Читать книгу Pluimprinse - Malene Breytenbach - Страница 5

1

Оглавление

Olivia droom van dreigende gevaar, maar sy weet nie waar dit vandaan kom nie en sy is uitgelewer. Met ’n uitroep wat sterf op haar lippe skrik sy wakker.

Iets het haar wakker gemaak, en dit was nie die nagmerrie nie. Sy lê eers stil om te probeer bepaal wat dit was. Dit is stikdonker, maar namate haar oë gewoond raak aan die donker, kan sy sien dat haar gordyne wapper. Die vertrek is yskoud.

Sy hoor net die gedreun van die see. Verbeel sy haar of is daar ’n vreemde sweetreuk in haar kamer? Haar reuksintuig is besonder skerp, maar haar lyf speel haar dalk parte. Sy lê stokstyf, haar hart klop in haar keel en haar mond is kurkdroog.

Sy wéét sy moet opstaan en die venster gaan toemaak. Maar sy is seker sy het dit toegemaak voordat sy gaan slaap het. Sy voel-voel in die donker na haar selfoon op die bedkassie, maar kry dit nie. Waar ís dit tog? Sy sit dit altyd binne bereik neer. Olivia hoor ’n skuifelgeluid. Behoorlik benoud trek sy so stil soos sy kan die bedkassie se laai oop. Haar vingers sluit om die koue staal van haar naelskêrtjie. Dit is net die bure se kat, troos sy haarself. Maar die reuk bly hang in die kamer, word selfs sterker. Sy kan skaars haar asemhaling beheer en kom agter dit is hortend van vrees. Sal Minnie hoor as sy skree?

Daar is iemand in die huis. Dit weet sy nou. Sy is te bang om op te staan, uit die slaapkamer te gaan, in die gang af, na die kamer waar Minnie slaap. Sy moet haar waarsku. Haar verbeelding hol met haar weg, en sy dink aan alles wat sy in die hof gehoor het in mense se huise gebeur. Sy weet eenvoudig te veel van wat mense aan mekaar kan doen.

Olivia wil net haar voet van die bed afswaai toe ’n groot, donker figuur langs die bed verskyn. Alles gebeur te vinnig. ’n Hand probeer haar mond toedruk en sy word teruggestamp teen die kussings. Vingers kneus haar wange. Die beddegoed word afgeruk en ’n hand ruk en pluk aan haar nagklere.

Rasend van angs begin sy slaan en skop, en vergeet vir eers skoon van die naelskêrtjie. Sy worstel verwoed, maar die persoon is te sterk vir haar. Olivia ruik sy sweet en hoor hom hyg. Haar een hand slaan na sy gesig en sy kom agter hy het ’n klapmus oor sy kop. Sy hoor hoe haar nagrok skeur en voel hoe hy haar broekie probeer aftrek. Heeltyd hoor sy hom hyg en vloek.

Sy gil deurdringend, maar hy klap haar so hard teen die wang dat haar kop ruk. Dit brand soos vuur. Hy is besig om haar bene van mekaar te dwing, maar sy sit haar teë. Sy gil weer. Staalvingers sluit om haar keel. Sy word versmoor en voel hom teen haar onderlyf. Verwoed steek sy met die naelskêrtjie na die gesig agter die klapmus.

Daar is ’n gedempte gil en die staalvingers los haar keel. Sy snak na asem en is eers te bedwelm om te reageer, maar toe die swaar lyf van haar afrol, trek sy haar longe vol lug en gil weer so hard soos sy kan. Terselfdertyd skop sy na hom. Sy hoor hom vloek. Hy spring weg en strompel oor die vloer, bereik die venster en klim uit.

Iemand skree by die deur en die lig gaan aan. Minnie, haar huishoudster, staan daar met ’n besem, verskrik en slegs geklee in ’n onderrok.

“Wat het gebeur?” skree Minnie.

