Читать книгу Bloedgrond - Malene Breytenbach - Страница 11

5

Оглавление

Dit is ’n sonskyndag, dog koud, en om hulle golf die heuwels, sommige toe onder boomplantasies. In die middel van die wintergeel grasland sien Erin die pan op Misty waarvan die intense blou soos die weerkaatsing van die hemel is. Rondom die pan buig die wilgers kaal neer. In die water staan die skelette van ’n paar bome waarop die voëls wat nie gemigreer het nie, kromgetrek sit, kop tussen die vlerke ingetrek sodat hulle aan so min koue as moontlik blootgestel word. Sy voel soos hulle, dink sy. Sy wil kromtrek en haar kop onder een vlerk indruk, maar nou moet sy maak asof sy niks makeer nie.

Hulle stop by ’n hek met ’n bord waarop staan: R Bell, Misty.

“Ek sal die hek oopmaak, dan ry jy deur,” sê Erin.

Sy spring uit, maak oop, hy ry deur en sy maak weer agter hom toe en kom klim in die voertuig. “Dis soveel moeite om elke keer dié ou plaashek oop te maak. Daar by die huis is darem elektriese hekke met ’n interkom.”

By die huis trek die rook van ’n kaggelvuur by ’n skoorsteen uit.

Ferdie leun by die venster uit, druk die knoppie en praat. Die hekke swaai oop. Twee boerboele, so groot soos kalwers, kom aangehol, blaffend en uitbundig. Die honde hardloop agter die voertuig aan en toe Ferdie by die huis stilhou, is hulle net so lastig soos die honde op Dunedin. Erin se ouers se Mercedes staan reeds langs die huis geparkeer. Haar broer en pa kom uit om hulle te ontvang.

“En toe? Hoe gaan dit daar by die MacFarlanes?” wil haar pa weet. “Lothian lyk goed, nè?”

“Ja, dis mooi al is dit so gekommersialiseer,” sê Ferdie. “Dis seker hoe ’n gasteplaas moet lyk.”

“Waar is Riana?” vra Bob.

“Sy het agtergebly, ek dink sy wil saam met die seuns kuier en perdry,” sê Erin.

Erin kyk rond na die groot tuin wat nou baie professioneel uitgelê is. Sy kan sien dit is oorgedoen sedert sy laas gekuier het. “Julle tuin lyk regtig pragtig.”

Hulle gaan sluit aan by die vroue in die groot sitkamer wat uitkyk op die pan.

“Drankies!” roep Bob. “Wat drink julle twee? Ons het wit- en rooiwyn, gin en tonic, whisky, brandewyn, limonade, druiwesap, soda …”

“Gin en tonic vir my, dankie,” sê Erin en gaan sit langs haar ma op die bank. Een van die honde wat ingesluip het, kom sit by haar voete en sy streel sy groot kop.

“Whisky en soda vir my, dankie,” sê Ferdie.

“Hond, uit!” beveel Marianne streng.

“Ag, hy kan maar sit,” protesteer Erin. “Hy is tjoepstil, hy pla nie.”

“Nee, ek soek hom nie op my nuwe mat en meubels nie. Uit!”

Die hond lyk bekaf en sluip koponderstebo uit.

“Dis nou sommer nonsens dat die kinders daar by Mac-hulle eet,” sê Marianne vies toe hulle aansit. “Op Sondae moet hulle hier by hulle gesin wees.”

Die middagete is heerlike skaapboud en gebraaide aartappels, hoenderpastei, soetpatats, soetwortels, geelrys en gebakte poeding, met baie wyn. Marianne bied vir Ferdie tweede skeppies van alles en hy neem dit. Hy het dit nog altyd gedoen om haar te komplimenteer oor haar lekker kos, dink Erin. Marianne is ’n vrou wie se trots dit is om lekker te kook en ’n voorslaghuisvrou te wees. By sy eie huis eet Ferdie nooit twee keer nie.

“Ek eet my vandag oor ’n mik,” spot hy. “Maar dis soos altyd vreeslik lekker.”

“Jy kan weer gaan dieet as jy terug is in Pretoria,” terg Marianne hom.

Die gesprek dwing maar weer terug na die grondeise.

