Читать книгу Bloedgrond - Malene Breytenbach - Страница 10

4

Оглавление

Ná ete gaan sit hulle in die sitkamer by die kaggel, met koffie, likeur en konjak, soos altyd in die winter. Dit is weer benede vriespunt en weg van die vuur is die res van die huis koud.

Vanaand is dit egter nie oupa Rob wat soos altyd sy stories vertel nie. Die grondeise is die hoofonderwerp van bespreking.

“Soos ek reeds verduidelik het, dink ek dié eis ten opsigte van Misty sal nie slaag nie, dit is opportunisties,” sê Ferdie.

Hy sit langs Erin op die bank soos hulle altyd gemaak het, maar dit voel vir haar asof daar ’n glasmuur tussen hulle ingeskuif het. Oupa Rob sit hulle takserend en beskou. Sien hy raak dat hulle glad nie aan mekaar vat nie en met ander mense eerder as met mekaar praat? Erin voel asof sy die ongelukkigheid en teleurstelling soos ’n klip in haar bors dra. Sy kan amper nie dink dat ander mense dit nie raaksien nie.

“Glo jy regtig so?” vra Bob met ’n frons en neem ’n groot sluk van sy konjak. Hy wil oor en oor gerusstelling hê, kan Erin sien.

Ferdie knik ’n paar keer tevrede. “Dit klink vir my na ’n cut and dried saak. Wie is jou prokureur op Ermelo, Bob?”

“Giel de Kock.”

“Nou laat De Kock my kontak met ’n opdrag en dan werk ons saam. Ek sal met die Grondeisekommissaris onderhandel.”

Bob lyk dankbaar. “Jis, dankie, ou Ferdie. Dit neem ’n moerse las van my skouers af.”

“Ek gaan nog bietjie navorsing doen en ’n artikel vir Landbouweekblad skryf oor dié katnes van grondeise,” sê Erin. “Ek sal sommer die agtergrond van hierdie omgewing se plase en die rol van die Swazi-konings ook navors en dit vir Ferdie gee. Ons moet soveel skietgoed bymekaarmaak as wat ons kan.”

“Ja, elke bietjie help,” glimlag Ferdie, en maak sy konjak klaar. “As julle my sal verskoon, ek gaan inkruip. Ek het ’n harde week agter die rug.”

Almal sê vir hom nag, maar Erin teug nog aan haar konjak en gesels met haar familie oor die plaas en wat in die omgewing aangaan. Sy stel die bedtoeganery uit. Hoe gaan dit wees om weer ’n dubbelbed met Ferdie te deel? Sy is stokstyf van spanning. Naderhand moet sy haar tog verskoon, want haar ouers lyk moeg en Bob-hulle kondig aan dat hulle huis toe moet gaan.

Toe sy in die kamer kom, is Ferdie in die bed en die bedliggie brand aan haar kant van die bed. Sy kry haar toiletware en slaapklere en gaan bad. Daar is nog stoom in die badkamer nadat hy gestort het en sy nat handdoek is mooi haaks oor die reling gehang. Sy tandeborsel, skeergoed, naskeermiddel en deodorant is netjies op die wasbak uitgepak. Hoekom sien sy dit tog nou so duidelik raak? Seker oor dit die laaste keer sal wees.

Sy verwyder haar grimering, borsel haar hare, bad vinnig, borsel tande, en gaan uiteindelik bed toe, waar sy aan haar kant inklim en probeer om nie te bibber nie. Ferdie lê met toe oë, sy arms oor sy bors gekruis. Soos ’n houtstomp. Sy wonder of hy slaap, maar twyfel of dit wel die geval is. Nadat sy die bedliggie afgeskakel het, maak sy haar so gemaklik soos sy kan, maar sy kan hom hoor asemhaal. Soms het hy gesnork, veral as hy die aand goed gekuier het, maar nou is hy byna tjoepstil.

Gespanne lê sy daar. Hy moet net nie aan haar raak nie en sy gaan vir seker nie aan hom raak as sy dit kan verhelp nie. Die bed is nie so breed nie. Sy sal byna op die rand moet lê. Sy probeer om nie te dink aan hoe hulle altyd styf teen mekaar gelê het in die koue wintermaande nie. Vaak is sy beslis nie. Daarvoor is sy gans te gespanne.