Olivia hou haar arms om haar knieë asof sy wil toemaak wat so wreed oopgeforseer is. Sy hoes. “In … bre … ker …” kry sy met moeite uit. “Die venster …”

Minnie hardloop na die venster. “Dis gebreek.”

Hoe kon sy so vas geslaap het dat sy dit nie gehoor het nie?

Die wit van Minnie se oë wys om die irisse en sy is halfhisteries. “Het hy jou … jou … seergemaak?”

“Gewurg … ek het hom met ’n s … skêr gesteek. Gaan b … bel die p … polisie …”

Minnie hardloop uit na die foon in die gang en Olivia hoor haar bel. Minnie praat onsamehangend en moet die adres herhaal.

Olivia sit in ’n opgekrulde bondeltjie en kreun. Sy besef sy het nog die skêrtjie in haar hand en gooi dit neer. Haar hand is nat van bloed wat sy gewalg aan die duvet afsmeer. Sy voel onteer en besoedel. Wat as die aanvaller MIV-positief was of reeds vigs gehad het?

Minnie kom teruggehardloop en hou haar vas. Sy troos en klik haar tong, maar sy bewe net so erg soos Olivia, wat aan haar vasklou.

“Ek het s … so geskrik. Hy was in my k … kamer. Die venster w … was oop … Hy wou … hy wou my …”

“Sjjt …” probeer Minnie troos.

Ná ’n ruk kalmeer Olivia effens en maak haar los uit Minnie se omhelsing. “Kom die polisie?”

“Hulle kom.”

Olivia se maag en keel trek saam en sy wil opgooi, naar geskrik.

“Ek moet badkamer toe gaan,” kreun sy en hardloop na die toilet.

Sy was haar hande en gesig by die wasbak en die bloed van die aanvaller spoel pienk weg in die water. Sy wil weer braak wanneer sy daarna kyk, want sy het met al haar krag daardie skêrtjie na die man se gesig gesteek. Dalk het sy nog ’n oog getref. Naarheid kolk tot in haar keel en sy sluk dit af.

“Kan ek jou help?” roep Minnie by die toe deur.

“Nee! Nee, dankie. Ek was eers.”

Sy drink water om die naar af te sluk en was weer haar gesig en hande, met baie seep. In die spieël is sy doodsbleek, maar sy sien kneusplekke op haar nek en haar wange. Haar hele lyf bewe en sy voel koorsig. Sy pluk haar geskeurde nagrok uit. Toe gaan staan sy onder die warm stort en skrop haarself. Sy kan nie onder die water uitkom nie. Die badkamer is naderhand vol stoom.

“Olivia, die polieste is hier,” hoor sy Minnie roep. Sy moet haarself afdroog, maar haar lyf sidder en haar tande klapper.

Sy trek vinnig ’n langbroek en hemp aan. Minnie kom in, met ’n rok onderstebo aangetrek. In normale omstandighede kon dit snaaks gewees het, maar Olivia is te getraumatiseer om nou enigiets snaaks te vind.

“Kan jy met die polieste praat?” vra Minnie besorg. “Jou hare is nat. En jy bewe soos ’n hond wat pak gekry het.”

“Ja, ek moet.” Olivia steek haar voete in sandale en gaan na die voordeur.

Daar is ’n wit vrouekonstabel en ’n swart sersant. Albei kyk na haar met die soort reaksie waaraan sy in haar lewe gewoond geraak het. Asof sy ’n frats is. Asof sy skeel is en hulle nie weet na watter oog om te kyk nie. Want haar regteroog is blou en die ander een groen.

“Ons hoor hier was ’n inbraak, dame,” sê die sersant. “En dat u aangeval is. Ek kan sien dat u hardhandig behandel is.”

“Hy wou my verkrag, maar hy het dit gelukkig nie reggekry nie.” Sy kyk na die vrouekonstabel. “Ek het hom met my naelskêrtjie in die gesig gesteek en toe vlug hy. Ek het ook hard gegil.” Sy bewe nog steeds en haar tande klapper, maar darem minder as net ná die aanval. Sy haal diep asem om haarself te probeer kalmeer.

