Читать книгу Pluimprinse - Malene Breytenbach - Страница 7
3
Оглавление“Ouma, ek het ’n fotoalbum saamgebring. Wil Ouma dit graag sien?”
“Ja, asseblief, my kind. Kom ons gaan sit op die bank, dan wys jy vir my.”
Olivia sit langs haar ouma. “Kyk, hier is ek en Mamma toe ek die eerste keer skool toe is. Ek was so trots op daardie uniform wat te groot vir my was. Mamma het gesê ek sal in hom ingroei.”
Uit die hoek van haar oog merk Olivia haar ouma vee trane af, maar sy maak asof sy dit nie raaksien nie.
“Jou moeder was ook opgewonde toe sy die eerste keer skool toe is,” sê ouma Rebekah sag. “Nie een traan gestort nie.”
Olivia laat toe dat haar ouma elke foto bekyk en soms met haar vinger daaroor streel, asof sy haar verlore dogter liefkoos. Dit vul Olivia met deernis.
“Daar is ek en Mamma, net voor my matriekafskeid. My vriend se pa sou ons aanry en hulle was laat. Mamma se vriendin het dié foto geneem. Daar is ek saam met die seun. Kyk ons hare! Ek lag my dood vir daardie modes van destyds, maar ons het gedink ons lyk great. Mamma het my rok gemaak en dit het baie professioneel gelyk – asof ’n ontwerper dit gemaak het.”
“Het sy? Om te dink, nè? Hier wou sy nooit naaldwerk doen nie en van brei wou sy niks weet nie. Jy lyk net so mooi soos sy gelyk het by haar skoolafskeid. Jy lyk só baie na haar, dit laat my arme ou hart …” Sy kug. “Sy het mooi gebly …”
“Mamma wás mooi. Mense het altyd so gesê. Kyk, daar is ek by my eerste gradeplegtigheid, in my wit rok en toga. Mamma het daardie dag so ’n mooi blou rok aangehad. Sy het gesê sy is trots op my, want ek het hard gewerk en met beurse gestudeer, maar ek was trots op háár ook en dankbaar dat sy my altyd aangemoedig en onderskraag het.”
Ouma Rebekah kug weer. Sy kyk lank na dié foto voordat sy Olivia toelaat om om te blaai.
“Wie is dié jong man?” wil sy weet toe sy kyk na ’n foto van Olivia met ’n jong man aan haar sy, albei glimlaggend.
“Ag, een van my vroeë boyfriends. Onbelangrik. Ek dink nie eens ek kan sy naam onthou nie.”
“Dit klink asof daar baie van hulle was,” merk ouma Rebekah droog op en kyk sydelings na haar.
Olivia lag. “ ’n Streep onbenullige karakters. Nie een troumateriaal nie.”
Nadat hulle die hele album deurgekyk het, gee Olivia dit vir haar ouma. “Gaan kyk gerus op Ouma se tyd daarna.” Ongetwyfeld sal haar ouma graag die foto’s van haar dogter en kleinkind se lewens bestudeer en waarskynlik in stilte huil oor die verlies van so baie jare se liefde en samesyn.
Haar ouma knik. “Dankie.” Haar stemmetjie is skor.
Olivia droom weer die herhalende nagmerrie van die aanvaller met die klapmus oor sy kop. Brutaal en vloekend kry hy dit reg om haar klere af te skeur en homself by haar in te stamp. Haar pyn en vernedering is ondraaglik. Met ’n gesmoorde gil en papnat gesweet, word sy wakker. Sy kreun en vee slierte hare van haar sweterige voorkop af. Die besef dat sy veilig in haar ouma se huis is, laat haar met ’n sug terugsak op die kussing.
Nagmerries teister haar, ten spyte van die kalmeerpille en slaappille wat die dokter voorgeskryf het. Tydens haar jare as misdaadverslaggewer het sy dikwels van die vreeslikste goed te wete gekom – kinders wat verdwyn, mishandel en vermoor word, mans wat hulle vroue bedreig en slaan. Bendemoorde en plaasmoorde. Bloed en derms, wonde en geweld. Gaan sy dit dan nooit afskud nie? Nooit genadiglik vergeet nie?
