Читать книгу Pluimprinse - Malene Breytenbach - Страница 6

2

Оглавление

Olivia ry met haar geel Mini Cooper deur die strate van Oudtshoorn. Die voorbereidings vir die jaarlikse Klein Karoo Nasionale Kunstefees is in volle gang. Daar is ’n brug oor ’n trae stroom wat die Grobbelaarsrivier genoem word en ’n tentdorp is opgerig langs die straat en die rivier. Voor ’n groot sandsteengebou met ’n toring, sien sy die naam CP Nel Museum. Dit is dié plek wat sy in haar droom gesien het. Daar waar die twee argitekte met mekaar gesels het.

Hier draai sy links in Baron van Rheedestraat. Hoewel daar moderne geboue tussenin is, kan sy sien dat baie van die ander geboue van sandsteen is, en die ou stoepe van huise en winkels is versier met krullerige smeeyster. Hier word die Victoriaanse en Eduardiaanse verlede nog bewaar en dit gee aan Oudtshoorn ’n uniekheid wat ander plattelandse dorpe in die Klein-Karoo kort.

Hoe verder sy in die straat afry, hoe meer sandsteengeboue is daar. Die pluimpaleise waarvan sy so baie gehoor en gelees het. Soos elegante bejaarde dames staan hulle daar, opgesmuk, met versierings en torings. In valletjies en kant, bepluim en gekorset. Sy sou dit prettig vind as sy nie so gespanne was nie.

Om en om ry sy sodat sy ’n geheelindruk kan kry. Een enorme pseudo-Tudor-paleis wat uitstaan tussen dorpsontwikkeling, winkels en vulstasies, heet Fosters Manor. Dit is ’n gastehuis. Ou weelde gekommersialiseer. Naderhand hou sy stil en vra ’n seningrige bruin man of hy weet waar Courland House is. Sy veronderstel die plaaslike inwoners ken die naam, en hy weet inderdaad. Hy beduie, terug oor die brug. “By Wesbank. Jan van Riebeeckstraat, doer bo. Dis nie ver van hier af nie.”

Olivia is nogal senuagtig. Watter soort ontvangs gaan sy kry indien haar ouma nog lewe? Sy was te bang om vooraf te laat weet sy kom. Dalk sou haar ouma weier om haar te sien. Sy móét haar ouma sien, of sy welkom is of nie.

Weer is sy oor die trae stroom met sy riete en besoedeling en ry teen die hoogte op na ’n paar kasarms wat agter hoë bome uitsteek. Die een heet Pinehurst, maar dis van die straatkant byna weggesteek deur ’n onooglike moderne aanbouing. Die volgende een is Stonehaven, ’n dubbelverdieping, in vele opsigte soos Pinehurst, ietwat vervalle, die tuin verwaarloos. Direk langsaan sien sy uiteindelik op ’n groot smeeysterhek met wit pilare waarvan die verf beskimmeld is, die naam Courland House. Die huis wat haar ouma as enigste kind geërf het en wat haar ma sou toegekom het as sy nie van haar familie vervreem was nie.

Olivia draai by die inrit in, klim uit en maak die groot hek oop. Dit tjierr-tjierr van roes en lanklaas olie kry. Sy hoop daar is nie kwaai honde nie. Sy ry deur en maak die hek weer agter haar toe. Nou kan sy die huis bekyk waar haar ma grootgeword het. Die huis wat sy op een en twintig verlaat het om weg te loop met ’n man wat haar ouers nie goedgekeur het nie.

Olivia staan verstom. Haar ma se beskrywing en die foto wat sy op die internet gesien het, het haar geensins voorberei op die enorme ou pluimpaleis wat sy voor haar sien opdoem nie. ’n Konfeksie van sandsteen, met ’n toring met krullerige smeeyster en ’n skewe weerhaan op die punt, twee gewels voor wat ook oordadig versier is, komvensters, en ’n stoep met smeeysterpilare en traliewerk. Die tuin met sy enorme palmbome en rose, struike en grasperk lyk oorgroei en oerwoudagtig. Die fontein voor die huis, met ’n vis wat in ’n dammetjie spuitspoeg, lyk oud en verweer.

Van ver af is dit baie indrukwekkend, maar van naby wys die ouderdom. Die ou dame het plooie en krake, sy is grys en geriatries. Maar sy is nog aristokraties en uitsonderlik. Die mense wat destyds ryk geword het uit die pluime van volstruise, wou regtig vir hulle huise bou wat soos goed uit feëverhale lyk.

Olivia sien niemand in die tuin nie, maar daar sit ’n grys kat op die stoep. Twee ander dwaal langs die fontein om die voëls wat kwetterend kom water drink en was, te bekruip. Sy staal haar vir wat gaan kom en klim die stoeptrappies. Dit is spookagtig stil, maar die grys kat miaau, staan op en kom vlei hom teen haar toe sy die koperklopper op die deur laat klapper. Sy buk en streel die kat, haar hart in haar keel. Nou gewaar sy oral katte in die tuin en op die stoep.

Net toe sy begin dink daar is niemand tuis nie, gaan die deur oop en staan daar ’n bejaarde vrou in uniform met ’n voorskoot aan.

“Middag, Nooi, ons koop niks vandag nie en die ounooi wil nie hê mense moet die huis kom bekyk nie.” Sy wil net die deur weer toemaak, toe Olivia haar keer.

“Nee, nee, ek koop en verkoop niks nie, ek kom … kuier.”

“Die ounooi gaan nie vandag mense wil sien nie; sy is olik.” Sy wil weer die deur toemaak, maar Olivia druk dit oop.

“Asseblief, ek is haar kleindogter, Olivia. As ek reg onthou, is jy Sarie Vanrooi, die huishoudster. Jou man is Abel, of hoe? My ma het my baie van julle vertel.”

