Читать книгу Bloedgrond - Malene Breytenbach - Страница 9
3
ОглавлениеErin en Ferdie ry in stywe, ongemaklike stilte van Pretoria af. Die radio moet die leemtes van die gebrek aan kommunikasie vul. Toe hulle op die pad na Chrissiesmeer en Lothair is, onthou Erin hoe beïndruk Ferdie was toe hy die eerste keer die mooi landskap, boomplantasies en golwende heuwels gesien het. Hy het nog beweer dit is soos die shires wat hy in Engeland geken het, net nie so smaraggroen soos daar nie. Hy het hom verwonder aan hoe ongelooflik blou die panne is.
Destyds het hy in alles belang gestel. Sy het hom vertel dit is die meredistrik van Mpumalanga, met tweehonderd paddaspesies, en Matotoland is juis ’n naam wat van die siSwati-woord “maxoxo”, wat padda beteken, ontwikkel het. Sy het hom vertel van haar pa se skaapboerdery, sy kampioenramme, dat hy ondervoorsitter van die Wolkwekersvereniging is. Ferdie was beïndruk. Sy moes hom belowe om haar pa te vra om vir hom die kampioenramme te wys. Later het sy hom hul plaas Onverwacht in die Laeveld gaan wys, naby Badplaas en Barberton, langs die Komatirivier, waarheen die skape in die ou dae in die winter gejaag is.
Hulle ry verby Chrissiesmeer en Lake Banagher en kom by die grondpad waarop Dunedin, Misty, Lothian en Annendale aangedui word.
“Die bosbou neem toe hier,” merk Ferdie meteens op en verbreek die stilte.
Sy forseer haar om te praat. “Ja. Sylvia sê Annendale is tagtig persent of meer onder bloekom- en dennebome. SAPPI en MONDI het teen dié tyd al baie van die grond opgekoop vir kommersiële plantasiebedryf. Sylvia byt nog vas en beoog om een van die plaaslike saagmeuleienaars te kry om vir haar te kap.”
“Dalk moes sy al verkoop het aan een van die groot maatskappye, dan het sy nie nou met die probleem van die grondeis gesit nie.”
Erin kyk vlugtig na hom. “Maar jy weet tog dis haar erfgrond en sy wil nie daarvan ontslae raak nie.” Hy kan tog so gevoelloos wees. Sy hét mos die boere se sentimente aan hom verduidelik.
“Hierdie plase is ongemaklik naby die Oshoek-grenspos,” merk hy op. “Oupa Rob het juis al hoeveel keer vertel dis waarheen rowers, skaapdiewe en moordenaars vlug nadat hulle klaar hulle misdade gepleeg het. Oorkant die grens raak hulle tjop-tjop weg in Swaziland se berge en valleie.”
Erin bly stil totdat hulle die afdraaipad bereik: Dunedin. JR Bell.
“Hier’s ons by die Bell-tuisland,” kondig Ferdie spottend aan.
Erin kyk met liefde na die groot ou plaashuis, die groot tuin en hoë bome. Hierdie is ook haar hartland. By die buitegeboue anderkant die draad staan ’n skaapvragmotor geparkeer. Die werkers is daar besig. Sy waai vir hulle.
Drie groot boerboele kom aangehardloop toe Ferdie se nuwe Pajero na die oop motorhuis aangery kom. In die motorhuis is haar pa se Mercedes en ’n ouerige Land Rover. Erin spring uit toe Ferdie onder die prieel stilhou.
Die voorste hond dans blaffend om haar en probeer opspring, maar sy keer. Sy praat met hulle en streel hul koppe. Iemand roep en raas met die honde. Dit is haar pa, glimlaggend, in kakieklere en ’n skaapvelbaadjie, met ’n pet op die kop, wat van die huis af aangestap kom.
Erin omhels hom. “Paps, hoe gaan dit?”
“Nee, ons hou. Bly om julle te sien.”
Jock soen haar en gaan skud blad met Ferdie. Erin let die kontras op tussen Ferdie se koordferweelbroek, rolkraagtrui, parka en nuwe stewels en haar pa se ou, ingeleefde klere. Al dra Ferdie ontspanningsdrag, lyk hy altyd asof hy spesiaal uitgerus is. Hy lyk glad nie soos ’n plattelander nie.
“Dit lyk darem nog rustig hier, Pa,” sê hy.
Jock skud sy kop. “Ja, dit lyk seker vir julle stadsjapies so, maar deesdae is dit nie so rustig nie. Ons het heelwat vee- en ander diefstal.”
Erin sien haar ma by die deur uitkom. Sy lyk vir Erin maerder, haar grys krulhare plek-plek wit.
Erin gaan soen haar. “Ons is so bly julle is hier,” sê Susan. “Almal is so omgekrap oor die grondeise.”
