Читать книгу Pluimprinse - Malene Breytenbach - Страница 9
5
ОглавлениеSarah is opgewonde. Haar vader het ’n groot stuk grond bo in Wesbank gekoop en hy laat vir hulle ’n nuwe huis bou. Hy sê hulle kan dit bekostig, want die vere het hulle ryk gemaak.
Haar vader neem haar saam na die argitek se kantoor sodat hulle na sy voorlopige plan kan kyk. Sarah is verbaas om te sien dat die argitek nie oud is nie en ook nie lelik nie. Hy is ook baie vriendelik en vertel haar dat hy vir haar ’n klein patio buite haar slaapkamer sal maak sodat sy daar kan sit en borduur, na die tuin kyk en na die voëltjies luister. Eers sê haar vader dis nie veilig nie, maar toe die argitek verduidelik dat niemand dit van buite sal sien nie, stem hy in.
Dit is vir Sarah lekker om ’n nuwe huis te kry en te sien hoe ’n slim man hulle droom werklikheid kan maak. Haar vader noem die huis Courland House. Hy het vir hulle meubels van die firma Isaacson in Kaapstad bestel. Daar sal nuwe matte en gordyne van fluweel met fraiings wees. Vir Sarah is haar patio die beste ding aan die huis. Sy is van plan om baie ure daar deur te bring.
Langs hulle is ’n groot dorpshuis pas voltooi. Die eienaar is meneer Stefaans le Riche van die plaas Rykskraal. Haar vader koop vere by hulle en hulle enigste seun, die erfgenaam, se naam is Bartel.
Dit is die eerste keer dat Sarah Bartel regtig van naby sien en sy kan nie glo dat daar so ’n mooi jong man op aarde kan wees nie. Sy het hom al van ver af vinnig, terloops, in die dorp gesien. Die Le Riches se huis langsaan is deur Charles Bullock se vennoot, meneer Vixseboxse, ontwerp. Dit lyk heeltemal anders as Courland House. Dit het nie ’n toring of broekiekant-versierings nie en dit is ’n dubbelverdieping.
Nou loop Bartel voor die huis verby, met die paadjie op na die voordeur. Sy stewels blink, sien sy, en hy is mooi aangetrek. Hy is lank, met skouers breër as dié van enige man wat sy ken, en toe hy sy hoed afhaal, blink sy goue hare soos sonlig.
Sarah loer by die trap af toe die butler hom by die deur ontvang.
“Ek kom meneer Wolowsky sien oor tuie vir ’n rytuig,” hoor sy hom sê en sy stem is diep, mooi, resonerend.
Skielik kyk hy op en sien haar loer. Sy krimp terug, maar sien hom glimlag. Sy hoop nie haar pa het gesien nie. Sy móét Bartel eenvoudig van naby sien!
Toe hy by haar vader in die voorhuis is, staan sy net buite die deur en afluister.
“Ek kom u spreek omdat ek vir my verloofde ’n rytuig en perde wil koop. Ek ken u as ons vernaamste verekoper, maar weet ook dat u tuiemakery die beste in die dorp is,” sê die jong man. “My vader vertrou u oordeel, en ek ook.”
“U is welkom, Miester Le Riche,” sê haar vader, maar sy kan hoor hy is verbaas dat die goy hom in sy huis kom sien en nie by die besigheid nie.
Die boere is vir Sarah so anders. Baie is vir haar eintlik lelik, maar hierdie Bartel le Riche het ’n lenige lyf, ’n sterk gesig, blou oë en ongelooflike goue hare. Sy verbeel haar koning Dawid moes so gelyk het.
Sy sal verversings vir die gas inneem, al weet sy haar vader hou nie daarvan nie. Maar dis dalk die enigste kans wat sy het om hom behoorlik te bekyk.
“Ek dink ons kan biesnies doen, Miester Le Riche,” sê haar vader toe sy met ’n skinkbord met tee die vertrek binnegaan.
Bartel staan op uit sy stoel en staar na haar, maar sy hou haar oë neergeslaan.