Die vrou lyk eers verstom, kyk van die blou na die groen oog en terug. Toe gooi sy haar hande in die lug en haar gesig, wat soos ’n bruin rosyntjie plooi, verhelder. Van haar tande is net ’n paar oor, sien Olivia toe sy glimlag.

“My jinne, is die nooi tog nie nooi Lea se dogter nie?”

“Ja, ek is.” Olivia besef sy is ouer as wat haar ma was toe sy hier weg is, maar sy lyk baie na haar. Meteens kry sy die verspotte begeerte om soos ’n kind in trane uit te bars.

“Waa’s jou ma dan?”

“Sy’s dood, vyf jaar gelede al.”

“Ag, jittetjie tog. Sy was so mooi, en is so sleg hier weg. O, ounooi Bekka het so gehuil.” Sarie vee haar oë af.

“Is my ouma hier? Oupa is seker al dood, of hoe?”

“Oupa Isak is lankal oorlede, Nooi, maar ounooi Bekka is nog hier, baie oud maar nog vol dinge en andersgeit. Die ou koppie werk nog.”

“Dink jy … dink jy sy sal my wil sien, Sarie?”

Die vrou kyk haar bejammerend aan. “Dit moet Nooi maar self kyk. Kom in na die sitkamer, ek gaan haal haar.”

Olivia volg haar. Sy ruik die muf van ouderdom, en vloer- en meubelpolitoer. Die plek lyk nog eg Viktoriaans en is oorgemeubileer met kosbare en ouwêreldse oudhede. Die mure is vol ou skilderye en foto’s, die stoele is gestoffeer en die kussings geborduur, maar alles lyk verslete. Armoires en kaste, tafels met inlegwerk, swaar fluweelgordyne met fraiings, porseleinfigure, Chinese vase, ornamente met goud, spieëls in versierde goue rame, ’n kaggel met Hollandse Delft-teëls, deurgeloopte matte op blink houtvloere. Die portaal se marmervloer is versier met die ster van Dawid. Sy vergaap haar aan alles. Tyd het hier stilgestaan, behalwe dat die ryklik versierde staanhorlosie in die portaal kliphard tik en seker steeds die ure uitbengel.

Op twee van die stoele lê katte en slaap, opgekrul. Hulle kyk net lui op en slaap dan verder.

Dus is net haar ouma oor in dié huis, met bediendes en meubels so bejaard soos sy, en verskeie katte. Sy moes na haar enigste dogter verlang het as sy so baie gehuil het. Haar ma Lea se ouers, Isaac en Rebekah Shimansky, was vermoënde mense. Haar oupa was ’n juwelier, maar Lea was te trots om terug te kruip nadat sy verwerp is. Sy het Olivia alleen grootgemaak, ’n enkelouer en werkende ma. Hulle was arm, maar hulle het darem nie gebrek gely nie. Olivia se ma het haar laat leer, maar sy moes beurse ook kry om dit te kon bekostig.

“Jy moet jouself kan onderhou,” het haar ma gesê. “Jy weet nooit wat die lewe aan jou kan doen nie.”

En hier sit sy nou. Al droom sy baie dinge vooruit, kon sy nie voorsien hoe die kaarte uiteindelik vir haar sou val nie. Gespanne wag Olivia en sien nog katte, alle kleure en groottes, wat verskyn en verdwyn asof hulle skelm op loer is. Spioene wat die indringer waarneem en beoordeel.

Naderhand hoor sy stemme en voetstappe op die houtvloer. Sy ruik haar ouma voordat sy haar sien: soet en blomagtig en sy onthou dat haar ma genoem het dat haar ouma graag Lily of the Valley gedra het. Dit voel asof haar hart opswel en haar keel toetrek.

Vinnig staan sy op. Sarie kom in met ’n kort, brose vroutjie, deftig geklee in swart, met ’n pêrelhalssnoer om haar maer nekkie, haar beaarde handjies met knobbelrige vingers vol blink ringe. Sy het spierwit hare wat opgedoen is asof sy op die punt is om uit te gaan of mense te ontvang. ’n Mens kan sien dat sy mooi moes gewees het; selfs op haar hoë ouderdom is haar gelaatstrekke fyn en haar oë grysblou en verbasend lewendig vir ’n bejaarde.

Olivia moet haar keel skraap voordat sy kan praat. “Hallo, Ouma, ek is Olivia Bailey, Lea se dogter.”

Die vroutjie kyk lank na haar, ook eers na die groen oog en toe na die bloue, asof sy dink iets van ’n vreemde spesie het haar beskermde wêreld binnegedring. Daarna praat sy in ’n aangedane stemmetjie.

“Waarom kom jy nou eers, kind? Ek wag al lank vir jou.”

Olivia bars summier in trane uit en gaan omhels haar. Sy het haar die ontmoeting veel moeiliker voorgestel. “Ouma, ek was nie seker of ek dit kon waag nie. Mamma …”

Haar ouma tik en streel haar liefdevol op die rug. “Nonsens. Jou oupa is lankal dood. Hy was die hardvogtige een wat sy enigste dogter onterf het. Ek het jou nodig. Dit kan te alleen raak, hier in dié groot ou huis. Dis net ek en die spoke wat snags met mekaar praat.”

Olivia lag en huil deurmekaar. Hierdie soort verwelkoming het sy sowaar nie verwag nie.

“Kom ons gaan sit, kind,” beveel haar ouma. “Jy moet my alles omtrent jouself en jou moeder vertel. Sarie, gaan maak vir ons tee en bring koek. Die kind is oorstelp; sy moet suiker inkry.”

Haar ouma laat haar op ’n chaise longue sit en gaan sit langs haar. Sy kyk stip na Olivia en vat haar hand in haar twee kleintjies waarvan die vel sag en koud is. “En hoe gaan dit met jou moeder?”

