Читать книгу Gedaantes en Geraamtes-omnibus 3 - Louise Prinsloo - Страница 9
Оглавление6
Giepie trap ongemaklik rond en maak sy keel skoon. “Wikus . . .” begin hy versigtig. “Uhmmm, daar is iets wat ek . . . ons jou moet vertel.”
“Ja . . . aa?” vra Wikus met een wenkbrou gelig. “Wat?”
Karel skop-skop na ’n paar verbrokkelde skulpe op die grond. “Ek . . . uhmmm . . . het sommer . . . uhmmm . . . gespeel . . . toe ek . . . uhmmm . . . gesê het die huis spook.”
“Wat!” Wikus staar Karel met ’n mengsel van skok en ongeloof aan. “Jou flippen . . . En om te dink ek het jou geglo!” Hy draai na Giepie. “Het jy dit geweet?”
“Ja . . . uhmm . . . ek . . .” Giepie knak sy kneukels. Eh . . . ek . . . uhmm . . .”
“Ek dog ons is pelle,” verwyt Wikus.
Karel sluk. “Jammer, maar dit was die enigste manier om jou te kry om saam te kom.”
Giepie slaan sy arm om Wikus se nek. “Jy is so ’n lekker pel. Hoe kan ons vir ’n hele naweek sonder jou weggaan?”
Wikus glimlag en haal sy skouers op. “Toemaar, julle is vergewe. Maar julle doen dit nooit weer nie, veral nie as dit oor spookhuise gaan nie.”
“Nooit,” belowe Karel plegtig asof hy ’n eed aflê.
“Ek ook nie,” belowe Giepie met sy vuis teen sy bors soos ’n soldaat wat op aandag staan en na die Volkslied luister. “Nooit weer nie.”
Skielik fluister Wikus: “Ek hoor iets in die huis.”
“Dis muise,” sê Giepie met ’n dun stem. “Of miskien is dit die blouapies. Jy het mos gehoor oom Hans sê hulle is volop hier.”
“Of rotte,” voeg Karel by. “Ons het eenkeer net só een gevang,” beduie hy. “Die ding was amper so groot soos ’n kat. Genuine!”
“Kyk, ek weet presies hoe klink rotte en muise se gevroetel,” antwoord Wikus ongeduldig. “Ek sê vir julle hier is iemand in hierdie huis!”
Joe-hoe . . . hoéééé! hoor hulle vanuit die huis. Joe-hoe . . . hoéééé!
“Ek sê mos daar’s iemand.”
“Dit was ’n uil, man. Hierdie wêreld wemel van gevlekte ooruile,” sê Giepie, maar loer tog benoud rond. Hy vroetel in sy tas en haal sy penflitsie uit. “Kom, ons moet ingaan,” sê hy en loop na die agterdeur toe.
Sover hy gaan, lig hy met die flitsie oor die stil, eensame huis. Wikus en Karel is kort op sy hakke. Dan steek hy die sleutel in die slot en probeer die deur oopsluit.
“Wat sukkel jy so?” wil Wikus ongeduldig weet. “Sluit oop, man!”
Giepie druk die sleutel in Wikus se hand. “Doen jy dit.”
Wikus probeer ook, maar ná ’n rukkie sê hy: “Oom Hans het vir ons die verkeerde sleutel gegee.”
“Wag, ek sal,” sê Karel en gee sy flits vir Wikus. Karel spoeg op die sleutel, vryf dit vinnig teen sy T-hemp en steek dit in die sleutelgat.
“Sien!” sê hy toe die sleutel skielik in die slot kras. “ ’n Mens moet net weet hoe . . .” Sy stem stol in sy keel toe hy ’n proesgeluid agter hom hoor.
Die seuns swaai gelyk om en kyk reg in die duikertjie se vaalwit gesig vas.
“Dis daai simpel bok en dan het hy nog sulke sieklike bleekblou oë ook,” lag Karel gespanne en waai sy arms. “Sjoe! Loop! Sjoe!”
Bêêê . . . blêr die duikertjie en stap stadig weg.
