Читать книгу Pluimprinse - Malene Breytenbach - Страница 8
4
ОглавлениеOlivia stap tot by die museum, verby tente en stalletjies waar banke en die media gepromoveer word. Voor die ingang is ’n woonwa wat eintlik ’n verhoog is en waar ’n sanger lustig sing. ’n Menigte mense maal daar om die museum rond. Baie sit op strooibale. Langsaan is ’n kroeg en wegneemetes en die toue is lank. Die tuin is reeds vertrap deur die feesgangers. Dit sal darem werk vir skoonmakers skep, dink sy. Hier loop juis heelwat werkloses rond.
Sy baan haar weg deur die mense om by die ingang van die museum te kom. Binne is dit koel, die plafonne hoog. Die vae reuk van oudhede, die stof en gif om dit te beskerm, is in haar neus. Slegs ’n handjievol ander mense kyk ook na die uitstallings. Olivia bestudeer die verhaal van die volstruis en die glorietyd van die pluimbedryf, sy kyk na meubels, breekware, ’n apoteek en winkel, wapens en foto’s, eetkamers met swaar buffette soos in Courland House, slaapkamers met koper- en baldakynbeddens; die wasskottels, lampetbekers en selfs die kamerpotte is van pragtige, geblomde porselein.
Die ou tabberds, wat eentyd lywe versier het wat verplig was om hulle middels met knellende korsette in te trek, fassineer haar. Die tabberds is versier met kant en pêrels, krale, valletjies, heupbollas, en is geplooi en gedrapeer. Skerppuntskoentjies van blink materiaal met gespetjies wys dat voetjies delikaat was en nie ver gestap het nie. Sulke klere het haar oumagrootjie seker gedra. Sy moes net so klein soos ouma Rebekah gewees het.
Olivia voel groot en modern, allermins Victoriaans, Eduardiaans en onprakties elegant. Daardie vroue van die pluimprinse was vertoonstukke, soos winkelpoppe. Ladies’ maids moes hulle aantrek, die honderde knopies en hakies vasmaak, die korsette intrek en vasbind, die oordrewe haartooisels opdoen. Vroue in gestyfde uniforms met voorskote, beffies en mussies het die bevoorregte minderheid op die hande gedra. Die parvenu-vroue, sommige grof, onder die vertroetelende hande van die ondergeskiktes.
Olivia kyk na ’n ivoorkleurige trourok wat wyd uitklok, vol broderie anglaise, gemaak vir ’n vrou wat deesdae ’n pikkie sou gewees het, skaars vyf voet lank in die ou terme. Sy kan haar ouma Rebekah in so iets voorstel. Háár ma moes iets soortgelyks gedra het toe sy met die Rus getrou het. Hy kon seker sy hande om haar middel span en die punte van die lang vingers van die pianis sou geraak het.
Aan die mure hang ou argiteksplanne van pluimpaleise, geteken deur mense soos Charles Bullock en JE Vixseboxse. Daar is onder meer argiteksplanne van Courland House en Stonehaven, met die argitekte se handtekeninge op. Die sketse is pragtig en sy wens sy kon die een van Courland House in die hande kry. Sou haar ouma iewers so iets hê?
Dit voel meteens asof iemand agter haar staan en sy draai om, maar sy sien niemand nie. Daar loop iemand oor my graf, dink sy, en ril. Sê nou net die geeste van die ou argitekte loer oor haar skouer en hou daarvan dat sy hulle skeppings so bewonder? Oudtshoorn en sy romantiese dog tragiese geskiedenis gee haar verspotte idees.
Sy gaan kyk na wat oorgebly het van die sinagoge wat in die museum gehuisves word. Goud en versier staan dit daar, ’n relikwie van ’n plek van aanbidding wat eens deur baie Joodse inwoners besoek is. Hoe het hulle bestaan hier nie gekrimp nie.
Sy lees die inligtingsblaadjie wat vertel dat dit die Ark van die Griener Shul is wat lyk soos die een in Kelm wat deur die Nazi’s verwoes is, en wat in die St. Johnstraat-sinagoge was.
Lank staar sy na die Ark. Dit was voor hierdie selfde ark dat haar grootoupagrootjie aanbid het, en waarskynlik haar oupa ook. Hulle het met ootmoed in hulle harte gestaan en seker dankbaar gevoel dat hulle dit kon bekostig om so ver van hulle oorspronklike, armoedige tuistes, so ’n weelderige manifestasie van hulle geloof op te rig.