“Ek het gehoor, toe kom kyk ek,” sê Minnie.

“Minnie het met ’n besem ingestorm, maar toe het die aanvaller reeds ontsnap. Hy het die venster oopgebreek.”

“Is hier nie diefwering en alarms nie?” vra die sersant afkeurend.

“N … nee. Ek het gedink dis nog veilig hier.”

“Dis nêrens veilig nie, dame,” sê die vrouekonstabel. Sy sit haar arm om Olivia se skouers. “Kom sit in die sitkamer en gee ons u verklaring. Ek kan sien u het vreeslik groot geskrik.”

“Dit was baie dom van my om nie die plek te beveilig in dié dae wanneer ons misdaad so hand uitruk nie,” beken Olivia beskroomd.

Sy moet haarself dwing om taamlik kalm te praat en vir hulle alles in detail te vertel.

“Ek stuur ons berader na u,” sê die sersant. “Ek gaan net gou roep op die radio.”

Nadat die man uit is, praat Olivia met meer vrymoedigheid met die vrouekonstabel, wat haar simpatiek aankyk. “Dis verskriklik dat iemand ’n mens sommer so kan kom aanval in jou huis. Sê nou hy het my verkrag? Tien teen een is hy MIV-positief.”

“Hierdie makwerekwere het almal aids,” beweer Minnie.

“Dis nie te sê dit was een van die immigrante nie, Minnie,” sê Olivia. “Dit kon enigeen gewees het. Almal waarsku my dat Muizenberg ’n dodgy plek raak, met al die immigrante en armoede en ek wou al dié huis verkoop, maar ek kon nie. Ek en my ma het hier gewoon en nadat sy dood is, het ek maar net aangehou om hier te woon.”

Die konstabel skud haar kop in ongeloof, asof sy nie kan glo dat Olivia so roekeloos kan wees nie.

Die sersant kom weer in. “Ons berader kom binnekort. Nou dink ek moet ons u slaapkamer en die omgewing ondersoek. Die speurders kom ook. Kan u ons wys waar die aanval plaasgevind het, asseblief?”

Olivia neem hulle na haar slaapkamer waar hulle die venster, bed en vloer ondersoek. Die sersant kry die skêrtjie op die vloer. Hy tel dit baie versigtig op en hou dit in die lug.

“Ek het hom daarmee gesteek, toe los hy,” verduidelik Olivia. Sy kyk met afgryse na die bloedstrepe op die duvet waar sy haar hand afgevee het. Die polisie bekyk dit ook.

“Die verdagte het toegang deur die venster gekry en het waarskynlik nie geweet dat u hier is nie,” sê die konstabel. “Hy is beseer. Ons sal hom nog kry.”

Olivia hoor sirenes buite en ’n hond wat blaf.

“Ons sal buite soek,” sê die sersant. Hy sit die skêrtjie versigtig op die bedkassie neer. “Die speurders sal dié wil sien.”

Die voordeurklokkie lui en Minnie gaan uit om oop te maak. Sy kom in met ’n lywige vrou.

“Goeienaand, ek is kaptein Neethling, die berader,” sê sy en kyk Olivia nuuskierig, ondersoekend simpatiek aan.

“Ek is die slagoffer, Olivia Bailey,” sê Olivia wrang.

Kaptein Neethling glimlag. “Kom ons gaan praat terwyl die beamptes rondkyk.” Sy kyk na Minnie. “Gaan maak vir ons lekker soet tee vir die skok, my ou girl.”

Sy gesels met Olivia en dit laat haar heelwat beter voel. Minnie bring tee, maar Olivia se hande bewe so toe sy die koppie vashou, dat sy nie kan drink nie.

“U moet miskien met ’n sielkundige gaan praat,” sê kaptein Neethling. “Ek kan vir u name gee.”

“Dankie, ons het by die werk sielkundiges wat ons kan help. Ek werk by ’n koerant. Hierdie soort goed is iets wat ons elke dag beleef.”