Sy skrik toe sy brandende oë naby haar gewaar, maar besef dis net ’n kat. Die witte het by haar geslaap en natuurlik geskrik toe sy gil en skop.
“Kiets, Gideon, kom maar weer terug,” sê sy. Dis lekker en gerusstellend om die sagte, warm pelslyfie by haar te hê en die gespin te hoor.
Sy voel hoe die kat weer opspring en sy streel hom. Hy spin en kom lê teen haar. Dit voel vir haar asof die wit kat haar spesiaal verwelkom het. Hy het haar summier aangeneem. Sy is sommer lief vir hom.
Sy lê lank wakker en probeer die drogbeelde wegwens. Die gesiglose man met die klapmus het soms een oog, want die ander een is uitgesteek en bloederig. Dit is grusaam. Voordat sy weg is, het die polisie hom nog nie gevang nie. Sy twyfel of hulle ooit sal.
Olivia bad weer in die oggend en was haar hare asof sy die aakligheid, die smerigheid en smet van die aanval en die droom van haar wil afwas. Sy kan nooit skoon genoeg wees nie. Sy voel gedurig vuil. Voordat sy gekom het, het sy tot drie, vier keer per dag gestort. Hier is geen stort nie; die badkamer is outyds. Sy moet bad. In die spieël op die badkamerkas lyk sy vir haarself bleek en weerloos, haar lyf skraal en kwesbaar.
Met ’n gevoel van onwerklikheid kom sy in die brekfiskamer aan. Sy kan nie glo dat sy regtig hier is nie. Dis ontroerend dat sy veilig by haar ouma kan wees. Die jare val weg en sy is soos ’n geborge kind, nie ’n vrou van in die dertig wat baie van die lewe gesien het nie.
Haar ouma is netjies aangetrek en sit reeds aan tafel. Deernisvol kyk sy na Olivia.
“Ek dink jy het ’n nagmerrie gehad. Ek het my verbeel ek hoor jou roep, toe lê en luister ek, maar dit was weer stil.”
“Ja, ek droom die vreeslikste goed, maar dit sal ook verbygaan. Jammer dat ek Ouma gesteur het.”
“Nee, moenie jou oor steur bekommer nie. Jy weet Abel en Sarie is agter in die kothuis en hulle is naby, maar hulle is oumense. Ek sal vandag vra dat hulle met Abie praat. Hy kan by hulle kom intrek; die kothuis is groot genoeg, en in die nag moet hy met een oor en een oog oop slaap.”
Olivia knik. Dalk besweer dit haar nagmerries wanneer sy weet daar is tog ’n wag, hoe absurd dit ook al mag wees.
“Dis Saterdagoggend, maar ek gaan nie uit nie,” sê haar ouma nadat hulle klaar geëet het. “Jy kan gaan kyk wat in die dorp aangaan, as jy wil. Die fees is mos aan die gang. Julle jong mense hou mos van sulke goed.”
“O ja. Miskien moet ek. Toe ek die dorp binnekom, het ek gesien hulle berei voor vir die KKNK, ’n fees wat ek nog nooit kon bywoon nie.” Sy sê nie waarom sy nie kans gesien het om Oudtshoorn toe te kom nie.
“Gaan en geniet dit, maar pasop vir die lastige straatkinders. Wees net terug vir aandete. Ek drink altyd ’n sjerrie voor ete op Saterdagaand, om die einde van die sjabbat te vier. Dis al ritueel wat ek deesdae handhaaf.”
“Ek glo nie ek gaan heeldag wegbly nie, Ouma.” Sy soen haar verrimpelde wang en haar ouma kyk glimlaggend op.
“Ek is so bly jy het gekom voordat ek na my graf gaan.”
Die woorde maak Olivia bekommerd en hartseer, maar sy gaan trek stapskoene aan en loop by die heuwel af, oor die rivier, tot by Baron van Rheedestraat. Dit lyk asof die fees aan die gang kom. Sy stap verby ’n ou klipkerkie en stalletjies wat die vorige dag opgerig is. Daar is die heerlike geure van allerhande soorte versnaperinge en kos wat verkoop word. Sy koop vir haar ’n reuse-koeksister en eet dit staan-staan in die skadu van ’n boom. Daarna lek sy die stroop van haar vingers af soos ’n kind.