Dit voel weer asof iemand haar volg en sy kyk ’n aantal kere oor haar skouer, maar sien niks. Dis nog iets wat sy moet afleer – om alewig oor haar skouer te kyk asof sy dink iemand agtervolg haar. Tog ervaar sy die sensasie besonder sterk hier op Oudtshoorn. Sy loop uit in die sonskyn, in die rigting van die tentdorp waar daar ’n vlooimark moet wees. Vreemde massas skuur teen haar, maar haar anonimiteit laat haar veilig voel. Naderhand begin sy egter vasgedruk en benoud voel tussen al die mense en neerslagtig oor die minderbevoorregtes tussen die gegoedes wat daar is om die fees te geniet. Die uitdelers van aalmoese teenoor dié wat bedel.
Sy kies kortpad deur ’n stowwerige stuk veld langs ’n sportveld waar die tente van kamperende feesgangers bykans teen mekaar staan. Onder die hovaardige vensteroë van die ou pluimpaleise wat van die hoogte af op hulle neerkyk.
Olivia en haar ouma sit die middag op die stoep in die koelte, met lang glase vrugtesap. Buite die skadu van die stoep skroei die son op die aarde. Die gedreun van die fees vul die lug, maar die sonbesies se geskree dring deur alles. Olivia ruik die blomme, die soet geur van rose en angeliere. Voëls sing en kwetter en swiep deur die bome. Om Olivia-hulle en in die tuin lê lui katte. Net Gideon kyk op na die voëls met ’n bek wat bewe en gulsige oë, asof hy hulle wil bespring. Olivia hoop hy kry dit nie reg om sy bloedlus te bevredig nie. Sy wil hom nie met ’n spartelende, dalk sterwende, diertjie in sy bek betrap nie.
“Ouma, vertel my van die familie,” vra sy. “Ek weet eintlik so min van Mamma se kant van die familie en van my pa s’n weet ek niks.”
“Ek moet jou eers vertel hoe Oudtshoorn begin het, sodat jy kan verstaan waarom ons mense hierheen gekom het.”
Olivia skuif haar reg en glimlag aanmoedigend. Sy geniet dit om na haar ouma se stories te luister.
“Die pioniers van die volstruisveerboerdery in die Oudtshoorndistrik was meesal arm mense of togryers, soos Stefaans le Riche, ons buurman se voorsaat, wat besef het dat daar geld te maak is met volstruisvere. Joodse smouse het na Oudtshoorn gekom en van plaas na plaas gereis waar hulle die vere opgekoop het. Naderhand het dit ’n hele bedryf geword.
“In sorteerkamers in die dorp is die vere in bossies opgemaak volgens grootte, kleur en kwaliteit en so ’n bossie vere is ’n ‘parcel’ genoem. Daardie vere was later ’n fortuin werd. Mettertyd het die Jode die verehandel oorheers.
“Een van daardie Jode was jou grootoupagrootjie, Chaim Wolowsky, wat met sy vrou, Lea, na wie jou ma genoem is, en sy dogter, Sarah, my moeder, eentyd in ’n sjtetl in Riga in Litaue gewoon het. Hulle het onder die Russiese regering gestaan. Hulle familie is deur die Russiese pogroms uitgemoor. Chaim en sy gesin, en sy broer Jitsjak, en dié se gesin, het na Suid-Afrika gekom en in Kaapstad gehoor van die volstruisvere wat mense ryk maak.
“Jitsjak het in Kaapstad gebly, maar Chaim het na Oudtshoorn gekom. Hy was eers ’n sogenaamde schmoyzer wat met ’n sak negosieware geloop het, toe word hy ’n tokher met ’n wa, en toe koop hy sy eerste winkel. Hy het van wandelende sakkie-Jood of smous tot ’n ryk verekoper met baie eiendom in die dorp gevorder. Hy het ook ’n tuiemakery besit. Jy weet, die rykes het in koetse gery en hulle tuie moes baie deftig wees, meesal met silwer- of koperbeslag. Oupa Chaim het natuurlik met die heel deftigste tuie in die dorp gery.
“Ewenwel, eers het die Wolowsky’s daar onder in St. John-straat tussen die ander Jode en naby die sinagoge gewoon, maar toe hy kon bekostig om regtig goed te begin lewe, het hy hierdie huis in Wesbank laat bou.”
