Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 11 - Louisa du Toit - Страница 5

2

Оглавление

Die uitgetrapte grondwerf is bekend onder Nida se voete.

Dis al ’n paar jaar dat sy elke werksmiddag so inkom. In die winter is dit ’n heerlike stappie heen en weer winkel toe, meestal sonnig. Somertyd is dit lastig, maar sy het ’n liggeel wyerandstrooihoed vir die doel, almal ken dit so. Haar ma wil ook nie bra skik vir die hoofete in die aand nie. Sy hou van haar twee kinders om haar middagtafel. Dis die hoogtepunt van haar dag.

Die werk wat Nida by oom Gert se winkel doen, is soms sieldodend, bied nie veel uitdaging nie. Daar kom dae wat sy slegs ’n bottel paraffien en ’n paar brode verkoop. Dis vir haar egter ’n uitkoms van die dodelike sleur van die lewe tuis, en dis ’n eie inkomste. Sy kan daar sit en lees as haar werk klaar is.

Aanvanklik was daar nog opstand omdat sy nie kon gaan studeer nie. Indien nie universiteit of kollege nie, dan die een of ander praktiese kursus. Toe haar ma daarteen vasskop, wou Nida ten minste elders gaan werk. So ver moontlik, aanvanklik: Kimberley, De Aar, selfs die Kaap.

Haar ma het met swaar swye die proses van aansoeke gevolg. Elke keer as daar ’n positiewe moontlikheid opduik, het Leen haar ligweg begin verwyt, totdat Nida die aansoek opgeskeur of laat weet het dat sy nie meer belang stel nie.

Mettertyd sou sy tevrede wees om net maar ’n betrekking te kry op Roosville, hulle eintlike dorp. En dan nog die hope losies betaal, het Leen Thirion weer begin toe die skoolraad ’n kantoordame soek en Nida besluit om navraag te doen.

“Hoekom gesels jy dan nie maar met oom Gert Smit nie? Vandat sy been die abses gehad het, sukkel hy maar om oor die weg te kom. Hy kan sekerlik nie meer alles by die winkel hanteer nie.”

“Dan kan sy vrou mos help.”

“Die stomme mens is so sieklik.”

“Ek sien nie dat oom Gert te veel sukkel nie, Ma.”

“Dan kyk jy teen jou oogvelle vas.” En, by wyse van troefkaart: “Boekhou was jou beste vak. Oom Gert behoort te weet. En handig is jy ook. Nie lui nie. Dis net dat jy eerder lees as werk.”

Dis al wat sin aan my lewe gee, Ma. Maar sy sê dit nie hardop nie. Oplaas was daar weinig wilskrag oor om teen die prikkels te skop. Soms wonder sy of sy billik teenoor haarself gehandel het deur aan haar ma se besitlikheid toe te gee. Nou is sy reeds in ’n dodelike groef en sal dit meer as moed kos om daarvan weg te breek. En die drang is veral die afgelope jaar of twee nie meer baie sterk en lewend nie. Sy begin dink dat haar geluk tog hier lê, in besondere sin by Boel Meyer.

Met ’n vertroude beweging neem sy die vasgespykerde garetol wat as vatplek dien in haar los hand. Die gaasdeur skuur oop oor die holgetrapte drumpel. Die huis is so gebou dat die agterdeur pad se kant toe wys. Almal hier rond gebruik tog maar hulle agter- eerder as voordeure.

Sy kyk om en waai vir Boel voordat die vragmotor met sy afstootlike rooi kleur aanry. Enigiets behalwe rooi, het sy gesê toe Boel haar raadpleeg oor ’n paar moontlike tweedehandse vragmotors. Sy moes hom beter as dit geken het, want hy kies toe juis die rooie.

Die volgende oomblik is sy in die kombuis met die dampswaar, broeiende hitte. Reuk van kookkos en houtvuur en verslane vlieëgif. Sy sit die kardoes op die tafel neer. Uit die skemer eetkamer hoor sy reeds die klank van mes en vurk. Slegs in wintertyd of saans as die stoof afgekoel het, eet hulle by die kombuistafel. Met ’n mate van selfverwyt dink sy daaraan: sy moes Hoffman huis toe genooi het. Dit is etenstyd. En bowendien het hy so verlore gelyk toe hulle ry. Dit was meer as dit; sy kan dit nie plaas nie, ontnugtering of verlatenheid of wat ook al. Sy sprekende blik agtervolg haar, hoewel hy min gepraat het. Wat kom hy, ’n jong alleenman, hier in die afgeleënheid soek? Of kom hy net verkenning doen, voorbrand maak, dalk oorreding uitoefen, voor mevrou Hoffman agterna kom? Hy dra geen trouring nie, maar dit sê niks. Is hy ooit gesond … so bleek?

Sy moes hom genooi het, sy moes. Dit was trouens openlik onbeskof van haar om dit nie te doen nie. As haar ma meer buigsaam was, sou sy dit nog kon waag. Maar die kringetjie van hulle huishouding is so eng: ’n stukkie vleis vir elk, een stukkie ekstra as Arno dit dalk sou vra. Anders kry hy dit met aandete. Nagereg op Woensdag, Sondag, Krismis en verjaarsdae, so seker as wat daar drie rotskolke bo in die kloof is.

Elke dag is ’n koorsagtige klein stryd om den brode, ’n gewoel en geskarrel wat oploop na die klimaks van middagete. Om ’n tafelgas te hê, is ’n gebeurtenis wat voorafgegaan word deur eindelose berekening en beplanning. Sy ken die drukte wat ’n onverwagte gas kan meebring, wat te sê nog die onderwyser.

Half skuldig dink Nida daaraan dat sy, wat haar verhouding met haar ma betref, die weg van die minste weerstand leer volg het. Soms grens dit aan onreg, soos in die geval van die vreemdeling wat nou sonder kos daar bo teen die rant sit.

Sy wens dat sy dit vir Boel in die oor kon fluister om hom uit te nooi. Tant Bella is tog anders, meer beweeglik in haar leefwyse.

Om haar woord gestand te doen en haar gewete te paai, bel sy heel eerste vir Dewald Venter. Die foon is in die kombuis. Sy draai die slingertjie vir twee kort luie en een lange. Hy is gelukkig tuis vir die gebruiklike paar uur se rus oor die ergste hitte. “Julle onderwyser het gekom,” deel sy hom mee. “Ek en Boel het hom afgelaai, hy sit hoog en droog daar bo teen die rant.”