Die gesing van straatmusikante en die gedreun van mikrofoonstemme vul die strate. Sy geniet die geroesemoes van die feestelikheid en die vrolike mense, maar sy sien ook straatkinders en bedelaars en dit tref haar dat hier baie behoeftige mense tussen die feesgangers rondbeweeg.
Daar sit vier maer dogtertjies, vuilerig en met styf gevlegde haartjies, op die sypaadjie se rand. Hulle sing Nkosi Sikelel’ iAfrika lustig maar vals. Olivia hou hulle met deernis dop. Dis die soort kindertjies wat deur pa’s, broers en ander mans mishandel word, dink sy. Kleintjies wat weggelok en verkrag word en heel moontlik doodgemaak word. Sy vee oor haar gesig. Wanneer gaan sy ophou om in terme van wreedheid en misdaad te dink? Dinge spook te veel by haar. So erg dat sy bang geword het vir mans en wat hulle aan ’n mens kan doen.
Sy gaan koop vir elkeen van die kleintjies ’n koeksister. Gee sy geld, neem iemand dit dalk by hulle af en gaan koop drank of tik daarmee. Hulle verbaasde en vreugdevolle gesiggies roer haar hart en sy kyk eers glimlaggend hoe hulle lag en hap dat die sous spat, voordat sy verder stap. Sy wil na die museum met die toring gaan kyk.
Die outydse winkels langs die straat, met stoepe met ysterpilare en broekiekant-versierings, verkoop volstruisprodukte – ’n oordaad van eiers, liggeelkaal én beverf met allerhande tonele. Daar is geen twyfel dat hierdie die volstruishoofstad van die land is nie, dink sy. In ’n winkelvenster is daar talle volstruisleerprodukte, handsakke en baadjies, skoene en gelooide velle, uitgestal. ’n Oorvloed van die leer wat dadelik aan die knoppies daarop uitgeken kan word. Knoppies waar daar eers vere was.
Daar is verskeie kunsuitstallings in Baron van Rheedestraat. Die meeste lyk amateuragtig en trek haar nie juis aan nie. Maar sy steek vas voor ’n galery waar die naam Michel le Riche voor op ’n bord geadverteer word. Dit is ongetwyfeld die beeldhouer van wie haar ouma gepraat het. Die gevaarlike buurman. Nuuskierigheid oorval haar. Sy móét sien hoe hy lyk en of hy werklik talentvol is.
Sy is die enigste persoon daar. Die beelde wissel van groot tot klein en getuig wel van talent. Van beeld na beeld beweeg sy en voor ’n klein bronsbeeldjie van twee volstruise wat lyk asof hulle dans, gaan staan sy botstil. Dit is die enigste realistiese werk in die galery en dit is met soveel grasie en skoonheid uitgebeeld dat sy verstom is. Lank staan sy dit en bewonder. Naderhand is dit vir haar asof die twee groot voëls werklik in grasieuse balletpassies beweeg.
Sy ruik meteens iemand naby haar en draai om. ’n Forsgeboude man met ’n hoekige gesig, swaar wenkbroue bo grysblou oë en deurmekaar blonde hare kyk priemend na haar. Sy skat hom omtrent haar ouderdom, of dalk ouer. Hy is nie konvensioneel mooi nie, maar manlik. Sy swart T-hemp beklemtoon ’n breë bors en gespierde arms met groot hande. Aan groot voete onder ’n driekwartbroek en gespierde kuite is leersandale. Hy kyk bykans verontwaardig na haar. Olivia besef sy moes hom onbeskof aangestaar het.
“Vind jy die volstruise interessant?” vra hy spottend. “Jy het so lank daarna staan en kyk.”
Sy moet haar verleentheid wegsteek. “Ja, absoluut. Dit is iets uitsonderliks en die volstruise is lewensgetrou uitgebeeld, meneer Le Riche,” raai sy wie hy is. “Ek neem aan jy is die beeldhouer?”
“Ja, ek is Michel le Riche.”
Hy reageer nie soos mense gewoonlik op haar oë reageer nie; kyk nie van een na die ander en lyk geskok nie. Hy steek een groot hand uit en sy skud dit. Dit voel grof, eelterig, soos van iemand wat met sy hande werk. Abel, die eerste man aan wie sy durf raak het sedert die aanval, se hand het ook so gevoel. Wanneer sy aan ’n man raak, moet sy haar senuagtigheid onderdruk.