“Daar is van die boere wat die gedwonge verkoop van een van hulle plase as ’n uitkoms van skuld sien, terwyl ander vasskop,” sê Bob vir Ferdie. “Ek skop vir seker vas.”

“Die liefde wat ’n mens vir jou grond, jou herkoms en jou erfdeel het, moet nooit onderskat word nie,” sê Jock. “Ons mense boer hier van die heel vroegste tye, toe die grond nog deel van die ou Transvaal was.”

“Ons is al so lank hier, al ons voorvaders is hier begrawe,” sê oupa Rob. “Ek wil in die begraafplaas op Dunedin begrawe word, by my vrou en ouers, oupa en oupagrootjie, en dié wat hulle voorafgegaan het.”

“Hier is Swazi-grafte ook, nie waar nie?” vra Ferdie.

“Ja, natuurlik,” sê Erin. “Mense gaan tog dood waar hulle is, en dan word hulle daar begrawe.”

“Sal dit ’n verskil maak aan die eis?” wil Bob weet.

Ferdie vee sy mond af en skud sy kop. “Die volkekundiges sal sê dit is van simboliese belang, maar dit gaan nie tel in die hof nie. Die Grondwet of restitusiewette bepaal nie dat mense die grond kan eis omdat hulle familie daar begrawe lê nie. Besit en eiendomsreg is wat tel en dit het julle klomp Bells van voor 1913 gehad.”

“Dis goed om te hoor,” sê Bob.

Oupa skraap sy keel. “Daar is ook grafte uit die Boereoorlogtyd op Dunedin. Hier het soveel gevegte plaasgevind dat die Kakies wat hier geval het, in ons begraafplaas begrawe is. Hulle was ons vyande, maar darem ook Christenmense. Ons mense is al ’n eeu en ’n half in dié geweste, lank genoeg om vele spoke na te laat. Ons het geveg vir ons reg om hier te wees.”

Ná die swaar ete gaan drink hulle koffie in die sitkamer. Erin sit ver van Ferdie af. Sy kyk hoe Marianne sy koffie skink en hoe hy sjarmant met haar flankeer.

’n Luiperd kan maar net nie sy kolle verloor nie, dink Erin minagtend. Sy het dit nog altyd as onbelangrik afgemaak, maar nou sien sy raak dat hy almal moet probeer charm.

Ferdie is doenig in die badkamer. Erin lê in die bed en dink. James sou nou ses en dertig gewees het, soos sy, dink sy. Hy en sy was vyftien jaar oud toe die Buchanans na Matotoland gekom het en sy hom die eerste keer ontmoet het by die Hoërskool Ermelo waar hulle albei in die koshuis was. Hy was haar eerste liefde. Groot, sterk en mooi, en anders as die ander seuns. Meer volwasse. Hy het meer van die donker kant van die lewe gesien as hulle. Die vreemdeling wat van ver af gekom het, met die romantiek van oorlog en ’n verlore heimat aan hom gekoppel. Van die eerste dag wat sy die vreemde seun in die klas gesien het, was sy verlief. Hy was half-Engels, half-Afrikaans, maar hy het baie gou aangepas, en hy was slim. Sy pa was wel ’n arm immigrant, die plaasbestuurder of bywoner van die welgestelde MacFarlanes, maar vir haar het dit nie saak gemaak nie.

Hulle twee is gekys en het saam toekomsplanne beraam. Hulle sou ná skool albei gaan studeer. Hy wou dokter word soos die MacFarlanes se seun, Mac. Sy het arbeidsterapie oorweeg en hulle sou aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer waar hulle naby mekaar sou wees.

Toe word sy lewensdraad een vreeslike Sondag afgeknip. Sy beleef dit weer, in al die intense aakligheid, soos ’n spies wat in haar hart inboor en gedraai word.

Dit was haar pa se beurt om die skoolkinders baie vroeg die Maandagoggend op te laai en hulle Ermelo toe te neem vir die skoolweek. Die vakansie was pas verby en hulle is nie soos gewoonlik die Sondagmiddag koshuis toe nie. Haar broer was al uit die skool en net sy en haar pa het gery. James en sy suster Margie – sy was in standerd sewe – was die naaste buurkinders.