Teen haar wil begin sy allerhande dinge in die geheue terugroep. Hoe goed onthou sy nie die eerste keer toe sy Ferdie huis toe gebring het nie. Hy het hier geslaap en sy in haar ou kamer. Daardie naweek het hy al sy sjarme ten toon gestel. Hy het skape gekyk saam met haar pa, haar ma se kos geprys, ook Marianne s’n toe hulle daar gekuier het, en na oupa Rob se stories geluister asof dit die lekkerste ding in die wêreld is. Oupa Rob het vertel hoe die oorspronklike Skotte hulle in Nieu-Skotland kom vestig het. Hy het begin by koning Mbandzeni en die Swazi-konings wat gevolg het. Daarna het hy vertel van Alexander McCorkindale wat die Skotse immigrante in Transvaal gevestig het en die Glasgow and South African Commercial Agricultural and Mining Company gestig het. Die hele aand lank het oupa Rob vertel en Ferdie het geduldig geluister na alles.

“Hulle het name gehad soos Dunn, Arthur, Straker, Bell, Duncan, MacFarlane en Buchanan,” het oupa Rob vertel. “Die Skotte het hulle een dorpie Roburnia genoem, na die digter Robert Burns. Nog een is genoem Industria en wat vandag Piet Retief is, was Londina. Die plekke en plase se name was Rinkink, The Glen, The Brook, Bonne Braes, Lake Banagher, Lothair en Lochiel. Ons plase is mos nou Misty en Dunedin. Die Duncans het vir Annendale en die MacFarlanes het nog altyd vir Lothian gehad. Roburnia is later deur die Boere na Amsterdam verander. Die klomp Skotte het baie verafrikaans, omdat hulle meesal met Afrikaners ondertrou het.”

Dit is alles stories wat sy male sonder tal gehoor het, maar sy het met haar skouer teen Ferdie s’n gesit en alles weer aangehoor. Alles van voor af geniet, want sy het haar verbeel sy is in ’n waas van liefde en haar familie dink die man wat met haar wil trou, is wonderlik en ’n goeie vangs.

Daarna het Ferdie gesê: “Ek skat oupa Rob is die bobaas-storieverteller van die kontrei en vanaand is sy reputasie gestand gedoen.”

Sy was verbaas oor die spot wat sy in sy stem bespeur het, maar sy het dit nie te ernstig opgeneem nie. Oupa Rob het gehou van ’n gehoor wat aan sy lippe hang en mense van elders kon dit seker nie soveel waardeer soos sy nie. Nou dink sy weer daaraan en dit pla haar.

Marianne het daardie naweek bykans jaloers gelyk oor dié nuwe liefde en iets katterigs kwytgeraak oor hoe slim Ferdie was en hoe Erin sou moes byhou.

“Slaap jy?” kom Ferdie se stem meteens uit die donker en onderbreek haar gedagtegang.

“Nee.”

“Jy gaan my nie vergewe oor Janet nie, gaan jy?”

Erin se hande hou styf aan die duvet onder haar ken vas. “Nee, Ferdie, ek gaan nie. As dit net ’n one-night stand was, soos ek in elk geval vermoed jy met ander vroue gehad het, kon ek dit nog hanteer, maar jy en Janet het erken dat dit al maande lank aangaan. Om te dink dat ek daardie dag by jou kantoor ingegaan het met die ginekoloog se aanbeveling dat ek vir in vitro-bevrugting moet gaan, en daar kry ek julle twee omtrent bo-op die lessenaar aan die vry en hyg! In flagrante delicto, soos julle regsgeleerdes dit sou beskryf. Skaam jy jou nie dat jy sommer daar in jou kantoor nie jou hande van die tert kon afhou nie?”

Daar is ’n stilte, en toe kom sy stem hees uit die donker: “Jy is vulgêr, Erin.”

Eers is sy stomgeslaan, en toe sit sy regop, kokend van woede en verontwaardiging.

