Читать книгу Pluimprinse - Malene Breytenbach - Страница 4
Proloog
ОглавлениеLank, lank gelede het ’n San-jagter in die veld geloop. Om hom was berge, maar waar hy in die vallei geloop het, was net barre klipgrond. Hy was honger en dors, want hy het lank gejag en niks gevind nie. Toe sien hy in die verte twee vreemde voëls. Hulle was baie groot, met lang nekke en bene. Hy het nader gesluip.
Die San was sulke goeie jagters dat hulle hulself bykans onsigbaar kon maak. Die twee voëls het niks agtergekom nie, want hulle was dom, en al was hulle oë so groot, kon hulle nie gevaar sien aankom nie.
Toe sien die jagter eiers op die grond lê. Dit was die grootste eiers wat hy nog ooit gesien het. Hy wou twee van hulle hê. Een om sy honger te stil, en een om vir sy mense te neem. Hy het nader gekruip.
Die vaal voël het gaan sit op die eiers en die San-jagter het besef dit is die wyfie wat hulle wil uitbroei. Die voël met die pragtige wit en swart veredos wat om haar loop en waghou het, was die mannetjie.
As hy hulle met sy gifpyle sou skiet, sou hulle dood wees. Dan kon hy van die mannetjie se pragtige lang pluime uittrek en van die eiers neem wat die wyfie gelê het. Daar was te veel eiers om te dra, maar in sy velsak kon hy twee inpas.
Die voëls het egter so gelukkig gelyk en hulle yslike oë het sulke lang wimpers gehad dat hy byna met hulle deernis kon hê. Hy het besef, as hy die wyfie ook doodmaak, sal sy nooit haar eiers kan uitbroei nie.
Sodra die wyfie opstaan, want dit moet sy die een of ander tyd doen, sal hy nael en twee eiers gryp, het hy besluit. Hy het geduldig gewag. Toe die son sak, het die wyfie inderdaad opgestaan en die jagter het vorentoe gepring. Hy het probeer om die eiers te gryp, maar kon dit nie regkry nie, want die mannetjie het op hom toegesak en een geweldige skop na hom gemik.
Die jagter was egter te rats vir hom. Hy het die skop ontduik en snel soos die wind weggehardloop. Die voël het hom ’n ent ver agtervolg, maar later teruggegaan om sy wyfie verder te bewaak.
Die jagter het weer nader gesluip en gesien dat die mannetjie nou ’n beurt neem om op die eiers te gaan sit. Die wyfie het gewei. Sy het ál verder weggedwaal. Dit is toe dat die jagter die mannetjie met sy gifpyl skiet, en nadat hy dood omgeval het, het die jagter twee eiers gegryp en boonop ’n handvol van die voël se mooiste pluime uitgepluk om vir sy mense te gaan wys.
Hy was al ’n veilige ent weg met sy buit toe die wyfie die tragedie agterkom en ten hemele weeklaag. Sy het hom sien weghol en hom agternagesit. Hy het gehardloop vir al wat hy werd was, maar hy het haar hoor uitroep: “Mensekind, jy het my man doodgemaak. Jy het ook twee van my kinders gesteel, en daarom sal jou soort vervloek wees. As jy my kinders eet, sal jou soort uitsterf op hierdie vlaktes, maar ons sal oorleef.”
Die jagter het die vloek gehoor en dit het hom geweldig ontstel. Hy was spyt dat hy die mannetjie doodgemaak het, maar dit was gedane sake. Die honger het aan hom geknaag. Hy het agter ’n bult om gedraf en in ’n leegtetjie gaan sit waar hy veilig gevoel het. Toe kon hy die een eier uitsuig. Eers toe hy behoorlik vol en dik van lyf was, het hy teruggekeer na sy mense met die ander eier en die pluime, maar ook met die vloek op sy gewete.
Sedertdien dwaal die gees van daardie eerste volstruis oor die vlaktes van die Klein-Karoo en hy roep om wraak. Daarom moet hy gedurig met offerandes en geskenke gepaai word.