“Ek is Olivia Bailey. Aangename kennis. Jy is waarlik talentvol.”
“Dankie. Laat ek jou vertel waaroor dié stuk gaan. Die volstruismannetjie dans vir die wyfie en hoop sy aanvaar hom as haar lewensmaat. Wanneer dit slaag, paar hulle en lê sy eiers. Die beeld was ’n opdrag en ek moes die paringsdans so lewensgetrou moontlik uitbeeld.”
Hy staan so naby aan haar dat Olivia ’n rilling deur haar voel gaan. Sy wil nie wys dat sy grootte en krag haar intimideer nie, maar sy staan tru.
“Ek was op die punt om vir my koffie te maak. Gaan jy ook drink?”
“Dankie, dit sal lekker wees.” Sy kan nie juis weier nie en buitendien is sy nuuskierig oor dié Le Riche.
“Kom na die kantoor, daar agter die glasvenster,” nooi hy.
Hy skink vir hulle van die koffie wat staan en perkoleer. Dit ruik heerlik. Daarna kyk hy haar stip en deurtastend aan terwyl hulle koffie drink. Die man ontsenu haar. Dit is moeilik om hom direk in die oë te kyk.
“Ek is juis besig met ’n marmerbeeld van daardie bronsbeeld waarna jy so lank gestaan en kyk het,” vertel hy haar. “My ma het dié lewensgrootte bestel vir die portaal van ons plaashuis. Ons gaan dit aan die einde van die fees onthul, terwyl mense van die pers nog saamgetrek is op Oudtshoorn en ons die maksimum dekking kan kry.”
“Jy het natuurlik met volstruise grootgeword. Dié dat jy hulle so goed kan uitbeeld.”
“Ja, ek ken volstruise. Daar is vir my iets mistieks omtrent die volstruis.”
“Waarom?”
“Dié voël het die vermoë om deur voor- en teëspoed te oorleef. Daar is ’n oerkrag in hom wat die mens heel dikwels kortkom. Die mens misbruik en mishandel hom nog al die jare. My ma is baie bygelowig en sy glo daar is ’n volstruisgees wat versoen en gunstig gestem moet word.” Hy lag. “As dié gees teen jou gedraai het, sal jy nie floreer nie. Jy moet eer betoon om weer sy guns te wen. Dis nou nie dat ons van die volstruis ’n afgod maak nie, maar die San het.”
Olivia is verbaas en geamuseer. Hy sien dit en gaan met ’n skewe glimlaggie voort.
“Pluime en vere is nog altyd van die lewende voël gepluk soos mens vrugte van ’n boom sou afpluk, maand ná maand en jaar ná jaar, en dan word daar gewag dat nuwes weer in die plek daarvan groei. Met gereelde tussenposes word die hele stert, vlerke en bors van volwasse voëls – eintlik ook van onvolwasse voëls wat slegs maande oud is – gepluk. Die volstruis staan in ’n plukboks met ’n kous oor sy kop wat hom blind en hulpeloos maak. Die penvere word gelos sodat bloed nie in die vere wat geknip word, kom nie. Twee maande later word dit ook uitgetrek.”
“Foeitog, jy maak dat ek die arme volstruise regtig jammer kry.”
“As kind op die plaas het ek gaan kyk, veral wanneer die vere gesorteer en gekleur word. Al verseker almal ’n mens dat die volstruis geen pyn voel nie, kon ek dit nooit glo nie. Waarom het baie van die voëls dan so woes gespartel? My oupa en pa het beweer dat dit is soos om naels te knip, maar ek glo dat die spiere en senuwees en weefsel pyn voel. Hoeveel pyn het ons nie oor tweehonderd jaar die arme volstruise aangedoen nie?”
“Ek kan ook nie glo dat vere oes so pynloos is soos skape skeer nie.” Sy dink aan die hobbeltjies op volstruisvel en ril.
“Vir die meeste mense is volstruise bloot geldverdieners en hulle sal my uitlag as hulle moet weet hoe ek werklik oor die arme voëls voel.”
