Читать книгу Gedaantes en Geraamtes-omnibus 3 - Louise Prinsloo - Страница 7
Оглавление4
Ná ’n paar kronkels en draaie ry hulle teen ’n steil bult uit en hou voor groot, swaar ysterhekke stil. Teen die pilaar pryk ’n geelkopernaambord met UITSIG daarop gegraveer. Giepie se pa leun by die venster uit en druk die interkomklokkie. “Hallo! Ons is hier!”
Die groot hekke swaai stadig oop en hulle ry tussen ’n laning akkerbome deur en hou dan voor ’n dubbelverdiepinghuis stil. Giepie se pa skakel die 4x4 af en almal bondel uit.
Wikus se oë gly oor die grasperk waar twee tente opgeslaan is – ’n groterige een en ’n kleintjie. ’n Groepie kinders speel touch rugby terwyl ’n paar kleuters op die klouterraam te kere gaan. “Dankie tog ons slaap in die houthuis,” fluister hy onderlangs. “Ek sien nie kans vir daardie spul kleintjies nie.”
“Ek ook nie.” Karel hang sy kamera oor sy skouer. “Hulle is dood voor die nag om is.”
’n Goudgeel Volkswagen met ’n branderplank op die dak kom snorkend nader en hou met ’n ruk tussen die 4x4 en die rondawel stil. “Dis my neef,” verduidelik Giepie toe ’n jong man in ’n swart duikpak uit die Volksie klim. “Haai, Ross! Hoe was die surf?”
“Great!” Ross kom nader gestap. Sy bors- en dyspiere bult onder sy duikpak. Hy haal sy sonbril af en skuif dit ongeërg oor sy klam blonde hare. “Maar die water is vrek koud.” Hy beduie met sy kop na die branderplank op sy motordak. “Ek moet eintlik swot, maar ek het net gou ’n break gevat . . . Hallo, oom Bert . . . tannie Netta . . . Haai, julle ouens,” groet hy die seuns.
“Hallo, hallo, hallo!” roep ’n frisgeboude gryskopman terwyl hy by die trappies afkom. “Hallo, Sus . . . Bert,” groet oom Hans die Viljoens. “Het julle darem goed gery?”
Twee swart Skotse terriërs kom uitgelate aangestorm. “Skottie . . . Mac!” raas hulle baas toe die honde teen Wikus opspring. “Af!”
“Nee, dis oukei,” lag Wikus en vryf die honde se koppe. “Ek’s mal oor diere.”
“Kan ek Oom aan my pelle voorstel?” sê Giepie. “Die een wat lyk of die kamera aan hom vasgegroei het, is Karel. En dis Wikus. Hy weet alles van spoke af.”
Oom Hans groet die seuns met ’n stewige handdruk. “Aah . . . ’n fotograaf en ’n spookkenner!” roep hy laggend uit. “Wonderlik!” Hy tel sy suster se tas op. “Kom, die koffie wag.”
“Hallo, almal,” groet tannie Letsie toe sy op die stoep uitkom en elkeen soengroet. “Ek sê mos altyd, hoe meer siele, hoe meer vreugde!”
Sy lei hulle binnetoe en beduie na die buffet waarop die koffiemasjien staan en pff . . . pff.
“Kry vir julle. Of as julle manne eerder iets koels wil drink – daar’s Coke en vrugtesap in die yskas.”
“Dankie, Tannie,” sê Giepie en wys vir Wikus-hulle om hom te volg. Maar hulle steek in hulle spore vas toe tannie Letsie skielik agter hulle vra: “Waar’s julle tasse en slaapsakke? Gaan julle nie in die tent slaap nie?”
“Nee, Tannie,” antwoord Wikus opgewek. “Ons slaap in die houthuis. Dis te sê as Tannie nie omgee nie.”
Karel en Giepie verdwyn by die kombuis in en Wikus sien hoe tannie Letsie verstyf. Dis asof daar ’n sluier oor haar oë kom, maar dan ontspan sy skielik en lag.
“Dis reg met my as dit reg is met julle, maar julle moet net onthou die huis staan al maande leeg. Dis baie stowwerig daar. Ek sal môre vir Agnes vra om ’n bietjie te gaan skoonmaak.”
