat naby verbyloop, kompleet met bruggie, gee ’n suggestie van koelte. ’n Ronde klip dien as deurstop. Hy klop. Te lig, huiwerig. Hy klop weer, vas van plan om hakskene te wys as daar nog ontsnapkans is. Hoe het hy tog so ’n twyfelaar geword?

Dan hoor hy voetstappe uit die binnehuis aankom. Hy weet sommer dat dit Nida is. Haar tred is, net soos sy, beheers. ’n Oomblik lank voel hy ’n vreemde roering in hom: om ’n vrou se voetstappe in jou huis te hoor, stemmig en bekend. En hy dink, vir die soveelste keer: ek moes met Reinet getrou en haar saamgebring het. Hoe onmoontlik kan dit immers wees? Hulle is verlief genoeg. ’n Fraai klein bruilof, en siedaar. Sy sou kon aanpas. Hy vermoed ’n sterk vermoë tot aanpassing by ’n vrou, enige vrou, wat met oorgawe haar keuse gedoen het.

Nida Thirion lyk ietwat afgerem van dagwerk en hitte. Maar sy is so volkome geakklimatiseer, deel van hierdie stuk natuur, dat haar voorkoms by hom verbygaan. Sy sou misplaas lyk as jy haar deur ’n ring sou kon trek. Hy hou nogal van die tikkie onbestudeerdheid in haar houding, net genoeg om te kenne te gee dat voorkoms vir haar nie deurslaggewend is nie. En tog sal sy nooit slordig of onnet kan lyk nie. Sy is kompleet, dis die woord wat in sy kop kom.

Hy is bly dat sy nie verbaas lyk, onkant betrap nie. “Ag, my ma se voorbarigheid,” sê sy net terwyl sy haar hande oopgooi. “Ek hoor sy het gister vir Dewald gebel voor jy nog behoorlik by jou deur in was.”

“Dit maak nie saak nie. Dit was moedig van haar, want sy ken my nie.”

“Ja, maar sy plaas jou in ’n moeilike posisie. Wie sê jy wil by enigiemand bly?”

“Ek het die saak goed deurdink, en ek wil. Voorlopig, altans. Dis baie alleen daar bo teen die rant, en ek is nie ’n raakvatter in die huis nie.”

“My ma verstom my,” is haar enigste reaksie. “Sy is normaalweg nie een … maar toe maar. Meneer Hoffman, jy kon maar by die kombuisdeur ingekom het, aangesien die huis agterstevoor gebou is.”

Hy vestig nie nou haar aandag daarop dat die “meneer”-storie reeds aangespreek is nie. “Ek kom op ’n besige uur. En julle dae is lank.”

“Vir jou seker meer as vir ons.”

“Ja, dis asof ek al weke hier is. So ’n vreemde gevoel van alles-weet.”

“Dalk het ’n mens ’n soort voorkennis van al die fases in jou lewe.”

“Wat sou die ergste wees: die voor- of die nákennis?” Hiermee het hy tog ’n stukkie van sy lewe teenoor haar uitgeblaker; dat hy deur iets ergs gegaan het.

“Ek het gehoor jy was saam met Dewald dorp toe,” stuur sy weg van die erns. “Hier hoor mens alles van almal, dit moet jy maar weet. Maar toe maar, my ma het klaar die bed oorgetrek. In die buitekamer,” voeg sy bedagsaam by.

Hy is so dankbaar daaroor, dat sy dit moet raaksien. Sy gee ’n laggie. “Sy het omtrent gewoel. Uitgedra en ingedra.”

“Is die buitekamer nie jou broer s’n nie?”

“Hy slaap partykeer daar as hy deurnag water lei, dan moet hy heen en weer. Of hy slaap hier op die stoep of sommer op die kaal werf. Maar hy het ook ’n huiskamer. My ma verkies dit, om hom beter te bederf.”

“Gelukkige seun. My ma is vroeërig dood.” Sy kyk so sprekend na hom dat hy vinnig byvoeg: “Ek het darem ’n broeis ousus.”

“Dan voel ek beter. In elk geval, my ma het gou vir hom koffie gevat, hy lei wingerd nat. Het net kom melk, toe is hy weer weg. Kom binne.”

“Dis koeler op die stoep,” besluit hy, en wonder waar sy altyd vir Boel ontvang. Hy sien nou die kateltjie onder ’n seil, dan seker Arno s’n.

