Читать книгу Gedaantes en Geraamtes-omnibus 3 - Louise Prinsloo - Страница 11
Оглавление8
Wikus sluip tot by die kleinhuisie se binnedeur. “Het jou!” roep hy en pluk die deur oop, maar al wat hy sien, is ’n hopie tydskrifte wat langs die toilet opgestapel lê.
Dronkgeslaan stap hy nader, tel die boonste tydskrif op en blaas die ergste stof van die voorblad af. HUISGENOOT staan in groot wit blokletters op ’n rooi agtergrond geskryf, met 3 Februarie 1988 direk daaronder. Prinses Diana se glimlaggende gesig loer vir hom uit die verkreukelde papier. Ingedagte begin hy blaai.
Die tydskrif is amper nog dieselfde, dink hy toe hy advertensies vir hondekos, verskillende soorte verslankingsmiddels en artikels sien.
Daar’s iets oor ’n brand op Tafelberg, foto’s van die wenners van ’n Valentynswedstryd en Raaiselpret. Die kleurfoto van branderplankryers trek sy aandag. Maar . . . dis mos Mosselbaai! Sy oë gly oor ’n artikel oor Bartholomeus Dias wat op 3 Februarie 1488 by Munrobaai voet aan wal gesit het. Hy blaai na die volgende bladsy en snak na asem toe hy die dik swart letters van ’n opskrif lees:
MOSSELBAAI GIS NA 6 DEKADES NOG OOR VERDWYNING VAN EEN VAN SY KLEURRYKSTE KARAKTERS
“Ag nee!” kreun hy. Die res van die artikel is uitgeskeur. Teleurgesteld maak hy die tydskrif toe en stap terug na die voorhuis waar die ander twee besig is om hulle slaapsakke op te rol.
“Wie was toe in die toilet?” wil Karel weet terwyl hy sy slaapsak in ’n sak steek en dit met ’n rek vasbind.
“Niemand nie.” Wikus swaai die tydskrif deur die lug. “Kyk wat het ek gekry – ’n stokou Huisgenoot met ’n artikel van Mosselbaai daarin.”
“Wat’s nou so wonderlik daaraan?” wil Giepie omgekrap weet. “Ek skrik my half besimpeld oor hier dalk iemand saam met ons in die huis is, en jy’s bly oor ’n stupid tydskrif!”
“Dis nie ek wat gesê het die huis spook nie,” herinner Wikus hom dadelik. “Dis jy en Karel wat met die liegstorie begin het.”
“Dit was veronderstel om net ’n grap te wees,” mompel Karel.
“Hoe moes ek weet hier gebeur allerhande snaakse dinge?” kla Giepie.
“Ja,” beaam Karel. “Ons wou maar net ’n manier kry om jou te laat saamkom. Dis al.”
“En nou is ek nuuskierig oor die visserman wat verdrink het.” Wikus sien hoe die ander twee hom vraend aanstaar. Hy tik teen die tydskrif. “Dit is hierin . . . of dit was.”
Karel staan nader en wag dat Wikus tot by die regte bladsy kom. “Jammer die hele artikel is nie meer hier nie.”
“Kom ons gaan strand toe,” stel Giepie voor. “Ek soek nou vars lug. Hierdie huis is bedompig. Ek stel regtig nie in ou tydskrifte belang nie.”
“Ja, kom ons waai,” sê Wikus. “Miskien loop ons iemand raak wat ons meer van die geheimsinnige visserman kan vertel.” ’n Glimlag gly stadig oor sy gesig. “Dalk is hy ’n eensame dwaalgees wat nie weet hy’s dood nie en . . .”
“Los nou jou stories en kom,” knip Giepie hom kort.
Die drie stap kombuis toe waar die res van hulle bagasie nog lê. Haastig maak hulle die tasse oop en kry hulle swemgoed. Wikus sluit die kombuisdeur oop en die seuns bondel by die huis uit, elkeen met ’n handdoek om die nek.
Bêêê . . . bêêêê blêr die duikertjie en trippel nuuskierig agterna. Bêêê . . . Bêêêê.
“Sjoe-sjoe,” roep Giepie en waai met sy hande. “Lóóp, jou simpel!”
“Los die bok, man,” sê Wikus. “Hy doen niks.”