“Maak nie saak nie.” Wikus vryf sy hande teen mekaar. “Ek wil graag . . .”
“Kom kry jou Coke,” knip Giepie hom vinnig kort en sleep hom aan die arm weg. “Dan wys ek jou sommer my oom se vertoonkas.” Hy wink Karel nader. “Ek’s seker jy’t nog nooit só iets gesien nie.”
Ná ’n ruk staan die drie, elkeen met ’n glas yskoue Coke in die hand, voor ’n lang glaskas in oom Hans se studeerkamer. In die kas is iets van alles: seldsame skulpe, sleutels van alle groottes, teelepels en knope, geelwit koerantknipsels, tydskrifartikels en ’n verflenterde musiekboek.
“Jis!” fluister Wikus. “Waar kry jou oom al hierdie interessante goed?”
“Ag, hy tel dit op die strand of rommelhope op. Partykeer lê dit sommer los rond in die huise wat gesloop moet word.”
“Kyk daardie platgedrukte teelepel!” sê Karel. “Waar kom dit vandaan?”
“Ek het dit eendag toevallig met laagwater tussen die rotse opgetel,” antwoord oom Hans skuins agter hom. “Ek dink dit kom van een of ander skip af.” Hy gee ’n paar tree in die rigting van ’n ronde tafel. “Kyk wat het ek nou die dag op ’n rommelhoop gekry.”
“Whau!” roep die seuns en bondel nuuskierig om ’n ou trekklavier saam.
“Ek wonder wie was so simpel om dit weg te gooi,” merk Giepie op. “En nogal ’n Hohner Student . . .”
Karel haal sy kamera van sy skouer af en neem ’n foto. “Ek het al baie goed afgeneem,” grinnik hy verleë toe hy sien hoe oom Hans hom vraend aankyk, “maar nog nooit ’n stukkende trekklavier nie. Miskien is dit nog die foto waarmee ek gaan wen.”
“Die ou wat dit weggegooi het, het seker huis skoongemaak soos my ma,” merk Wikus skertsend op. “Sy gooi mos alles weg wat in haar pad is – of my pa dit nog gebruik of nie. As sy dink dit hoort op die ashoop, moet dit weg!”
Giepie buk laer af oor die trekklavier en bekyk dit van alle kante. Hy druk hier en trek daar en draai dit om . . . “Dit het nie meer ’n deksel nie, die ysterstafies is gebreek en van die houthamertjies se koppe is af. Die Middel C is weg en van die ander note is effens skeef.”
Wikus buk ook om die trekklavier van nader te bekyk, maar ruk sy kop skielik weg.
“Wat’s dit met jou?” vra Giepie verbaas.
“Die ding het nou net in my gesig geblaas.” Wikus skud sy kop asof hy wil seker maak hy is nog wakker.
“Ag, Wikus,” kreun Karel. “Get real.”
“Is!” stry Wikus. “Ek het die wind . . . lug . . . in my gesig gevoel.”
Oom Hans skud soos hy lag. “Jy’s nou amper net so erg soos tannie Letsie. Sy het my mos nou die dag probeer oortuig die trekklavier spook. Verbeel jou!”
“Ek wens jy wil die ding weggooi,” sê tannie Letsie wat intussen by hulle aangesluit het. “Dis oud en lelik en vol stof, en dan maak dit boonop tydig en ontydig geluide.”
Oom Hans trek sy vrou laggend teen hom vas. “Julle moet haar maar verskoon. Sy het ’n baie lewendige verbeelding.”
“Toemaar, Oom,” Karel beduie met sy kop in Wikus se rigting, “party ander mense ook.”
“Ja, en toe gaan hy sommer vir seconds ook!” voeg Giepie speels by.
Wikus ignorer hulle en blaas die stof tussen die hamertjies en klawers uit.
“Dit lyk of hier ’n naam uitgekrap is,” sê hy en buig vooroor om die letters op die perlemoenkas te probeer lees. “JHR . . .” Die volgende oomblik ruk hy sy hand weg.
“Wat’s dit nou weer?” vra Karel geïrriteerd.
“Iets het my gesteek,” sê Wikus en vryf sy hand.