“Dis vir jou ’n ding. Vir wat kom hy nou al? Ek het gelukkig juis van gister af binne laat skoonmaak, daardie wegloopjuffrou was ’n slodderkous. Ons het gemeen om nog die buitemure af te wit. Maar dit kan ons doen as hy reeds daar bly.”

“Hy lyk nie vir my bekwaam om homself te versorg nie.”

“Wel, as hy kans gesien het om hierheen te kom. En hoe anders? Sal jou ma hom loseer? Julle is die naaste. Loopafstand.”

Hulle lag albei so effens. Leen Thirion se eienaardigheidjies word erken en aanvaar, hoewel sy altyd nog ’n effense randfiguur was. Nida moet versigtig wees met wat sy sê, want sy weet haar ma luister uit die eetkamer. “Gaan sien hom dan net, Dewald. Sy bagasie is nog op die stasie. Hy sit in die verlate huis. Tussen die vlermuise, soos Boel sê.”

“Het Boel hom gebring?”

“Ja.” Uit lojaliteit teenoor die vreemdeling vertel sy nie op welke wyse hy by Boel beland het nie. Dat hy die pad deels te voet wou aflê, klink na onsin.

“Goed. Ek sal hom maar vir ete gaan haal, en die saak bespreek.”

“Ag, ek weet Jane dra swaar, Dewald.” Jane Venter het ’n handvol kinders en pas boonop haar moeilike skoonpa, Oom Ou-Deew, op.

“Sy moet tog kook. En hy bied vir ons ’n oplossing deur sy koms. Anders was koshuis ons kinders se voorland.”

“Gaaf dan.” Sy is meer as verlig. “Ek wou hom genooi het, maar …”

“Ek verstaan.” Hy lag weer effens, maar sonder venyn. “Ons kan vir hom ’n gasprimus leen. En Jane kan vir hom ’n bietjie suiker en koffie en ’n paar snye brood of beskuite saamgee. Dit kan hom tot môre aan die lewe hou.”

“Ag dankie, Dewald. Ek het gevoel hy behoort sulke goedjies by oom Gert te koop, maar ek wou die man ook nie voorsê nie. Hy lyk ontwortel.”

Nida spoel haar hande sommer in die kombuis af. Die kraan loop net effentjies. Arno moet weer die sementdammetjie vol pomp sodat die druk kan styg. Maar Arno dink net aan lusern.

Toe sy die eetkamer binnegaan, is die prentjie presies soos elke dag. Deur ’n skreef in die toegetrekte gordyne val die lig onseker op Arno se ietwat te kort hare. Leen sny dit self, en só dat dit lank kan hou.

Slegs een helfte van die tafel is gedek, omdat hulle net drie is. Reg oorkant Arno sit haar ma, altyd op dieselfde plek, sodat sy haarfyn kan sien wat haar seun se behoeftes is.

Nida groet en trek die leë stoel by die kop van die tafel uit. Vlugtig dink sy daaraan dat, sedert haar pa se dood, haar ma of Arno immers by die kop van die tafel moes gesit het. Maar haar ma het dit anders bepaal.

“Ons het maar begin. Dit het geklink of jy vir Dewald bel.”

“Ja, Ma.”

“Dit klink of dit oor die nuwe meneer is.”

“Ja. Hy het gekom.” Sy voel meteens steeks om te vertel, voel hoe die sweet haar vel prikkel in die skemer, bedompige vertrek.

“Die kos het nou afgekoel, en hier is ’n los vlieg ook wat my al my dae gee. Ons het maar aangesit toe dit kwart oor raak. Arno wil bietjie skuins lê en dan gaan hark.”

“Dis ook so warm vir kookkos. Ma kan gerus partykeer net koue vleis en slaai maak.”

“My hande is baie vol, en jy weet groente is skaars.”

“Dis nie ekstra moeite of koste nie, Ma. In plaas van die kool en wortels en tamaties te kook, kan Ma maar net slaai daarvan maak.” Nida voel verbaas oor haar eie prikkelbaarheid. Gewoonlik is sy gelykmatig en neem sy genoeë met alles ter wille van die vrede. Miskien probeer sy vanmiddag deur die bril van ’n vreemdeling kyk, en sien sy die versteendheid raak.

“Ek is nou maar gewoond aan stowekos,” sê Leen Thirion. “Mens kom ook verder daarmee.” So praat die vrou wat nie werklik suinig is nie, maar wel ekonomies tot op ’n speld se kop. Wat haar trouring eerder in sy fluweelbedjie gebêre het as om dit te laat verslyt met die harde alledaagse werk. Meermale kleintyd het Nida gevra of sy daarna kan kyk, en moes dan hoor: “Net kyk, en weer bêre.”

“As ek nou vandag klaar gehark kry, kan ek môre pres,” sê Arno. Hy is totaal onbewus van die voorafgaande klein stryd. ’n Drang ontwaak in Nida om die venster na buite oop te maak sodat vars lug kan binnekom, al trek daar ook geen luggie nie. Maar Leen sal sê sy maak inkomplek vir die hitte en vlieë. Daar is nie oral gaas nie, net by die agterdeur.

“Ek en Boel het hom gaan aflaai,” sê sy.

Die onmiddellike teensin wat op die smal, sonverweerde vroulike gesig verskyn by die noem van Boel Meyer se naam, verdwyn net so vinnig toe die res van die mededeling deurdring. Die bruin oë wat op ’n tyd mooi was maar nou verskuil lê tussen ’n netwerk van te vroeë plooitjies, flikker op.

“Waar het julle hom dan toe gekry?”

“Ek weet nie waar Boel juis aan hom gekom het nie,” snoep Nida haar ma.

“Het jy vir Boel gesien?” skrik Arno wakker vir die feite. “Het hy nie gesê of hy klaar gepres het nie?” Hy koop nie graag sy eie implemente nie. Hy help Boel eerder en wag dan met verbloemde ongeduld sy beurt af.

“Wag, Arno, ek wil net by Nida hoor. Jy sê hy is nog jonk?”

“Nee, ek het nie so gesê nie.”

“Maar is hy?” Ongeduld begin deurslaan en Nida raak moeg vir die speletjie.