Karel draai die sleutel diékant toe, dan daardie kant toe, maar die deur wil nie oopgaan nie.
“Staan weg!” Wikus beduie vir die ander twee om pad te gee. “Ek sal julle wys hoe maak ’n mens ’n koppige deur oop.”
Hy tree terug, draai skuins en stamp met sy skouer teen die toe deur soos die speurders op TV doen. Die volgende oomblik swaai die deur so vinnig oop dat Wikus met ’n kreun op die voos plankvloer beland.
Karel ruk soos hy lag. “En het jy ons nie gewys nie!”
Giepie giggel en lig met sy penflits oor Wikus. “Jy het nou met die spreekwoordelike deur in die huis geval.”
“Baie snaaks.” Wikus trek ’n lang splinter uit sy broekspyp en staan stadig op. “Die plankvloer is vrot van ouderdom . . . Dié huis het jare leeggestaan. Nie maande nie.”
Giepie stap voetjie vir voetjie oor die drumpel. “Sies! Ga! Dit stink ene muf en muismis.” Sy neus kriewel van die stof en bedompige reuk. “A . . . tie . . . sjoe! A . . . tie . . . sjoe!” eggo dit deur die leë houthuis. “A . . . tie . . . sjoe!” Hy lig met die penflits deur die kombuis. Daar is iets wat soos ’n koolstoof lyk . . . skoorsteen . . . dakbalke. Giepie skud die flits toe die liggie al hoe flouer word.
“Net jy sal weet hoekom jy daai simpel ding saamgebring het,” sê Wikus. “Waar’s jou groot flits waaroor jy so spog; die een wat soveel lig soos ’n miljoen kerse maak?”
“Duisend kerse,” help Giepie hom reg. “Daar was nie plek in my tas nie,” antwoord hy terwyl hy met sy penflits sukkel.
Tjiééérrr . . . swaai die agterdeur krakend toe.
Al drie swaai verskrik om.
“Dit was seker die wind,” sê Karel en kap sy flits teen sy hand. “Dis waar wat my ma sê; goed word nie meer gemaak om te hou nie. Dis ’n splinternuwe flits hierdie, maar nou wil die simpel ding nie werk nie.”
Wikus vat aan die deurknop. “Eina . . . dêmmit!” Hy ruk sy hand weg. “Dis vuurwarm . . .”
Karel vererg hom. “Hou op aansit man. Dis dalk ’n spinnekop wat jou gebyt het.”
“Of ’n skerpioen wat jou gesteek het,” voeg Giepie proesend by. “Waarvan kan die deurknop nou warm wees?”
“Van wanneer af sit spinnekoppe en skerpioene op deurknoppe?” wil Wikus omgekrap weet. “Ek het my al met ’n strykyster gebrand, ’n spinnekop het my al gebyt en ’n skerpioen het my al gesteek – ek ken die verskil. Kom, voel self as julle my nie glo nie.”
“Nes ek gedink het,” sê Karel. “Die knop is koud, soos dit veronderstel is om te wees.”
Wikus skud sy hand op en af en blaas oor die brandplek. “Môre sit hier sweerlik ’n vet blaas.”
Giepie draai die knop en die deur swaai oop.
“Dan was dit seker maar ’n spinnekop,” sê Wikus en kyk rond, “maar ek sien niks.”
“Ek gaan eers iets soek om hierdie deur oop te hou,” sê Karel en kom terug met ’n stuk mosselskulp wat hy onder die oop deur inskuif. “Nou sal dit nie sommer weer toewaai nie.”
Bêêêê . . . blêr die duiker iewers tussen die vygiebosse.
Giepie loer oor sy skouer. “Kom, julle ouens, laat ons die goed in die huis kry.”
Karel en Wikus sleep die matrasse tot in die kombuis. Dan gaan haal hulle die res van hulle bagasie en sit dit op die vloer neer. Giepie haal die sleutel uit die slot, maak die agterdeur toe en sluit dit.
“Uiteindelik!” roep Wikus uit waar hy tussen die bagasie in die halfskemer huis staan. “Ek dog ons slaap nooit vannag in dié spookhuis nie.”