Die berader sit ’n hand op Olivia se arm. “Neem af by die werk, gaan na familie of vriende waar u veilig sal voel, en moenie huiwer om ’n sielkundige te gaan sien nie. Ek kan u hospitaal toe neem vir ’n ondersoek.”

“Nee dankie, ek sal môre na my dokter gaan. Ek het kalmeerpille … my werk is stresvol, met baie druk en spertye,” maak sy verskoning. “Ek sal van die pille drink.”

“Watse werk doen u?”

“Ek is ’n senior joernalis by die Cape Times, maar voorheen was ek die misdaadverslaggewer. Ek het genoeg te hore gekom van moorde, verkragtings, huismoles en die donker kant van die lewe.”

“Klink of dit tyd is om vir jou ’n ander job te kry,” stel die berader voor.

Olivia glimlag wrang. “Ek dink ek word nou verplig om te doen wat almal vir my sê en dit is om hierdie huis te verhuur of te verkoop. Dit voel vir my ek kan nie hier bly nie. My persoonlike ruimte is verkrag. Dalk voel ek môre anders. Maar ek het my vannag byna doodgeskrik. Ek is bang ek sal die aanval heeltyd herleef. Ek sal bang wees daardie man kom terug of iemand anders probeer dieselfde.”

“Vat ’n break. Gaan weg op vakansie. Gaan bly by vriende of familie. Kry afstand hiervan.”

“Ja, ek sal daaroor dink. Baie dankie vir die gesels. Dit laat ’n mens beter voel. Ek moet seker dankbaar wees dat ek nie verkrag of vermoor is nie.”

Dit klink vir Olivia asof ’n skare mense haar huis deursoek. Die speurders het opgedaag; buite blaf ’n polisiehond. Voor haar hek staan voertuie met flitsende blou ligte.

Die speurder kom in met ’n plastieksakkie waarin die skêrtjie blink. “U het die verdagte hiermee gesteek, verneem ek?”

“Ja.”

“Ek neem dit saam. As ons die verdagte vang, sal dit natuurlik as bewysstuk in die hof dien.”

Olivia weet nie of sy wil hê hulle moet die aanvaller vang nie. Dan moet sy hom in die hofsaal in die gesig kyk. Kom hy los, of te gou uit aanhouding, leef sy met die vrees dat hy haar weer kan leed aandoen.

Olivia gaan drink haar kalmeerpille en kaptein Neethling sit by haar totdat sy meer ontspanne is. Dit is al oggend en die son kom op toe kaptein Neethling, die polisie en speurders weggaan. Olivia bel die redakteur van die koerant.

“Fred, ek moet vanoggend eers dokter toe gaan. Ek is in ’n patetiese toestand …”

“Olivia? Ek is nog besig om te probeer wakker word. Gisteraand ’n bietjie laat gaan slaap. Wat gaan aan? Is jy siek?”

“Ek is laas nag hier in my huis aangeval.”

“Wat de hel? Het jy seergekry?”

“Ja, die ou het my geklap en gewurg, maar dis al. Ek het hom met ’n skêr gesteek, toe vlug hy. Die polisie en speurders het die plek deursoek, maar hy is natuurlik skoonveld.”

Sy begin ruk. Wat gaan tog nou aan? Sy het gedink sy is kalmer.

“Waarsku hulle net by die werk, asseblief. Ek sal later inkom, maar ek lyk sleg. My gesig is gekneus. Ek moet dokter toe gaan. Ek wil in elk geval vir hom nog kalmeer-moetie vra.”

“Is daar iemand wat na jou kan kyk? Moet ek iemand stuur?”

“Nee, ek is oukei, net ’n bietjie geskok. Ek sien julle later vandag. Miskien.”

“Jy bly alleen in daardie kothuis. Diewe sal dit natuurlik teiken. Met die toenemende armoede, immigrasie en werkloosheid neem die rooftogte en geweld mos toe. Kry vir jou ’n veilige plek in ’n veiligheidskompleks of iets.”