“Ja, Ma, hy is nog jonk.” Maar hy dink oud, of hy het ’n verdriet weg. Dit sê sy weer nie hardop nie.

“Getroud?”

“Ek kan mos nou die man so uitvra nie, Ma,” antwoord Nida skerp. “Hy het alleen gekom.”

“Is dit nou so erg? Jy kon hom mos tog maar gevra het of hy getroud is.”

“Waarna lyk dit, Ma?” sien Arno dit nogal in.

“Hy sit sonder iets daar bo teen die rant,” sê Nida moeg. “Ek wou hom vra vir ete, maar ek was bang vir die moeite vir Ma.”

Leen Thirion trek haar dit nie juis aan nie, want natuurlik sou dit moeite wees, maar moeite is ’n vrou se lot en lewe. “Jy moes hom gebring het,” maan sy. “Hier is die skenkelbeen nog, en party mense is baie lief vir die skenkelbeen.”

“Dalk is hy nie,” weerlê Nida moedswillig. Sy weier om haar verbasing te toon oor hierdie ongebruiklike gasvryheid. “Dit moet ook langer gekook wees, Ma, die vleis moet van die been af val.”

“Die huis se skoonmaak het my ingehaal, ek het te laat kos opgesit.” Leen sê dit nie, maar vuurmaakhout vir die Dover word al hoe skaarser, en gas vir die gasstoof kos geld en moet aangery word.

“Ek dink ek stuur vir hom ’n bord kos op,” hou die ouer vrou vol. “Arno kan dit gou met die bakkie vat.” Arno het, benewens sy afgeleefde lorrie wat net vir lusern gebruik word, darem ’n bakkie in lopende toestand.

Nida kyk nou inderdaad verstom na haar ma, onrustig byna. Sy reken dat sy deur die plan sien: vir Nida aan die onderwyser afsmeer, haar so van Boel af wegkry.

“Dis nie nodig nie,” sê sy dan. “Dewald sal hom gaan haal vir ete.”

“Het hy vir seker gesê hy sal?”

“Ja, Ma.”

“Dewald kan gerus kyk dat die skoolhuis ’n foon kry. Maar dis ook weer waar, ’n spandabelrige onderwyser, of ’n merrie soos wat hier was, kan die skoolraad bankrot bel.”

Dis glo een van die redes hoekom die vorige juffrou, die “merrie”, haarself op langverlof gesit het, onthou Nida. Geen foon nie, en die ongerief van alles. Senuwees ingegee. Die skoolkinders kon nie eers hard omblaai nie, dan skrou sy op hulle. Dis die meeste skoolsiek wat sy kinders nog ooit was, het Dewald gelag. Op die ou end het sy half gedros voor die einde van die jaar, met groot verleentheid en ’n geskarrel tot gevolg.

Die owerhede het skynbaar gereken dis goedkoper om haar onbepaald weg te stuur as om haar te laat repareer of om die hele Driekolk weg te stuur, want teen daardie tyd, sê Dewald, het al die ouers en kinders aan hulle senuwees gely. Senuwaitis, noem hy dit.

“Jy sê jy weet nie of Boel al klaar gepres het nie?” begin Arno weer.

“Jou kop is binne seker groen, Arnoldus.”

“Hoe bedoel jy?”

“Jy dink aan niks anders as lusern nie.”

“Is nie, ek het ’n stukkie wingerd en ek begin aan katoen dink. Maar waaraan anders wil jy hê moet ek dink?”

Dis waar, besef sy met berou. Hy het nie eers vrou of kind nie. En lusern sit kos op die tafel. Met die stukkie wingerd kom hy nie reg nie. Dit kry te maklik siektes.

“Wat praat julle?” Leen se aandag het weggedwaal. “Wat van die pres?”

“Ek sê, Ma, Arno kan gerus self ’n pres koop.” Arno sal dit kan bekostig, hulle lewe spaarsaam genoeg. Hy kan afbetaal. Nida dra by vir die huishoudelike uitgawes. Sy kan kosprys by oom Gert koop. “Ek het Ma se goedjies op die kombuistafel neergesit,” onthou sy.

“Dankie, my kind.”

“Daar is niks mee verkeerd as ek en Boel mekaar weghelp nie,” gooi Arno wal. Nida bekyk hom ’n slag deeglik, besluit dan dat haar broer eintlik ’n aantreklike man is, net verwaarloos van son en werk. Leen hou ten minste sy werksklere netjies genoeg.

“Maar dan na weerskante toe. Hy het in elk geval gesê hy is nog nie klaar nie. Hy het meer ysters in die vuur as jy, Arno,” maak Nida ’n einde aan die getjommel. Boel is een van die boere wat weet om wisselbou toe te pas. “Kan ek maar opstaan?”

“Jy het dan amper niks geëet nie.”

“Ek is regtig nie honger nie, Ma. Die hitte. Dankie,” onthou sy darem.

“Sit dan jou vleis terug in die bak.”

Sy gehoorsaam, maar nie sonder ’n stekie nie: “Ek hoop nie Ma wou my oorskiet vir die onderwyser stuur nie.”

Toe Nida help opruim het en in die kamer ’n bietjie gaan rus, is sy nog steeds die prooi van die ongekende, vae onvergenoegdheid. Sy probeer dit ontleed, omdat sy weet dat dit nie so hoort nie. Die dinge waarteen sy vanmiddag in opstand kom, is nie so vreeslik erg nie. Net vasgewortel.

Wie is daar per slot van rekening wat nie soms ’n mate van leegheid ervaar in sy omgang met ander mense nie, in besonder die mense wat naaste aan jou behoort te wees? So vermoed sy, wat nie die wye wêreld ken nie.

Sy lê op haar warm bed in die verskemerde kamer en kyk hoe die gordyne na binne bol. Ete is verby, die vlieë kan maar inkom. Mens kan nie alles so toe hou nie. Maar dit sal nie help om die gordyne oop te trek nie, omdat die wind ewe warm is.

Die skoolmeestertjie sal weet dat hy gestap het, het Boel gesê toe hulle alleen wegry. “Daar het gister drie van ou Bella se hoenders doodgebrand. Moenie verbaas wees as jy nog vir braaihoender genooi word nie.”