“Jý … jý …” Sy stik amper. “Jy sê ék is vulgêr? Ag asseblief, ek het nog nooit met ’n man op my lessenaar gevry nie. As ek nie op daardie oomblik ingebars het nie, het jy en sy seker van julle klere ontslae geraak en dan het jy haar net daar gesteek. En die deur was nie eens gesluit nie! Jou lae luis! Om te dink dat ons nou voorgee dat alles nog reg is tussen ons terwyl ek jou skaars voor my oë kan verdra. Jy het gemaak dat ek my werk by die koerant bedank toe ek ’n bestuurspos aangebied is. Ek dans al te lank na jou pype, jou selfsugtige … jou …” Sy kan nie ’n woord vind wat nie ’n skel- of vloekwoord is nie.

“Goed, goed, alles is my skuld. Mea culpa …”

“Ag, los jou donnerse regs-Latyn.”

“Jy het eerste begin met in flagrante delicto.”

Sy stem is kil terwyl sy blaas en proes soos ’n woedende bul. Hy doen dit altyd, want hy weet dit ontsenu die teenstander. Sy dwing haarself kalm.

“Die punt is, ek gril vir jou,” sis sy. “Los my uit. Ek wil probeer slaap.”

Maar sy slaap nie, en sy vermoed hy ook nie. Eintlik kry sy koud ten spyte van die dik duvet en ekstra komberse, en nou is daar geen gedeelde liggaamshitte nie. Later hoor sy hom liggies snork. Sy neem haar voor om nooit weer in dié slaapkamer te slaap nie. Dit hou te veel herinneringe in. Herinneringe van knus in mekaar se arms lê, en van begeerte wat bevredig word. Geluksaligheid.

Dis alles nou weg. Haar wrok is eenvoudig te groot. Nooit sal die liefde wat daar was, herwin word nie. Die man aan wie sy haar lewe toevertrou het, het verraderlik en selfsugtig uitgedraai.

Sy raak kort voor dagbreek eers aan die slaap, nadat sy vir wat soos ’n ewigheid gevoel het met haar gedagtes en emosies geworstel het.

Die volgende oggend word sy met dik oë wakker en sy skrik vir haar gesig in die spieël. Sy kan nie met ’n donkerbril voor die mense aan die ontbyttafel verskyn nie! Sy sal hulle maar net met haar geswelde oë moet trotseer. Die swelsel behoort na ’n uur of wat te sak. Nadat sy die badkamer gebruik het, neem Ferdie sy beurt. Hulle praat nie met mekaar nie. Die stilte hang swaar tussen hulle. Hy kyk haar onderlangs aan en sien natuurlik die dik oë raak, maar sy draai haar gesig weg.

Sou hy regtig versoen wou geraak het, wonder sy terwyl sy haar denim, stewels en ’n dik blou trui aantrek. Het hy gisteraand ’n voeler uitgesteek toe hy die woord vergewe gebruik het? Tot nou toe het hy nog nie regtig om vergiffenis gevra nie. Seker te trots om hom so nederig te hou.

Of anders is hy so gek oor die sexy Janet dat hy vir haar deur vuur sal loop. Erin het nog nooit iemand so verfoei soos daardie vrou nie. Sy haat James Buchanan se moordenaars, maar hulle is gesigloos. Janet se gesig is alte duidelik voor haar.

Sou Ferdie nie dalk siek en sat geraak het vir haar, Erin, se gesukkel om swanger te raak nie? Maar dis nie regverdig nie, hulle het saam besluit dis nou crunch-tyd en hulle moet hard probeer. Dat hy wragtig so skynheilig kon wees! Of het hy gedink ’n baba sal haar so besig hou dat sy nie sal agterkom wat hy aanvang nie?

Erin is maar dankbaar niemand vra haar uit tydens ontbyt nie. Sy eet in stilte.

Erin, Ferdie en Riana ry ná ontbyt na die MacFarlanes toe. Bo-oor die enorme hek van gegote yster is ’n nuwe boog waarop staan: Lothian Guest Farm/Lothian-gasteplaas. BW MacFarlane.

Nadat hulle by die hek ingedraai en op ’n pad al langs ’n bloekomplantasie met reusebome gery het, sien hulle ’n vliegveld aan hul linkerkant. Langsaan is ’n gebou soos ’n mini-lughawe. ’n Klein vliegtuigie staan op die aanloopbaan. Twee mans is doenig by die vliegtuig.

Naby die opstal wei ’n aantal gesonde brahmaan-beeste. Erin dink altyd dat dié diere daar is om die idee van ’n ideale plaasopset te beklemtoon. Die groot bul wat met ’n draad van die koeie geskei is, is veral indrukwekkend.