“Mamma is dood aan kanker, vyf jaar gelede. Ek moes vir Ouma-hulle laat weet het, maar sy wou dit nie hê nie. Ek is jammer.”

Rebekah Shimansky sug verdrietig, haal ’n kantsakdoekie uit en vee trane weg. “Ek het vermoed dat my arme kind dalk nie meer lewe nie. Sy het een keer geskryf, sonder om ’n adres te gee en gesê sy werk en jy is in die skool. Daarna het ek nooit weer van haar gehoor nie. Ek wou haar laat soek, maar haar vader kon haar nie vergewe nie. Hy het reeds haar huwelik met ’n goeie man gereël toe sy met daardie vabond van ’n Oliver Bailey wegloop. Ag, ekskuus, hy was darem jou vader.”

“Hulle was lief vir mekaar, Ouma, maar ongelukkig het die huwelik nie lank gehou nie. Hy is weg toe ek baie klein was. Ek het hom nooit geken nie.”

Haar ouma skud haar kop en snuif. “Ek het my al leeg gehuil daaroor. Hy het net my Lea se lewe verwoes. Mans kan dit doen. My moeder se lewe is ook amper deur ’n man verwoes, maar toe kry sy tog ’n goeie man daarna. Maar sê my, waar is jou man en kinders?”

“Ek het nie ’n man en kinders nie, Ouma.”

“Het jy nooit getrou nie?” Sy klink verstom. “Jy is dan so mooi. Hoe oud is jy nou, kind?”

“Ek is vyf en dertig.”

“Sowaar? Jy lyk dan nog so jonk.”

“Ek voel nie vandag nog jonk nie. Eerder voos en tweedehands. Ek wil eintlik iets vra.”

“Vra, my kind.”

“Kan ek ’n rukkie by Ouma bly, asseblief?”

Die oë wat na Olivia kyk, is vol trane. “Natuurlik, jy moet mos hier kom bly. Die huis is te groot vir my alleen. Jy sien hoe groot dit is. Daar is vyf slaapkamers en twee badkamers. Jy kan jou moeder se ou kamer kry of ’n ander een kies.”

“Baie dankie.”

“Waarom kom jy nou eers?” vra haar ouma. “Jou moeder is mos lankal oorlede.”

“Ek het ’n stresvolle en verantwoordelike werk gehad, Ouma. Daar het die afgelope ruk dinge gebeur wat my net laat besluit het dat ek moet wegkom. Toe vlug ek hierheen, na die enigste familie wat ek het. Ver genoeg van Kaapstad af. Ek wou net verdwyn. Ek het nog in my en Mamma se huis gewoon, maar nou het ek dit sommer met meubels en al verhuur.” Sy vertel nie van die amperse verkragting en dat sy haar vir vigs laat toets het nie. Sy dink nie haar ouma sal dit verstaan nie en sy wil haar nie onnodig ontstel nie.

“Daar was baie inbrake die afgelope tyd en ek het nie ’n alarm laat installeer nie. Dit was roekeloos van my, want toe ís daar by my ingebreek.”

“Dit klink na ’n gevaarlike plek daardie. Hier by ons is dit veilig. Ek het ook nie ’n alarm nie, maar Abel en Sarie woon hier agter in die kothuis.”

“Hulle is oud, Ouma. Dink gerus daaraan om meer sekuriteit te kry. Misdaad neem deesdae toe.”

Sarie kom in met ’n skinkbord. By haar is ’n verrimpelde ou man wat lyk asof hy net so verweer soos die huis is.

“Sien jy, hier is nooi Lea se kind. Hierdie is my man, Abel, Nooi.”

Olivia staan op en skud sy eelterige hand. Hy glimlag soos sy vrou dat die plooie in ander patrone verskuif en net plek-plek ’n geel tand wys. “Ons is baie bly nooi het gekom.” Hy kyk ook met openlike verbasing na haar twee kleure oë.

“Aangename kennis, Abel. En julle kan my regtig maar Olivia noem, hoor. My ma het my van julle vertel. Julle het haar help grootmaak. Ek is bly julle is nog hier.”

“Ja, dis reg, Nooi. Maar die ou beendere raak oud en moeg, nooi. En o, die rumatiek pla erg.”

Al die oumensies lyk vir Olivia soos vrugte wat lankal nie meer vars is nie, waarvan die skil gekrimp het en die vog verdwyn het. Wat begin muf. Haar hart is vol deernis vir hulle. Sarie en Abel moes al afgetree het, maar haar ouma en Courland House is seker al wat hulle ken en hulle pas haar natuurlik op.

Die ou man gaan uit en Sarie sit die tee voor. Olivia staan dadelik op om te help.

“Sarie het gesê Ouma voel siek vandag,” sê Olivia.

Ouma Rebekah sluk haar happie koek en vee haar mond met een van die klein servetjies af. “Nee, ek makeer niks behalwe oumenskwale nie. Jy weet my arme ou organe is byna ’n eeu lank aan die werk. Ek jaag net ongenooides weg. Mense is so nuuskierig oor dié huis. Hulle kom vra sommer of hulle dit kan sien. Ek bestuur nog my eie kar en ek drink my sjerrie. As ek die dag lus het, gaan kuier ek. Inkopies doen ek nie meer nie, maar die winkeliers stuur vir my alles hiernatoe.”

Olivia is verstom. Hoe kan die verkeerspolisie toelaat dat so ’n bejaarde tannie agter ’n stuurwiel inklim? Gehoorsaam sy ooit die verkeersreëls?