“Seker maar ’n splinter, wat anders?” sê oom Hans en lag. Hy draai na Giepie. “Jy ken mos musiek. Kyk ’n bietjie of dit nog kan speel.”
“Ek speel eintlik kitaar, maar ek sal probeer, al is hier ’n paar goed weg.”
Giepie tel die trekklavier versigtig op en hang dit om sy nek. Dan plant hy sy bene uitmekaar, steek sy linkerhand deur die kort leerband en druk sy vingers op die ronde swart knoppies terwyl hy sy regterhand oor die wit en swart klawers sprei.
Eeuuu . . . eee . . . aah . . . euuu . . . ieeee . . . aaah.
“Sien,” sê tannie Letsie toe die wanklanke by die instrument uitborrel. “Die ding het nou die dag net so gekreun.” Sy vryf oor haar arms. “Ek kry skoon hoendervleis.”
“Dis toe klein Hansie daarmee gespeel het,” antwoord oom Hans. “Hoeveel keer moet ek nog vir jou sê daar’s nie ’n manier dat dit sommer vanself geluide kan maak nie.”
Tannie Letsie snork verontwaardig en probeer hard om nie gespanne te lyk nie, maar Wikus kan sien iets omtrent die trekklavier ontstel haar.
“Hansie was nie eens hier toe ek dit die eerste keer gehoor het nie,” sê sy afgemete.
“Dis van pure ouderdom dat hy so kreun,” sê Karel en vryf versigtig oor die leervoue. “Het Tannie gesien hoe geskif is die blaasbalk?”
“Mmm . . . ja,” antwoord tannie Letsie afgetrokke. Sy hou haar kop skeef en snuif-snuif in die lug. “Verskoon my, asseblief. Ek het vis in die oond.” Sy stap haastig kombuis toe.
Giepie druk ’n paar akkoorde terwyl hy die blaasbalk stadig heen en weer trek.
Eeuuu . . . eee . . . aah . . . euuu . . . ieeee . . . aaah.
“Wow-wowooooééé!” maak Wikus soos ’n hond wat vir die volmaan tjank. “Wow-wowéé!”
Oom Hans lag. “Nee wag, soos julle nou te kere gaan, sal julle enige spook wakker maak.”
Giepie se oë rek groot. “Oom moenie sulke dinge sê nie, veral nie as Wikus by is nie.”
Karel stel sy kamera. “Wikus, hou jou pose! Staan nader aan Giepie . . . ek wil hierdie foto hê.” Kliek! klik die kamera en dan is die geheuestokkie vol.
“Ag, nee! Het ek so baie foto’s geneem? Gelukkig het ek ’n ekstra memory stick saamgebring. Ek hoop maar Kodak Express is môre oop,” kreun Karel.
“Miskien,” sê oom Hans. “Dis Goeie Vrydag, maar sommige winkels en besighede is wel tot twaalfuur oop.”
Wikus loer by die venster uit toe hy voetstappe oor die tuinpaadjie hoor knars. “Oom, daar’s iemand by die voordeur,” sê hy toe hy ’n dringende klop aan die deur hoor.
“Dis seker die wind,” antwoord oom Hans. “Hier waai hy mos nes hy wil.”
“Oupa! Oupa!” roep klein Hansie en storm by die studeerkamer in met ’n koevert in sy hand. “Hier’s vir Oupa pos. ’n Oom het dit gebring.”
Ingedagte neem oom Hans die koevert. “Dankie, Oupa se kind. Ek wonder hoe het die man by die veiligheidshek ingekom?” Hy draai na Wikus. “Ek skuld jou ’n verskoning. Lyk my jou ore is beter as myne.”
Nuuskierig skeur hy die koevert oop en lees die boodskap op die kaartjie:
Carpe Diem . . . Gryp die dag!
Oom Hans glimlag. “Daar’s net een mens wat so ’n boodskap vir my sal stuur, en dis dominee Willers.”
Die geur van varsgebakte kabeljou dwarrel saam met tannie Letsie die eetkamer binne.
“Kom kry vir julle,” sê sy toe sy die warm erdeskottel op die buffet by die ander kosbakke neersit. Vir die kleintjies het sy in die kombuis gedek en sommer daar vir hulle opgeskep.
