Читать книгу Bloedgrond - Malene Breytenbach - Страница 13

7

Оглавление

Alfred Malaza sit op sy gunsteling-gemakstoel in sy sitkamer en drink sy bier. Hy kyk na sy ouer broer, Ngafane, wat lekker agteroor sit en ontspan, bier in die hand. Ngafane het met sy tweedehandse geel Toyota uit Egoli gekom, waar hy op die myne gewerk het en ’n belangrike man in NUM geword het. Hy het teruggekom met ’n plan en gesê hulle Malazas, hy, Alfred, Enoch, Mandla en Silas, moet die grond wat aan die Swazi’s en aan die Malaza-familie behoort, van die Boere terugkry. Hulle moet ’n familietrust stig en eise instel vir die plaas Misty, wat aan Bob Bell behoort en waar hul neef Mandla die voorman is, en vir die plaas Annendale, wat aan mrs MacFarlane behoort, waar hul neef Silas die voorman is. Waar hul mense begrawe lê, waar hul pa, Sipho, begrawe lê. Ngafane sal alles reël met die hulp van ’n prokureur.

Nou praat hulle weer daaroor, stry en redeneer van voor af.

“Enoch is ’n polisieman en jy is ’n speurder,” sê Ngafane. “Ek is ’n vakbondman. Ons is nou belangrike mense, nie plaasarbeiders nie. Ons het ’n reg op die grond waar ons gebore is en grootgeword het. Dit is net plantasies wat daar op Annendale is. Net een wit man bly daar en dis Buchanan.”

“Hy is ’n gevaarlike man, veral oor wat met sy mense gebeur het. Jy moet oppas vir hom,” waarsku Alfred sy broer.

“Ja, hy is gevaarlik, maar as die grond ons s’n is en hy is daar weg, is die gevaar verby.”

Alfred is nie oortuig nie: “Wat is die kans dat ons Annendale of Misty sal kry? Daardie plase behoort al soveel jare aan die Bells, Duncans en MacFarlanes. Hulle gaan dit nie sommer vir die Malazas gee nie.”

“Dis die nuwe Suid-Afrika en die grond behoort nog steeds aan hulle,” stry Ngafane. “Ons president moet maak soos Mugabe. Gooi die wit boere van die plase af en vat dit terug. Dit het altyd aan ons behoort voordat die settlers gekom het.”

“Dit gaan nie goed in Zimbabwe nie en ons president is nie Mugabe nie. Hier sal ons dit nie so maklik regkry nie.”

Ngafane word kwaad vir hom. “Jy is altyd te versigtig oor jy ’n speurder is en dink jy wil binne die wet lewe. Die ou wette moet verander word. Die wittes was lank genoeg bevoorreg. Ons was in ’n plaasskool, waar ons net slegte Bantu Education gekry het. Daardie wit kinders het na ’n goeie skool op Ermelo gegaan. Ek moes Egoli toe gaan en op die myne gaan werk. Hulle is universiteit toe.”

“Ja, maar jy moes gaan,” herinner Alfred hom. “Jy kon nie hier bly nie.”

Ngafane kyk hom onderlangs aan soos hy altyd maak as hy nie hou van wat hy sê nie. “Ek was in elk geval nie van plan om ’n plaaswerker op een van die plase te word nie, maar hoe sou ek dit kon bekostig om universiteit toe te gaan met my Bantu Education wat so swak was dat ek nooit toegelaat sou word nie? Toe moes ek my gat af werk by Rand Mines.”

“Jy het ten spyte van min geleenthede ’n sukses van jou lewe gemaak,” sê Alfred vir hom. Ngafane wil dit altyd hoor.

Ngafane krap sy kop en glimlag. “Ja, jy kan so sê. Mense respekteer my. Ja, ek het die beste gedoen wat ek kon onder apartheid. Ek is ’n vakbondman en daar het ek baie geleer. Ek was hoog op in die National Union of Mineworkers. Ons het driehonderdduisend lede en is die grootste geaffilieerde van Cosatu.”

Hy hou daarvan om daaroor te praat en te spog, en Alfred luister altyd geduldig, al weet hy dit alles lankal.

“Nadat NUM in 1982 gestig is, het ons suksesvol gestry teen job reservation wat gemaak het dat die wittes die jobs met die meeste geld kry. Daar het ek al die besluit geneem dat ons grondeise ook moet instel.”

“Die grondeise is anders as om teen job reservation te baklei,” stry Alfred.

“Suka wena. Ons mense is al fokken lank in Nieu-Skotland. Van die tyd van koning Mbandzeni wat so graag grond en konsessies aan die wittes gegee het, maar van hulle net gin, ’n paar beeste, krale of ander kak gekry het. Fokken isigebengu – skelm! Ons voorouer moes uit Swaziland trek, want daar was nie genoeg grond nie en hy het gaan bly waar die Skotte kom bly het. Die grens tussen Swaziland en die ou Transvaal is deur die colonisers getrek, die Britte en die Boere. Toe woon daar baie Swazi’s aan weerskante van die grens, en toe die wittes se voorouers plase gekry het, moes baie van die Swazi’s slawe word op die grond wat eers aan hulle behoort het. Hulle is gedwing om vir die fokken Boere te werk.”

“Ja, dit was nie reg nie,” moet Alfred saamstem met die ou storie.