Haar ouma sug. “Die dorp soos hy nou is, staan my nie aan nie en elke jaar is die lawaaierige fees aan die gang. Jy moet net sien watse hoipolloi hier aankom. Hulle kampeer orals, ook in Pinehurst hier naby se tuin. Tente en woonwaens oralster en hulle maak sommer vure en braai vleis. Jy ruik net heeltyd kos. Hulle kom staan by die heining en bekyk die huis. Ek steek dan nie my neus by hierdie deur uit nie. Vroeër jare het ek dit nog gewaag om tydens die fees dorp toe te ry, dan kom ek nie deur die verkeer nie. Almal toet vir my en kyk na my en ek raak skoon verbouereerd.”

“Ons het al gesê Abie moet vir die ounooi bestuur, maar sy wil nie,” sê Sarie, wat hande oor die maag gevou staan en luister, nuuskierig om alles te hoor wat die ouma en haar nuutgevonde kleindogter vir mekaar te sê het.

Ouma Rebekah snork. “Wat? Ek het nog my oë en hande. Ek gaan my nie uitgee vir ’n invalide nie. Buitendien, daardie kleinseun van julle behoort te doen wat hy geleer het om te doen, maar verseg. Pleks hy ordentlike werk gaan kry.”

Olivia glimlag. “Dit klink darem of Ouma nog hups is.”

“Ja, ek is. Sedert jou oupa se dood doen ek nie meer die rituele van die sjabbat nie. Ek lewe ook nie kosjer nie. Van die Joodse inwoners is daar buitendien net ’n handjievol oor. Die Ark van ons ou Griener Shul is nou in die Museum. Die St. Johnstraat-sinagoge is gesloop, maar die Queenstraat-sinagoge staan darem nog. Daar is mos ’n oneindige Joodse diaspora. Wanneer die Jode moeilikheid sien kom, dan verkas hulle. Tydens die laaste oorlog is daar van hulle winkels en goed afgebrand deur die Ossewa-Brandwag en daardie mense is weg. Nadat oupa Isaac in sy juwelierswinkel aangeval en beroof is, is daar nog ’n klomp weg.”

“Haai, is Oupa tog nie aangeval nie?” vra Olivia geskok.

“Ja, hy wou mos alewig afry dorp toe in die Rolls en hy wou nie die winkels verkoop nie. Mense het gesê hy gaan nog beroof word in een van sy winkels waar die blink goed so in die vensters uitgestal is. Deesdae steel die skollies mos juweliersware en gaan verkoop dit vir ’n appel en ’n ei om drank te koop.”

“Het hulle Oupa baie seergemaak?” vra Olivia.

“Ja, oor die kop geslaan. Hy was vol blou kolle. Hulle moes hom hospitaal toe vat en daar was hy vir twee dae voordat hy kon huis toe kom. Daarna het hy alles verkoop. Hulle het seker gedink die ou Jood is ryk en hy kan maklik beroof word. Isaac het so ’n knou weg gehad nadat hy aangeval is dat hy, nie lank daarna nie, dood is. Jy het ook ’n skok weg en ek sal jou oppas.”

“Ons sal mekaar oppas,” glimlag Olivia. “Ek sal Ouma neem waar Ouma wil wees.”

“Dankie, my kind, maar ek kan nog ry.”

“Is Ouma se motor nog padwaardig?”

“Wat? Beslis. ’n Rolls Royce Silver Ghost is gemaak om te hou. Hy makeer nog niks.”

Olivia wil lag, maar sy hou haar in. Die Shimansky’s het met dié Rolls gery toe haar ma nog ’n kind was.

Olivia kies nie haar ma se ou kamer nie, want dit is soos ’n heiligdom bewaar, presies net soos sy dit gelos het: die bed, die muwwe klerekas en die ornamentjies op die spieëltafel – alles. Haar ouma moes haar ma gemis het en gehoop het sy keer eendag terug. Sy kry ’n seer knop in haar keel. Hier maak sy kennis met die Lea Shimansky van die verlede. Die een wat bevoorreg grootgeword het en nog nie deur die lewe gekou en uitgespoeg was nie.

Olivia kies ’n kamer wat oor die roostuin uitkyk en naby die badkamer is. Dit lyk na die lekkerste kamer. Daar is ’n yslike bed waarin drie mense gemaklik sou kon slaap. Sarie bring vir haar beddegoed wat baie oud lyk, maar dit is pragtig geborduur en iets besonders. Dit ruik na potpourri, asof dit lank in ’n linnekas gebêre is. Terwyl sy uitpak, maak Sarie die slaapkamervensters oop om van die muwwe reuk ontslae te raak, stof af en maak skoon. Gou ruik die kamer na lugverfrisser en rose.

“Hierdie was eentyd Miss Sarah se kamer,” vertel Sarie. “Sy was mos ounooi Bekka se ma. Toe bring sy haar man ook hierheen. Die een wat sy daar ver gaan kry het, en vir ounooi Bekka. Nadat Miss Sarah getrou het, het sy en haar man in die groot kamer aan die punt van die gang geslaap. Daar waar ounooi Bekka nou slaap.”

Sy maak die buitedeur na ’n oulike klein patio oop. “Miss Sarah het mos graag hier gesit en borduur.”

Olivia loop uit op ’n geplaveide skuilhoekie met rankplante en ’n fonteintjie, pragtige, gegote ysterstoele en ’n tafel, alles oud, krullerig en verweer, maar steeds mooi. Op die tafel lê ’n wit kat.

“Dis lieflik, die kat ook,” sê Olivia.

“Hy is ook een van dié wat sommer eendag hier aangekom en gebly het. Die ounooi kon mos nooit ’n kat wegjaag nie en hulle teel aan. Ons het soveel van die goed, ek tel nie meer nie. Vreet! Ons voer net heeltyd, maar hulle vang darem die muise ook. Dié een is Gideon. Hy lê altyd op hierdie tafel. Ek hoop Nooi gee nie om dat hy hier is nie.”

