Читать книгу Elita en haar lewe met F.W. de Klerk - M Meiring - Страница 9
Vyf: Baie mooi, maar o, so konserwatief
ОглавлениеIn die tydperk van koorsagtige Griekse ekonomiese opbloei het die Lanaras-familie, soos feitlik al hul vriende, internasionale sakebelange opgebou en gevolglik gou wêreldreisigers geword.
Hulle het ook gery op die golf van wat Griekeland in die moderne tyd weer aantreklik gemaak het, soos die sangeres Nana Mouskouri met haar gewilde lied oor die wit rose van Griekeland, die aktrise Melina Mercouri, wat wêreldberoemd sou raak, en die jong, opkomende sopraan Maria Callas. Daarby het die verstommende rykdom wat skeepseienaars begin versamel het die wêreld se aandag op Griekeland se heropbou gevestig.
Die Lanaras-dogters was kort voor lank tuis in Londen, Parys, Rome en Milaan, stede waar Nitsa graag inkopies gaan doen het. Wanneer dit by klere uitsoek gekom het, was Elita veral geen maklike kind nie. Koppige onderonsies het dikwels in spogwinkels plaasgevind, met Elita wat op perverse wyse nie haar ma se onbetwiste goeie smaak wou aanvaar nie.
Nogtans onthou die dogters dat Nitsa altyd ’n heerlike ontspannenheid getoon het tydens sulke inkopietogte. Sy was baie bewus van modeneigings, en beide haar dogters het vroeg in hul lewe al hul gunstelingontwerpers gehad. Elita het gou ’n getroue aanhanger van die ontwerper Courreges geword, en haar kleresmaak sou ontwikkel tot ’n aandrang op klassieke snitte in gedempte kleure.
In Athene was die Lanaras-egpaar gereken in die sosiale sowel as politieke kringe. George en Nitsa het, soos almal in hul vriendekring, groot respek gehad vir die koninklike egpaar, Paul en Frederika. Hoewel die koningsgesin die toon aangegee het in Athene se sosiale omgang, waar die rustige en sportiewe koning Paul baie gewild was, was die verhouding tussen die paleis en die parlement dikwels gespanne. Koningin Frederika, ’n kleindogter van die afgesette Duitse keiser Wilhelm, het as die bitter jong prinses Friederike van Hanover met die veel ouer Paul van Griekeland getrou. Sy was ’n omstrede en uitgesproke vrou, en hoewel sy nie by die Griekse hoëlui so gewild soos haar man was nie, het sy uitdagende welsynsprojekte aangepak en ’n groot aanhang onder die gewone mense geniet.
Volgens oorlewering het die flambojante en eiesinnige Frederika kaal geswem langs Griekeland se afgesonderde strande, ’n storie wat moontlik sy oorsprong gehad het in die koningsgesin, wat geesdrifte seiljagvaarders was, se talle see-uitstappies. Aantreklik, uitdagend en dikwels onortodoks is sy selfs in koningsgesinde kringe beskinder, maar dit was veral die kommunistiese en sosialistiese groepe wat haar gehaat het.
Frederika was ook bekend in Suid-Afrika, aangesien sy in 1942, toe nog as kroonprinses, uit die oorloggeteisterde Griekeland hierheen gestuur is vir veiligheid. Sy het ’n besondere en lewenslange vriendskap met generaal Jan Smuts en sy vrou, alom bekend as ouma Issie, geniet. Generaal Smuts het tot aan die einde van sy lewe met die Griekse koningin gekorrespondeer, en sy het altyd na hom verwys as haar mentor. Haar en Paul se jongste dogter, prinses Irene, is in Suid-Afrika gebore en is in die Grieks-Ortodokse kerk in Kaapstad gedoop, met generaal Smuts as haar peetvader. Irene was ook die naam van Smuts se plasie in Doornkloof.