Hulle het net voor dagbreek op die besonder mistige oggend van Dunedin na Annendale gery. Sy onthou daar was nog geen boomplantasies op Annendale nie. Die mis het aangerol gekom oor die golwende heuwels en hulle kon net die spookagtige gedaantes van enkele bome sien. Op die pad was dit so dig dat haar pa sy motorligte aangeskakel gehou het en vorentoe gesit het, sy hande om die stuurwiel geklem, turend in die wit wolk voor in die pad wat sig byna onmoontlik gemaak het. Hulle was gewoond aan die mis in daardie koue tyd van die jaar.

Hulle het deur die hekke gery – dit het oop gestaan – en oor die werf van die ou plaashuis. Hier was die mis nie so dig nie, maar genoeg om die huis ook spookagtig te laat vertoon. Nie een van die groot Rhodesiese rifrughonde het hulle soos gewoonlik blaffend tegemoetgehardloop nie, wat vreemd was. Waarom was die werf so stil? Niemand het uitgekom nie. Die huis en stoep se ligte was aan en die voordeur oop.

Erin se pa het bekommerd gefrons. “Iets is hier nie reg nie,” het hy gemompel en voor die stoep stilgehou. “Bly jy doodstil sit,” het hy beveel toe hy uitklim en na die stoep loop.

Onrustig het Erin gekyk hoe hy gaan staan en na iets agter die stoepmuur kyk. Toe draai hy skielik om, hardloop terug na die Land Rover en roep die polisie, die bure en lede van die kommando op die radio. Die radioverbinding was krakerig en dit het geklink asof dit nie die boodskap wil deurlaat nie, maar mense het tog gereageer.

“Moeilikheid by die Buchanans,” het hy elke keer geroep.

Erin het haar vuiste teen haar mond gedruk en gewag dat hy klaarmaak.

“Wat het Pa gesien?” het sy gevra, toe hy uiteindelik klaar gepraat het.

“Die honde lê albei dood op die stoep. ’n Bloederige gemors. Ek gaan in die huis kyk. Bly jy hier. Hou die kar gesluit.”

Hy het ’n pistool uit die kar se paneelkissie gehaal. Angsbevange het sy gehoop dat James nie iets vreesliks oorgekom het nie.

Haar pa het die huis versigtig genader, sy pistool gereed. Sy was bang om alleen te bly en bang om saam te gaan en het dus maar gevries gesit. Die mis het in slierte om die huis getrek, onheilspellend.

Haar pa is by die oop voordeur in en sy het haar lip gebyt tot sy bloed proe. Hy het uitgehardloop gekom en sy het gekyk hoe hy langs die stoep opgooi. Dit het haar laat uitspring.

Hy het orent gekom en sy mond met die agterkant van sy hand afgevee. Sy het hom nog nooit so doodsbleek en ontsteld gesien nie.

“Klim in die kar!” het hy skor geroep, maar sy het net daar gestaan, haar hande inmekaar gewring. En geweet. Geweet daar was dood in daardie huis, en dit moes grusaam gewees het.

“Waar is James?” wou sy deur bewende lippe weet.

“Hy is dood, my kind. Hulle is almal dood. Hy, sy ouers, en Margie.”

Haar pa het haar styf vasgehou terwyl sy geruk het van skok en afgryse, maar toe neem hy haar weer kar toe. Sy het ineengekrimp gesit, haar gesig in haar hande. Dit was ’n afgryslike ewigheid van wag voordat ander mense aangekom het en die werf vol voertuie en mense was. Boere, werkers, mense in uniforms. Gedaantes in die mis wat nog nie heeltemal verdwyn het nie.

Daardie skok het haar byna van haar kop af gehad. ’n Vrou, dit was Sylvia, het by die huis uitgestrompel en op die stoep inmekaar gesak. Daar was ambulanse, en lyke in komberse toegedraai is op draagbare uit die huis gedra en daarin gelaai.

Een van hulle was James, vir wie sy so lief was. Sedertdien assosieer sy mis, wat op ’n tyd vir haar romanties was, met grusaamhede. Met sinistere stilte. Angstige afwagting. Blinde vrees.

Sy het nie daardie dag teruggegaan skool toe nie. Dit het dae gevat voordat sy haarself weer uit die moeras van pyn kon sleep en probeer aangaan met haar lewe.