“Kyk, daar is Ewan en Jack op die perde by die dam,” sê Riana opgewonde.

Erin kyk met waardering na die skoonheid van die plaas. Die huis is enorm, met ’n grasdak. Groter as haar ouers of Bob-hulle se huise. Langs die dam is vier kothuise, ook met grasdakke. Voor dié huise is vasmeerplekke gebou en by elkeen dobber ’n roeibootjie. Watervoëls gly rustig oor die water. Op die plaaswerf is ’n grasperk wat dig lyk en seker smaraggroen is in die somer, en ’n yslike swembad met water wat oor rotse stort.

“Jy kan sien dat Mac geld het om in hierdie spogplaas te steek,” sê Ferdie. “Dis natuurlik gerieflik dat Sylvia hier is om alles aan die gang te hou terwyl hy ’n afwesige boer is.”

Hy hou naby die ingang van die huis stil en hulle klim uit. Erin hoor stemme van ver af en sien mense by een van die kothuise. Twee werkers loop oor die werf en groet. ’n Paar Skotse terriërs en ’n groot Skotse jagwindhond kom blaffend aangehardloop.

’n Lang, fris man in ’n denim en ’n parka kom by die voordeur uit. Hy lyk asof hy meer in dié omgewing pas as Ferdie, want sy klere lyk ook ingeleef. Dis vir Erin altyd lekker om Mac te sien. Sy bewonder hom lankal. Hy is manlik en tog het hy ’n sagte kant – die goeie bedside manner wat ’n geneesheer behoort te hê. Hy is nie so aantreklik soos Ferdie nie, maar sy gesig is intelligent, simpatiek, sy grysgroen oë mooi en sy hare dik, effens krullerig en donkerbruin. Hy en Ferdie is ewe lank, maar Mac is frisser. Ferdie het ’n elegante lenigheid waaraan klere goed vertoon.

“Hallo, Mac,” roep Erin.

Hy loop met lang treë nader. “Hallo, dis goed om julle te sien.”

Mac soen vir Erin. Hoe lekker is dit nie, dink sy skuldig. Dit was nog altyd, maar hy het nooit in haar belang gestel as enigiets meer as ’n vriendin nie.

Sy hoor perde agter hulle en draai om. Die twee seuns het nader gery, die een op ’n wit perd en die ander een op ’n bruine. Een spring van die bruin perd af en kom soen vir Erin. Riana hou sy perd vas. Hy is ’n regte boerseun. Op sy jong gesig begin die baard al vatplek kry. Hy is nie so aantreklik soos die ander seun nie, maar sy gesig is aangenaam, liefdevol.

“Jy is nog mooier as laas, tannie Erin,” grap Jack.

Sy lag. “Jy jok elke keer as ek jou sien, maar hou so aan. Dalk erf jy eendag al my skatte.”

Hy groet Ferdie en hulle skud hand. “Elke keer as ek jou sien, lyk jy meer na jou pa,” terg Ferdie.

“Ja, oom, almal sê so, hulle sê die appel val nie ver van die boom nie, maar ek wonder nog of dit ’n kompliment of ’n belediging is,” lag Jack.

Ewan het ook nader gekom. Hy lei sy perd tot by hulle en kom skud hand. Hy is blond met blou oë soos sy ma en het ’n selfversekerde, bykans arrogante houding. Hy lyk nie vir Erin soos ’n plaasseun nie, maar soos ’n stadsjapie wat probeer cool wees. Waar Jack sommer ’n parka, denim en tekkies aan het, het Ewan ’n baadjie, rybroek en stewels aan en hy dra glad ’n peits.

“Kom in, ons gaan drink iets,” nooi Mac. “Riana, jy kan saamkom as jy wil …”

“Dankie, oom, maar ek gaan saam met Jack en Ewan.”

Erin let op hoe die huis verander het sedert Lothian redelik onlangs in ’n gasteplaas omskep is. Nou is daar nuwe meubels van gegote yster op die wye stoep. Die ou voordeur is weg en op die nuwe stewige houtdeur is ’n Afrika-motief uitgegraveer. Enorme potte met palms staan weerskante. Hulle stap in. Die ou interieur is ook weg en daar is uiters moderne meubels van leer en hout, dramatiese skilderye, Afrika-maskers en seepsteenbeelde. Dit lyk nou na die produk van ’n binnenshuise versierder wat spesialiseer in die African look.