“O, my ma sal jou wel innooi. Sy is een vir die sitkamer vir ménse,” klik sy. “Ek wil net sê: ek het niks met die losiesstorie te doen nie, nè, meneer Hoffman.”

“Ek sou anders kon dink jy het my jammer genoeg gekry gister,” sê hy eerlik. “Dis goed ek kon eers daaroor slaap. Ek voel al minder pateties. Beter versorg, en my goed is bymekaar. Ek kon die klaskamer in orde begin kry.”

“Goed dan. Ek sal jou en my ma alleen los om die saak te bepraat. Arno lei water. Of die lusern afgesny is of nie, water lei is daar altyd.”

“Dis reg, gaan jy gerus met jou aandwerk aan.”

“My ma hou meer van die buite- as binnelewe. Verkieslik haar hoenders. Ek het maar so stadigaan begin aandete maak.”

“Die aroma vertel my.”

“Moet jou nie laat flous nie. Enigiets in ’n pan gegooi, ruik lekker.”

Die gesprek is wat haar betref voltooi, afgerond. Sy het hom duidelik laat verstaan dat sy niks met die uitnodiging te doen het nie. En sy weet tog seker ook dat Boel Meyer dit nie sal goedkeur nie. Is dit moontlik dat hy, Nelis, diep in sy kop vir Boel wil vermaak deur hier te kom bly? Dan is ek darem nog meer man as muis, besluit hy grimmig.

Die aandkoelte lok hom, ’n klam, vars reuk wat uit die aarde opkom maar beslis ook van die rivier se kant af indrywe. “Sal dit voor op die wa wees as ek afstap na jou ma en broer toe?”

“Gaan gerus.”

Sy staan saam met hom buite op die kaal stukkie werf en beduie hoe hy moet loop: verby die hoenderhokke en houthoop, met die bruggie oor die grootvoor, en dan sal hy hulle by die punt van die wingerd sien.

Hy lei af dat die boerderye hier klein dog intensief is, anders as op ’n uitgestrekte vee- of saaiplaas. Wisselbou verklein die risiko van een groot misoes. Lusern, katoen, wingerd, tussenin los oeste, peulgewasse soos lensies of wat ook al. Besproeiing is ’n harde baas, sê Dewald. Wat jy plant, moet jy natlei, anders vergaan alles en die halfwoestyn vat terug wat aan hom behoort. Heeltyd op die agtergrond hoor Nelis dan ook, selfs nou in die laat namiddag, die gepols van waterpompe naby en ver.

Hy bereik die sementvoor waarin die troebel water met ’n geringe klotsing vloei, geen druising of kolking nie. Dis vreedsaam en koel, hy begeer om nakend in te duik en af te koel, van buite sowel as van binne.

Gou gewaar hy die bont rok met die ligter vlek van ’n voorskoot. Dit moet Arno wees wat langs haar op ’n kweekwalletjie sit. Hy hou ’n bekertjie na sy ma toe uit, en sy buk om dit weer vol te skink uit die aluminiumketeltjie. Sy is op hierdie oomblik die oermoeder. Die toneeltjie geskied so vertroulik dat Nelis soos ’n indringer voel. Daar is nog geleentheid vir hom om om te draai, want hulle het hom nie gewaar nie.

Maar nou ja, dis in die eerste plek nie hy wat hierom gevra het nie, maar die vrou self. Hulle gewaar hom wel toe hy naby kom. Leen Thirion kom dadelik nader, vee haar hande aan haar voorskoot af, stryk oor haar hare. Arno staan ook op en slaan sy broek se sitvlak skoon. Hy is om en by dertig, goed gebou en nie onaantreklik nie, maar die teruggetrokke uitdrukking op sy gesig sal verhoed dat hy in geselskap opval.

Sterk ooreenkoms met Nida is daar nie. “Ou Leen se kind,” het Boel hom bestempel met kwetsende uitgesprokenheid, en so is dit. Hulle het nie Nida se stil trekkrag nie. Of misgis hy hom in Leen? Sy is tog nie ’n alledaagse tannie nie. Maar soos die twee hier saam verkeer, vorm hulle ’n eenheid waarbuite Nida staan.

’n Oomblik lank wil hy haar bejammer omdat die twee so gesellig saam is en sy moet die aandtake verrig. Of verkies sy die alleenheid? Dring hy, die vreemdeling, haar klein private spasie binne?