“O nee, ek is lief vir katte.” Olivia streel die sysagte pels. Die kat het uitsonderlike blou oë en hy spin van lekkerkry.

Dit voel vir haar onwerklik. Sy is na ’n ander tyd verplaas, veilig en geborge, waar koerante se saktye, spertye, bendelede, nagtelike aanvalle, verkragters en muggings soos dinge op ’n ander planeet voel. Hier is onverwagse liefde en aanvaarding. Balsem vir haar gemoed.

Wanneer sy aan die aanval op haar oupa dink, tree daar ’n bietjie onrus in. Maar hy was ’n juwelier en hulle word maklik geteiken, stel sy haarself gerus. Hier in dié ou huis is dit veiliger as onder in die dorp waar die bedelaars en straatkinders rondloop.

Sy loop deur die huis na die sitkamer waar daar niemand is nie, maar sy hoor iets wat soos ’n radio klink. Sy tref haar ouma in ’n kleiner sitkamer aan, besig met die knoppies van ’n ou radio.

“Ek soek iets om na te luister,” sê sy. “Elke dag luister ek my stories.”

“Ek gaan Ouma nie pla nie, maar mag ek maar deur die huis stap? Dit fassineer my.”

“Natuurlik, jy moet tog weet waar alles is. Dis mos nou jou huis ook.”

“Dis so groot en interessant. Wanneer is dié huis gebou?”

“Dié huis is in 1906 deur die bekende argitek Charles Bullock, vir jou grootoupagrootjie Chaim Wolowsky ontwerp en deur ’n boukontrakteur en die plaaslike klipkappers gebou. Die sandsteen het uit die rantjies om Oudtshoorn gekom, maar die hout is ingevoer. Die meubels is per trein en wa van Kaapstad en die Baai aangery.”

“Oupa se verhaal het my nog altyd gefassineer. Hy het van swaarkry na welvaart gegaan.”

“Ja, hy was ’n harde werker, maar so was al sy mense. Hy was eers ’n smous, toe ’n verekoper en handelaar. Dis die volstruisvere wat hom so ryk gemaak het, soos jy weet. Verken gerus, my kind. Die huis is baie groot. Daar is ’n solder en ’n kelder ook, maar ek beveel nie aan dat jy dit gaan bekyk nie. Daar is te veel spinnekoppe en goggas. Daar is ook trappies na die toring, maar ek was lanklaas daar bo. My ou bene wil nie die trappe meer lekker klim nie.”

“Ek wil alles omtrent die huis en ons familie weet, Ouma.”

“Wil jy?” vra sy en lyk verbaas. “Dan gaan ek elke dag vir jou stories vertel sodat jy ’n geskiedenis en ’n verlede kan hê. Sodat jy weer een van ons kan word.”

Olivia kry die indruk dat haar ouma haar besoek nie juis as tydelik beskou nie.

“Speel jy klavier?” vra haar ouma.

“Ja, Mamma het my tot op gevorderde vlak laat lesse neem, want sy het gehoop dat ek dalk oupagrootjie Piotr se aansienlike talent geërf het. Ag, maar ek het kwalik so ’n virtuoos soos hy geword. Eintlik het ek dit die afgelope tyd verwaarloos.”

“Ja, maestro Piotr Fedorowitsj Ussakov was ’n wêreldklas- pianis. Sy vleuelklavier wat my moeder nog vir hom gekoop het, staan in die musiekkamer en jou oupa se viool is nog daar. Jy moet asseblief vir my klavier speel. Die klavier was te lank stil.”

“Ek het nie bladmusiek nie, maar ek veronderstel hier is nog?”

“Hier is baie ou goed. Sý bladmusiek is nog hier; myne en jou moeder s’n ook. Makliker goed as syne. Kom ek gaan wys jou die musiekkamer en die foto’s van my moeder en die maestro.”

In die musiekkamer wat eintlik so groot soos ’n klein saaltjie is, staan die yslike Grand-klavier, ’n musiekstaander, twee stoeltjies en ’n viool in sy kassie wat oud en verweer is. Daar is ook ’n kas met glasdeure, waarin daar netjiese stapels musiek is, en ’n paar rye stoele vir ’n klein gehoor.

“Hier het die maestro soms konserte gehou vir ’n uitgesoekte gehoor wanneer hy tuis was,” vertel haar ouma.

Olivia is ingenome. “Hier is baie bladmusiek. Ek gaan dit deurkyk en weer oefen. Klavierspeel is terapeuties. Dit sal ’n belewenis wees om op die ou konsertpianis se klavier te kan speel. Weet Ouma, ek het geen idee hoe hy of my oumagrootjie gelyk het nie. ”

“Daar is my moeder-hulle,” sê haar ouma en neem haar om na ’n portret van haar oumagrootjie Sarah en haar Russiese man te kyk wat teen die muur hang.

“Sy was sowaar mooi,” sug Olivia, en kyk na die vrou se fynbesnede gesig, hoë hals en pêrels, gekartelde, donker hare en groot, donker oë.

“Ja, en jy trek nogal op haar,” sê haar ouma. “Buiten die oë.”

Olivia kyk lank na die vrou en herken in haar haar eie reguit neus, hoë wangbene, vol lippe en spitserige ken, maar sy weet sy sal nooit so koninklik soos Sarah kan lyk nie. Iets wat Sarah uitsonderlik gemaak het, ontbreek by haar. ’n Soort waardigheid. Trots. Iets wat die moderne mens te maklik verloor.