Die hele gesin is uitgemoor, behalwe die oudste broer, Andrew, wat in die Suid-Afrikaanse Weermag was. Margie is verkrag. Oom Sandy is in die hart gesteek. James het hom teëgesit en sy hande en arms is vermink, stukkend gekap. Toe is sy blonde kop verbrysel.

Erin het natuurlik nooit die lyke gesien nie, maar haar verbeelding het haar geteister met beelde uit die hel. Sy het gesien hoe klein Margie verkrag word. Sy het gesien hoe veg James vir sy lewe, en hoe hy stukkend gekap word.

Haar woede en wrok sou nooit weer weggaan nie. Dit sou wel ietwat vervaag, maar dis al. Ferdie het natuurlik daarvan geweet, want sy het hom vroeg al daarvan vertel, maar daarna het sy nie weer daaroor gepraat nie.

Die begrafnis was groot. Die kiste blink, die blomme en kranse veelvuldig en veelkleurig. Daar was skares woedende, hartseer en verslae mense wat nie kon glo dat so ’n afgryslike plaasmoord daar in hul distrik kon plaasvind nie. Die hartverskeurende diens, die baie woorde wat geval het, die ongeloof. Om te dink dat mense wat gevlug het uit Zimbabwe na veronderstelde veilige Suid-Afrika nadat hulle die oorlog daar verloor het, hul gewelddadige einde in die Oos-Transvaal moes kom vind! Dit was alles dinge wat Erin nooit sal vergeet nie, al was sy daardie dag half blind van verdriet.

Ná daardie tragedie het Sylvia haar kom troos. “Ek voel skuldig omdat die moord in my huis op Annendale plaasgevind het,” het sy gesê. “Dis my skuld dat die arme mense nie veilig was nie. Ek moes gesorg het, maar ek het nie.”

Sy het net so hartverskeurend soos Erin gehuil en van toe af het hulle ’n spesiale band van gedeelde smart.

In haar drome keer Erin daarheen terug, sien sy James se glimlaggende gesig op ’n begrafnispamflet wat sy nou nog het. Die foto van die gesin is vaag, maar hulle sit almal glimlaggend, herkenbaar. Sy onthou hoe haar hart fisiek gepyn het. Hoe ontsettend werklik verlies vir haar geword het.

“The flowers of the field, cut down in their bloom,” het die Engelse predikant van die Buchanan-kinders gesê. “As for man, his days are as grass; as a flower of the field, so he flourisheth … For the wind passeth over it, and it is gone; and the place thereof shall know it no more.”

Dit was ’n stormwind van haat en wreedheid wat hulle weggewaai het. Die motief was glo roof, maar Erin – soos baie ander – het dit nie geglo nie. Dit was veel meer as blote roof. Waarom is die mense dan so brutaal verkrag, vermink en doodgemaak?

Die skuldiges is nooit opgespoor nie. Hulle het met die Buchanans se bakkie na Swaziland gevlug. Die bakkie is by die Oshoek-grenspos gevind.

Sedertdien was sy nog nooit weer op die plaas Annendale nie.

“Ry asseblief stadiger, dat ons vir Mac kans gee om voor ons by Annendale aan te kom,” vra Erin, en Ferdie verminder drasties spoed.

Hulle ry tussen hoë dennebome deur en die omgewing lyk rustig en groen. Erin is gespanne, haar hande inmekaar geklem. Die krop van haar maag voel glad nie goed nie.

Ferdie kyk in die truspieël. “Dis seker nou Mac wat agter ons aankom.”

Erin kyk in die truspieël en sien die groot dubbelkajuitbakkie. “Ja, dit lyk so.”

Die bakkie ry tot agter hulle en Ferdie beduie dat Mac moet verbygaan. Vlugtig sien Erin Mac se glimlaggende gesig. Ferdie volg vinniger sodat hulle nie agter raak nie.

Voor hulle draai die bakkie af en toe hulle self op die grondpad kom, sien Erin weer met ’n rilling die naambord: Annendale.