“Ek begin my regtig verbeel ek is nêrens meer veilig nie. Ek is al twee keer gemug, en beroof. Eenkeer wou ’n aanvaller my met ’n skroewedraaier steek. Vier van my selfone is al gesteel. Daar is twee keer by my motor ingebreek en elke keer moet ek die skade betaal. Dit voel asof ek geteiken word, maar dis seker net paranoia.”

“Gaan dokter toe, drink iets en ontspan, as dit moontlik is. Jy hoef nie te kom werk nie.”

“Dankie, dis gaaf van jou. Ek dink ek moet verlof neem en ’n bietjie weggaan.”

“Dis dalk ’n plan.”

Sy groet en sit die foon neer. In haar wese is sy alleen en uitgelewer. Sy voel onteer en vuil. Sy wil weer gaan stort en die aakligheid van haar afskrop. Die man wat haar kom aanval het, met sy vieslike sweet en vuil klere, het haar privaatheid, haar persoon, geskend. Dit is ’n aaklige gevoel dat iemand jou sommer kan kom leed aandoen. Dat jy so uitgelewer is en so min waarde het.

Al het die dokter vir haar ’n siektesertifikaat vir ’n hele week gegee, gaan Olivia kantoor toe. Sy lyk soos ’n mishandelde vrou. Mense kyk geskok na haar, maar sy ignoreer dit. Sy voel skielik heeltemal kragteloos. Dis of sy nie verder kan worstel en wroeg nie.

Nadat sy ’n uur lank net na haar rekenaar gesit en staar het, begin sy haar bedankingsbrief tik. As sy nie behoorlik kan funksioneer nie, is sy hopeloos in die stresvolle werk van die koerantwese. Dalk oorreageer sy, dink sy, maar sy is bekend genoeg om vryskutwerk te oorweeg.

Nou wil sy net eers van alles wegvlug. Die werk het vir haar toenemend stresvol geword; hulle het ’n ewige personeeltekort en sy dink dié aanval het haar heeltemal ontsenu. Sy kan nie meer verslag doen oor dieselfde soort dinge nie. Hoe moet sy nóg ’n berig skryf oor ’n grusame familiemoord of ’n aanval op iemand net soos sy? Ná al die aanvalle en diefstalle wat sy al moes verduur, was dié aanval die laaste druppel wat die emmer laat oorloop het. Sy moet iewers gaan wegkruip, al is dit net tydelik.

Haar ma, wat haar vriendin en trooster was, is dood. Olivia het nooit haar pa geken nie. Hy is kort ná haar geboorte vort en hulle het nooit weer van hom gehoor nie. Sy het geen broers of susters, niggies of neefs, ooms of tantes nie. Al familie van wie sy weet, is haar ouma en oupa op Oudtshoorn, in die ou pluimpaleis. Die huis van waar haar ma weggeloop het, tot haar skade.

Lea Bailey het haar ouers nooit weer gesien nadat sy weggeloop het nie, want haar pa, Olivia se oupa, het haar verstoot en dood verklaar.

Olivia sukkel om daardie nag aan die slaap te raak, maar toe sy uiteindelik slaap, droom sy helder en duidelik.

Twee mans staan en redekawel voor ’n groot gebou met ’n toring. ’n Bord dui aan dat dit die die CP Nel Museum is. Die verbygangers sien hulle nie raak nie. Al skril die sonbesies en slaan die hitte in walms op van die skroeiend warm sypaadjie, is albei geklee in pakke met stywe boordjies en onderbaadjies gedrapeer met goue horlosiekettings.

Die jonger man, ’n taamlik aantreklike een met ’n weglêsnor, wat upper-class Engels praat, sê: “Ons het dié pragtige gebou saam uitgevoer en gehoor gegee aan die Kaapse Superintendent of Education dat die nuwe seunskool die ‘best modern type and worthy of the place’ moet wees. Ek met die skool en jy met die skoolsaal en toring, mijnheer Vixseboxse. En kyk nou! Die spul loop maak ’n museum daarvan. En almal vertrap dit.”