“Ek is Nelis Hoffman,” stel hy hom voor toe mevrou Thirion hom met ’n opflikkering van haar skerp bruin oë aankyk. Sy kan nie te oud wees as Arno haar oudste is nie, maar die son en weer het met haar vel gewerk. Haar hare is dig maar grys gespikkel en in ’n argelose vlegsel om haar kop gedraai en vasgesteek.

Sy bied hom haar hand aan, fyn van been maar hard gewerk. “My seun Arno, meneer,” stel sy met kwalik onderdrukte trots voor. Nelis weet sommer hy is haar witbroodjie. Dan sou Nida wel haar pa s’n gewees het.

“Bly te kenne,” sê Arno, en die woorde lê ietwat ongewoon op sy tong. “Ons hoop u sal gelukkig hier tussen ons Driekolkers wees,” voeg hy vindingryk by.

“Meneer kon maar gister al gekom het, meneer sit so in die verwaarlosing daar bo.”

Dis soos hy van die begin af vermoed het: hy daar bo, en al die ander hier onder waar alles aangaan.

“Nee wat, die Venters het omgesien en ek was vanmôre ook saam Roosville toe. Ek kon die nodigste kry.”

Sy lyk effens afgehaal. Die geselskap is ook meteens kapot, sodat hy besluit om ’n wending daaraan te gee. “Oor mevrou se aanbod van losies, staan dit nog?”

Hy voel dat sy hom tersluiks dophou, weeg en oorweeg. Haar oë wat ’n mens amper priemend sou kon noem, laat hom egter kriewelrig voel. Wat is per slot van sake die motief agter haar aanbod? Hy hoop dis geld, dan sal hy verstaan en hom blymoedig daarby neerlê.

“Die stukkie wingerd lyk goed, meneer Thirion,” raai Nelis, want hy weet nie of dit waar is nie.

Arno volg sy blik en merk byna bedruk op: “Die hele stuk was amper in sy peetjie. Blaaspootjie.”

“Het druiwe dan pote?” grinnik Nelis. “Ek sou dink vee moet dit kry.”

“Wel, dis vir my die teken dat wingerd nie vir my is nie. Lusern vra die minste en gee die meeste.”

Dit klink nie na ’n vooruitstrewende beleid nie. Dit moet die spontane stukkie gesprek tussen haar seun en die vreemdeling wees wat die deurslag vir mevrou Thirion gee. “Ja, meneer, die aanbod staan nog. As meneer dinge sal vat soos dit kom.”

Hy kyk na die keteltjie: “Is daar dalk solank ’n orige dronkie vir ’n dorstige?”

Arno spoel sy erd-af bekertjie onder die sluis uit, en Leen skink. Nou is sy op bekende terrein en sy blom. “Dis bietjie afgekoel en swart, maar ons drink hom maar so, meneer.”

“Dis rêrig lekker.” Nelis bedoel dit. Hy het lank laas iets oor sy lippe so deeglik geniet. Die lou swart koffie is taamlik soet, maar dit gee hom genoeë, hier waar die aandkoelte insypel en die dag se hitte verplaas. Die geruis van die rivier kom tot hom soos ’n verre, vroeë wiegelied.

Leen Thirion ontspan. “Dit lyk darem meneer is nie vol fiemies nie.”

“Nida … u dogter, praat van ’n buitekamer. Neem ek nie dan jou kamer af nie, Arno?” waag hy die voornaam.

Sy ma spring hom voor. “Nee, glad nie, meneer moet maar net self help inrig.”

“Kan Ma dit dan ook nog op Ma vat?” vra Arno twyfelend. Hy trap die graaf goed weg in die ryk, klam grond. Die geur daarvan styg op na Nelis se neusgate sodat hy diep en milddadig inasem.

“Hoekom nie? En dis tog vir jou ook geselskap, my kind. Jy sluit jou so af van jongmense.”

Aan die manier waarop Arno ’n kluit met die agterkant van sy graaf platslaan, is dit duidelik dat hy nie juis met haar saamstem nie.

“Wat reg is vir Ma, is reg vir my,” gee hy bes, dalk omdat dit die minste moeite is. “Verskoon tog, ek moet afsit maak.” Arno begin grond wegspit en gorrelend loop die leiwater ’n nuwe akker binne. Dis kalmerend, besluit Nelis. Hy sal ure lank kan kyk na hierdie geseglike leiwater.

