Читать книгу Gedaantes en Geraamtes-omnibus 3 - Louise Prinsloo - Страница 8

Оглавление

5

“Ek gaan trek solank die jeep uit,” sê oom Hans later en fluit vir Skottie en Mac wat hom opgewonde volg.

Nie lank daarna nie sleep die seuns drie gehawende matrasse uit die pakkamer en sit dit agterin die jeep. Hulle pak ook alles wat hulle dink hulle sal nodig kry in ’n stewige kartondoos. Dan kry hulle gou hulle bagasie uit die motor en sit dit ook in die jeep.

Hulle gaan groet vir tannie Letsie en Giepie se ma-hulle en almal wat nog in die rondte is.

Oom Hans wag in die jeep, die twee Skotse terriërs sit voor langs hom en Wikus, Karel en Giepie moet maar agter inklim.

“Uiteindelik!” lag oom Hans. “Ek dog julle gaan nooit klaar gepak kry nie.” Hy skakel die enjin aan, trek stadig weg en ry in die rigting van die houthuis.

Behalwe vir die volmaan wat deur die yl vlieswolke skyn en die jeep se kopligte is daar geen ander lig nie. In die verte kom die skuimende branders soos wilde seeperde aangerol. Die fosfor blink silwer op hulle maanhare.

Sover hulle ry, wys oom Hans plekke aan die seuns uit. “Daar’s die Lazzaretto-begraafplaas . . .” beduie hy na grafte wat tussen die see en die land staan. “Die oudste leesbare grafsteen dateer uit 1809. Die ander is so deur die tyd verweer dat die name en datums heeltemal onleesbaar is.”

Wikus staar na die grafstene wat soos skewe vingers na die volmaan wys.

Giepie ril. “Ek háát begraafplase. Veral in die aand. Dis baie . . . uhmm . . . grillerig en spokerig.”

“Begraafplase,” sê Karel en stel sy kameralens voor hy soos ’n vlermuis by die venster uithang om die maanverligte grafte af te neem, “is een van my gunstelinge. Dit maak baie kunstige foto’s.” Hy lag. “Dis nou te sê as die fotograaf weet wat hy doen.”

“Jy wen darem gewoonlik een of ander prys met jou foto’s,” merk Giepie droog op.

Oom Hans verwissel van rat. “Daar is ’n bygeloof wat sê dat spoke bang is vir water en daarom het die vroeëre mense die begraafplaas so na as moontlik aan die see aangelê.”

“Dit hang af watter soort spook dit is,” sê Wikus. “Landspoke en lugspoke is bang vir water, maar seespoke sweef vreesloos oor die water.”

Oom Hans lag uit sy maag. “Nou toe nou, jy klink regtig soos ’n kenner.”

“Wikus ken tot die verskil tussen ’n verskynsel, gedaante, poltergees en ’n dwaalgees,” sê Giepie trots. “Of so sê hy.”

Hulle ry verby ’n paar lendelam huise wat onbewoon is. “Hier,” beduie oom Hans met ’n breë handgebaar, “kom nuwe uitbreidings. ’n Mens kan maar sê Mosselbaai gaan sy eie Waterfront kry . . .”

“Pas op, Oom!” skree Wikus skielik. “Daar’s ’n man in die pad . . .”

Oom Hans trap so hard rem dat die seuns se koppe ruk en die honde van die voorste sitplek aftuimel.

Wikus staar verleë na die pad. “Nee, nou . . . nou weet ek nie,” stamel hy. “Hy’t seker so geskrik dat hy tussen die bosse ingevlug het.”

“Mannetjie,” sê oom Hans kwaai, “as jy my vir die gek hou, is daar groot moeilikheid.”

“Nee, Oom! Daar wás ’n man. Ek het hom gesien.”

“Dit sê niks,” brom Giepie en vryf sy kop.

“Hier’s nog heelwat kleiner wildsbokkies, blouapies en ’n paar bobbejane,” sê oom Hans toe hy weer die enjin wat intussen gestol het, aanskakel en verder ry. “Dalk was dit een van hulle.” Hy klink nou nie meer so omgekrap nie.

“Hier is veral een duikertjie wat hondmak is – so ’n witterige bokkie met kort, regop horinkies. Ons noem hom sommer Bokkie, want die rammetjie en ooitjie lyk dieselfde. “Kyk!” roep oom Hans en wys na die strand. “Daar’s hy nou!”

