Читать книгу Gedaantes en Geraamtes-omnibus 3 - Louise Prinsloo - Страница 5
Оглавление2
“Wikus!” bulder Yster, hulle natuurwetenskap-onderwyser, Donderdagoggend. “Hoeveel keer moet ek nog vir jou vra wat is die verskil tussen diffundeer en diffusie?”
“Dis . . . uhmmm . . . wanneer . . . uhmmm . . .” Hy leun oor na Giepie. “Wat’s die antwoord?”
Giepie fluister agter sy hand en Wikus sê: “Diffundeer is . . . soos twee . . . gasse wat versprei en . . . uhmm . . . gelyktydig vermeng. En . . . en . . . diffusie is . . . uhmm . . . diffusie is wanneer twee stowwe gelyktydig vermeng – soos melk en koffie.” Hy stamp aan Giepie. “Dankie,” fluister hy. “Ek skuld jou.”
In die Afrikaanse klas kyk hy kort-kort op sy horlosie. Hoekom gaan die tyd so stadig verby?
“Wikus,” vra juffrou Klein toe sy langs hom staan, “weet jy al waaroor jy gaan skryf?”
Wikus staar haar fronsend aan.
“Die opstel wat julle volgende week moet inhandig. As jy geluister het, sou jy geweet het.”
“O . . . dit!” Wikus glimlag soos ’n oorwinnaar. “Dis presies waaraan ek gedink het! Ek het klaar ’n onderwerp, Juffrou; ek sukkel nog net met die inleiding en die slot.”
Juffrou Klein kyk die blondekopseun geamuseerd aan. “Ek sal in spanning wag,” antwoord sy en gaan voort met die les.
Elke periode daarna voel vir Wikus langer en verveliger as die vorige een. Selfs pouse voel hopeloos te lank en uitgerek. Toe die klok uiteindelik lui, storm hy met sy skooltas by die klaskamer uit, nael fietsloods toe, spring op sy fiets en jaag biblioteek toe.
Ná ’n ruk stap hy met ’n arm vol boeke en ’n paar fotostate van inligting wat hy van die Internet afgetrek het by die biblioteek uit. Hy sit alles in ’n groot lapsak wat hy oor sy skouer gooi, dan klim hy op sy fiets en ry haastig huis toe.
“As jy soveel tyd aan jou skoolwerk bestee as aan spookstories,” raas sy ma toe hy by die kombuis inkom waar sy besig is om hulle padkos gaar te maak, “sal jy die onderskeidings inryg.”
“Ek wás besig met skoolwerk,” antwoord Wikus terwyl hy die lapsak oor die stoelleuning hang. “Ons moet ná die langnaweek ’n opstel inhandig en ek gaan oor ’n raaiselagtige spookhuis skryf.”
Sy ma glimlag net en skud haar kop: “Jy en jou spoke . . .”
Wikus loer na die inkopiesakke wat op die kombuisvloer staan. “Jis! Ma het omtrent goed gekoop!” Hy snuif in die lug. Die geur van gebraaide hoender vul die hele kombuis. “Dankie vir al die moeite, Ma. Ek waardeer dit. Ons sal sowaar nie honger ly nie!”
“Nie sommer nie!” lag sy ma en gee hom ’n drukkie. Dan kyk sy haar enigste seun besorg aan. “Wees asseblief versigtig en moenie dat jou verbeelding weer op loop gaan nie. Dit is gevaarlik om rond te krap in goed en op plekke wat jy nie ken nie.”
Wikus soen sy ma op haar wang. “Toemaar, Ma. Moenie worry nie. Ek sal versigtig wees.”
Sy pa kom by die kombuis in. “Mmm . . . dit ruik lekker.” Hy slaan sy arms om Wikus. “Ek hoop jy geniet die naweek, ou seun. Moet asseblief net nie weer ’n spook om elke hoek en draai wil sien nie.”
“Hoekom maak julle altyd of dit net my verbeelding is? Daar ís iets soos spoke.”
Sy pa knik sy kop en sit ’n ernstige gesig op. “Ja . . . só sê jy altyd.”