Ferdie val terug om nie in Mac se stof te ry nie en hulle ry stadig by die ou werf verby. Die huis wat eens groot en nogal mooi was, lyk nou bouvallig. Dit is laat vergaan. Vensters en deure is verwyder – seker deur plaaswerkers wat dit as boumateriaal gebruik het. Die tuin en vrugteboord word onderhou, maar waar daar eens blomtuin was, is dit nou verwaarloos en oorgroei. Sy kyk met afsku, maar ook fassinasie, na die huis. Die tyd bring wel heling, maar nie genoeg nie. Buiten afgryse voel sy ’n ontsettende melankolie vir wat kon gewees het en nooit was nie. Die verbreekte belofte, oneindige verlies, die verydeling. Dit beklemtoon haar huidige verlies. Sou sy nie veel gelukkiger gewees het as sy met James kon getrou het in plaas van Ferdie nie?

“Daar is die ou se huis,” sê Ferdie. “Dis omhein soos ’n weermagkamp. Al wat kort, is uitkyktorings.”

Binne die hoë, geëlektrifiseerde drade is ’n nuwe, skoon geverfde huis en werf, met buitegeboue. ’n Paar jong bome is aangeplant, maar dis duidelik dat die huis nog nuut is en die tuin nie gevestig nie. Hier is geen blombeddings nie, net ’n droë, yl grasperk en ’n paar verdwaalde struikies. In een hoek van die erf lê daar nog bourommel. Die draad blink nog so nuut is dit.

Mac se bakkie staan buite die hek en hulle hou agter hom stil.

Agter die hoë heining kom honde te voorskyn en Erin dink eers dis die normale boerboele wat haar eie mense aanhou, maar toe skrik sy.

“Liewe hemel, Bob het nie oordryf nie. Dis pitbull-terriërs, of maak ek ’n fout?”

“Nee, jy’s reg. Nare goed. Hulle word mos geteel vir hondegevegte. Ek klim wragtig nie uit die motor as hulle los rondloop nie.”

Andrew kom in kakieklere by die huis uit en Erin hou hom gefassineer dop. Hy is lenig en lyk goed van ver af. Sy hoor ’n skril fluit en die honde hardloop na hom. Hy lei hulle na ’n tipe hondehok, laat hulle ingaan en maak die hekkie toe. Daarna loop hy na die groot hek en druk ’n knop wat dit oopmaak. Hy staan terug om die voertuie te laat inry.

Erin het hom gesien op die Buchanans se begrafnis en daarna twee of wat keer. Toe sy hom laas gesien het, was hy veel jonger. Hy lyk baie na James. Hy is ’n ouer weergawe, maar met dieselfde blonde hare en blou oë. Hy is goed gebou en taamlik lank, hoewel hy korter as Mac en Ferdie lyk. Haar bors voel nou en benoud.

Sy klim uit. Andrew, wat vinnig aangeloop gekom het, is al feitlik by haar. Wat haar tref, is dat hy werklik aantreklik is, maar sy gesig is bot. Sy blou oë is te lig en te deurdringend. James s’n was ’n donkerder blou. Wat het die oorlog, die moord op sy gesin en die weermaglewe van Andrew gemaak?

Mac kom staan by hulle, en laastens Ferdie ook. Verbeel sy haar of hou Andrew nie van Mac nie? Sou hy dalk vriendeliker gewees het as Mac nie saamgekom het nie? Mac stel Ferdie voor en Andrew skud sy hand.

“Jy lyk anders, Erin,” sê Andrew en gee haar ’n groot, growwe hand. “Jy lyk nie meer soos die dogter wat ek onthou nie.” Sy ysblou oë ondersoek en takseer haar.

“Jy lyk baie na James. Julle lyk na jou pa.”

“Ja, almal het altyd so gesê.” Sy stem is effens grinterig. “Kom ons gaan in en gesels.” Hy loop vooruit.

Die huis is karig gemeubileer met nuwe rottangstoele, ’n tafel en gevlegte grasmatte. Daar is ’n groot splinternuwe televisie en ’n vuur knetter in die kaggel. Aan die mure is niks nie, behalwe ’n gemonteerde Swazi-skild en -assegaai. Dit val Erin op dat daar teen een muur ’n groot boekrak is, en sy gaan kyk eers wat Andrew lees. Sy is verbaas om die verskeidenheid te sien. Daar’s boeke oor Zimbabwe: Selous Scouts: Top Secret War, The Struggle for Zimbabwe, Staying Alive deur Ron Reid-Daly, The Last Days of White Rhodesia, The Past is Another Country. Daar is ook ander boeke met ’n militêre tema – The Silent War, Terroris, The Boer War, Methods of Barbarism, Ingrid Winterbach se Niggie – en verskeie speurverhale, Ian McEwan en Deon Meyer, André P. Brink en Etienne van Heerden, Wilbur Smith en John le Carré. Sy sien cowboy-boeke ook. Op een rak is koerante netjies opgestapel en langs dit is tydskrifte ook netjies, presies haaks gepak – Landbouweekblad, Soldier of Fortune, selfs eksemplare van De Kat.