Sy het geglimlag, effens weemoedig miskien. Sy kom nogal goed klaar met Boel se ma, maar durf nie juis openlik daar kom nie. Haar ma kan die vrou ewe min as vir Boel verdra. Nida het so gewoond daaraan geraak dat dit haar bykans nie meer hinder nie. Behalwe in die laaste tyd, en veral vanmiddag.

Dis asof daar iets onpeilbaars kom staan het tussen haar en haar normale, alledaagse gang. Is dit dalk dat sy besig is om haar te vereenselwig met Hoffman se lot? Dit sou tog misplaas wees, omdat sy hom van g’n kant af ken nie. En tog is dit asof daar ’n mate van onrus tot haar uitgegaan het van sy kant af, veral in die laaste oomblikke van hulle kort saamwees vanmiddag.

Sy hoor haar ma se voetstappe in die gang. Dis ’n redelike ruim huis; haar oorlede pa het voortdurend aangebou, hoewel nie alte verbeeldingryk nie.

Nogtans het die meeste huise geriewe wat hulle nie het nie, soos verkoeling. Daar is van die boere wat waterverkoeling prakseer, dit blaas vanaf die plafon dwarsdeur die huise. Daar is elektrisiteit nodig en wel beskikbaar, maar haar ma vind die aansluitingsfooi te hoog. “Ons wag tot dit afkom.” Asof pryse ooit daal.

Sy wens onwillekeurig dat die voetstappe verby wil gaan, maar dit kom by haar halfoop deur tot stilstand. Leen Thirion stoot dit verder oop.

“Slaap jy?” vra sy gedemp respekvol. Middagrus is middagrus. Daaroor is eenstemmigheid tussen almal wat hierdie somers ken en saam probeer oorleef.

“Ma weet ek slaap nie in die dag nie, ek rus net. Ek moet al weer op.”

“Jy moet laatmiddag tog vir my die mandjie perskes kom skil vir inlê.”

Dis ’n mismoedige gedagte, maar hoe kan sy weier? Dis ’n ballasmandjie vol verniet perskes, Dewald het gebring.

Nida is suinig op haar aande. Dis haar leestyd, ook haar buite-sit-en-peins-tyd langs die grootvoor, as die aandskemer die hittige landskap omskep in ’n skemerige koelheid van die rivier se kant af. Naweke help sy haar ma met ekstra huistake, dis ’n ander saak.

“Goed, Ma,” willig sy gelate in. “Maar ons is tog nie een lief vir ingelegde perskes nie,” kan sy nie help om by te voeg nie. Dit is inderdaad so. Vars is beter.

“Die perskes staan nou hier, dit het my niks gekos nie.”

“Noudat ek daaraan dink, hoekom dra ons eie bome nie? Hoe het dit so verwaarloos?”

“Vra vir jou oorlede pa. Dalk was hy te besig vir vrugte.”

“Of dalk het Ma dit na sy dood laat verdroog. Ook nie gesnoei nie.”

“Hoeveel hande sien jy aan my?” protesteer Leen kragteloos.

“Ek sal Ma sê wat dit is,” verstout Nida haar. “Dis vir Ma beter as dit nie dra nie. Ma hou nie van oorvloed nie.”

“In die volop tyd het dit onder die bome lê en vrot,” erken Leen seldsaam.

“En Ma sien nie kans om dit verniet weg te gee of te laat optel nie.”

“Ek weet nie wat vandag oor jou lewer geloop het nie. Mens sou sweer ek het jou te na gekom.”

“Aag, Ma, los dit tog. Ek sal vir oom Gert vra of ek vanmiddag vroeg kan uitval, dan skil ek gou die perskes. Ek wil nou gesig was en hare kam, Boel kom my nou-nou terug winkel toe vat. Spesiaal,” voeg sy aspris by.

Dis genoeg om Leen die aftog te laat blaas. Hoe minder sy van Boel hoor, hoe beter. Hy is te ongemanierd, is haar hoofklagte teen hom. En hy is nie te vertroue nie, presies soos sy ma.

“Wat het tant Bella ooit vir Ma gedoen?” het Nida een keer gevra.

En moes toe die waarheid hoor: dat Bella Meyer vir hulle, die Thirions, met ’n slagding verkul het. Dit kamtig gekoop, maar nooit betaal nie. “Jou pa moes die verlies maar dra. Nogal ’n skaap, nie ’n bok nie. Om te dink hy het dit nog laat slag ook. As hy maar die vel kon kry, maar nie eers dit nie.”

“En Ma wil dit die res van julle lewe teen haar hou?” wou Nida weet. “Julle al twee het intussen julle mans verloor, julle kan tog genade met mekaar hê.”

“Die onreg bly, en ek verdra nie onreg nie,” het Leen dunlip geantwoord. Sy het voortgemompel oor die stokou storie wat die ronde doen: dat Boel se pa uit diamante geld gemaak het.

“Niemand weet of dit waar is nie.”

“Hoe anders kry jy geld hierlangs? Grootrivier vat alles terug wat hy gee, en partykeer ook wat hy nie gee nie.”

“Vergeet die storie, Ma. Dis nie ons saak nie. En dis ons bure, liewe land.” Tant Bella het altyd iets lekkers gehad vir ’n kind wat ’n boodskap bring. Dis voor die later jare toe Boel vir Nida begin flikkers gooi het. Daarna het alles erger geword.

Leen trek die kamerdeur toe agter haar, en oomblikke later wil Nida haar verbeel dat haar ma uit die kombuis bel. Wie nou? Beslis ’n plaaslike nommer, sy bel nie maklik deur die dorpsentrale nie, want dis te betale.

Dis ’n rare verwelkoming wat Nelis Hoffman in sy nuwe verblyfplek ervaar: ’n swart stoof op krom pote staan in die karige kombuis oorgehaal om hom tegemoet te waggel.

Origens is daar min; gelukkig ook nie tekens van vlermuise, soos Boel gespot het nie. Darem die nodigste kombuisgoedjies en huisraad, oud maar skoon genoeg. Hy het nie geweet of hy, benewens ’n groet, met die skugter Komien durf gesels, haar uitvra nie. Sy was omtrent klaar toe Boel en Nida hom aflaai, en sy het nie getalm soos een wat betaling moet ontvang nie. Sy het wel ’n grappie gemaak dat die vorige juffrou gekla het dat dit in die skoolhuis spook. Met ’n “Tot siens dan eers, meneer” en ’n dankie van sy kant af, het sy teen die helling af geloop, links gedraai by die vurk in die pad. Dan woon sy ondertoe af teen die grootvoor.