“Wat gaan van hom word as hier nuwe uitbreidings kom?” wil Wikus bekommerd weet toe hy sien hoe die silwergrys bokkie alleen op die strand ronddwaal.

“Ou Gert Mossel sal seker vir hom sorg,” antwoord oom Hans. “Hy dink mos dié strook strand behoort aan hom.”

Hoe nader hulle aan die afgeleë houthuis kom wat heel op die punt van die doodloopstraat staan, hoe stiller word die seuns.

Hulle hou voor die agterdeur stil. “Ek het nie meer die voordeur se sleutel nie. Maar dit maak nie juis saak nie. Die huis word in elk geval gesloop.”

Oom Hans skakel die enjin en hoofligte af en trek die handrem vas. Hy maak die jeep se deur oop en klim uit. “Die volmaan is so helder, ons het amper nie eens ’n flits nodig nie,” sê hy en stap om die voertuig om die goed te begin aflaai.

Die twee terriërs tuimel blaffend agterna en snuffel aan die skulpe en vygiebosse. Hulle blaf uitgelate en hardloop in sirkels voor hulle koers kry strand toe.

Wikus voel die seebries teen sy gesig. Dis koud en klam. Hy trek sy asem diep in, frons en snuif-snuif in die lug. “Het Oom nou net Oom se pyp opgesteek?” vra hy nadat hy en sy vriende uitgeklim het.

“Nee, definitief nie. Ek het nie eens my pyp saamgebring nie. Hoekom?” vra oom Hans.

“Ek ruik tabakrook. Ek weet, want my oupa rook pyp.”

Oom Hans maak ook ’n paar snuifgeluide in die lug. “Nee . . . ee,” sê hy stadig en skud sy kop. “Ek ruik net die see . . . en vis.”

“Dis eintlik jammer dat so ’n mooi ou plek gesloop moet word,” mymer Karel hardop terwyl sy oë oor die simmetriese houthuis gly. Daar is twee hoë vensters aan weerskante van die agterdeur en op die dak twee regop skoorstene.

“Die huis lyk nes ’n Kaapse ooruil met sy blink oë en horinkies.” Wikus lag en beduie na ’n aangelapte kamertjie. “Dit lyk skoon uit plek uit.”

“Dis die toilet, of kleinhuisie soos die oumense gesê het,” antwoord oom Hans. “Toemaar,” voeg hy vinnig by toe hy die seuns se geskokte gesigte sien. “Julle hoef nie in die nag buitentoe te gaan as julle dit wil gebruik nie. Daar is ’n binnedeur wat die toilet met die badkamer verbind.”

Giepie trek sy sweetpakbaadjie stywer teen sy lyf. “Die plek gee my die creeps.”

Maar Karel is in vervoering. “Jis . . .” fluister hy terwyl hy sy kamera stel en foto’s neem van die huis wat onheilspellend in die maanlig glim. “Dié plek het karakter.”

“Die meeste Mosselbaaiers dink ook só,” sê oom Hans. “Die inwoners en ontwikkelaars het maande lank oor die toekoms van die seefront gestry, maar uiteindelik het die ontwikkelaars die stryd gewen. Die planne is goedgekeur en die kontrak opgestel en onderteken. Hier waar die huis nou staan, kom ’n restaurant met ’n uitsig oor die see.”

Hoe-whooe . . . hoe-whooe roep ’n uil kort en onheilspellend. Hoe-whooe.

’n Beweging in die kombuisvenster vang Wikus se oog. “Bly hier iemand in die houthuis?”

“Nie sover ek weet nie, Wikus. Hoekom?”

“Ek kon sweer ek het nou net iemand gesien.”

“Ja . . . sure,” spot Karel. “Nes jy die man in die pad gesien het.” Skielik spring hy verskrik weg toe ’n mosselskulp naby hom op die grond neerplof. “Hei!”

“Dis seker ’n blouapie of bobbejaan wat op een of ander manier in die huis gekom het,” sê oom Hans en lag saggies. “Julle moenie skrik as hulle in die middel van die nag oor die dak hardloop nie.” Sy kop ruk toe ’n groterige skulp hom tref. “Wat de dinges . . .”

“Wikus!” roep Giepie toe ’n skulp hóm teen die kop tref. “Ek dink nie jy’s snaaks nie.”

“Dit was g’n ek nie! Hoekom kry ek altyd die skuld vir alles?”

Oom Hans snak na asem toe nóg ’n skulp hom skrams teen die kop tref. “Giepie . . . Wikus . . . kry die flits. Dis onder my sitplek. Gou!”

