Читать книгу Elita en haar lewe met F.W. de Klerk - M Meiring - Страница 5
Een: ’n Jong vrou met ou wysheid
ОглавлениеIn Mei 1989 het Tony en Elita Georgiadis ses plekke bespreek vir die musiekblyspel Les Misérables in die Queens-teater in Londen. Hul gaste vir die aand was Tony se broer Alex en sy vrou, Annie, en twee Suid-Afrikaners, FW en Marike de Klerk. Ná die opvoering sou hulle in die uitgelese Marks-klub gaan eet sodat die Georgiadisse die De Klerks beter kon leer ken.
Tony Georgiadis het intensiewe sakebelange in Afrika en veral Suid-Afrika gehad. Hy was alom bekend in skeepskringe, en sy sakeryk het dwarsoor die Westerse wêreld gestrek. Hoewel hy en Elita Suid-Afrika sedert 1980 gereeld besoek het, het hulle nog nooit die geleentheid – of die nodigheid – gehad om FW de Klerk te ontmoet nie.
Baie goeie vriende van die De Klerks, doktor Dawie en Suzaan de Villiers, het as ambassadeurspaar in Londen reeds goed bevriend geraak met die Georgiadis-familie, deels as gevolg van die Georgiadis-broers se gevestigde belange in Suid-Afrika. FW de Klerk is pas as leier van die Nasionale Party in Suid-Afrika verkies, en was dus die toekomstige president van die land. As ambassadeur én as vriend van beide het Dawie de Villiers gedink dit sou gaaf wees dat die twee mans kennis maak, en dat Tony met sy internasionale sakebedrywighede ’n goeie klankbord vir FW sou wees.
Dit was FW se eerste buitelandse besoek in sy nuwe leiersposisie, en sy doel daarmee was hoofsaaklik om die beplande indringende veranderinge aan die apartheidsbeleid aan staatshoofde in die buiteland te verduidelik. Die belangrikheid van die besoek het onder meer geblyk uit Margaret Thatcher, premier van Brittanje, se aanduiding dat sy hom graag wil ontmoet. FW was ’n taamlik onbekende faktor buite Suid-Afrika, en daar was ook in die sake- en politieke kringe waarin die Georgiadis-broers beweeg het nuuskierigheid oor hom.
Op die aand van hul afspraak was FW nog besig met onderhoude met Britse politici, en daar is gereël dat Tony en Elita Marike de Klerk solank by die hotel sou ontmoet en na die teater sou gaan, waar FW later by hulle sou aansluit.
Elita het die Suid-Afrikaanse vrou ietwat gespanne gevind, en in ’n poging om haar op haar gemak te stel, het sy lighartig gesê: “Dis tog so waar hoe belangrik die vrou agter die man eintlik is.”
Tot haar verbasing het Marike onthuts op dié opmerking gereageer. “Wat weet jy dan van my?” het sy agterdogtig gevra.
Elita het besef dat sy verkeerd verstaan word en dat sy die ouer vrou met meer omsigtigheid sou moes behandel. “Nee, dis mos maar wat hulle altyd sê,” het sy die situasie probeer ontlont.
Ná die eerste pouse het FW by die geselskap in die teater aangesluit en sy plek tussen Elita en Marike ingeneem. Hy het dadelik Marike se hand in syne geneem en Elita het dié gebaar opgemerk. ’n Goeie man, het sy goedkeurend gedink.
Toe hulle agterna by die Marks-klub gaan eet, was Marike steeds senuagtig, maar dit was ook duidelik dat sy die opvoering geniet het. Vir Elita was dit opvallend hoeveel aandag FW (wat sy “Efwia” uitspreek) tydens die ete aan sy vrou gegee het, en sy het ook opgelet hoe gemaklik hy lyk. Sy pak en das was nie die formele soort wat die Europeërs dra nie. Hy was warmer en toegankliker as die Europese sakemanne wat sy ken, met geen aanstellerigheid of pogings om te imponeer nie. Amper naïef op ’n mooi manier, en baie eerlik, het sy hom opgesom.
Sy vriendelike oë, ’n amper onnatuurlike diep blou, het haar getref, en ook sy skoolseunagtige sjarme. Hy het gemaklik met haar gesels en “hy het regtig belang gestel in wat ek dink”, sou sy agterna sê.
Op sy beurt onthou hy sy eerste ontmoeting met haar só: “Ek was verbaas oor en ingenome met so ’n jong, intelligente vrou met sulke ou wysheid.”