“Gaan staan by hom,” roep Karel. “Dan neem ek julle af. Toe, dalk deel julle nog saam met die bok in my roem.”
Giepie lyk nie baie in sy noppies nie. “Wikus, staan jy tussen my en die bok. Ek wil nie langs so ’n creepy ding afgeneem word nie.”
“Een . . . twee . . . drie . . . Smile!” Kliek! klik Karel se kamera. “Dankie, julle!”
Hulle stap verder strand toe met die duikertjie blêrend agterna.
Wikus snuif-snuif in die lug. “Verbeel ek my . . . of ruik ek vis wat braai?”
“Gister was dit pyptabak,” spot Karel. “Vandag is dit vis. Wat gaan jy môre ruik?”
“Vrot arikreukel,” terg Giepie.
“Daar’s ’n rokie! En waar daar ’n rokie is, is daar ’n vuurtjie!” roep Wikus en hardloop in die rigting waar die rook bokant die seesand dwarrel.
“Ek sien niks.” Karel kyk fronsend rond.
“Dis miswolke,” sê Giepie met sy hand bokant sy oë. “Kom, Karel, ons gaan swem!” roep hy en storm die branders in. Karel volg kort op sy hakke.
Die son skyn met lang strale oor die see. Meeue, strandlopertjies en ander seevoëls wei in die vlak water.
Wikus herken dadelik die figuur wat gehurk langs die vuurtjie sit. Dis die man wat gisteraand by die venster was. Hy het dieselfde mus op en dra dieselfde bruin hemp met opgerolde moue, bruin broek en kruisbande. Aan sy voete is daar waterdigte stapstewels.
“Môre, Oom!” groet Wikus en kom staan langs die man. “Dit lyk lekker.”
“Dit is.” Die man buig vooroor en sny ’n stukkie vis met sy knipmes af. “Proe, dan sê jy of jy van galjoen hou.”
Wikus vat die stukkie vis by die man. “Baie lekker!” sê hy en lek sy lippe af. Maar voor Wikus nog iets kan sê, staan die man op. “Ja, ek is baie lief vir galjoen.” Dan sit hy sy hand op Wikus se skouer. “Carpe diem . . . Gryp die dag!” sê hy en stap sonder ’n verdere woord see se kant toe.
Waar het hy dit al gehoor? Wikus dink ’n rukkie. Dan onthou hy. Dis die woorde wat op die kaartjie gestaan het. Hy lig sy hand en waai agterna. “Carpe diem!” skreeu hy, maar die man is weg.
“En nou, as jy met jouself praat?” wil Karel laggend weet toe hy en Giepie by hom kom.
“ ’n Man het nou net vir my ’n stukkie galjoen gegee wat hy oor hierdie vuurtjie gebraai het.”
“Get real,” sê Karel toe hy oor die stil strand kyk. “Netnou vertel jy ons jy het ’n Marsmannetjie gesien.”
Giepie staar Wikus kopskuddend aan. “Jy beter bykom. Een van die dae sal jy nie meer weet wat’s werklik en wat’s jou verbeelding nie, en dan sit jy met ’n probleem.”
Wikus vererg hom sommer. “Jou pa is die dokter, nie jy nie.”
“Staan nét daar en staar droomverlore uit oor die see,” sê Karel en kry sy kamera gereed. “Dit gaan ’n fantastiese foto wees.”
“Al jou foto’s is altyd fantasties,” brom Wikus wat nog steeds wonder waarheen die man so skielik verdwyn het.
Kliek, kliek! klik Karel se kamera. “Dankie.”
“Die laaste ou in die water is ’n vrot pampoen!” roep Wikus skielik uit en nael see toe.
Karel sit sy kamera haastig op sy handdoek neer en hardloop agter Wikus en Giepie aan.
Hulle swem en baljaar totdat hulle doodmoeg en uitasem op die sand neerplof.
Karel vryf oor sy maag. “Nou’s ek vrek honger.”
“Nóú praat jy!” sê Giepie. “Ek soek net eers ’n beker koffie, dan beter ons na oom Hans-hulle toe gaan.”
Hulle gooi hulle handdoeke om hulle nekke en stap terug na die houthuis toe.
Karel tel ’n mosselskulp op, hou dit teen sy oor en maak asof dit sy selfoon is. “Ja, ja,” praat hy met ’n aangeplakte stem. “Ja, ja . . . Presies. Ja . . . ja.”