“Oupagrootjie lyk ouer as sy, maar hy is ook ’n aantreklike man, met daardie swart hare, snor en sterk ken. Ek was nog altyd so gefassineer deur wat Mamma my van hom vertel het. Dat hy ’n wonderlike pianis was wat op konserttoere in Suid-Afrika en oorsee gegaan het. Ook dat hy uit die Russiese aristokrasie gestam het en een van die sogenaamde emigrés was.”

“Ja, die Ussakovs het paleise in Sint Petersburg en Moskou en ’n landgoed in die Kaukasus gehad, maar hulle moes voor die Bolsjewiste uitvlug en hulle het alles verloor. Sy familie is dood, sy vrou en seun ook. Hy het my moeder ontmoet toe sy in Kaapstad was en daar na een van sy uitvoerings gaan luister het. Hy was ’n Christen wat behoort het aan die Russies-Ortodokse Kerk. Dit het my oupa geweldig geskok dat sy dogter juis met ’n Rus, die mense wat die Jode so in die pogroms doodgemaak het, wou trou. Arme oupa Chaim, sy mooi dogter het hom die een skok ná die ander toegedien, maar wanneer ’n mens so mooi is soos wat sy was, dan is die versoekings groter en jy trek mans se aandag, of jy nou wil of nie. Dieselfde het met jou arme, mooie moeder gebeur.” Sy skraap haar keel en vee een ooghoek met ’n voorvinger af.

“Ouma is dus net half-Joods.”

Haar ouma sug en kyk weg. “Al trou ’n mens met iemand van ’n ander geloof, is jy Joods as jou moeder Joods is. Jy is dus ’n Jodin, al is jou vader nie Joods nie.”

“Sover ek weet, was Oupa heelwat ouer as Ouma.”

“Ja, twaalf jaar ouer, dié dat hy lankal dood is. Ek het Isaac Shimansky ontmoet by die Levitsky’s en toe raak hy verlief op my. Sy moeder Miriam, wat eers ’n Levitsky was, was van kleins af my moeder se beste vriendin. Ek was nie van plan om te trou nie, maar hy wou my nie uitlos nie. Ek sal jou later alles daarvan vertel. Speel eers vir my iets, asseblief.”

Sy kyk afwagtend na Olivia wat voor die klavier gaan sit en dit oopmaak. Die ivoorklawers is gelerig. Met een hand druk sy op die note en die klank wat opstyg, is diep en ryk. Sy het die Russiese pianis se gene geërf, glo sy. Sonder musiek kan sy nie lewe nie. Eerste probeer sy Beethoven se Für Elise speel en dit kry sy darem taamlik goed reg. Haar ouma se gesig is droomverlore. Die laaste note sterf weg en haar ouma sug.

“Ai, dit was tog so mooi.”

“Dit klink asof die klavier onlangs gestem is, Ouma.”

“O ja, ek het iemand wat dit elke jaar kom stem. Om dié klavier te verwaarloos, sou ’n sonde wees. Die maestro sal hier spook as dit gebeur. Ek het self ook op my dag taamlik goed gespeel, maar nou is daar rumatiek in my vingers. Jy kan ook goed speel, hoor ek.”

“So-so; ek het nie naastenby my oupagrootjie se talent nie.”

“Nadat my moeder en hy teruggekeer het na Oudtshoorn, na dié ou huis, omdat my oupa dood is en sy dit geërf het, het hulle baie gereis sodat hy elders kon gaan konserte gee. Hy sou nie hier kon stil lewe op die platteland nie. Sy talent was te groot. Ek het hom maar min gesien.”

“Het hulle Ouma darem soms saamgeneem wanneer hy op konsertreise gegaan het?”

“Soms, maar meesal het ek gebly by my goewernante, Miss Anna Gregory, en die bediendes. Ons het nog van die laaste wit bediendes op Oudtshoorn gehad. Daarna het Sarie en Abel hier kom werk.

“Jy weet, ek kan nog helder sien hoe die maestro voor hierdie klavier gesit het. Hy het nie sag gespeel nie, maar hard. Dit het weergalm. Ek is seker die hele Oudtshoorn kon hom hoor speel. Hy het in ’n ander wêreld verdwyn, waar nie eens my moeder kon kom nie. Jy weet, hy het die grond aanbid waarop haar voete geloop het, maar hy kon baie temperamenteel en moeilik wees. ’n Regte kunstenaar. Ek was maar lugtig vir hom, want hy was streng en het nie gehou van lawaai nie. Hy was groot en het reusehande met lang vingers gehad. Aan een vinger was altyd ’n ring met ’n familiewapen. Sy hele lyf het saamgespeel wanneer hy voor die klavier sit. Wanneer hy klaar was, het dit gelyk asof die musiek nog sy kop en hart gevul het en hy moeilik kon terugkom aarde toe. O, hy het ’n reusetalent gehad.”

“Ek wens ek kon hom geken het. Ek begeer regtig om Rusland toe te gaan om sy spore te probeer volg. Ek het probeer om sy herkoms na te vors, maar nie veel gekry nie.”

Haar ouma se glimlag lyk vir haar bewoë.

Olivia maak die klavier toe en staan op. “Behoort Stonehaven langsaan nog aan die Le Riches, Ouma? Mamma het my van hulle vertel en ek moet sê, hulle fassineer my ook.”

“Hier is nog steeds ’n Le Riche langsaan wat ’n beeldhouer is. Stonehaven was die Le Riches se dorpshuis. Van die ryk mense in die distrik het benewens hulle plaashuise, ook dorpshuise gehad. Maar ek dink dit behoort nou aan hom. Hy bly daar met net bediendes wat van die plaas af gebring is, en soms bly daar ’n loseerder of twee by hom. Michel is nie ’n slegte man nie, maar pasop vir hom.”

“Waarom, Ouma?” vra Olivia geamuseerd en dadelik nuuskierig.