“Kom ons gaan huis toe, ons kan darem nie so hier in die oopte staan en praat nie.” Leen laat vir Arno agter en lei die pad huis toe.

Die ontwyking stel hom, snaaks genoeg, op sy gemak. Sy wil tyd wen, en hy verkies dit bo oorgretigheid. Hy dra vir haar die leë keteltjie, met die bekertjie se oor sommer ook deur sy wysvinger gehaak. Met die ander hand swaai hy liggies sy bril aan die oor rond. Hy voel hom nogal deel van die eg landelike toneeltjie. En hy het gevorder vanaf gister toe hy sy baadjie aan die vinger moes haak, vanaand darem ’n koffieketeltjie.

Sy gee deeglike treë, sodat hy sy pas moet versnel om by te bly, en dit terwyl hy graag langer in die koel groenigheid sou wou vertoef.

“Dit moet meneer weet,” sê sy, “dat Arno my stut en steun is. Veral vandat my man dood is.”

“Dit glo ek goed; dit lyk vir my hy is ’n harde werker. Maar u kan trots wees op u dogter ook.”

“Ek is, maar vir haar wys ’n mens dit nie. Hoe sal ek sê, sy loop haar eie pad, al is sy onder een dak met jou. Arno sal kom vra: ‘Ma, hoe nou hier en hier’, maar nie Nida nie.”

“Sy is ’n onafhanklike gees,” som hy op. Hy voel plotselinge deernis met die dogter van die huis. Haar miskende moontlikhede spreek so ’n duidelike taal dat hy hom haar verydeling kan indink.

“Sy is my slimste kind. Sy wou so graag verder leer, maar, nou ja, so ver van die huis af, en die koste …” Sy slaak ’n sug wat die res moet aanvul.

“Het u net die twee?” As onderwyser het hy lankal geleer dat daar geen vrugbaarder en veiliger onderwerp kan wees nie.

“Soos ’n korhaan, het my man altyd gesê. Hy wou graag ’n huis vol hê.” Sy versnel onwetend haar pas, sodat Nelis sy treë nog verder moet aanpas.

’n Tydjie later praat sy eerste, en haar stem is versigtig, formeel: “Nou, van die losies, meneer. Dalk moet ons praat solank Nida nie hoor nie, want sy staan op slaai elke dag. En nagereg kan ek ook nie …”

“Slaai en nagereg is nie vir my ’n probleem nie.” Is sy dalk bang dat hy haar met sy meerdere geslyptheid sal toetrap? ’n Soort droewe geamuseerdheid oorweldig hom: as sy maar weet dat dit die minste van sy behoeftes is. Wat hy soek, is die nabysyn van mense sonder dat hy hom voor hulle hoef oop te vlek.

Hy probeer dit vir haar makliker maak: “In die koshuis het ek nie betaal nie, omdat ek diens gedoen het. Maar vorige kere het ek al loseer, en ons kan kyk of ons die prys daar naby rond kan laat draai.” Hy noem ’n bedrag, en sy lyk ingenome.

Toe hulle in die huis kom, word Nida sitkamer toe ontbied. Sy het intussen skynbaar gebad, want haar wange blink gesond en sy het ’n koel, wit rok aan. Haar hare is teruggekam om haar voorkop oop te laat. Sy is kaalvoet, wat hy op ’n vreemde manier prikkelend vind, so saam met die versorgde voorkoms.

“Meneer sal die bakkie moet kry om sy bagasie te gaan haal, Nida.”

“Hy kan dit mos maar vat. Arno sal niks sê nie.” Dan voeg sy effens moedswillig by: “Die hoenders kan dalk kla, want hulle verkies snags die bakkie bo hulle eie stellasie in die hok.”

Hy lag liewer nie. “Dit sal darem te eiegeregtig lyk,” kap hy teen.

“Nou goed, ek sal saamgaan; maar dit sal natuurlik ekstra wees,” willig sy in met ’n vonkel in die oog. “Ek het gedek en brood gesny en so. Die vleis in die pan is amper reg, Ma kan later net die eiers inbreek.” Niemand vra hoe hy daarvan hou nie, en dit geval hom.

“Ek het darem ’n motor,” sê Nelis toe hulle aanstap na die bakkie wat diep onder die kameelboom ingetrek is, wat seker vinniger en makliker is as die enkelmotorhuis eenkant. “Hoe ek dit hier sal kry, is nog ’n kwessie. Sal dit maar moet gaan haal.”