“Ons drink tee in die ontbytkamer,” sê Mac en lei hulle na ’n sonnige vertrek wat oor die tuin en dam uitkyk.

Sylvia sit daar aan die tafel. “Erin en Ferdie,” roep sy, staan op en kom omhels hulle. Toe kyk sy na Ferdie. “Ons het jou raad en kennis nou baie nodig. Ek het groot geskrik.”

“Nee wat, dis nie nodig om so groot te skrik nie, Sylvia.”

“Ag, wat weet ons tog van die wette af? Ons maak staat op jou kennis.”

Erin is altyd bly om Sylvia weer te sien, met haar bruin, wakker oë. Sy lyk lewenslustig en gesond.

“Kom kry vir julle tee, dis vars gemaak,” nooi Sylvia. “Ons het lekker skons ook, vanoggend gebak.”

“Ons het pas een van my ma se reuse-plaasontbyte agter die rug,” sê Erin. “Ek sal net tee kry, dankie, maar Ferdie is dalk lus vir iets meer.”

“O ja. Ek sal beslis ’n skon kry.”

Hulle gaan sit aan tafel. Voor Mac staan ’n bordjie met ’n bottergesmeerde skon. Hy tel dit op en hap. Erin kyk hoe hy dit geniet. Sylvia het nog altyd gespot dat hy ’n geweldige eetlus het. Hy drink twee koppies tee terwyl hy gesels.

“Lothian is gelukkig nog veilig. Ek het baie geld hier ingesit en dit floreer. Dis oor Annendale dat ons bekommerd is.” Hy draai na Erin. “Jy het seker gehoor dat Andrew Buchanan nou daar bly. Hy is erg kwaad oor die grondeis.”

“Can you blame him?” vra sy ma. “Jy sou ook soos hy gewees het as jy ’n vlugteling uit ’n ander land was waar grond van mense weggeneem word. Die lewe het hom nie te goed behandel nie, maar hy werk hard en hy is ’n goeie plaasbestuurder. Ek kan hom enigiets vra as Mac nie hier is nie, en hy maak dit reg. Hy is my regterhand.”

“Bly julle die hele langnaweek?” vra Mac.

“Ons bly tot Maandagmiddag,” sê Erin. “Miskien moet ek en Ferdie môreoggend vir Andrew gaan kuier, dan kan Ferdie Annendale bekyk. Wat dink jy, Ferdie?”

“Ja, goeie plan.”

Mac kyk na hom oor die rand van sy koppie. “Ek kan julle môreoggend elfuur daar by Annendale kry; ek moet besigheid met Andrew gaan praat. Sy huis is naby die ou opstal. Ons moes ’n nuwe pad maak en dis nogal rof. Wag net buite sy hek, asseblief, want sy plek is omhein asof hy in die Rhodesiese bosoorlog is, en sy honde sal jou opvreet. Ek sal hom laat weet ons kom.”

“Goed, ons maak so. Ons het gehoor van sy wrede honde en sal liewers nie ons lewens waag nie.” Ferdie frons. “ ’n Mens moet seker kan verstaan waarom die ou so veiligheidsbewus is. Sy gesin is tog daar op die einste plaas uitgemoor. Ek sou self nie te gerus slaap as ek hy was nie.”

“Ek kan my indink hoe die toename in grondeise die mense in dié omgewing ontstel,” sê Erin.

“Die onsekerheid oor grondeise op hulle plase gaan nog baie boere laat uitwyk na die buurlande,” meen Mac. “Alles gaan nog ’n impak op voedselsekuriteit hê. Daar gaan ’n toename wees in gewillige verkopers en hulle is die ouens wat gaan loop. Van die jonger boere is bereid om hulle in Argentinië en Brasilië te gaan vestig.”

“Ons kan nie bekostig om ons goeie kommersiële boere so te verloor nie,” sê Sylvia bekommerd.