Hy ondervind die drang om hardop te praat en sy stem te hoor weerklink, maar weet nie wat om te sê nie. Dit voel op hierdie oomblik vir hom of sy lewe leeggeloop het, leeg soos die lug daar buite en soos die rant rondom hom. Met belaglike kieskeurigheid soek hy ’n plekkie uit waar hy sy tas op die kaal sementvloer kan neersit. Sy hande voel sweterig en vuil, soos trouens sy hele lyf. Hy het nie skoon klere by hom nie, maar darem ’n handdoek en seep. Dit sal reeds veel beter voel as hy ’n stortbad kan neem.

In die badkamer merk hy tekens van gerief: ’n gevlekte dog skoon wit bad, wasbak met gepoetste krane; ongelukkig nie ’n storthokkie nie, maar daarsonder sal hy wel leer klaarkom. Onseker of daar water in die krane sal wees, stap hy nader om ondersoek in te stel. ’n Oomblik lank luister hy eers onwillekeurig weer of hy die rivier kan hoor, maar hierbinne is dit gedoof tot die ruising van stilte in sy eie ore.

Toe draai hy die kraan oop, te veel te vinnig (nie kraan-etiket nie, sê sy suster Freja, en dat veral mans en kinders dit doen); die bruinerige water spuit gewillig uit, gorrel en kring in die bodem van die wasbak. Hy kyk oorbluf daarna. Lyk alle water hier so? Hy het koel, skoon water verwag.

Hy draai die kraan toe, leun oor die wasbak, sy hande aan weerskante gestut. Hy voel hoe sweet teen sy voorkop uitbreek. Hierdie keer nie van die hitte nie, maar van ontnugtering. Hy het tevergeefs die groot verandering gemaak. Tot dusver trek die rivier en sy water hom met ’n troebel drif. Waarom dan, in hemelsnaam, het hy daardie noodlottige dag in opperste angs verval en weggevlug? Net om ure later te hoor dat Banie in die spruit gevind is, dood verdrink?

BH Hougaard se gesig die dae en weke daarna, die dowwe rooi seer in sy oë, die hang van die swaar kop, die stilte onder die personeel. Nelis het uitgehou tot na die lentevakansie, wat hy by Freja en haar gesin deurgebring het. Maar toe hy terugkeer, het niks in sy gemoed verbeter nie, eerder vererger. Banie was steeds dood en begrawe, en die huis van BH Hougaard in swaar rou gedompel. Dit het die skool bereik, die gange en personeelkamer en klaskamers gevul. Alles en almal was in rou. Toe het hy, die indirek aandadige, aanstaltes begin maak om end van die jaar weg te kom. Getuigskrif gevra. Vir BH gesê hy wil na ’n kleiner skool gaan, sonder buitemuurse aktiwiteite, sy ontbrekende graadvak klaarkry.

“Wil jy vir goed van ons af weggaan?”

“My gedagte is tydelik, maar ek kan nie van u verwag om my pos oop te hou nie.”

BH se vingertoppe het afwesig op die lessenaarblad getrommel, onritmies. “Wel, as jy gradueer, skuif jy in elk geval pens en pote hoërskool toe.” Nelis het reeds sekere vakke daar aangebied, die twee skole is soos ’n Siamese tweeling langs mekaar op die dorp geleë. “Indien nie hier nie, dan elders,” het BH voortgepeins.

“Die tyd sal leer,” het Nelis ontwyk. Want hoe kon hy daarheen terugkom? Selfs na die dorp toe? Niks in sy huidige dilemma sou verander nie. Indien daar vir hom iewers vorentoe vryspraak en opklaring wag, sou dit op ’n manier moet wees wat hy nog nie naastenby kon bedink nie. Wat gebeur het, het gebeur.

BH het niks verder teengewerp nie. Net gesê: “Nou ja, dis tans seker ook nie van die lekkerste hier by ons nie.” Die groot man se gees het hom verlaat. Daar was geen verwyt teenoor die jong onnie wat, volgens eie erkenning, sy seun die laaste keer lewend gesien het nie. Hy het ’n goeie getuigskrif gegee.

Nelis druk die prop in die bad en draai, stemmig hierdie keer, die kraan oop. Twyfelend staan hy en wonder of hierdie troebel water ooit reinigende waarde kan hê. Dis in elk geval sterk lou van die son op die pype.

Mevrou Hougaard het aan Reinet se ma vertel dat Banie se mond en hare vol modder en opdrifsels was toe hulle hom gevind het, nie eers veel laer af van waar hy moes ingeval het nie.

Toe Reinet niksvermoedend dit aan hom oorvertel, moes hy sigbaar verbleek het, want sy het gevra: “Voel jy sleg, Nelis?”

“Ons voel almal sleg.” Na sy gesprek met BH Hougaard, oor ’n skuif, het hy die Onderwysgaset begin fynkam. Hy durf nie een maand sonder salaris wees nie. Sy studie- en motorskuld word per debietorder afgetrek. Sy ouers se polisse was nie veel werd nie, aangesien hulle lenings daarteen gemaak en nog nie terugbetaal het nie.

Hy kom toe weer by Reinet, in die poskantoor. Sy was op daardie oomblik alleen agter die toonbank, en hy die enigste kliënt. Sy was, soos altyd, fyn uitgevat. Sy is wat ’n Nederlandse skrywer noem “een poppetje”.

Hy sou haar verlangs van sy voorneme moes verwittig. “Ek wil seëls hê, asseblief, geagte posmeester.”

Dit vlei haar altyd, want sy is net ’n assistent. “Jy het nog nie jou boek nodig nie?” Sy is besig met ’n graad “oor die pos”. Hy is ’n nuttige bron van boeke, letterkunde veral. Dit het vanself meer as dit geword. Hulle was op die pad van liefde, sonder dat hy dit al wou erken.

“Nee, nee, jy kan dit nog hou. Sê maar as jy nog iets nodig het.”