“Hoekom het jy nie self gery nie?”

“Ek het mos nie geweet of hier nog hiënas is wat snags aan die bande kom kou nie,” grap hy hom los. Die waarheid is dat Reinet half en half vir hom besluit het, en dat die besluit hom gepas het.

Sy gedagtes skiet maar kort-kort na haar. Toe Nida se ma oor slaai praat, moes hy onthou hoe oorheersend die slaai op die Eksteens se tafel is. Groenslaai, met ’n eie sousie van olyfolie en suurlemoensap en swartpeper en so al vort.

Nida is bykans vrolik toe sy voor in die bakkie oor haar ma se hoenders skinder. “Ons haan is geen atleet nie, en hy kom nie maklik saans op die stellasie nie. Hy is soos ’n vliegtuig op ’n aanloopbaan, en dan val hy terug met ’n gefladder en geskree.”

Hy vind dit werklik snaaks, totdat sy byvoeg: “Boel gaan dikwels spesiaal staan en kyk na ons ou beenbek, soos hy hom noem.”

“Om te lag vir die verloorder,” som hy op. Moes sy nou Boel se naam inbring? Wou sy maar net ’n tydige herinnering aan die man in haar lewe invleg?

“Boel is darem nie regtig naar nie. Diep in sy hart het hy ’n sagte plek.”

“Seker min of meer daar waar die vier kamers bymekaarkom. My biologie is nie meer so goed nie. Is dit ooit vier?” Hiermee ontlont hy die situasie.

En sy kom hom tegemoet: “Twee is te min, en drie maak nie sin nie, ’n ongelyke getal. Dalk moet ons liewers by hoenders bly.”

“Reg so, nie hartsake nie.”

Nida klim nie af terwyl hy sy tasse gaan haal en die voordeur weer toesluit nie. Die handeling sit sy gedagtes aan die gang: sal hy ooit voltyds hier woon? Waarskynlik nie, tensy sake iewers skeefloop in sy verhouding met sy nuwe hospita. Wat hy nie hoop of beplan nie. Hy is eerder teenspoed van Boel se kant te wagte.

Nida vat hom na die buitekamer aan die westekant van die huis, deeglik beskadu deur die groot kameeldoring. Daar is ’n deur na die grondpad se kant toe en ’n klein venster wat op die hoenderhokke uitkyk. “Jy moet maar net weet, al kan ons haan nie hoog spring nie, is hy ’n vroeë kraaier. Dit kan jou die eerste paar oggende pla.”

“Dalk moet ek die eerste paar keer dan maar daar bo gaan slaap,” korswel hy. “Dankie dat julle vir my ’n boom geplant het.”

“Dis deur die natuur geplant, lank gelede. ’n Kameelboom se saad groei eers as dit deur ’n bees se pens gegaan het. Die huis kry darem dele van die dag ook ’n porsie van sy skaduwee.”

Hy sit sy goed eers op die vloer neer, kyk ongemerk rond. Dis basies, maar toereikend. Hy het vlugtig gemerk dat hy die ander se kamervensters kan sien as hy buite staan. Watter venster is hare? Die middelste, raai hy.

“Die badkamer is sommer hier naby jou op die systoep,” beduie sy. “Hier is in elk geval ’n wastafel met ’n beker water en ’n waskom. Die toilet is ook op die systoep, en dit spoel solank die drukking in die dammetjie hoog genoeg is. Anders val ons terug op die buitegerief.” Sy beduie na die hokkie van sink op die ver rand van die werf. “Ek is bevrees dis dan jou hele habitat.”

“Ek het niks meer nodig nie,” verseker hy haar. “Ek dink ek sal die meeste van my tyd in die skool deurbring.”

Hy is bly oor die stoel en tafeltjie, bed en klerekas. Die boekrak is nie groot nie, maar hy sal nie al sy boeke afbring nie, hy kan bo gaan omruil of haal wanneer nodig. Van nou af sal dit vir hom ook “bo” en “onder” wees.

“As jy wil hande was, ons eet so binne tien minute. My ma lyk paraat, maar sy is nogal tydsaam,” klik sy weer. “Nog iets wat jy wil vra?”

