Читать книгу Elita en haar lewe met F.W. de Klerk - M Meiring - Страница 7

Drie: ’n Goeie vangs

Оглавление

Zafiris Lanaras, George se pa, is in 1886 in Naussa gebore, ’n seun uit die reeds bekende Lanaras-linne-en-katoennywerheid. Soos so baie Griekse seuns uit suksesvolle families is hy in 1910 saam met twee broers na Kaïro gestuur om die groeiende Lanaras-sakeryk in die buiteland te vestig.

Skaars daar, of Zafiris keer in 1912 terug na Griekeland om in die eerste Balkan-oorlog teen die Turke te veg. Ná die oorlog keer hy terug na Kaïro. Gedurende die volgende jare sou hy dié soort heen-en-weer-lewenstyl handhaaf, en sy oujongkêrelstatus het die familie in Naussa toenemend gekwel.

Toe Zafiris van ’n foto van die 25-jarige Elizabeth Hadjigrigoriadis, die dogter van ’n sjirurg en volgens alle aanduidings erg konserwatief, voorsien word, het die familie asem opgehou. Sou dié 32-jarige vrygesel instem tot ’n gereëlde troue? Maar hy het natuurlik weinig kans gehad om te weier, en in 1918 trou die twee sonder dat hulle mekaar hoegenaamd geken of voorheen in lewende lywe gesien het.

Hul drie seuns, van wie George die oudste is, word in Kaïro gebore, waar daar reeds ’n gevestigde Griekse gemeenskap is. Die kinders word na die befaamde Abet Gimnasium gestuur, en tuis sorg Elizabeth, erg bewus van die dominante Moslem-geloof in Egipte, nougeset dat haar seuns se godsdienstige opvoeding nie agterweë bly nie. Die Lanaras-broers sou ook dwarsdeur hul lewe die Grieks-Ortodokse geloofsbeginsels toegewyd onderhou. George sou ook ’n skoolmaat van hom uit Kaïro, Minos Colocotronis, jare later weer ontmoet en hulle sou baie nouer bande smee danksy die romanse tussen hul kinders, Elita en Tony – ’n algemene verskynsel in die Griekse sosiale kringe en kultuur.

Toe George sewentien jaar oud is, sterf Zafiris skielik, en die familiesaak, wat intussen finansieel aansienlik verswak het, word sy verantwoordelikheid. Verder moet hy omsien na sy twee jonger broers sowel as sy moeder, Elizabeth. Die gesin verhuis van Egipte na Griekeland, waar George aan die Universiteit van Athene gaan studeer.

Algaande word hy – lank, donker, charismaties en baie ambisieus – ’n gesogte jong man by Kolonaki se sosiale geleenthede, en hoewel hy ietwat terughoudend was, was hy baie gewild, veral onder die jonger vroue. En George, hoewel stillerig, het self geen geheim gemaak van sy voorliefde vir mooi vroue nie. In dié klein dampkring van Kolonaki was daar dan ook ná die oorlog volop geleenthede vir jong mans en meisies om te ontmoet – baie ouers het trouens sulke ontmoetings gereël.

Toe George as Nitsa se toekomstige man aanvaar word, het hy sy vriende se tergery dat hy ’n “goeie vangs” gemaak het goedig aanvaar, want hy het geweet dat hy self nog sy fortuin sou verdien. Nitsa was beslis, danksy Menelaos se rykdom, ’n goeie vangs, maar haar fyn opvoeding en skugter geaardheid was ook besonder aantreklik. Verder het sy ’n amper verterende liefde vir George gekoester.

Menelaos, wat selfs gedurende die burgeroorlog daarin geslaag het om sy sakebelange aan die gang te hou en uit te bou, het ’n finansiële ineenstorting beleef net voor Nitsa se troue. Met sy tiperende vernuf het hy egter steeds vir sy dogter ’n elegante bruilof gegee, en hy het sy sakeryk mettertyd herbou. Elita onthou haar oupa Menelaos as ’n streng man, iemand wat altyd besig was om aan werk en sake te dink.

George en Nitsa sou ’n gewilde paartjie in Kolonaki word, maar idillies was die huwelik nie.

Elita en haar lewe met F.W. de Klerk

Подняться наверх