“Houthuis, onthou,” help Giepie hom reg.
“Net ’n doodgewone houthuis by die see,” herhaal Karel. “Dis al.”
“En sê nou dis dalk rêrig ’n spookhuis?” wil Wikus moedswillig weet. “Sê nou net julle was toe al die tyd reg . . . Dat hier ’n spook ronddwaal . . .”
“Dan sou tannie Letsie dit vir ons gesê het,” antwoord Giepie kortaf. Hy maak die kartondoos oop en grawe kerse, blakers en vuurhoutjies uit. “Al wat ons nou kort, is ’n paar kerse wat brand . . . vir atmosfeer . . .”
“En omdat jy bang is,” terg Wikus.
Giepie maak of hy nie gehoor het nie en vroetel ’n vuurhoutjie uit die boksie en trek dit vinnig teen die swaelstrokie. “Dié goed is deesdae ook so vrot,” sê hy vies terwyl hy die een vuurhoutjie ná die ander probeer aansteek. Uiteindelik kry hy ’n vuurhoutjie getrek en steek ’n paar kerse aan.
“Kom ons gaan kyk hoe lyk die res van die huis,” stel Wikus voor en tel een van die kerse op terwyl hy sy hand beskermend om die flikkerende vlam hou.
Giepie en Karel, elkeen ook met ’n kers, volg Wikus op ’n kort afstand. “Ek het klaar besluit. Ek slaap in een van die voorste kamers, want ek wil die see sien,” sê Giepie beslis.
“Ek stem,” antwoord Karel. “En ek wil . . .”
“Foto’s neem . . . en neem . . . en néém,” sê Wikus sarkasties.
Skielik begin Wikus se kopvel kriewel. Hy trek sy asem vinnig in toe hy iets aan die onderpunt van die gang sien.
“Wat’s dit?” vra Giepie met sy stem hoog in sy keel.
“D . . . d . . . daar staan . . . ’n man . . . Hy . . . hy kyk vir ons.”
“Wáár?” Karel hou sy kers hoër om beter te kan sien. “Ek sien niks.”
“Ek ook nie,” sê Giepie met ’n bewerige stem en vryf oor sy arm.
Dit is skielik yskoud in die huis. Die geur van pyptabak kom stadig by die gang afgedwarrel. “Hier’s iemand in die huis,” sê Giepie benoud en ril.
“Ek sê mos iemand hou ons dop.” Wikus lig sy kers om beter te kan sien.
“Sal julle twee ophou om mekaar bang te praat! Dis die see wat julle ruik,” sê Karel, maar hy staan nogtans nader aan sy vriende.
“Van wanneer af ruik die see na tabak?” wil Giepie weet en lek oor sy droë lippe.
Wikus besef hy sal vir eers maar moet saamspeel. “Miskien is dit tog die seewind wat reuke hiernatoe waai,” sê hy en skuifel versigtig verder, asof hy bang is die plankvloer gee pad onder hom.
“En nou? As julle net daar staan? Komaan!” sê Wikus toe hy besef die ander twee volg hom nie.
Die drie hou by mekaar en beweeg stadig in die gang af. Hulle voetstappe klink hol in die leë huis. Hulle skaduwees dans soos groteske wesens in die kerslig teen die gangmuur.
Geleidelik raak hulle oë gewoond aan die skemer huis soos hulle inloer by al die vertrekke. Die badkamer het net ’n bad wat op pote staan en ’n wasbak. Dan is daar die deur wat na die kleinhuisie lei. Of so lyk dit vir hulle.
Die volgende oomblik begin hulle lag. Alles is skielik vir hulle snaaks: die muise wat rondvroetel en hulle wat met kerse deur die huis skuifel met hulle skadu’s springend en dansend teen die muur.
Hoe . . . whoeee . . . roep iets op die dak. Hoe . . . whoeeee!
Giepie vries in sy spore, maar Wikus trek aan sy arm. “Dis net ’n uil,” sê hy en probeer seker van homself klink. “Kom!”