Hy wil vra of Boel vanaand kom, en wat hy moet doen wanneer Boel hier kuier. Soos ’n lastige kind gesien maar nie gehoor word nie, of omgekeerd? In plaas daarvan vra hy: “Ek hoop nie dit pla as ek my klein platespeler gebruik nie. Ek is naby julle kamervensters. Ek sal dit so sag moontlik hou.”

“Ons kan net baat. Ek sal help batterye koop,” belowe sy danig ernstig.

Dan vra hy tog: “Waar is jou opsitplek, sodat ek daar kan wegbly?”

“Boel kom nie in opsittyd nie. Het jy ’n meisie?” skiet sy terug.

“Ja, maar ons sit nie op nie. Ons het ook nie juis plek nie.”

Snaaks genoeg, is nie een van hulle geamuseerd nie.

“Ek hou van die sementtrappie voor my deur,” beduie hy. “Ek sit graag op ’n stoepie, hoe platter hoe beter. Dit gee mens besondere perspektief.”

“Ek glo dit hou jou nederig,” stem sy in, sonder glimlag maar tog met ’n geamuseerde trekkie in die oë.

Toe sy weg is, kyk hy deegliker rond, verbaas oor die ruimte wat die buitekamer bied. ’n Vae reuk laat hom vermoed dat dit tot gister dalk deels pakkamer was, sy het gesê haar ma moes dinge laat indra en laat uitdra. Dalk hoendervoer, paraffien. Die sementvloer is skoon, maar nie gepoleer nie. Ook nie vreeslik gelyk nie. ’n Matvierkant lê die oopte vol. Watter kamer in die huis moet nou sonder die mat klaarkom?

Hy begin ’n warm waardering vir die basiese soort lewe voel. Geen enkele tierlantyntjie nie, behalwe dalk die almanak aan ’n spyker teen die muur. Driekolk Kontantwinkel.

Hy kan later vanaand die nodigste uitpak, en môre die res. Hy moet leer om dinge stadiger te doen en die dae makliker om te kry, veral die res van die vakansie. Hoewel die tempo van arbeid hier vinnig is, is daar tog ’n langsame gedraenheid in die lug.

Hy hoor ’n gedreun, en sien in die groeiende skemer die rooi vragmotor van Boel Meyer met die stofpad verbyry. Hoe intimiderend was daardie lorrie en sy baas net gister nog; hoe vreemd was dit, ’n essens van hierdie geweste waar die onwennige vreemdeling pas sy voete geplaas het.

’n Luide getoeter moet seker Nida se aandag trek. Met ’n nuk van moedswilligheid waai Nelis vir hom waar hy buite die deur op die grondwerf staan. Hy het hom nie verbeel nie: agter die stuurwiel ruk Boel se kop op.

Het hy gisteraand vir Nida die beloofde klapsoen kom gee? Dit klink amper soos die tema vir ’n volksliedjie.

Dan kom Leen op die systoepie uit. “Meneer kan maar kom aansit,” nooi sy plegtig.

’n Mens is in sommige opsigte maar soos ’n dier, besef Nelis toe hy na enkele dae die roetine al so goed ken dat hy wonder hoe hy ooit oor die losiesstorie kon twyfel. Die eerste nag in die huis teen die rant was eensaam en onrustig, en hy sou boonop mettertyd in vuilheid en ondervoeding verval het. Wat weet hy van skoonmaak en kosmaak? In sy lewe was dit nooit nodig nie.

Dis goed om deel van ’n gesin te vorm, al is jy die een op die rand. Hy sien hulle maar rakelings, eintlik net met etenstye, en dalk in die aand ’n rukkie se stoepsit; hetsy op die toegerankte stoepie, hetsy op los stoele op die kaal werf buite die agterdeur, naby die stofpad waar ander Driekolkers af en toe met vegende ligte verbyry.

Dis verbasend hoe besig hy is. Skoolouers ry aan om hom te ontmoet, verkieslik by die skooltjie, waar hy lang ure deurbring. Hy voel soos ’n uitgevrete stalperd, haastig vir die tuig. Al sal dit meermale skawe, hy verlang daarna.

Hy het nog nie sy telegramme aan Reinet en sus Freja opgevolg met die beloofde briewe nie.

Vir Freja moet hy tog maar bel, en hy weet nie hoe om te werk te gaan met die onkoste nie. Gedagtig aan sy hospita se berekeningsgees, neem hy ’n notaboekie en skryf daarop: C. Hoffman – oproepe. Hy bind ’n stukkie lyn daaraan vas, lank genoeg dat Leen dit om haar nek kan dra as sy wil.