“Jy lees baie,” merk sy op, en wil verder kyk, maar hy staan skynbaar en wag dat sy moet klaarkry.

“Ja, ek lees graag, veral speurverhale,” sê Andrew. “Het julle lus vir bier, of moet ek vir julle tee maak?”

“Bier is die minste moeite, dankie,” sê Erin, en die nuwe stoel met ’n skoon bruin kussing kraak toe sy daarop gaan sit.

Andrew vra nie vir die mans wat hulle verkies nie, maar verdwyn by ’n deur uit en kom byna onmiddellik terug met ’n six-pack Black Labels, wat hy uitdeel.

“Ek kry vir jou ’n glas,” sê hy vir Erin.

“Nie vir my nie. Ek drink sommer uit die blik. Dankie.”

Die bier is só koud dat Erin dit eers op die tafeltjie langs haar neersit nadat sy ’n groot sluk geneem het. Om dit in die winter vas te hou, laat dit voel asof haar vingers afvries. Waarom het sy tog vir bier gevra?

“Ons het kom kuier omdat ek jou weer wou sien, Andrew,” sê sy. “Ek wou ook vir Ferdie die plaas wys. Hy gaan Bob en Sylvia help met die grondeise.”

Andrew kyk reguit na haar en sy kry die vreemdste gewaarwording. Sy wil van hom hou omdat hy James se oorlewende broer is en sy baie lief was vir James, maar haar instink vertel haar dat sy lugtig moet wees vir Andrew. Sy is tegelykertyd aangetrek – weens die fisieke ooreenkoms met James – en afgestoot. Dit is onmoontlik vir haar om neutraal te staan teenoor die man.

“Dit is glo Ngafane Malaza wat die grondeis teen Annendale en ’n deel van Misty namens die Malaza-clan instel,” sê sy.

“Ja, die bliksem,” reageer Andrew. “Ek het hom weggejaag toe hy hier kom rondsnuffel. Ek het gedreig om my honde op hom te sit.”

“Dit is nie ’n slim benadering in die huidige politieke klimaat nie,” betig Erin. “Wegjaag en dreig gaan jou nêrens bring nie, Andrew.”

Andrew kyk haar so verontwaardig aan dat sy haar vererg.

“Hy maak asof hy vir sy familie kom kuier, maar hy loop hier om die huis en daar by die ou huis rond,” sê hy bars. “Eintlik oortree hy doodgewoon.”

Daar is ’n kort ongemaklike stilte.

“Ek hoor jy is ’n oud-recce,” sê Ferdie. “Hoe lank was jy in die weermag?”

“Lank. Ek was eers in die Rhodesian Light Infantry. Ons het mos van Zimbabwe gekom. My pa het daar geboer, toe moet hy in die oorlog veg en ek ook. Dit het geëindig kort nadat ek opgeroep is. Daarna, van 1981 tot 2008, was ek in die Suid-Afrikaanse Weermag, tot ek uiteindelik besef het ek hoort nie in ’n weermag vol fokken MK’s nie en die oorlog waarvoor ek opgelei is, is verby. Toe bedank ek. Maar nou is daar ’n ander soort oorlog aan die gang, en dit gaan oor grond. Julle weet almal wat ná onafhanklikheid in Zimbabwe gebeur het. Eers het Mugabe beloftes van versoening gemaak, maar alles het agteruitgegaan. Toe begin die gulsige bliksems die wit boere van hulle plase afjaag en sommer intrek, alles verwoes en beset. Dit sal nog hier ook gebeur.”