Die ander een sê met ’n Hollandse aksent: “Gedorie, meneer Bullock, dit mag net nie, weens die ewige geldtekort en verwaarlosing, vergaan nie. Sandsteen vertoon goed, maar verweer maklik. Die ou klipkappers wat daarmee kon werk, is soos jy weet, al almal dood. Daar is slegs een van hulle oor wat nog die vaardigheid besit. Maar ag, alles is verganklik. Ons bouwerke verdwyn of verweer, maar dié wat behoue gebly het, staan soos dapper soldate wat ’n oorlog oorleef het.” Hy klink melankolies hartseer.

“Die smeeysterversierings roes, die klip verweer. Ek kan soms so vies raak wanneer ek sien hoe dit met tyd verkrummel. O, my pragtige pluimpaleise.” Meneer Bullock sug swaarmoedig.

Mijnheer Vixseboxse slaan met ’n tergende houding oor na Nederlands. “O ja, en ik zeg dat er nog altijd te veel krullen en draaien er aan zijn. Dat smeedijzer wat je heel gepast broekjeskant noemt, dat is wel aardig, maar beslist mijn stijl is het niet.”

Meneer Bullock lyk verontwaardig, maar die Hollander voeg vinnig by: “Ik wil maar net zeggen dat onze stijlen verschillen van elkaar.”

“Ek kan met trots daarop aanspraak maak dat ek van die mooiste pluimpaleise in hierdie eens armoedige dorp in die Klein-Karoo geskep het,” sê meneer Bullock uit die hoogte. “Die inkommers van oraloor wat so gou uit die pluime ryk geword het, wou veral huise hê wat hulle nuutgevonde status en geld sou weerspieël. Hulle wou paleise hê van klip, gebrandskilderde glas, gekerfde hout, versierings en vergulding. Hulle wou oordaad hê. En ék het dit vir hulle gegee.”

Mijnheer Vixseboxse lag. “Nouveaux riches, parvenu’s wat uit die vere van die volstruis ryk geword het en wat ’n tyd lank baie hoog gelewe het.”

“Ons produkte verteenwoordig tog la belle époque van Oudtshoorn. Ek het nog die elegante Imperial Hotel ook ontwerp.”

“Het is tog jammer dat zij jouw hotel asook jou meesterstuk, The Towers, tot puin gemaakt heeft.”

“Die Filistyne! Dit is onvergeeflike verwoesting! Ek raak ál meer bekommerd. Daar is soveel verval en verrotting op Oudtshoorn. Die rykdom van die verlede is besig om te vergaan. Die mense vir wie ons gebou het, se dinastieë sterf uit. Ek kan net hoop dat daar darem van ons skeppings sal voortleef.”

Mijnheer Vixseboxse lyk ook gekwel, maar spot weer so ’n bietjie. “Niks bestaat toch voor eeuwig. Sic transit gloria mundi – aldus vergaan die glorie van die wêreld.”

Meneer Bullock sug. “So is dit. Maar een van die dae is daar darem meer as net die verval om dop te hou. Het jy gehoor? Sý is op pad.”

En die twee knipoog vir mekaar en glimlag.

Olivia word wakker en lê aan die droom en dink. Watter vreemde droom, wat tog so werklik gevoel het. Waar kom sy aan die name? Is dit weer een van haar voor- of naspooksels? Sy ervaar dikwels déjà vu, óf sy droom dat iets gaan gebeur, en dan gebeur dit werklik.

Sy staan op en gaan na haar skootrekenaar waar sy die naam Bullock google. Ja, hy was ’n Oudtshoornse argitek in die boom-tydperk wat vir die mense wat so skielik ryk geword het uit volstruispluime, herehuise ontwerp het, en hy is in 1909 oorlede.