“Die Le Riches was toe van die boere met wie hy besigheid gedoen het, vermoed ek?” vra Olivia.
“Ja, hulle was van sy beste kliënte en het destyds verskeie plase besit. Op hulle familieplaas, Rykskraal, het hulle in die vroeë jare toe hy nog van plaas na plaas gesmous het, vir hom ’n afsonderlike buitekamer gereed gehou waarin hy kon bly wanneer hy na die plaas gegaan het. Natuurlik het hy nooit saam met hulle geëet nie, want hy was ortodoks en het kosjer gelewe.”
“Toe lol een van die Le Riches met sy dogter en maak van hom ’n vyand?”
“Ja, maar ek kom later daarby. Die Le Riches het so ryk geword dat Stefaans le Riche as Ryk Stefaans bekendgestaan het. Hulle het eers vir hulle ’n pragtige plaashuis laat bou op Rykskraal, wat deur Charles Bullock ontwerp is. Hy was mos een van Oudtshoorn se beste argitekte. Hy’t óns huis ook ontwerp. Kort daarna het hulle vir hulle ’n dorpshuis ook gebou. Dit is nou Stonehaven hier langsaan, wat deur Bullock se vennoot, ’n Hollander met die naam Johannes Egbertus Vixseboxse, ontwerp is. In Paul Kruger se republiek het hy van die staatsgeboue in Pretoria en Kruger se woonhuis ontwerp. Die Le Riches was glo nie min trots op die feit dat hulle twéé pluimpaleise kon bekostig nie. Maar o, hulle was ’n klomp vabonde. Ek sal jou nog alles omtrent hulle vertel.”
“Ouma, ek moet bieg. Ek het Michel le Riche ontmoet.”
“Wat? Waar?” Haar ouma se oë rek.
Olivia vertel haar van die galery en die uitnodiging na die onthulling van die beelde.
“Ek kan nie sien waarom ek, wat nie eens hier grootgeword het, iets teen Michel of enige Le Riche moet hê nie. Dit sou verregaande wees. Hulle het my mos nie skade aangedoen nie. Buitendien is ek streetwise, Ouma.”
Ouma Rebekah pruil. “My kind, jy is ’n grootmens, maar ek sê net, wees versigtig vir Michel. Die Le Riche-mans was nog altyd jags en onmoontlik. Ou Dorothy probeer hard om haar seuns te regeer soos die spinnekop in die middel van ’n web, maar Michel laat hom nie so hiet en gebied soos sy broer Fanie nie.”
“Is Dorothy nou hulle ma?”
“Ja, sy is so in die sestig en lankal ’n weduwee. Sy het as Engelse geselskapdame hierheen gekom om ou Coenraad le Riche se vrou, Liesbet, te leer Engels praat. Dorothy O’Shea was sy. ’n Arm meisie van iewers ver, maar sy het nog altyd haar verlede geheim gehou.
“In die ou dae het die rykes graag geselskapdames en goewernantes ingevoer. Ou Lenie Towers het een gehad. Bertha wat Coenraad se ma en Bartel se vrou was, het een gehad. Daar was goewernantes ook. Ek het Miss Anna Gregory as goewernante gehad. Ons het mos wit bediendes ook gehad totdat daardie gebruik uitgesterf het. Die goewernantes was darem ’n trappie bokant die ander bediendes.
“In elk geval, Dorothy was glo mooi, met haar rooi hare en groen oë en vurig genoeg om die bedorwe Steven, Coenraad en Liesbet se seun, te verlei. Sy het swanger geraak en hy het waaragtig met haar getrou.”
Olivia lag. “In daardie dae was dit seker ’n skandaal.”
“O, mense het enigiets van Steven verwag. Wild verby. Hy is lankal dood, van ’n perd afgeneuk en sy nek gebreek. Hy wou mos resiesperde teel en hulle ry. Ná sy dood het Dorothy die hele stoet verkoop. Sy het met die volstruisboerdery volgehou en haar oudste seun, Fanie, bygestaan totdat hy groot genoeg was om kastig oor te neem.
“Fanie en Michel was nog seuns toe hulle vader dood is. Dorothy het so gewoond geraak aan die septer swaai dat sy nog steeds die baas van daardie plaas is. Die kastige matriarg van die Le Riches. Sy was op haar dag die voorsitter van al wat ’n komitee was – die Vrouelandbouvereniging, die skoolraad, omtrent alles. Haar skoondogter, Cilla, is nie van daardie stoffasie gemaak nie. Sy kry ook nie kinders nie. Dorothy noem haar ’n guskoei.”