Erin skud haar kop. “Nee, dit sal nie. Hier word vergoeding betaal. ’n Hele paar boere het reeds verkoop en goeie betaling gekry. Toe jou ouers in die tagtigerjare weg is uit Zimbabwe, kon jou pa ook nog julle grond verkoop.”

Andrew glimlag suur. “O ja. Vir next to nothing. My pa moes maar hoed in die hand vir die familie kom vra vir werk, en kyk wat het hy oorgekom. As ek nie daardie tyd op die grens was nie …” Hy bly stil.

Erin kry hom meteens jammer. “Dis ’n genade dat jy ontkom het. Dit was só ’n ongelooflike tragedie. Ek dink ek het nou nog nie van daardie skok herstel nie. Vandag is ek vir die eerste keer ná al die jare weer op dié plaas. Ek kon net nie hierheen kom nie.”

Hy kyk skewekop na haar. Sy verbeel haar sy oë versag effens.

“Suid-Afrika kan nie bekostig om dieselfde paadjie te loop as Zimbabwe nie,” sê Andrew. “Die helfte van die mense van Zimbabwe het al uitgewyk na Suid-Afrika, maar hier is die bevolking soveel groter. Hier is veertigduisend boere wat kos vir meer as veertig miljoen mense op omtrent twaalf persent van die grond produseer. Ek kan net sien hoe die kak gaan spat as dié boere se grond onteien word.”

Erin sit doodstil. Hy bly hamer op die Zimbabwe-situasie. Ferdie sit hom onderlangs en bekyk. Sy wonder wat dink hy van Andrew met sy ooglopende woede.

Mac verander die onderwerp. “Daar is van ons drade afgebreek en gesteel aan die suidekant van die dam, Andrew. Die seuns het dit gesien toe hulle daar gery het. Ek vermis ’n kalf. Die veediefstal neem deesdae so toe, ’n mens staan verstom.”

“Ek sal net hierna gaan kyk wat daar aangaan,” belowe Andrew. “Nog bier vir enigiemand?” Almal sê nee dankie.

Hy en Mac praat plaassake en toe dit klaar is, staan almal op om te loop. Andrew loop saam met hulle uit.

“Dankie dat jy kom kuier het, al is dit vir jou moeilik om na hierdie plaas kom,” sê hy vir Erin.

“Ag, Andrew, dis seker hoog tyd dat ek my spoke agter my sit. Dankie vir die bier.”

“Jy is enige tyd welkom.”

Hy vergesel hulle na hul voertuig, waar hy galant vir Erin die deur oopmaak.

“Wat dink jy van Andrew?” vra Erin vir Ferdie toe hulle wegry.

“Hy is onvergenoegd. Hard, taai, kwaad. Hy lyk na wat hy is – ’n recce. Kragdadig, die soort ou wat ander ouens sal rondjaag en hulle swaar pakke laat dra. Hy sal vloek en skel, maar hy sal later met die manne saamdrink en dit goed wegsit. Hy sal ander ouens goed moer in kroeggevegte. Wat dink jý van hom? Vroumense het mos ’n ekstra sintuig.”

Sy sit eers met haar hand oor haar mond en dink. “Hy is ’n aantreklike man, maar daar is iets genadeloos omtrent hom. Tog kry ek hom jammer. Miskien dink ek net aan die moord op sy gesin. Ons het tog almal ons kwesbaarheid wat ons vir die wêreld wegsteek.” En tans worstel ek verbete om my eie weg te steek, dink sy wrang.

“Ek dink deur macho te wees, probeer hy die wêreld hanteer wat hom al soveel slae toegedien het,” meen Ferdie.

“Het jy gesien hoeveel boeke hy het?”

“Ja, die man is nie ’n aap nie. Ek dink nie mens moet net na daardie macho-voorkoms kyk en dink hy lewe bloot fisiek nie. Hy lyk vir my intelligent.”

Dit is die langste gesprek wat hulle nog gehad het sedert hulle in Matotoland aangekom het, dink Erin suur. Ná middagete sal hulle terugry Pretoria toe, weer in gespanne stilte, die hele lange pad. Sy sal teruggeneem word na haar huis en Ferdie sal vertrek na sy hotel. Hul onderskeie lewens. Dan gaan sy die skeisaak aanhangig maak.

Sy wens die naweek is al verby.

Bloedgrond

Подняться наверх