Sy het die geld geneem, die seëls van die groot velle afgeskeur en dit na hom deurgestoot. “Wat makeer jou deesdae? Jy is bleek en jy het sakke onder die oë. Jy werk te hard. Jy moet volgende jaar uit die koshuis gaan en privaat losies kry.” Die glinstering in haar oë sou kon verraai dat sy aan haar eie ouerhuis dink.

“Ek is tevrede in die koshuis. Ek doen maar twee aande per week diens.”

“Nogtans, en jy studeer ook nog, en die seuns maak jou klaar.”

“Dit is so, maar ek is lief vir die spul.” En daarby was sy koshuisverblyf gratis.

“Hulle draai jou om die vinger, stry? Wat anders kan jou so moeg maak dat jy al hoe minder kom kuier? Om oor boeke en my take te gesels,” het sy guitig bygevoeg.

Hy moes hom uit ’n moeilike posisie bevry. “Ek kuier al hoe minder omdat jy al hoe geleerder word. Ek is kastig jou adviseur, maar ek is bang slim vang later sy baas.”

“Komaan, dis nie hoekom jy wil weggaan nie. Wat gaan aan, Nelis?”

“Ek het ’n verandering nodig. Ek het juis seëls kom kry om aansoeke te pos. Moet dit nie onderskep nie.” Met ’n stram laggie.

“Nee, ek sal nie, want die speurders sal dit gou by my vind, in ’n fluweeldosie tussen droë roosblare.” Sy het nie eers teen die teleurstelling geveg nie. Sy is ten alle tye leesbaar, en daarom nie moeilik om oor die weg mee te kom nie.

’n Paar minute lank was dit stil tussen hulle terwyl Reinet ’n ander klant bedien en hy half eenkant staan. Toe hulle weer alleen is, het sy gevra: “En nou? Wat word van ons?”

Hy het dit weerstaan om te sê dat daar niks tussen hulle is nie. “Die afstand kan ons goed doen, verstaan?”

“Nee, ek verstaan nie. Hoekom nou weggaan, en hoekom alleen?”

Sy wou tog nie insinueer dat hulle moet trou nie? Hy moes oppas, sy is ’n ratse enetjie. “Laat ek ’n ander plek op die proef gaan stel, en dan, miskien …”

Dan kom ek jou moontlik haal, was die versweë belofte.

“Miskien?”

“Waarskynlik. Hopelik. Ag, Reinet …”

“Is dit al wat jy kan sê? Jy het bra flou verskonings. Ek dog ons het … wel, ek dog ons sléép, soos die skoolkinders sê. Maar al waarvan ek hoor, is die vak wat jy sleep.”

Dit was die waarheid, en hy moes daarop reageer. Dit was net billik. Daar was soene en drukkies, groeiend in innigheid. Sy kon begeerte in hom wek, maar die durender trekkrag tussen gees en gees het ontbreek.

In die leen van sy boeke en studiekennis het sy ’n goeie aanknoping gevind. Hy het meer as vermoed dat haar skielike studie ’n manier was om by hom uit te kom. Sy is nie ’n wafferse student nie. Haar aandag word maklik afgelei. Tog is sy skerp en vinnig. Sy het eers die skakelbord bedryf, pas voordat die handsentrale na ’n outomatiese een oorgeskakel het, laasgenoemde ’n groot geleentheid met burgemeester en koek en tee.

Sy het hom genooi om een aand te kom kyk hoe sy werk. Daar sit sy toe, ewe professioneel met kopstuk op haar salon-getemde krulkop. Sy kop het spoedig gedraai. Flitsende liggies, vibrerende klappies, knoppies en hefbome, lyste met nommers opgeplak.

Hy was verbyster oor hoe haar hande heen en weer vlieg om in te prop, uit te trek, en tussendeur nog te nommer-asseblief en drie-minute-om, oproephokkies en kollekteeroproepe te behartig, en hier en daar oor die weer te praat. Die massa data wat sy moes onthou. Dan haal sy weer die kopstuk af om ’n bietjie met hom te gesels. Natuurlik het sy heelwat aangedik om hom te beïndruk, maar hy kon ten slotte vir haar sê dat hy dit nooit sou kon regkry nie, te veel duime aan hom.

Oor sy gevoel vir haar was hy verward en onseker. Daar was ’n wete in sy agterkop dat sy die een kan wees, en dat die tyd dit ook sou uitwys. ’n Selfvermaning dat hy nie dom moet wees en haar verloor nie. Dis waar, sy is ’n bietjie lig, maar sy beur ’n mens op.

Daar sou wel veel kon ontwikkel onder normale omstandighede – maar met hierdie ontsettende ding wat in sy lewe gekom het …

“Wat het jou so verander, Nelis? Jy is al maande lank nie lekker nie.” Sy was ooglopend nie tevrede met sy besluit nie.

“Ag, ’n mens voel tog nie altyd eenders nie,” het hy ontwyk.

“Het daar iemand in jou lewe gekom?”

“Nee, nee. Dit kan ek jou eerlik verseker.”

“Dis al wat ek wil weet. Dan is alles nog dieselfde tussen ons.” Ingenome.

“En tog is dit nie.”

“Waarom nie?”

“Omdat daar op die oomblik komplikasies in my lewe is.”

Haar oë was vraend. “Jy het so ernstig en donker geword. Jy lag nie meer nie. Sal jy nou altyd so bly?”

“Ek weet nie. Ek hoop nie so nie.”

Daar was ’n rukkie stilte, terwyl die toonbanktralies hulle soos in ’n tronk van mekaar skei. Wat kon hy verder sê sonder om alles uit te blaker? “Daar is dinge wat ek moet uitsorteer.”

Haar oë was wyd. “Dan is dit seker iets met jou suster-hulle. Jy was mos die kort vakansie daar. Nelis, sê vir my alles is nog dieselfde. Kan ons nie vanaand gaan inry nie? Of sitfliek, net wat jy wil.”

Sy was soos ’n bedelaar, en hy sou swig as hy langer talm. Hy het sy hand na haar deurgesteek en sy het sonder weifeling haar vingers in syne gelê: “Luister nou, my meisie …”

“Sê weer so.”

Hy het swakkies gelag. “Luister nou: ek het net tyd nodig. Moet my nie aanjaag nie.”