Haar vader sê kortaf dankie en neem die skinkbord. Maar Sarah loop nie onmiddellik nie. Hy is verplig om haar voor te stel: “Hierdie is my dogter, Sarah. Dit is Miester Bartel le Riche van Rykskraal wat nou hier langs ons gaan woon in die familie se nuwe dorpshuis.”
Die man sê: “Aangename kennis, juffrou Wolowsky”, en maak ’n buiginkie. Sy glimlag en kyk na hom, maar sy bloos, maak verskoning en stap uit.
Sarah luister weer af buite die deur.
“Ek is jammer dat ek u verontrief, meneer Wolowsky. Ek het vergeet dat die Ortodokse Jode anders eet as Christene.”
Sy kan nie mooi hoor wat haar vader antwoord nie. Bartel moes seker gevra het dat haar vader hom iets van hulle geloof moet vertel, want sy hoor hoe hy verduidelik dat hulle kasjér leef. Haar vader praat nou taamlik hard en duidelik.
“My mense werk almal hard. Ons het die swaar pad hierheen geloop. Ek het met my vrou, Lea, en my dogter, Sarah, uit ’n plek met die naam Riga gevlug. Sarah se ma is dood toe sy nog klein was. Mag haar siel in vrede rus. Ons het daar swaargekry, maar hier gaan dit met ons baie goed.”
“Hoe oud is u dogter?”
Sarah voel haar gesig warm word.
“Sy is vyftien, Miester Le Riche, en ek gaan haar binnekort verloof. Sy moet trou met een van ons eie mense. Ons kinders van Israel is anders as julle, Miester Le Riche. Ons het die gebruik van kasjér om ons eenkant te hou en ons trou nie met Christene nie. Die basiese wette van kasjér word vir ons gegee deur die Torah. Kasjér beteken wat aanvaarbaar, toelaatbaar en wettig is. Ons volg dit om die Jode as ’n afsonderlike volk te bewaar.”
Toe Bartel weg is, gaan soek Sarah die koppie en bordjie wat hy gebruik het. Hulle moet eintlik daarvan ontslae raak, maar Sarah hou dit en steek dit in haar boudoir weg.
“Vader, aan wie is meneer Bartel le Riche verloof?” vra sy by die aandete nadat haar vader die seën op die kos gevra het en begin eet het.
Haar vader sluk sy kos af en kyk ergerlik na haar. “Jy moes nie ingekom het nie. Dit is nie betaamlik nie.”
“Ek is jammer, Vader, maar ek was net nuuskierig. Vader praat altyd van die Le Riches en dis die eerste keer dat ek hom van naby kon sien.”
Haar vader snork minagtend.
“Ek is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie, my bubbeleh. Ek het oë in my kop. Ek kan sien die man is aansienlik, maar sy soort is nie vir jou nie. Die skape en die bokke word geskei.
“Jong Le Riche is ’n gesogte jongkêrel onder die boeremeisies, en nou is hy verloof aan mejuffrou Bertha Schoeman, die dogter van Blinkkoos Schoeman, een van die rykste boere in die distrik. Hulle troue is blykbaar op hande. Dis dié dat hy vir haar mooi tuie wil laat maak.”
Sarah is skielik terneergedruk en stoot haar kos op die bord rond. In haar oorbeskermde bestaan waar haar vader met ’n ysterhand maar tog met liefde regeer, sou iemand soos Bartel le Riche haar nooit die hof kon maak nie. Sy weet die boere reël ook huwelike tussen kinders van ryk families, maar hulle is nie so streng nie. Mense mag darem op mekaar verlief raak. Sy weet haar vader gaan vir haar ’n huwelik reël – met iemand van sý keuse.
Hoe wonderlik moet dit nie wees om by die boere se opsitkers te kan sit en hande vashou met ’n man so mooi soos Bartel le Riche nie? ’n Mens kan dan openlik en toelaatbaar na hom staar, na sy blou oë, sy hoekige gesig, sy blonde krulle.
Die skape en die bokke paar nie. Sy weet haar vader reken die boere onder die bokke, maar Bartel lyk vir haar te edel om met ’n bok geassosieer te word.