“Daar is natuurlik die probleem dat plaaswerkers ook benadeel word, soos in Zimbabwe, want werksgeleenthede gaan verlore,” sê Ferdie. “Nog ’n krisis is die feit dat daar nie genoeg amptenare of politieke leierskap is wat kan sorg dat die regsraamwerk en die bestaande strukture en prosesse ingespan kan word om grondhervorming vlotter en vinniger te laat verloop nie. Die koste is natuurlik ook astronomies en die ondersoekproses stadig. Dit kan jare duur as ’n mens nie kontakte het wat dit kan bespoedig nie.”

Mac grimlag. “Annendale is ’n groot kopseer. Ons hoor al hoe meer die regering kan nie markverwante pryse betaal vir wit boere se plase nie. Dit klink vir my asof hulle aan onteiening dink.”

Ferdie speel met sy teelepel in sy koppie. “Die regering wil teen 2014 genoeg swart kommersiële boere vestig sodat dertig persent van die bewerkbare landbougrond in swart besit is.”

“Maar daar word niks op die plase geproduseer wat vir opkomende boere geoormerk word nie,” sê Mac vies. “Hoe lank neem dit nie om produktief te raak nie? En hoe duur is dit nie? Jy kan nie net grond gee nie, jy moet die mense help om dit te ontwikkel. Daar word dan plase teruggeneem ook, oor die produksie omtrent opgehou het.”

“Ja, dit ontmoedig natuurlik beleggings in die landbou as daar grondeise teen mense is,” sê Ferdie. “Boere gaan nie finansiering kry as dit die geval is nie en hulle gaan ook niks verder ontwikkel nie.”

Sylvia snork verontwaardig. “Ek weet van ’n boer hier naby wat besproeiing wou insit, maar dit toe nie gedoen het nie. Hy wil sommer verkoop en landuit gaan.”

“Ek hoor weer van eiendomsagente dat amptenare van die Departement van Grondsake self met grond spekuleer en bedrog pleeg. As geld te make is, is daar alewig korrupsie,” sê Ferdie. “Ons land kompeteer hoeka met Nigerië wat korrupsie aanbetref.”

“Die Malazas eis deel van Misty omdat hulle familie lank daar gewoon het en kastig daar met vee geboer het,” sê Sylvia. “Dis al genoeg cheek. Maar hulle wil sommer die héle Annendale hê! Hulle sal my moet doodmaak om Annendale te kry. Dit is bloedgrond. Mense het gesterf daarvoor en daarop.”

Mac kyk fronsend na haar. “Annendale is vir ons nie naastenby so waardevol soos Lothian nie, Ma. Dit het nog ’n bloedige geskiedenis ook, wat niemand van ons ooit kan vergeet nie.”

“Sou julle nogtans bereid wees om dit tog later te verkoop, terwyl julle dalk nog ’n goeie prys daarvoor kan kry?” vra Ferdie.

Sylvia lyk ontsteld. “Hoe kan ons dit van die hand sit as Andrew daar woon? Ek wil nie eens dink wat hy sal sê as ons dit onder hom wil uitverkoop nie.”

“Dit klink dalk gevoelloos, maar hy is net ons plaasbestuurder, Ma,” sê Mac. “Dit is nie sy erfgrond nie, al is sy mense daar dood. Hy kan op Lothian kom woon, as dit daarop neerkom.”

“Ek dink nie aan verkoop nie. Ek gaan nie sommer lê nie.” Sy klink vasberade. “For heaven’s sake, Annendale is driekwart onder boomplantasies en dis baie geld werd. Ek het staatgemaak op daardie inkomste en daar is nou ’n hele bos wat gekap moet word.”

“Wat van die verwagtinge van die mense wat die grondeise indien?” wil Mac weet. “Dit sloer mos, want ons kapituleer nie sommer nie. As hulle gefrustreerd genoeg raak, is politieke onrus en misdaad ons voorland. Dan, soos Andrew so graag voorspel, is ’n Zimbabwe dalk ons voorland.”

“Die eerste belangrike stap is om uit te vind oor watter inligting die betrokke streek-grondeisekommissaris reeds beskik,” sê Ferdie. “Ingevolge die Grondwet is die grondeienaar geregtig op inligting wat sy regte kan beskerm. Ons sal die geldigheid of ongeldigheid van die eise bepaal. Sorg dat julle al die relevante inligting aan die prokureur Giel de Kock verskaf en dan kan ek en hy die saak verder voer. Hy is reeds besig om vir Bob te help. Boere kan natuurlik ook ’n saak probeer uitmaak dat ’n boerdery te winsgewend is en dat dit die ekonomie van die streek sal benadeel as dit verkoop moet word.”