Toe koning Paul in 1964 oorlede is, is hy opgevolg deur sy 23-jarige seun, Konstantyn, en Elita onthou haar deelname as twaalfjarige aan die skouspelagtige kroningsvieringe. Sy en die koning en sy Deensgebore vrou, Anne-Marie, sou later goeie vriende word. Dié vriendskap sou veel later sorg dat die verbanne koning Suid-Afrika dikwels besoek het.
Tuis in Kolonaki het die afstandelike verhouding tussen Nitsa en Elita vir albei moeilik geword. Nitsa, wie se onbevredigende huwelik algemene kennis was onder nabye vriendinne, het nogtans haar lewe as gasvrou en gesogte gas voortgesit, en sy het steeds ’n baie sigbare aandeel in George se sosiale lewe gehad.
Elita het egter gevoel dat sy nie kon deurdring tot haar ma nie, wat dikwels afgetrokke voorgekom het. In haar jong gemoed het sy meermale opstandig gemor teen wat sy reeds as tiener as “sosiale nonsens” beskryf het. “Daar was ’n ewige rondte van skemerpartytjies. Ek en my pa het nie daarvan gehou nie, maar dit was ’n groot deel van ons lewe.”
Willens en wetens het sy dus ’n nouer band met haar oumas ontwikkel, en ’n goeie verhouding met ouer vroue sou dikwels in die toekoms haar vriendskappe kenmerk. Haar nuuskierige geaardheid het beide haar oumas plesier verskaf, en sy het graag by ouma Martha gaan kuier “vir die lekker stories en gesprekke”, en by ouma Elizabeth “omdat sy sulke lekker regte kos kook”. Dié ouma, ’n plomp, streng vroutjie, was meer huislik as die slim ouma Martha. Sy was ’n groot opera-aanhanger, veral, verbasend, van Rossini, wat as “ligte” komponis beskou is, maar as ’n baie godsdienstige mens het sy ’n groot afkeer van partytjies gehad en sy het dikwels daarteen gewaarsku. Haar Aleksandrynse koekies, ’n resep uit Egipte, was vir Elita die beste onthoukos uit haar kinderdae.
Ouma Martha, daarenteen, waardig en altyd omring deur boeke, het graag gepraat oor die sin van die lewe. Sy was ook ’n gretige luisteraar as dit kom by probleme met seuns en kêrels. Haar kwelling dat haar ma haar nie verstaan nie, het Elita dikwels by ouma Martha uitgestort. Sy het gevoel dat haar ma net altyd “die regte dinge” wil doen en onthale wil hou, maar dat sy nie belang stel in haar dogter se drome nie. Ouma Martha het getroos dat Nitsa ’n baie komplekse en teruggetrokke mens is, en dat sy dinge eerder sou wegsteek as om daarmee op haar mou te loop. Elita sou haarself jare later ernstig verwyt dat sy nie meer begrip getoon het met haar ma se afsydigheid nie. ’n Besonder innige verhouding sou tussen hulle ontstaan “toe dit al amper te laat was”.
Vanuit hul veel dieper verhouding het haar ouma Martha in 1996, net voor haar dood, vir Elita ’n komboloi (’n gebedesnoer wat hoofsaaklik deur mans gebruik word) gegee. Dit was moontlik ’n geskenk van ’n vroeëre minnaar (die Bulgaar met wie Martha nie mag getrou het nie?). Dié komboki bly as ’n talisman altyd by Elita.
Haar tienerjare in die vroeë 1960’s was die tyd van rock & roll, films, modes en musiek uit Amerika. Hamburgers en melkskommels het verskyn, Cliff Richard het ’n kultusaanhang geniet en vanuit Londen het Carnaby Street invloed uitgeoefen. Die jongklomp van Kolonaki het gretig meegedoen aan “the Sixties”. Baie partytjies is gehou, en daar is plate versamel en slengtaal gepraat.