Daar is ’n lys van Bullock se Oudtshoorn-huise:

Montague House, eienaar Lipschitz, 1908;

Gottland House, eienaar C.M. Lind, 1902;

Mimosa Lodge, eienaar R. Sladowski, 1907;

Dorpshuis, eienaar J. le Roux, 1908;

The Towers, eienaar G. Olivier, 1902 (gesloop) ;

Rus-in-Urbe, eienaar J.A. Foster, 1902;

Rykskraal, eienaar S.J. le Riche, 1906;

Courland House, eienaar C. Wolowsky, 1906.

Die argitek Charles Bullock, wat in 1909 dood is, word as een van die groot sandsteenargitekte bestempel.

Courland House is haar oupa en ouma se huis, waar haar ma grootgeword het. Sy droom nie verniet daarvan nie. Dit gee haar weer die buitewêreldse sensasies wat sy kry wanneer sy iets sommer weet, maar nie altyd weet hoekom sy dit weet nie. Dis ’n boodskap, ’n rigtingwyser.

Oupa Isaac kan seker nie meer lewe nie, maar dit is moontlik dat ouma Rebekah nog lewe. Sy was ’n hele entjie jonger as hy. Sy moet egter al baie oud wees. Dit val Olivia by dat sy ’n hele ruk gelede ’n artikel gelees het van argitekte wat oor die laaste twee eeue in Suid-Afrika gewerk het. Mense soos die beroemde Sir Herbert Baker. Charles Bullock is ook genoem, en Johannes Egbertus Vixseboxse. Dit moes in haar onderbewussyn vasgesteek het.

Durf sy soontoe gaan? Na Courland House? Sy gaan ten minste probeer. Dis op die oomblik vir haar ’n uitkoms en ’n toevlug, en baie jare is darem sedert haar ma se tragiese vlug verby.

Word sy geroep?

Olivia bel haar vriendin Amanda wat by Fair Lady werk en vertel haar van die aanval.

“En jy sê my nou eers?” roep Amanda geskok uit. “Dit het al eergisteraand gebeur. Jy kon hiernatoe gekom het …”

“Nee, ek wou nie weghardloop en arme Minnie net so los nie.”

“Ag nee. Kom slaap vannag hier. Minnie is tog seker oukei? Niemand sal haar wil beroof nie.”

Olivia sug. “Ek het so groot geskrik en is so bang daardie aanvaller kom terug dat ek net uit Kaapstad en Muizenberg wil wegvlug. Ek wil ook nie my vriende met my probleme belas nie. Dis beter dat ek heeltemal weggaan.”

“Maar waarheen wil jy gaan?”

“Ek het gedink aan my ouma op Oudtshoorn. Die een van wie ek jou vertel het. Ek ken haar nie, maar ek wonder nog al die jare oor haar. Sy was die sagte een van die twee oumense. My ma het altyd gesê haar pa het hulle almal gedomineer en hulle moes hom in alles gehoorsaam. Ek is seker sy sou nie my ma wou dood verklaar het nie. Ek gaan na haar toe en as sy my wegjaag, nouja, dan jaag sy my weg.”

Daar is ’n kort stilte voordat Amanda weer praat. “Gee jy nou jou werk en huis op, of is dit net ’n tydelike kuier?”

“Ek sal my huis net so verhuur, met Minnie daarby. Sy sal nie haar werk wil verloor nie. Die ekonomie trek swaar. Ek kan net nie nou met saktye en harde nuus cope nie. Ek moet eers afstand kry, en gesond word.”

“Ag shame, jy is werklik getraumatiseer. Ek sou ook uitgefreak het. Jy gaan nie weg voordat jy kom totsiens sê nie en dan behou jy kontak, of ek kom haal jou en gee jou ’n pak slae. Hoor jy my?”

Olivia glimlag, al trek haar gesig seer. “Ek sal jou van al my bewegings laat weet, my vriendin. Wanneer ek beter voel, kom ek terug. Maar op die oomblik kan ek skaars helder dink. Ek wil regtig net wegkom.”

Pluimprinse

Подняться наверх