“Eet jou kos,” beveel haar vader meteens streng. “ ’n Mens kan sien jy ken nie hongerly soos ek en jou oorlede moeder dit geken het nie. Eet, en wees dankbaar vir wat jy gekry het.”
Sarah onderdruk ’n moedelose sug. Moet sy altyd, bykans by elke maaltyd, daaraan herinner word? Hulle is tog nou ryk. Haar vader herinner haar heeltyd ook dááraan.
“Ek is dankbaar, Vader, maar ek’s nie vanaand honger nie.”
Hy slaan so hard op die tafel dat sy wip soos sy skrik. “Moenie dat die goy jou eetlus bederf nie. Ek het jou gesê hy is nie jou soort nie.”
Sarah laat haar oë sak. “Dis nie oor hom dat ek nie honger is nie,” jok sy.
Sarah is verbaas toe een van die bediendes die volgende dag vir haar ’n briefie bring.
Aan Sarah die prinses, die lelie van Saron,
Toe ek jou sien, het ek my hart en my verstand verloor. Ek dwaal soos ’n verlore skaap in die woestyn. Waar en wanneer kan ek jou sien?
Jou nederige bewonderaar
Bartel le Riche
Haar hele lyf word lam, maar nie haar hart nie. Dit kan nie wees nie, maar dit ís van hom af, haar Dawid, haar goue prins. Sy weet sy mag hom nie sien of met hom praat nie. Dit sal skande op sy en háár huis, hulle geloof en alles wat kosbaar is, bring. Haar vader sal moord pleeg as hy weet die goy maak kontak met haar.
Maar sy kan nie die briefie weggooi nie. Sy plak dit in haar dagboek.
Haar vader wil haar verbind aan Reuben Levitsky, maar sy voel niks behalwe vriendskap vir hom nie. Die goy met sy goue hare laat haar sondige dinge dink, soos hoe dit moet voel as só ’n man jou soen. Dinge wat die Torah ten strengste verbied. Moet sy hom ignoreer? Ja, sy moet. Sy weet sy moet. Maar sy kan darem seker aan hom dink …
Die bediende bring die volgende oggend weer vir haar ’n briefie. Sy onderdruk haar opgewondenheid, want sy besef sy soek moeilikheid as sy enigiets met die jong man te doene gaan hê.
My lelie van Saron
Mag ek jou maar so noem? Jy is vir my wonderskoon. Ek moet bieg: Ek het met ’n verskoning na jou vader gekom, want ek het jou die eerste keer sien ry in ’n spoggerige kapkar, met blink perde en tuie met silwerbeslag, maar niks is goed genoeg om so ’n juweel te vervoer nie. Jy was geklee in ’n lang romp en langmoubloes, en jy het ’n geborduurde doek losweg oor jou pragtige hare gehad. Dit kon nie wegsteek dat jy die grasie van ’n swaan het nie. Sien, ek onthou alles. Toe sien ek jou by jou tuiste van naby, jou fynbesnede gelaat en jou oë soos donker poele. Jy het my asem weggeslaan. Jy het my laat dink aan die Hooglied van Salomo.
Ik ben een narcis van Saron,
een lelie der dalen.
Als een lelie tussen de distelen
zo is mijn liefste onder de jonge meisjes.
Als een appelboom onder de bomen des wouds,
zo is mijn geliefde onder de jonge mannen.
In zijn schaduw begeer ik te zitten
en zoet is zijn vrucht voor mijn verhemelte.
Hij heeft mij gebracht naar het wijnhuis
en zijn banier over mij was de liefde.
Sterkt mij met rozijnenkoeken,
verkwikt mij met appels,
want ik bezwijm van liefde.
Jou troostelose bewonderaar
Bartel le Riche
Sarah verstaan nie alles wat hy uit die Nederlandse Bybel afgeskryf het nie, maar sy plak hierdie brief ook in haar dagboek. Dis verkeerd, sy weet, sy weet, maar niemand het al ooit vir haar sulke briewe geskryf nie.