“Dis ’n lang storie wat ek jou met verdrag sal vertel. Ons familie was nog altyd versigtig vir daardie Le Riches. Van die dae toe Bartel le Riche met jou oumagrootjie Sarah gelol het.”

“Ouma moet my meer daarvan vertel. Mamma het net gesê dit was ’n rampsalige liefde en dat dit nooit tussen oumagrootjie en Bartel le Riche kon uitgewerk het nie. Oumagrootjie het in elk geval ’n man van veel hoër kwaliteit as hy gekry.”

“Later sal ek jou nog álles vertel. Skandes, skades, die lot. Ek gaan nou weer na my draadloos luister. Kyk gerus rond soveel soos jy wil. Dis nou jou huis ook en jy moet tuis raak.”

Olivia dwaal betower deur die huis. Dit is dig van ou lewens wat haar voorafgegaan het. Binne is dit hoofsaaklik skemerdonker in die groot vertrekke met hulle hoë plafonne en vensters met luike wat meesal toe is.

Heeltyd voel dit vir haar asof sy uit die hoek van haar oog beweging sien en teenwoordighede aanvoel, maar wanneer sy omdraai, sien sy iewers ’n kat. Met tye is dit nogal spookagtig. Die enigste kinders wat hier rondgespeel het, was haar ma en ouma, en dalk van hulle maats. Die huis skep egter die indruk dat die mense wat onder hierdie versierde plafonne geleef, asemgehaal en deur die spektrum van menslike emosies gegaan het, eerder waardig, statig en ernstig was. Dat hulle lot met tragedie deurspek was. Hier was nie plek vir ligsinnigheid of oppervlakkigheid nie.

Toe die volstruispluime almal so ryk gemaak het, kon haar voorsate in oordaad lewe, sien sy. Die plafonne is versierde papier maché, die hout is kiaat, mahonie en Oregon-denne en daar is baie daarvan – houtpanele, versierde balustrades, kaste.

Die huis met al dié baie en ruim vertrekke is regtig hopeloos te groot vir een oumens, dink Olivia. Die badkamer wat sy gebruik, is enorm met ’n bad met bal-en-klou-pote, koperkrane, koper-seephouers, vlekke op die emalje en kepies uitgebreek uit die marmervloerteëls. Die eetkamer het ’n mahonietafel en hoërugstoele vir veertien mense, enorme buffette vol silwerware, en groot, silwer kandelare. Daar is nog muurpapier met blommetjies, plek-plek gevlek of verbleik. Die enigste deel van die huis wat sy nie gaan besigtig nie, is haar ouma se suite. Sy wil nie haar ouma se privaatheid binnedring nie.

Daar is geen TV nie. Sy sal darem nie van die buitewêreld afgesny wees nie, want sy het haar skootrekenaar saamgebring en sy sal internet kan opvang. Maar sy wonder of haar ouma koerante kry. Indien nie, sal sy beslis gaan koop.

Orals hang koper- en kristalkandelare en Olivia ruik die stof. Die enigste teken van die Joodse geloof is die Ster van Dawid in die vloer van die voorportaal.

Sy vind die trap na die toring en klim daar op. Dit is stowwerig en lyk asof niemand ooit daar kom nie. Bo in die torinkie kyk sy uit oor die tuin en van daar kan sy die werf van Stonehaven langsaan goed sien. Daar is buitegeboue en Abel werk in die tuin. Hierdie toring is ’n lekker plek van waar ’n mens die bure kan bespied, dink sy, en wonder of die familie dit in die ou dae gedoen het. Tog gee dit haar ’n snaakse, negatiewe sensasie. Dit het mense in staat gestel om skelm op ander te spioeneer. Dit het indringing en afloer moontlik gemaak.

Olivia dwaal verder deur die huis. Wie hou dit alles skoon? Tog nie die bejaarde Sarie nie. Hoe sal sy dit regkry?

Sy gaan na die kombuis waar Sarie sit en silwer blinkvryf.

“Dis ’n pragtige ou kombuis,” merk Olivia op. “Dit lyk regtig asof dit destyds ingerig is om baie mense te onthaal.”

“Ja, hy’s groot en vol goeters, nooi Livvie. Hulle het eentyd groot gekook, veral toe Miss Sarah en die maestro nog hier was. Ounooi Bekka onthaal lankal nie meer nie.”

Olivia glimlag vir die verdraaiing van haar en haar ouma se name. En dat sy nog steeds “nooi” genoem word. Sy bekyk alles. Die kombuis het ’n Aga-stoof en gasstoof, oonde en enorme koperpanne, swart potte, silwer bakke, emaljeware. Die kaste wat glasvoorkante het, is vol breekware, sommige goud- en blommetjieversier en antiek. Daar is nie moderne gadgets nie, behalwe ’n ketel en ’n broodrooster.

Olivia loer by die spens in en sien dit staan vol van nog bakke, potte, panne, ingelegde vrugte, snygereedskap, silwer messegoed en eetware. Sy ruik die ou kosgeure, die sepe en skoonmaakmiddels. Sy sien skimmel, ruik muisdrolletjies, vlieëgif en muf, en verbeel haar daar moet kruipende ongediertetjies en spinnerakke in donker hoeke wees. Tog lyk alles bolangs skoon en blinkgevryf. Op die stoof prut vleis en groente in ’n outydse kastrol en die heerlike geur vul die kombuis. Hier word stadig gekook, sonder die hulp van ’n mikrogolfoond waaraan sy self so gewoond geraak het.

“Hoe kry jy dit reg om alles skoon te hou?” vra sy. “Die huis is geweldig groot en vol goed.”

“Nee, dis die ’linge wat dit doen, Klara en Dora, en hulle vat hom van ’n kant af.”

“ ’Linge? O, jy bedoel seker tweeling.”