Sy het haar vingers uit syne losgemaak. “Dis dan seker nog die tragedie by die skool. Almal is daardeur geraak.” Toe ruk sy haar reg. “My ma het my gewys hoe om ’n flare te sny. ’n Halwe of ’n volle flare.” En, toe hy haar onbegrypend aankyk: “Romp. Wat uitklok.”

“Aha.” Hy het gemakliker gevoel toe sy in haar lighartige aard terugglip. Sy was byna te ongedeerd vir hom. Maar het hy nie juis so ’n teenpool nodig nie?

“Ek het ’n lappie goed gekoop. Maar die studie hou my so vas, sy moet dit maar vir my maak.”

“Watter kleur?” het hy onthou. Natuurlik jok sy oor die studie wat haar vashou, sy swaai lekker lood.

“Blouerig. Sulke skaduweeblomme op.”

“Sal mooi wees. Dalk sien ek dit nog voor ek weggaan.”

Hy het haar daarna veiligheidshalwe soos ’n blote vriendin behandel wanneer hy haar raakloop. Laat Reinet liewer oor hom treur as hom oor sy swakheid verag. Nogtans was sy heel gedwee, selfs grappig, toe hy afskeid neem. Dus het sy dit klaar verwerk, het hy gedink, en nogal afgehaal gevoel. Sy het hom nietemin, baie ernstig, ’n toegedraaide geskenk gegee. “Ons gee mos nie nou geskenke nie,” het hy geprotesteer, waarop sy net gesê het: “Maak oop.” Dit was ’n blou-en-wit boks Engelse Sout. Op sy frons het sy uitgelê: “Elke dag ’n eetlepel vol, hoor. Epsoms makes the heart grow fonder.”

Hy moes maar lag, en die steeds verseëlde boksie het saam met hom gekom. Hy weet dit sal as daaglikse herinnering aan haar dien. Haar heel laaste woorde bly hom by, omdat dit iets soos ’n komma was, nie ’n punt nie: “Ek het nou in my kop uitgewerk wat aangaan, Nelis. Jy vlug nie sommer van my af weg nie. Jy vlug van my af weg omdat jy bang is vir jou gevoelens vir my. Dit is so, nie waar nie?”

“Dis vir my te ingewikkeld om te verstaan.” Hy kon tog nie blatant sê dat sy verkeerd is nie. Hy vlug in die eerste plek nie van háár af weg nie. Eerder van homself.

“Dink maar daaroor na. En laat my toe om my eie maatreëls te tref.”

Wat het sy in gedagte? Wat ook al, dit het ferm geklink.

Nelis het klaar gebad en trek vieserig weer dieselfde klere aan. Die kraag van die wit hemp vertel die hele verhaal: treinroet, sweet, stof. Die hitte en die atmosfeer van harde arbeid in hierdie riviervallei kleef hom reeds aan.

Hy is pas klaar, toe daar aan die voordeur geklop word. Besoekers, dink hy. Hoekom klink sy voetstappe in die kort gang so luid, of is sy ore net sensitief?

Op die verandastoep staan ’n man wat hom bekend stel as Dewald Venter, rooierig, gemaklik, skoon geklee in ligte hemp en broek. Hy het stellig voor die besoek sy werksklere uitgetrek.

“Inkom?” nooi Nelis.

“Ek dink dis koeler hier op die stoepmuurtjie waar ’n skaduweetjie val en ’n luggie trek.” Die verkleinwoorde moet die kwaai klimaat tot draaglikheid reduseer.

Hulle neem op die muurtjie plaas, skuins na mekaar gedraai.

“Ek sien die muurtjie is opgevryf, so Komien het vandag kom klaarmaak. Sy het gister al begin.” Dewald praat in ’n gemaklike draalstem. Hy hou sy hoed op sy linkerknie, asof die regterhand los moet wees vir werk.

“En betyds vir my onverwagte koms ook. Ek waardeer.”

“Ja, ons wou nog ander takies hier rond verrig. So, ons is taamlik onklaar. Maar as u kans sien om in te trek …”

“Los die u. Dis Nelis, en as ek Dewald mag sê.”

“Graag, maar liewers net as ons alleen is. Anders hoor ek weer ek is disrespekvol. Nou, soos ek sê, ons wou nog …”

Nelis gooi berouvol sy hande omhoog: “Ja, jammer, swak maniere van my om so ontydig hier aan te kom. Maar ek wou my oriënteer. Die plek en mense leer ken.” Hy besluit om sy misverstand te erken. “Ek was boonop onkundig genoeg om te glo die skool is op die dorp self. Ek het gedink aan ’n huurmotor op die stasie, voorlopig in ’n hotel tuisgaan.”

Dewald Venter lag sy eie soort laggie. “Nogal ’n hotel, asof Roosville baie het. Ja-nee, Driekolk het maar net ’n takskooltjie. Wat ons moet veg om oop te hou. Ons is dankbaar oor jou koms. Kan nie verstaan hoe jy wat eintlik hoërskool is … maar ons vra nie vrae nie, hoor. Ons weet plaasskole is op pad uit, soos slingertelefoon en grondpad. Oor die foon en pad huil ons nie, maar elke dag skoolkinders aanry, o nee toggie.”

“Die een of ander tyd kom dit.”

“Dan sê ek maar soos die Bybelse koning Hiskia: solank dit nie in my tyd gebeur nie.” Hy onthou: “O ja, ek het jou eintlik kom haal vir ’n twaalfuurtjie. Dis hoe ons middagete noem, vroeg of laat. Soos halftwee, in hierdie geval.” Hy is sonder armhorlosie en korrel lug toe asof die son se stand hom presies sal inlig. “Dis duidelik jy kom uit ’n genadiger wêreld, hier foeter ons nie tussen eenuur en drie-uur rond nie.”

“Onkunde en omstandighede,” bely Nelis. “En ja, ek voel nogal hol.” Hy stel hom ’n koel, versorgde eetkamer voor.

“Waar kry Boel Meyer jou toe?”

“Net daarso, duskant die rant.” Nelis staan op en beduie na regs. Hy vertel van die oplaai deur Hans Esau.

“Wie ken hóm nie? So jy het darem nie te ver gestap voor Boel jou oplaai nie. Maar dis nogtans doodsake, hierdie son. Hier was ’n paar los wolke, maar ons wil nie ten alle tye reën hê nie. Iemand is altyd aan ’t lusernwerk.”

