Читать книгу Bloedgrond - Malene Breytenbach - Страница 12
6
ОглавлениеAndrew staan agter sy hek en kyk na die stof wat die voertuie agterlaat. As daar nou een man is wat hom die wetter in maak nog voordat hy sy bek oopgemaak het, is dit daardie dienspligontduiker Mac MacFarlane, die kastig “briljante” dokter, soos sy ma altyd spog. Van jongs af het hy natuurlik alles gekry wat hy wou hê, enigste seun, ouers welvarend. Hy kan nie verstaan hoe iemand soos Sylvia só ’n seun kan hê nie. Hy het Lothian geërf, en as Annendale nie afgevat word nie, kry hy Annendale ook.
Daardie seun van Mac is ook ’n klein snotkop. Mac brag altyd met sy seun, sy perde, sy fokken alles. Altyd beter as ander mense. Gebore met die goue lepel, die pad net altyd reguit voor hom uit. Hy sal dit like om daardie lepel in sy keelgat af te druk. Mac het nie nodig gehad om te veg vir ’n bestaan nie en hy het nog nooit armoede geken nie.
Eintlik haat hy die man. En veral sy seun. Vir daardie bedorwe klein doos sal hy darem graag ’n slag wil opfok. Veral nadat hy een keer gesien het hoe hy die perd slaan omdat hy hom oor die draad wou laat spring. Hy sal sy tjank aftrap. Hy sal sy cool afstroop soos mielieblare van ’n stronk. Dis tog so jammer hy neem nie skiet- en veldlesse by hom soos die Ermelo-seuns nie.
Waarom Jack Bell, van wie hy regtig hou, met dié klein stront bevriend is, kan hy nie verstaan nie. Irriteer hy nie die kak uit hom uit nie? Hulle verskil hemelsbreed. Jack se voete is op die aarde en hy werk hard. Dis die soort seun wat ’n man wil hê, nie ’n verdomde klein playboy nie. Sy mooi sussie wat nou so oud is soos Margie toe sy vermoor is, is natuurlik ook verlief op die klein fokker van ’n Ewan junior. Sy sal nog haar gat sien as sy nie oppas nie. Ewan naai seker al lekker onder die jong hoertjies van Pretoria. Die soort wat hulle skoolrokkies te kort dra en net altyd seuns soek. Wat suip, saag en party vir ’n wen en ’n plek, en drugs gebruik.
Andrew hou nogal van Ferdie, al lyk hy soos ’n nerd. Hy het skaars ’n woord gesê. Hopelik is hy slim genoeg om almal teen die fokken Malazas se belaglike eise te beskerm. So, dis die man met wie Erin, kleinboetie James se ou meisie, uiteindelik getrou het. Sy en James sou seker getrou het, as hy nie so wreed vermoor is nie. Al is sy reeds in haar dertigs, is sy nogal ’n lekker stukkie.
Hy moes self nooit getrou het nie. Sy dogter wil hom nie sien nie en sy eksvrou haat hom, maar sy het seker genoeg rede. Dit was nie maklik om met ’n soldaat getroud te wees nie.
Alles wat verkeerd gegaan het, het hom hierheen gelei, en hier moet hy dit kom regmaak.