“Ja. Hulle is onse dogter Tryn en haar man, Joos, se kinners. Hulle char vir almal hier rond by Wesbank. Onse ander dogter Martha is Lisa en Abie se ma. Hulle pa is dood. Lisa is mos ’n onderwyser en Abie is ’n fitter en turner. Die ounooi het betaal dat hulle leer.”

“Dis gaaf. Mense moet deesdae vaardighede leer, want dit is nie so maklik om goeie werk te kry nie. Is Lisa en Abie ook hier op Oudtshoorn?”

“Ja, hulle is hier. Sy gee skool by die primary en sy’s nog nie getroud nie. Sy wil nie met een van haar eie mense trou nie. Sy dink sy’t nou te goed geword vir ons ammal. Abie is ook nie getroud nie, maar hy hol agter die klimmeide aan.”

Olivia glimlag, maar sy hoor die hartseer in die ou stem. Die kleindogter het geleer en haarself verbeter en nou wil sy uitstyg. Dis te verstane, maar dit is terselfdertyd tragies dat dit haar van haar eie familie moet vervreem.

Olivia gaan by die agterdeur uit en dwaal deur die tuin. Daar is ’n kothuis met ’n groentetuin en sy vermoed dit is waar Sarie-hulle woon.

Oral ontdek sy beddings agter heinings en sy kyk van die terrasse af oor die dorp. Die toring van die museum steek soos ’n baken uit. Haar ma het ook hier geloop. Hier het sy as kind gespeel. In die groot huis vol ou skatte het sy rondgehardloop, gelewe, geëet, geslaap, gedroom en liefgehad. Olivia verlang na haar en kan nie verstaan hoe ’n ouer so hardvogtig kan wees om sy enigste kind weg te stuur nie. Al daardie geskiedenis is egter vir Olivia duister, want haar ma wou nie oor die breuk met haar familie uitwei nie. Nou gaan haar ouma haar darem die storie vertel. Sy sien nogal uit daarna om dit te hoor.

Die geklingel van ’n klokkie laat haar besef sy word vir ete geroep. Sy gaan weer by die kombuis in.

“Ounooi Bekka is in die brekfiskamer,” sê Sarie. “Sy eet nooit meer in die groot eetkamer nie.”

“Kan ek jou help, Sarie?”

“Nee wat, gaan in en sit, nooi Livvie. Ek bring.”

Olivia gaan sluit by haar ouma aan. Die brekfiskamer is die helfte kleiner as die eetkamer, maar steeds so groot soos die eetkamer van ’n moderne huis. Die tafel waar ses mense met gemak kan sit, is pragtig vir twee gedek, met ’n gestyfde wit tafeldoek en blomme. Sarie kom in met twee opgeskepte borde kos en sit dit voor hulle neer. Olivia s’n is vol, maar haar ouma eet min, sien sy.

“Sarie, ek sal jou in die vervolg help,” sê sy. “Jy hoef nie alles te doen nie. Ek is nog jonk en sterk genoeg.”

“As Nooi kans sien, sal dit alles makliker maak,” sê Sarie dankbaar.

Die borde is kosbare porselein en die eetgerei silwer, sien Olivia. Standaarde het hier nooit gedaal nie, vermoed sy. By die watterkraffie is kristalglase. Sy skink vir hulle.

“Ek wil net weer vir Ouma baie dankie sê dat Ouma my inneem,” sê sy. “Ek het onverwags en ongenooid hier opgedaag.”

“Dis reg so, my kind.”

“Ek het so bedreig gevoel, asof daar by my ingedring is en ek te na gekom is. Ek moes net van alles en almal in Kaapstad en Muizenberg wegkom.”

Ouma Rebekah kyk lank na haar. “Moet ons ’n wag kry om ons op te pas?”

“Haai nee, dis seker nie onveilig hier nie. Ek wil Ouma nie meer verontrief as wat ek reeds doen nie.” Sy hoop beslis dit is veilig, al skep die enorme ou huis ’n indruk van spookagtige, onbenutte ruimtes en skaduwees.

“Nogtans. Ons kan Sarie se kleinseun, Abie, kry. Die een wat sy wou gehad het, moet my chauffeur wees. Hy jaag mos in die dorp vir kwaadgeld rond met so ’n ou skedonk van ’n Toyota. Op die oomblik is hy al weer werkloos. Hy was maar ’n probleemkind, stout en altyd in die moeilikheid, maar hy is groot en sterk en hy het ontsag vir my. Dan is ons seker ons is veilig.”

“Ouma, dis nie regtig om my onthalwe nodig nie, maar as dit vir hom werk sal gee wat hy nodig het …”

“Ek sal vir Sarie-hulle sê om hom te laat kom.”

Olivia is ongerus oor dié man wat vir haar klink asof hy kriminele neigings het, maar dit is nie haar huis nie en sy sal maar haar ouma se oordeel moet vertrou.

Olivia bel vir Amanda. “Haai, ek is hier op Oudtshoorn in my ouma se ou pluimpaleis.”

Sy hoor hoe Amanda haar asem intrek. “Sy het jou nie weggejaag nie. Ek het nie gedink sy sou nie. Hoe is sy? Hoe lyk dit alles?”

“Ek vertel jou nou-nou alles. Gee net kans. Dis ’n ander wêreld dié. So anders as waaraan ek en jy gewoond is dat jy dit skaars sal glo. My ouma Rebekah is ’n feisty, elegante vroutjie. Hier werk ’n huishoudster en haar man vir haar, al jare lank. Hulle is ook al bejaard. Hulle noem haar ounooi en vir my nooi.”

Sarah lag. “Jis, dis die platteland daai. Dit klink amper colonial.”

“In ’n sin is dit, maar almal is dierbaar. Hier is ’n ouwêreldse sjarme …”

Pluimprinse

Подняться наверх