“Ek lei af hier is etlike klein nedersettings al teen die rivier af. Soos ’n stuk wors wat knopperig gestop is.”

“Dis nogal goed beskryf, ja. Driekolk is die verste oos. Anderkant Roosville lê nog ’n hele paar weswaarts. Aan weerskante van die rivier, eintlik, met brûe verbind. Party eilande gaan deur as dorpies.”

“Alles draai maar eintlik om die rivier?”

“Hoe anders? Dis besproeiing. Luister mooi, dan hoor jy die waterpompe. En kyk daar …”

Nelis volg sy handgebaar en anderkant die besproeiingsgrond en die groen ruigtes van die rivier sien hy die oranjerooi van die eerste Kalahari-duine.

Hy voel dat hy hierdie man in sy vertroue kan neem wat die drukkende vraag in sy gemoed betref. “Die water in die krane, dis so troebel,” sê hy ernstig, byna somber, asof dit ’n kwessie van lewensbelang is.

Dewald lag nie, soos ’n ingewyde dalk sou wou doen nie. “Wees dankbaar daarvoor,” sê hy, “want dis ’n teken dat die rivier so effentjies afgekom het. Watertjies bygekry het. Laas week dié tyd was hy baie na aan staan. En weet jy wat dit sal beteken?”

“Ek kan raai. Maar ek moet bieg, ek voel vuiler as voor ek gebad het.” Hy is skaam om te erken dat hy nog nie daarvan wou drink nie. Nida se glas koel water, helder deurskynend daarby, kon sy ergste dors les.

“Die tenk is vanmôre volgepomp.” Dewald beduie na die gemesselde tenk op die betonblok anderkant die skoolgebou. “Die modder sal self afsak as dit ’n rukkie gestaan het.”

“Dit verklaar dan hoekom die druk in die kraan nogal sterk is.”

“Ja wel, soos die water in die tenk sak, sal die krane begin sukkel. Dan kla jy maar in my koers, en ek kommandeer weer een van die ouers.”

Die gesprek loop ’n oomblik lank dood, en Dewald Venter benut die geleentheid om die onmiddellike kwessies ter sprake te bring.

“Jy ry nou eers saam met my om te gaan eet,” sê hy, “en môre kan ons jou bagasie op die stasie gaan kry. Het jy die nodigste hier?”

“O ja. En ek weet dis jou kosbare werkstyd, ek waardeer dit alles.”

“My plesier. Soos jy sien, is hier ’n bietjie huisraad.”

“En tot kombuisgoedjies,” vul Nelis aan. Bont, maar bruikbaar.

“Ek weet hier kort ’n yskas. Ons het ’n orige een, maar nie groot nie. Paraffien, as jy daarmee sal kan werk. As dit ook tot môre kan wag?”

“Môre sal doodreg wees,” reageer Nelis gretig. “Ek sal tot dan regkom.”

“My vrou sal vir jou kosgoedjies saamgee vir vanaand en môreoggend.”

“Baie dankie, ek is bra onvoorbereid.”

“Jy het nie dalk aan losies gedink nie?”

“Etes miskien, maar ek sien die meeste huise is net te ver.” Sy ander voorbehoude deel hy liewer nie. “Die mense werk ook almal hard en wil vir seker nie met ’n loseerder opgeskeep sit nie.”

“Jy lyk nie na ’n veeleisende ou nie. As my eie Jane nie haar hande so vol gehad het nie … Behalwe die kinders, pas sy my verswakte pa op en die oubaas order haar goed rond.”

“Dankie, ek verstaan heeltemal. Sy klink die goedheid vanself.”

“O, sy is. Nou, kom ons ry.”

Op pad is dit duidelik dat Dewald vol is van iets wat hy moet opper. Dan laat hy hoor: “Om die eerlike waarheid te sê, iemand het reeds aangebied om jou te loseer.”

“O so. En wie weet dan al van my?”

“Mevrou Thirion; ek dink jy het reeds haar dogter ontmoet.”

“Dis reg.” Nelis voel ietwat afgehaal. Hulle het pas die vaal huis van die Thirions verbygesteek, en nou die winkel. Dewald bly ondertoe af teen die grootvoor.

Dis dan seker deur bemiddeling van Nida Thirion dat die aanbod gerig word. Sy het beslis nie die paadjie vol duwweltjies laat word nie. Hy wens hy het haar liewer nog nie ontmoet nie, dan kon hy nie dink dat sy uit bejammering of pligsgevoel optree nie.

Dis asof Dewald sy gedagtes raai: “Mevrou Thirion het gebel net voor ek na jou toe gery het. Skoon uitasem, bang sy vang my nie meer tuis nie. Jane moes my van die bakkie af inroep.” Hy gee weer sy dralende laggie: “Ek was nogal verbaas, sy is ’n eenkant mens. Weet nie of sy die geldjie nodig het nie. Haar boeke is duister om te lees.”

“Ek sal daaroor dink,” beloof Nelis terwyl hulle stilhou voor Dewald se huis, een van die laastes voordat die rantjies verder wes oorneem. Hy weet nie wat om van die aanbod te dink nie. Dis vir hom bra halsoorkop. Mevrou Thirion moes dus vir Dewald gebel het pas nadat haar dogter tuis kom eet en vertel het. Voordat Boel vir Nida weer vir die namiddagskof by die winkel kom oplaai het?

Hy probeer die saak eers na sy agterkop toe skuif. “Dink jy dit sal reg wees as ek môre haar aanbod opvolg? As ek al my besittings by my het en kan beraam hoe ek sal regkom?”

“Dis goed, ek sal haar so laat weet. Vind eers jou voete in jou eie plek. Partykeer het ’n mens bietjie alleenheid nodig.”

Wat ’n uitsonderlike man, dink Nelis. Hy voel dat hy reeds een vriend het. Boel tel nie, en Nida … wat is haar motief? Jammerte? Of het sy niks met haar ma se aanbod te doen nie?

Soos Dewald sê, dis goed dat hy die eerste aand alleen in die skoolhuis is. Die skemeruur kan ’n aanduiding gee of sy lewe daar draaglik sal wees. En dit kan weer afhang van presies hoe hard die rivier in die diepste holtes van die nag raas; of dit hom lok en boei, en of dit hom dalk tog verskrik en afstoot.

Louisa du Toit Omnibus 11

Подняться наверх