“Hoe sal ek weet hoe lank om te praat?” pols hy vir Nida.

“Die sentrale se stem sal insny en sê drie minute is om, en jy kan dan vinnig klaarmaak of voortpraat. En onthou om wanneer jy klaar is ’n kort aflui te gee.”

“En die koste?”

“Ek is seker die posmeester sal jou hooflynoproepe kan uitsif. Ek waarsku net, daar is glo ’n nuweling op die skakelbord. Almal is nie ewe knap nie, party sukkel. Dalk leer sy nog.”

“Leerlinge is my nering.” Met ’n skerp steek van heimwee onthou hy die aand toe hy gesit en kyk het hoe Reinet met die bedrywige skakelbord speel soos ’n kat met ’n muis. Tien muise, twintig.

Hulle is besig om op te ruim na aandete, en Nida weier dat Nelis help. “Jy betaal losies,” is die verweer waarteen hy hom elke keer vasloop. Of wil sy hom dalk nie onder haar voete hê nie? Verplig voel om te gesels nie? Verwag sy vir Boel?

Dis wat hy gereeld wonder, maar Boel is inderdaad nie ’n gereelde aandbesoeker nie. Die moeder se ontevrede gesig verhinder hom waarskynlik. Nelis begin trouens al hoe sterker vermoed dat die uitnodiging tot losies ’n poging is dat hy vir Boel moet uitsit.

Boel kom soms daar aan, maar selde in tradisionele opsittyd. Gewoonlik teen skemer, bokmelktyd, gesels dan staan-staan en loop-loop, met Arno, met Nida veral, en ook skuinsweg met Nelis, altyd so half grappig asof iemand soos die skoolmeester nie waar kan wees nie en dus nie ernstig opgeneem moet word nie. Sulke tye is Leen Thirion besonder aanhalend teenoor haar loseerder, word hy stilweg opgehemel en voorgetrek.

Dis dan dat Nelis wens sy wil dit nie doen nie, sy stook net onrus. Verwag Leen van hom om Boel se hand in die as te slaan?

Hoe en waarmee? Hy is ’n gebroke siel, verswak deur skuldgevoel, en boonop met ’n meisie soos Reinet wat druk op hom plaas. Hy gaan beslis nie nog skuldgevoelens op sy gewete laai nie. Nida gee ook geen aanduiding dat sy op meer as toevallige wyse van hom bewus is nie.

Maar hy wonder tog: is Boel jaloers? Bekommerd oor sy teenwoordigheid hier? Dat hy hans kan raak met Nida? Wie sal waag om te vra? Hy kom glo meermale in die winkel, en dit lyk of Nida haar ma tart as sy tuis kom vertel: “Boel sê tant Bella het …” Dan luister Leen stuurs na wat Bella Meyer gesê of gedoen of reggekry het, hetsy in die tuin, kombuis of naaldwerkkamer.

“Sy het glo eenkeer my ma-hulle met ’n slagding se geld verkul,” het Nida vir Nelis gesê, sag genoeg dat net hy kon hoor. “Dit klink vir my na ’n storie, ek dink daar is iets anders.”

Die ligte geskinder is onskadelik genoeg dat hy hom dit laat welgeval. Die gewone lewe met sy kleine dinge is wat hy nodig het. Origens sal hy op hierdie Driekolk baie versigtig moet wees met wat hy sê en wat hy ander toelaat om vir hom te sê. Nida gesels min genoeg met hom. Daar is beslis geen maatjie-maatjie houding nie. Soos haar ma verklaar het, Nida loop haar eie pad, al is sy onder dieselfde dak as jy.

Toe Nida hom alleen by die telefoon in die kombuis los en bedagsaam die middeldeur toemaak, gee Nelis die vereiste lang lui met die telefoonslinger. Ten spyte van Nida se waarskuwing is die sentrale-meisie op Roosville se ligte, byna parmantige stem byna onmiddellik in sy oor: “Nommer asseblief?”

Iets in die situasie is hinderlik, maar hy druk deur en verstrek Freja se dorp en nommer in die Swartland. “Ek werk die oproep vir u.” Terwyl sy bedrywig raak om die oproep deur te skakel, met ander plaaslike oproepe tussendeur, versoek sy vrypostig: “Sê vir Freja groete van my af, Nelis.”