“Soetpatats . . . gebraaide aartappels en mengelslaai. Die borde, messe en vurke is aan die onderpunt van die tafel.” Sy kyk op toe oom Hans by die vertrek inkom. “Wie was netnou by die deur?”
“Die posbode.” Hy haal die kaartjie uit sy hempsak en gee dit vir haar om te lees. “Tipies dominee Willers, dink jy nie?”
Tannie Letsie knik haar kop. “Ja, die ander mense bel of stuur ’n SMS.”
Nadat oom Hans die seën gevra het, smul almal aan die heerlike kabeljou wat hy self gevang en tannie Letsie volgens haar eie geheime resep voorberei het.
Dan lui die telefoon skielik.
Oom Hans stap haastig uit en praat ’n rukkie voor hy fronsend terugkom. “Dit was dominee Willers; hy sê groete vir almal. En ek het hom gevra oor die kaartjie. Hy sê hy’t dit nie gestuur nie.”
“O . . .” Tannie Letsie skuif ongemaklik rond. “Nou van wie was dit dan?”
Ná poeding en koffie gaan Giepie se ma-hulle en die ander grootmense in die sitkamer sit en gesels terwyl die kleintjies hulle slaapsakke en beddegoed opgewonde vir die TV-kamer en tentslapery regkry.
Oom Hans vra verskoning en stap kombuis toe om die houthuis se sleutel te kry. Hy steek sy hand na die sleutelrak uit en frons. “Letsie!” roep hy. “Waar’s die houthuis se sleutel? Ek sien dit nie?”
“Op sy plek . . . en as dit nie daar is nie, is dit seker nog in jou oorpak se sak,” sê sy en kom haastig by die kombuis in.
“Ek dag ek het dit hier gehang,” sê oom Hans dronkgeslaan, “maar ek sal al my oorpakke deurgaan.”
“Hoe lyk die sleutel, Oom?” vra Wikus en stap nader. “Dan help ons gou soek.”
“Mmmm . . . laat ek dink. Dis geelkoper en,” hy beduie met sy duim en wysvinger, “ongeveer twintig sentimeter lank en as ek reg onthou, staan daar UNION op die sleutelkop. Dit hang aan ’n pienk skulp. Julle kan dit nie miskyk nie.”
Die seuns soek oral: onder die stoele, banke en buffet, op elke kas en in elke laai, agter die yskas en tot selfs in die koskas – maar die sleutel is nêrens nie. Oom Hans deursoek al sy oorpakke en broeksakke, maar kry nie die sleutel nie.
“Kyk wat het ek gekry!” roep tannie Letsie triomfantelik toe oom Hans kopskuddend by die eetkamer inkom. “Ek sê mos jy kan nie soek nie.”
“Dankie, vrou, maar ek sou beslis nie so ’n verwoede soektog op tou gesit het as die ding op sy plek was nie.”
“Wel, dan was dit seker maar een of ander spook wat dit gevat en weer teruggesit het,” spot Wikus.
Hy sien hoe sy verbleek en onrustig oor haar skouer loer. “Jammer, Tannie. Ek het net ’n grap gemaak.”
“Ek hou nie van sulke grappe nie,” antwoord sy gespanne. “Veral nie as daardie ou trekklavier my reeds so ongemaklik maak nie.”
Sy haal twee ander sleutels van die rak af. “Hierdie een is vir die spens,” sê sy en gee dit vir Giepie. “Daar is beskuit, kerse, blakers, vuurhoutjies en alles wat julle nodig sal kry. En hierdie een sluit die pakkamer oop. Daar lê matrasse wat ongelukkig baie oud en verweer is, maar sal help dat julle nie té hard slaap nie. En onthou om my selfoon saam te neem.”
Karel haal sy selfoon uit sy hempsak. “Dis nie nodig nie, dankie, Tannie. Ek het een. Gee asseblief net Tannie se nommer vir ons.”
“Bel as julle iets nodig het,” sê tannie Letsie en skryf haar selnommer en hulle landlynnommer op ’n stukkie papier en gee dit vir Karel. “Of sommer as julle bang voel.”
“Bang voel?” Wikus frons. “Hoe bedoel Tannie nou?”
“Ag . . .” Sy vroetel aan haar rok se kraag. “Die huis staan so eenkant. Dis maar al.”