Die Georgiadis-broers het baie belang gestel in FW se politieke sienings en het hom indringende vrae gevra. Sy antwoorde daarop het Elita laat besef dat dié man vasberade was om dinge in sy land ingrypend te verander. Die beeld het by haar opgekom van iemand wat ’n moeilike en riskante kruistog onderneem, en sy het instinktief gevoel dat sy hom wil help.
Saam met haar, aan haar onderklere gespeld, dra sy altyd, ’n porseleinknopie bekend as ’n “evil eye” iets wat in die Midde-Ooste beskou word as ’n beswering teen onheil of ongeluk. In die kleedkamer het sy die knopie gou gaan losmaak, dit in haar hand toegevou en toe vir die ietwat verbaasde en verleë FW gegee.
Hy het nie geweet wat dit voorstel nie en Elita het laggend gesê dis ’n talisman teen onheil. “Dis ’n ‘oog’ wat jou sal help om die ongeluk af te weer en wat goeie geluk vir jou sal bring – so glo ons Grieke,” het sy verduidelik. Agterna sou sy dikwels wonder waarom sy so impulsief opgetree het deur aan ’n vreemde man so ’n persoonlike item te gee.
Uit FW se reaksie op dié gebaar het sy hom geskat as ’n konserwatiewe man, maar dit het wel gelyk asof Marike plesier daaraan gehad het. Elita het weer opgelet hoe gemaklik Marike en FW by mekaar gelyk het toe Marike hartlik saamgelag het oor sy onbeholpenheid met die onverwagte geskenk.
Hoewel hy die knopie later verloor het, sou FW nog deeglik kennis neem van Elita se bygelowe. Jare later sou hy self nooit sonder soortgelyke talismanne in sy sakportefeulje reis nie – ’n seeklippie in ’n goue hartvormpie, ’n silwerkruis en ’n miniatuurvouertjie met haar foto – hoewel hy geen bygeloof daaraan sou heg nie.
Dié klein episode het ekstra vrolikheid om die tafel gebring, maar gou daarna het Marike weer teruggeval in haar gespannenheid. Sou sy nie van hulle hou nie? het Elita gewonder. Of sou sy baie besorg wees oor FW se missie in Londen?
Só voelbaar was Marike se afsydigheid dat die Georgiadisse laat die aand op pad huis toe vir mekaar gesê het: “Gawe man, gekompliseerde vrou.”
Kort daarna het die twee egpare weer in Londen ontmoet en feitlik onmiddellik ’n toegeneë vriendskapsband gesmee. Tony was baie bewus daarvan dat FW op ’n soort bekendstellingsending deur die wêreld reis en het, gedagtig aan sy sakebelange in Suid-Afrika, die De Klerks na hul onthale genooi. FW en Marike is ook verseker dat hulle baie welkom is in die Georgiadis-huis in Londen.
Wat aanvanklik bloot as kontakte beskou is, het gaandeweg ontwikkel in vriendskap. Hoewel dit FW se streng voorneme was om nie betrokke te raak by die Georgiadis-sakeondernemings nie, het die twee mans mekaar goeie gespreksgenote gevind oor allerhande sake. As nyweraar en internasionale belegger kon Tony sy sienings meet teen FW se juridiese en politieke insigte. Daarby het hulle ’n strawwe rookgewoonte gedeel.
Met die Georgiadisse se eerste besoek aan Suid-Afrika ná die ontmoetings in Londen het FW en Marike hulle in Kaapstad ontvang. Albei pare het gevind dat hulle baie gemeenskaplike Suid-Afrikaanse vriende het. Dit het ’n gereelde gebruik geword dat die egpare mekaar in Engeland of in Suid-Afrika ontmoet het.
Gaandeweg het hulle die dinge begin doen wat goeie vriende doen: mekaar laatnag gebel, mekaar se kinders ontvang, saam inkopies gedoen, roomys by straatkafees geëet, kunsaankope bespreek, vakansies saam deurgebring. Hulle sou moeite doen om tyd en ruimte vir mekaar te skep, en in die volgende drie jaar sou hulle mekaar baie goed leer ken.
FW sou verneem van Elita se bevoorregte kinderlewe in Griekeland en hy sou ook bewus word van die eensaamheid van die grootwordjare van ’n sensitiewe kind wat soms as ’n “poor little rich girl” bestempel kon word.