“Arme Cilla. Waarom kom woon Dorothy nie by haar enkelingseun in Stonehaven en laat haar kinders op die plaas in vrede nie?”
“Ek dink nie Michel sien kans om saam met sy moeder onder een dak te woon nie. Hy is gans te eiesinnig daarvoor. Sy dink in elk geval Fanie se ruggraat moet heeltyd styfgemaak word en sy is die baasboer op Rykskraal. Hy’s ook maar ’n rondloper en nie ’n goeie boer nie. Aard na sy jagse vader en oupa, maar werk nie so hard soos hulle gewerk het nie. Hol glo agter verkeerde vroue aan. Dis met harde werk, togry en swaarkry dat die eerste Le Riche in Ryk Stefaans verander het.
“Fanie is ou Dorothy se oudste seun en hy is seker die erfgenaam van die plaas. Michel, die kunstenaar, wou in elk geval nie boer nie. Ou Dorothy het hom Kaapstad toe en oorsee gestuur om te leer. Sy ouma Liesbet wat in Stonehaven gebly het ná haar man, Coenraad, se dood, het gesê Michel moet die huis kry en daar vir hom ’n ateljee inrig. Hy was die goue seun, die talentvolle een, op wie die Le Riches trots kon wees.”
Olivia glimlag. “Ou” Dorothy is heelwat jonger as haar ouma.
Sarie berei daardie aand ’n maaltyd voor wat genoeg is vir dubbeld soveel mense. Sy weier dat Olivia help.
“Nie op Sadragnag nie, nooi Livvie. Nooi moet gaan sit by ounooi Bekka.”
“Julle hoef nie om my onthalwe spesiale moeite te doen nie, Sarie. Jy werk gans te hard.” Olivia het lankal die “nooi”-ding laat vaar. Sarie weier om haar enige iets anders te noem.
“O nee, dis elke Sadrag se ding. Gaan dress vir Nooi mooi op, want dis wat ounooi Bekka doen.”
Olivia bad en trek ’n taamlik deftige rok aan, sit grimering aan en dra ’n paar juwele. Sy is bly dat Sarie haar gewaarsku het toe sy haar ouma sien. Dié dra ’n rok versier met swart kant, volstruisleerskoene, stringe pêrels en diamante. Daar is selfs ’n blink haarspeld in haar hare.
“Dis goed, jy lyk mooi, my kind,” sê sy tevrede toe Olivia instap. “Gelukkig het jy die familieskoonheid geërf. Gelukkig lyk jy nie soos Oliver Bailey nie. Hy was nie in my oë ’n kunswerk nie. Maar laat ons tog van hom vergeet. Hy bring net die gal na my mond.”
“Dankie, Ouma. Ouma lyk self spiekeries.”
“Ek wil nie hê jy moet hier eensaam raak nie,” sê ouma Rebekah. “Jy moet vriende in die dorp maak as jy kan. Byna al myne is al dood, maar jy is nog jonk. My haarkapper, Millie, is omtrent jou ouderdom. As sy my hare kom doen, sal julle twee lekker kan gesels.”
Hulle kry stroopsoet sjerrie in die fynste glasies, voorgesit deur Abel, in ’n wit baadjie waarin hy vir Olivia skoon misplaas lyk. Sy verkneukel haar aan die eksentrisiteit, die aandrang op die praal van die verlede.
Olivia is pas in die bed toe haar selfoon lui. Dit is Amanda.
“Ek het net gewonder wat doen julle op ’n Saterdagaand in ’n pluimpaleis?” grap sy.
“Ons hou ’n bal. Die mense kom in koetse met blink perde wat met silwer aan die tuie en volstruisvere versier is, en ou Rolls Royce’e bestuur deur chauffeurs in uniform. Die mense is baie deftig. Hulle dra baie kant, juwele en wuiwende pluime. ’n Volle orkes speel in die balsaal.”
“Dit klink lekker. Waarom is ek nie op jou gastelys nie? Is jy bang ek steek jou in die skande of trek nie reg aan nie?”
“Ek sal jou op die gastelys sit as jy aandring, en ek is seker you will rise to the occasion.” Olivia lag. “Wag, laat ek jou vertel hoe dit werklik hier gaan op Saterdagaande …”