’n Skoolvriend, Yannis Economides, onthou Elita as “baie mooi, maar o so konserwatief”. Volgens hom was sy nie een wat sommer maklik in die bondel ’n uitgelate partytjie sou bywoon nie – iets wat deur die ander as snobisme beskou is. Tog kon sy ’n borrelende sin vir pret toon wat almal om haar soms verras het.
Hierdie jong tieners se lewe was so sorgeloos, so bevoorreg. Té bevoorreg, het Elita as vyftienjarige besluit, en sy het doelbewus probeer om ’n “ander” lewe te lei. Háár avontuur was om met “gewone mense” te doen te kry. Sy het graag gesels met Nada, die huishoudster, en met haar goewernantes, sowel as met die mense wat sy in die strate teëgekom het.
Met haar fiets het sy meermale na haar pa se tekstielfabriek gery, aangetrek deur die gedruis van die masjiene en die reuk van die chemikalieë. Daar het sy goed bevriend geraak met van die werkers, en veral met die deurwag. Hy het haar vertel van sy lewe in ’n wêreld waarvan sy geen benul gehad het nie, hoewel dit binne trefafstand van haar eie woonplek was.
Ook die chauffeur, wat haar na haar perdrylesse geneem het, was ’n vriend met wie sy oor koppies koffie by die ryskool gesels het. Sy het opgewonde uitgevra oor sy familie. Wat maak sy kinders op Saterdae? Waar hou hulle vakansie? Wat wil hulle word as hulle eendag groot is?
Haar nuuskierigheid was ’n aanvaarde feit in die huishouding, en die personeel het graag vir haar stories van “daar buite” vertel. Sy sou by geleentheid plegtig aan haar ouma Martha sê: “Ek hou nie van partytjies nie. Ek hou van gewone goeie mense.”
Nes die meeste ander tieners het Elita soms die nuk gekry om “weg te breek”. Was hierdie lus om amok te maak of stout te wees te wyte aan die onverkwiklike verhouding met haar ma? sou sy later in haar lewe wonder.
So het sy en haar vriendin Myrto Paraschis eenkeer tydens ’n vakansie by Anavissos ’n boot gesteel, uit die hawe gevaar en toe enjinprobleme gekry. Dobberend in die uitgaande gety is hulle gelukkig raakgesien en gered, maar ten spyte van haar familie se dankbaarheid en verligting is die twee avonturiers behoorlik geroskam! Elita het dié rebellie egter geniet en sou later weer “uitbreek”.
Intussen was daar die kwessie van kêrels. Kolonaki-moeders soos Nitsa het van vroeg af alle toekomstige huweliksmoontlikhede vir hul dogters deurgekyk. Hoewel dit nie hardop gesê is nie, was die wete wel daar: ’n huwelik moes tot voordeel van almal wees, en veral van die familiebesighede.
Boonop was Nitsa dol op romanses – sy was verlief op verliefdheid, soos haar vriendinne van haar gesê het. Sy het dus graag aan “moontlikhede” vir haar twee rebellerende dogters gedink, wat hul ma heerlik kon terg oor al haar romantiese idees en verwagtinge.
Nico, Myrto se broer, was een van die “moontlikhede” vir Elita. Hoewel hy ’n Morgan-motor besit het wat aan hom ’n besondere luister gegee het, was Elita se kommentaar oor hom as haar toekomstige man ’n heftige: “Met jou? Nooit!”
Nico, seker nie tot diepe verdriet gedryf nie, het ’n goeie vriend gebly. Toe Yannis Elita eenkeer by ’n partytjie geterg het oor wie haar kêrel kon wees, het sy snipperig geantwoord: “Ek sal eendag die heel beste kêrel ooit kry.”
Heimlik het sy wel gedroom oor ’n held. Sy het dikwels in haar kamer of tydens vakansies op Anavissos weggekruip om boeke soos Emily Brontë se Wuthering Heights te lees. Háár held sou geheimsinnig wees soos Heathcliff, die held in dié Victoriaanse roman, het sy gedink.
Sy sou hom ook binnekort ontmoet.