“Die koning het gesê ons mense moet sê hulle werk vir hom en nie vir die Boere nie, maar baie Swazi’s is verplig om labour tenants te word en soos slawe teen min loon te werk.”

“Maar ons voorouer het ’n uitval met koning Mbandzeni gehad en hy moes wegtrek na waar Annendale is, en die wit boere was toe reeds daar,” herinner Alfred hom.

Ngafane spoeg, soos hy altyd maak wanneer hy kwaad is. “Van ons mense het op plase gewoon wat aan SAPPI verkoop is en hulle moes trek, want daar is bome geplant waar hulle huise was. Ons sou vee aangehou het.”

Ngafane het homself baie dinge geleer en hy het ook geleer om goed te argumenteer en ander mense te oortuig. Hy kan baie lank praat, sodat jy naderhand móét luister wat hy sê. Hy raak nie gou moeg nie.

“In die jare ná die Eerste Wêreldoorlog het die posisie van die Swazi’s in Oos-Transvaal net verswak,” sê hy boos. “Die plase is onderverdeel en kommersiële boerdery het toegeneem. Die hoofmanne wat klomp beeste en volgelinge gehad het, was veral kwesbaar. Daar is ’n klomp wette gemaak om te verseker dat ons slawe sou wees. Die poll tax is in 1925 verdubbel. Die paswet is gewysig in 1929 en 1930. In 1932 is die Native Service Contract Act gepass en moes plakkers en swart huurders gelisensieer word. Hele families is verplig om te werk en hulle kon selfs geslaan word as hulle kontrakbreuk pleeg. Of hulle kon sommer van die grond afgegooi word. Terselfdertyd het die paswette gemaak dat mense nie na dorpe mag vlug nie.”

“Koning Sobhuza het geweier dat mense na Swaziland terugkeer as hulle ooit dispute met die koningshuis gehad het. Ons mense kon nie teruggaan nie,” waag Alfred. “Die koning het sy mense uitgelewer.”

Ngafane gluur hom aan. Hy hou nie daarvan as iemand met hom stry nie, al probeer Alfred net redelik wees en die waarheid uitwys.

“Ons oom was lid van die Industrial and Commercial Workers’ Union in die Oos-Transvaal en Swaziland. Die chiefs van albei kante van die grens het aangesluit. Selfs die ICU kon nie grond terugkry nie, so oppressed was ons.”

“Die ICU het lankal ophou bestaan en koning Sobhuza het sy houvas op die chiefs verloor,” vertel Alfred hom. “Ek ken darem ook die geskiedenis, nie net jy nie.”

“Toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek, het die koning se lawyers die Governor General se toestemming gevra om sestien plase in die distrikte van Carolina, Ermelo en Piet Retief te koop, almal naby die grens van Swaziland,” sê Ngafane. “Daar was van die beste koninklike krale op dié grond, maar daar het niks van gekom nie.”

“Daardie grond is later by KaNgwane ingesluit.”

“Wat jy ook al sê of hulle dink of doen, ons sal veg tot ons al ons grond van die fokken settlers af teruggekry het. Ons sal sorg dat hulle onteien word. Annendale is ons s’n. Daar het bloed geloop. Ubabawethu – ons pa – is amper destyds afgegooi deur daardie wit man van Zimbabwe. Mugabe het hom uit Zimbabwe gegooi, toe wil hy ons kom afgooi van grond waar ons mense nog altyd gewoon het, oor hy ons pa van veediefstal verdink het. Hy, van alle mense, die inkommer en rassis, het nie die reg gehad om dit te doen nie. Sy mense was net amafikizolo – inkommers, settlers.”

Toe druk Ngafane met sy vinger op Alfred se seerplek.

“Jy werk nou onder die wit superintendent én sy is ’n vrou.”

Alfred bly maar liewer kalm. “Ja, almal dink sy is slim, want sy snuffel goed uit. Ek het al gedink sy is umThakathi – ’n heks. Maar sy behandel my darem met respek.”

“Jy hóú tog nie van haar nie?”

“Sy praat Swazi en sy werk saam met ons. Sy sit nie heeldag op haar gat en gee net orders nie. Ons het nie geweet sy praat Swazi nie, toe sê ek en Job Mahlangu vir mekaar ons sal maak of ons na haar luister, maar ons doen wat ons wil. Toe sê sy sy kla ons aan van regsverydeling. Jo! Mahlangu het hom amper natgemaak. Maar nou hou hy van haar.”

“Maar sy hou nie van jou nie, al praat sy reg met jou.”

“Nee, sy hou seker nie van my nie. Sy hou van Job Mahlangu, want hy laat haar lag. Sy gaan hom nog push. Ons stasiekommissaris, Jethro Mathebula, hou van haar. Hy en sy kom goed klaar; hy sê sy is nie ’n rassis soos baie ander wittes nie en hulle praat Swazi met mekaar.”

Ngafane snork net minagtend, asof hy dink almal is swak om van so ’n mens te hou. En om bereid te wees om onder ’n vrou te dien. Hy glo vroue moet hul plek ken. Hulle is daar om kos te kook en kinders te kry, nie mans se jobs te probeer doen nie. Hy dink hy’s so liberated, maar oor vroue is hy sowaar nie, dink Alfred.

Bloedgrond

Подняться наверх