“Drie hamburgers met tjips,” sê Giepie in ’n ronde skulp. “En drie Cokes.”
“Ek hoop die agterdeur was ordentlik gesluit,” merk Karel op toe ’n blouapie met ’n appel om die huis vlug.
Die drie kyk grootoog na mekaar – die kos! Hulle gooi die skulpe neer en storm by die kombuis in.
“Vrek . . .” is al wat Giepie uitkry.
Geskok staar hulle na die repe toebroodjiepapier, stukke brood en appelstronke wat oor die vloer gesaai lê.
“Ag nee,” kreun Giepie toe hy die stukkende fles in ’n plas koffie op die vloer sien.
Wikus sluk. “Jammer, ouens . . . Ek kon sweer ek het die deur gesluit.”
“Ek sê mos jy moet bykom,” brom Giepie en buk af om die stukke op te tel. Hy gooi dit in die vullisdrom wat voor die agterdeur staan. “Koebaai, fles.”
Karel maak die geskeurde toebroodjiepapier en tinfoelie bymekaar en gooi dit ook in die drom. “Cheers, ontbyt.”
Wikus gooi die appelstronke by die agterdeur uit. “Vir die blêrende bok.” Dan trek hy sy jeans en ’n T-hemp aan en grawe sy beursie uit sy tas. “Ek stick julle vir ’n milkshake om op te maak.”
“Ek sou so dink,” antwoord Karel terwyl hy ander klere aantrek.
“Jy beter,” brom Giepie en knoop sy tekkieveters vas. “En dié keer sluit ek.”
Terwyl Giepie die agterdeur toesluit, sien hy hoe Karel en Wikus al begin koers kry na die Lazaretto-begraafplaas. “Julle stap in die verkeerde rigting!” skreeu hy.
“Karel soek nog steeds ’n wenfoto!” spot Wikus oor sy skouer.
“Ag . . . asseblief!” Giepie sug en stap agter hulle aan. “Ek haat begraafplase.”
Nie ver van hulle af nie, stap ’n ou man met sy kierie langs die see. Sy Jack Russell hardloop in die vlak water en hap-hap na die skuim wat oor die sand spoel. Kort-kort staan die man stil en beduie met sy kierie na die bruisende branders. Die hondjie sien die seuns en blaf waarskuwend. Die ou man beduie met sy kierie in hulle rigting. “Julle soek op die verkeerde plek! Hy’s hier iewers.”
“Daai omie is van sy trollie af,” sê Wikus toe hy die begraafplaas se draaihek oopmaak.
“Dis seker oom Gert Mossel,” antwoord Giepie toe hy sien hoe die man met die branders raas. “Hy stap glo elke dag op die strand en praat met homself.”
Karel neem ’n foto van ’n brander wat in sproeireën oor ’n grafsteen breek. “Ouens, ek het nou net my wenfoto geneem.”
“Uiteindelik!” juig Wikus. “Nou kan jy maar jou kamera bêre.”
“Kom ons loop,” sê Giepie en beduie na die ou man op die strand. “Gert Mossel gee my die creeps. Kyk hoe kyk hy vir ons.”
“Lyk my alles gee jou die creeps,” sê Wikus en slaan Giepie se boarm. “Jy moet ook maar bykom, my ou,” lag hy en koes vir ’n hou wat Giepie na hom mik.
Langs die pad gaan hulle gou in by Kodak Express wat net tot eenuur oop is en Karel besluit vinnig watter foto’s hy wil laat druk.
Terwyl hulle daarvoor wag, gaan drink die drie vriende melkskommels by die Swart Mosselkafee. Wikus kyk belangstellend rond. Eenkant teen die muur staan ’n musiekkas waaruit sestigermusiek weerklink. Groot plakkate van Leonardo de Caprio, Madonna, Celine Dion en ander akteurs en sangers pryk teen die mure. Dan vang sy oog ’n kennisgewingbord met koerantknipsels op:
HOUTHUIS IN HUCKLESTRAAT GAAN GESLOOP WORD
“Ek sien daar’s ’n koerantberig oor die houthuis wat gesloop gaan word,” sê Wikus toe hy die kelner betaal.
“Ja, dis hoog tyd,” antwoord die kelner. “Dit staan op prime grond en . . . Toemaar, dis in elk geval net stories.