Giepie val amper oor sy voete soos hy omdraai om die flits te kry. Wikus is voor hom by die jeep, haal die flits onder die sitplek uit en hardloop daarmee terug.

“Dankie,” fluister oom Hans en skakel dit aan. Die volgende oomblik tref ’n hand vol seesand hom teen sy rug. “Wie’s daar?” roep hy en lig met die flits rond.

Iewers kraak ’n tak.

Grr . . . hhhu . . . grr . . . hhhu . . . kom die sagte waarskuwende grom van ’n bobbejaanmannetjie vanuit die bosse.

Skielik kom Skottie en Mac tjankend om die hoek van die huis gehardloop en stamp amper die swart vullisdrom om. Holderstebolder spring hulle by die jeep se halfoop deur in en gaan sit styf teen mekaar. Hulle ruk soos hulle

bewe.

Oom Hans lig met die flits in groot sirkelbewegings. “Dit moet die bobbejaan wees wat hulle so laat skrik het,” fluister hy toe hy sien hoe die struikgewasse tril.

Dan is alles stil. Die enigste geluide is die eentonige geroep van krieke, die branders wat reëlmatig oor die rotse breek, en oom Hans en die seuns se skoene en tekkies wat op die sand girts.

“Ek dink julle moet maar begin aflaai,” stel oom Hans voor. “Wat ook al die honde bang gemaak het, is nou weg.”

Wikus maak die jeep se agterste flap oop en probeer die boonste matras uithaal, maar kry dit nie reg nie. Hy klim in die voertuig.

“Karel, Giepie. Kom help!” roep hy en beduie waar hulle moet staan. “Trek julle aan daardie kant, dan stoot ek diékant.”

Karel sit sy kamera eenkant neer. Dan gaan staan hy wydsbeen, gryp die matras met albei hande vas en trek so hard as wat hy kan. “Stoot, Wikus!” roep hy tussendeur. “Stoot, man!”

Wikus kreun soos hy die matras vorentoe probeer druk. “Giepie . . . Help trek! Het jy pap in jou hande? Trek, man!”

“Nou wat dink jy doen ek?” Giepie byt op sy tande en pluk asof hy aan ’n toutrekkompetisie deelneem.

Oom Hans skud soos hy lag. “Julle kan darem lekker aansit. By die huis het julle die matrasse sonder enige moeite in die jeep gelaai, nou kry julle dit kamtig nie afgelaai nie.”

“Maar toe het die ding nie aan iets vasgehaak nie,” steun Giepie rooi in die gesig.

Wikus buk af en druk bondels klapperhaar wat by ’n skeur in die materiaal uitpeul terug. Hy kom regop, haal diep asem en stoot die matras met al sy krag. Die volgende oomblik skiet die ding so vinnig vorentoe dat Karel en Giepie omval.

“Hei! Wat máák jy?” roep Giepie waar hy plat op die grond lê.

Karel is woedend. “Ons het nie gesê stamp ons om nie! Jy kan bly wees ek het nie op my kamera geval nie.”

Wikus proes van die lag. “Skuus, julle! Die matras het uit my hande gegly.”

“Nonsens, man! Jy’t ons aspris omgestamp.”

“Jy’s lekker moedswillig,” brom Giepie. “Ek dink glad nie jy’s snaaks nie.”

“Dis julle wat nie die ding . . .”

“Sal julle drie nou ophou stry!” raas oom Hans. “Laai die matrasse af en kry klaar. Ek het kuiergaste by die huis, indien julle vergeet het.”

“Goed, Oom . . . Jammer, Oom!”

Die seuns sleep die matrasse sonder enige verdere moeite uit die jeep. Hulle haal ook die ander bagasie en kartondoos met kruideniers- en kombuisware uit. “Oom kan maar ry!” roep Giepie. “En dankie dat Oom ons gebring het.”

“Nou ja, dan groet ek maar,” sê oom Hans terwyl hy die jeep se enjin aanskakel. “Julle kan môre sommer terugstap. Dis nie ver nie . . . Amper vergeet ek,” sê hy en haal die houthuis se sleutel uit sy broeksak en gee dit vir Giepie. Hy waai deur die oop venster. “Lekker slaap!”

Hulle kyk oom Hans agterna totdat die remligte net rooi spikkels in die verte is.

Die volmaan skuif agter ’n paar vlieswolke in.

Gedaantes en Geraamtes-omnibus 3

Подняться наверх