“Dit wys dat jy ’n goeie hart het.”
Hy grinnik. “As jy so sê. Jy het seker vir die fees gekom. Waar kom jy vandaan?”
“Van Muizenberg af.”
“Waar jy wat doen vir ’n lewe?”
“Ek was ’n senior joernalis by die Cape Times, in Kaapstad, maar ek het elke dag van Muizenberg af ingery.”
“Is dit dan verlede tyd?”
“Ja, ek het bedank. Ek probeer my batterye herlaai en dit gaan my seker ’n ruk neem.”
“Is jy alleen by die fees?”
“Ja.”
Sy sien hy kyk na haar kaal ringvinger. Hy sal seker wonder of sy geskei of ’n weduwee is. “Eintlik kuier ek ’n rukkie by my ouma, wat hier op Oudtshoorn woon.”
“Wie is jou ouma?”
Sy huiwer voor sy hom vertel. “Mevrou Rebekah Shimansky en sy woon in Courland House.”
Hy staar haar verstom aan. “Is jy tog nie hulle dogter, Lea, se kind nie?”
“Ja, ek is.”
“Hoe gaan dit met jou ma?”
“Sy is dood.”
“Ek is jammer om dit te hoor. Ek bly langs jou ouma, in Stonehaven, waar ek ’n ateljee ingerig het.”
Olivia glimlag. “Ek het gehoor daar woon ’n beeldhouer langsaan.”
“Waarom kom jy nou eers kuier? As jy voorheen gekom het, sou ek jou dalk onmoet het.”
“Wel, dis ’n lang familiegeheim, maar ek is nou uiteindelik hier.”
“Jy kan gerus na die onthulling van my volstruise op Rykskraal kom. Of is jy ook lugtig vir al wat ’n Le Riche is? Jou ouma vertrou ons glad nie.”
Sy lag. “Nee wat, julle het mý niks aangedoen nie en ek weet buitendien min van julle af. Ek dink ek sal graag na die onthulling wil kom, dankie, Michelangelo.”
Hy grinnik. “Ek sal laat weet waar en wanneer. Het jy ’n selfoon?”
“Natuurlik.”
Hulle ruil nommers uit. Wat maak dit saak dat hy ’n Le Riche is? dink sy. ’n Jong, ontvanklike meisie is sy beslis nie meer nie. Die lewe het haar al goed gebrei. Te hardhandig behandel om toe te laat dat sy dweperig romanties kan raak.
“Dankie vir die koffie en die uitnodiging,” sê sy.
“Jou oë is besonders, elkeen so helder soos die albasters waarmee ek as kind gespeel het.”
“Ja, mense skrik gewoonlik daarvoor. Soms kan hulle my nie in die oë kyk nie. Ek sien ewe goed met albei en sou seker daarvan vergeet het as mense nie alewig gereageer het asof hulle ’n frats sien nie.”
Hy glimlag. “ ’n Frats is nie wat ek dit sou noem nie. Dit maak jou anders, ja, en uniek. Dit is ’n bate. Jy het ’n stempel wat niemand anders het nie.”
Sy glimlag terug. “Dankie dat jy nie een van dié is wat skrik nie. Mense assosieer dié soort oë dikwels met heldersiendheid.”
“O, en is jy heldersiende?”
Sy glimlag verleë. “Nou nie so dat ek mense se teekoppies sal lees nie, maar dikwels voel ek dinge aan of droom iets wat dan daarna gebeur.”
“Fassinerend.”
Sy staan op. “Ek moet nou gaan.”
Hy vergesel haar na die deur. ’n Aantal mense staan rond in die galery. Met sy hand teen die kosyn kyk hy na haar toe sy wegstap. Sy kry die voorgevoel dat haar kennismaking met hom gevolge kan hê. Hy sou haar in normale omstandighede kon aantrek, selfs oorweldig, maar nou is sy nie meer normaal nie. Haar bagasie is te swaar. Sy is ’n gekweste dier wat mank loop.
Terwyl sy aanstap, dink sy dat sy nogal so ’n volstruisbeeldjie begeer. Miskien sal die volstruisgees háár ook beskerm, dink sy wrang. Soos ’n beskermengel. Haar familie se fortuin is tog ook deur die volstruis gemaak.