“En as die boer ’n sterk saak kan uitmaak, sal die streek-grondeisekommissaris finansiële vergoeding vir die eisers probeer beding,” voeg Erin by.

“Die belangrikste wat julle nou moet doen, is om die titelbeskrywings en alles by die Aktekantoor te kry,” sê Ferdie. “Dan moet julle by Binnelandse Sake of julle plaaslike landdroskantoor die rekords van die ou Naturellesake en Bantoesake en geboortesertifikate nagaan van mense wat op die grond gebore is. Ons moet geskiedkundige inligting, bewyse en eedverklarings kry oor wie wanneer op die grond gewoon het.”

“Ek sal Dinsdagoggend eerste ding na Giel de Kock op Ermelo gaan,” sê Sylvia. “Ons het nie tyd om te mors nie.”

Ferdie gee vir haar ’n visitekaartjie. “Julle kan my skakel en inlig hoe julle vorder. Ek is enige tyd beskikbaar, mits ek nie met ’n hofsaak besig is nie.”

“Baie dankie Ferdie,” sê Sylvia plegtig.

Deur hier te help kan jy darem vergoed vir jou sondes, dink Erin.

Mac vee sy mond met ’n servet af en staan op. “Kom ons gaan stap, dan kan julle sien hoe lyk ons plek nou. Ek het baie verander en nuut gebou.”

Nadat hulle die kothuise en dam bekyk het, stap Erin en Ferdie saam met Mac na die perdestalle. Hulle kry die drie kinders by die stal. Jack is besig om sy perd te roskam en al die perde is afgesaal. Ewan en Riana staan en gesels en hy slaan liggies met sy peits teen sy rybroek.

Ferdie streel een perd se nek. “Ek hoor hierdie is arabierperde.”

“Hulle is die nageslag in Suid-Afrika van Ahir, wat van Morafic, ’n Amerikaanse Asil-hings, geteel is,” vertel Mac. “Van die suiwer arabierperde, die Asil, is slegs ’n handjie vol in die wêreld oor, minder as twee persent van geregistreerde arabierperde ter wêreld. Ek het hulle by ’n teler oos van Pretoria gekoop. Hulle het my heelwat gekos, maar hulle is wraggies elke sent werd. Hierdie hings is Mamdan.” Mac klap die wit perd liggies op die boud. “Die bruin merrie is Lar Halina en ons het ook vir Mawika, die tweede merrie.”

“Mawika is die een wat ek graag ry,” vertel Riana met blink oë.

Erin sien hoe sy na Ewan kyk wanneer sy iets sê, asof sy hoop hy let op.

“Bob sê hy wil ook nou arabiere koop,” sê Erin. “Dit lyk my die mense in dié omgewing stel al meer in arabiere belang. Hierdie is seker van die mooiste perde wat ek nog gesien het. Hulle is so grasieus.” Sy streel die een merrie se sagte neus. Sy proes en ruk haar kop op.

Erin draai na Riana. “Kom, ons moet gaan, jou pa-hulle wag seker al vir ons vir middagete.”

“Riana kan hier eet, as sy wil,” sê Mac. “Jack is mos hier met die bakkie, so sy het vervoer.”

Riana lyk asof sy nie kan besluit by wie sy die graagste wil wees nie. “Oukei, ek sal bly. Dankie, oom Mac.”

Terwyl hulle daar staan, kom Sylvia by die voordeur uit. “Joehoe! Gaan julle tog nie ry nie? Wat van ’n drankie? Die Boeing is al lankal oor.”

Erin skud haar kop. “Nee dankie, Sylvia. Ons moet groet en gaan. Marianne-hulle verwag ons vir ete. Riana sal agterbly.” Sy draai na Mac. “Ons sien jou môre op Annendale.”

“Ja, om elfuur. Dis goed om julle weer te sien, en Ferdie, dankie dat jy bereid is om ons met die grondeis te help.”

Ferdie glimlag. “Geen probleem nie. Ek help graag.”

Bloedgrond

Подняться наверх