Hy skrik hom oor ’n mik. “Reinet,” roep hy gedemp. Hy is oombliklik onredelik kwaad, meer van skok as iets anders. “Wat soek jy hier?”

“Ek het ook maar gejeuk vir verandering. En die keuse van handsentrales raak al kleiner.” Sy bly ewe koel, maar hy kom agter dat sy geweldig gespanne is. Sy het goed toneel gespeel; sy stem so onverwags moes haar tog ook ontstel het.

“Het jy tog nie … Van wanneer af is jy hier?”

“O, ’n dag of twee. Moenie skrik nie, ek los net af, soos jy. Ek sal nie onder jou voete wees nie.” Sy moet eers wegbreek met ’n nuwe “Nommer asseblief” en “Jy gaan deur”. Sy het haar slag beslis nie verloor nie.

Sy woede en ontsteltenis vervloei namate hy gewoond raak aan die gedagte dat Reinet agter hom aan gedros het en op Roosville sit. “Jy respekteer nie juis my wens om ’n bietjie weg te kom nie,” berispe hy vermoeid.

“Ek sê mos ek sal nie onder jou voete … Nommer asseblief? … Soos ek verstaan, sit jy hoeka in die boendoe. Ek dog ek kry jou hier op die dorp in die hotel en … U gaan déúheur …”

“O, jy darem, Reinet Eksteen.” Hy begin tog blydskap voel om te weet dat sy met haar opgewekte geaardheid en ingebore ligtheid (en listigheid!) so naby hom is. Hy hou dit egter weg uit sy stem, herinner haar net: “Vir wat het jy dit nou staan en aanvang? Ek het getelegrafeer ek sien jou as ek my kar kom kry. Ek het bedoel een naweek.”

“Hoe moes ek weet? Ek dog jy bedoel as jy jou kar by my op Roosville kom kry. Toe bring ek dit maar … soos jy geskimp het.”

“Jy het wát?” Hy vergeet skoon van partylyn en woorde tel en sag praat.

“Ek sê mos, jou kar gebring. Die grondpad was ook glad nie sleg nie, jy was verniet bang vir jou kosbare Rolls.”

“Sê vir my jy maak ’n grap.”

’n Vrolike lag. “Voor jy my die leviete voorlees, ek het nie alleen gery nie. Ek het ’n oom en tannie opgelaai tot by hulle kinders in Kenhardt.”

Hy het geen verdere woorde nie. Sy het hom uitoorlê. En sy het dit vir hóm gedoen. Onderskat hy haar nog heeltyd? ’n Laaste, flou vraag: “En jou studie?”

“Sal vorder noudat ek weer naby my adviseur is.”

Teen die tyd wat hy met ’n mate van skrik onthou dat hy op ’n plaaslyn praat, tel Freja haar foon aan die ander kant op. Hy is ten minste bly dat Reinet nie teenoor Freja die geheim van haar bestemming uitlap nie.

Hy gesels flouerig met sy suster, onwillig om die inligting prys te gee wat sy verlang: oor sy huisvesting, wat hy eet, hoe hy sonder sy kar regkom, of hy reg is vir die skoolopening, hoe op aarde hy ’n klomp “stoute bloedjies” van verskillende grade in een vertrek sal kan onderrig. Hy is oorbewus dat nie net Driekolkers nie, maar nou ook Reinet kan luister na wat hy sê. ’n Hooflynoproep wek veral groot belangstelling, so het hy reeds uitgevind. Hoe baie het hy al geleer in die tyd wat hy hier is. Lang dae wat soos weke voel, indien nie maande nie.

Toe hy die gehoorbuis neersit, dink hy daaraan dat hy in sy verbasing redelik hard gepraat, selfs uitgeroep het. Hoe ver is die twee vroumense, en kon hulle iets hoor? Nida, veral?

Teenoor Freja het hy alles vertel wat ’n luistervink maar mag hoor: dat Driekolk toe nooit in die dorp self is nie, maar dat hier ’n eie klein skooltjie is, plus ’n huis, maar dat hy naby loseer, reeds heelwat mense ken, hard voorberei, uitsien dat die skool heropen.

Maar reg aan die begin, wat het hy alles vir Reinet gesê? En hoe hard?

Hy voel dankbaar oor die lang vermiste, doodnormale gevoel van verleentheid wat warm in hom opstoot sodat hy dit tot in sy nek kan voel.

Louisa du Toit Omnibus 11

Подняться наверх