“Is Oupa nog oukei?” vra Erin.
“Oud en vol skete, maar ja, hy hou uit,” sê haar pa. “Hy sit daar op die sonstoep en dut.”
Ferdie soen sy skoonma, neem die tasse en loop die huis binne na die gastekamer wat hy en Erin altyd gebruik. Sy dink nog heeltyd daaraan dat sy die kamer en dubbelbed met hom sal moet deel asof niks verkeerd is nie. Dit gaan swaar wees, dink sy met ’n rilling.
Sy het nog altyd ’n heerlike gevoel van tuiskoms gehad wanneer sy die bekende swaar houtmeubels, skilderye en ornamente en potte sien, die kos- en gebakgeure uit die kombuis ruik. Die vae reuke van honde, politoer en lugverfrisser hang ook in die lug. Dit is soos altyd, asof niks hier verander nie. Dis net sy wat verander het, met haar huwelik wat uitmekaarval.
“Miskien wil julle opvars en uitpak,” sê haar ma. “Kom dan na die sonstoep waar Oupa sit.”
Erin en Ferdie pak hul goed uit in die kas waar hulle dit altyd langs mekaar gedoen het. Dan nou seker die laaste keer, dink Erin. Hulle praat styf en formeel met mekaar. Dan loop hulle deur die huis na die sonstoep. Erin se ouers sit reeds daar met ’n skinkbord. Langs die teepot onder ’n gehekelde teemus is koppies en pierings en groot goue beskuite op ’n bord opgestapel. Dit laat Erin se mond water. By hulle is haar oupa, wat oud en broos lyk. Sy vel is verrimpel, sy wit haartjies yl en sy blou oë waterig. Hy glimlag egter bly toe hy hulle sien.
“So … die slim advokaat is hier om ons te help,” terg Oupa.
“Ek sal probeer, oupa Rob,” sê Ferdie met ’n glimlag.
“Bob en Marianne kom vanaand, en dalk die kinders ook,” sê Erin se ma. “Hulle kan nie wag om met jou te praat nie, Ferdie. Bob is vreeslik ontsteld.”
Ná ’n swaar middagete van wildspastei, verskeie groentes en gebakte nagereg, pleit Ferdie moegheid en sê hy wil gaan dut.
“Ek het tot die vroeë oggendure nog gewerk aan ’n saak,” vertel hy.
“Alte seker,” sê Jock. “Erin, wil jy saamkom om na my nuwe kampioenram te kyk?”
“O ja, graag.” Sy vermoed Ferdie het nie lus om heeldag die goeie front voor te hou nie. Dalk wil hy sy minnares gaan bel, dink sy bitter.
“Nou kom,” sê haar pa en kry sy motorsleutels wat op die kassie langs die telefoon in die portaal lê.
Erin klim voor in die ou Land Rover wat vuil en vol allerhande losgoed is – baadjie, pet, gereedskap, leë koeldrankblikkies. Die stof sit dig op die paneelbord en verslete matte.
“Verskoon maar die gemors,” sê haar pa. “Jy weet mos ek is nie te puntenerig oor my vervoer nie. Solank dit my nie in die steek laat nie, en dit op die grondpaaie kan ry sonder om te gly, is ek doodtevrede. Dié ding gly nie sommer nie, al is die paaie sleg. Daar is maar min onderhoud van owerheidskant deesdae. Oral gaan dinge agteruit en ons moet self sorg. Ek moet deesdae my grondpad self laat skraap.”
Hulle ry na die buitegeboue by die krale en hou aan die voorkant stil. Jock neem Erin dadelik na waar die ramme is.
“Jason is die nuwe ram se naam. Dis nou vir jou ’n teelram dáárdie.”
Die dier is alleen in sy eie afskorting en kyk hovaardig na hulle.
“Hemel, maar hy’s wragtig ’n bielie,” lag Erin.
“Ek is al vyftigduisend rand vir dié teelram aangebied, maar ek wou nie verkoop nie. Hy’s my eerste-prys-ram en ek gaan nog geld uit hom maak.”
“Pryk sy foto al by die binnebraai?” vra Erin.
“O ja, dis geneem by vanjaar se skaapdag in Bloemfontein. Dit was net pryse en rosette waar jy kyk. Jy moet gaan kyk na die foto.”
Sy glimlag vir haar pa se trots.
Hulle loop eers rond en kyk na die ander ramme, toe sê Jock: “Kom ons gaan huis toe, Bob-hulle is nou-nou hier. Hy en Ferdie moet dringend praat.”
Toe hulle die werf binnery, sien Erin Ferdie in die tuin loop, honde op sy hakke, maar die honde los hom en hardloop na die Land Rover. Sy wonder wat hy so loop en dink. Dink hy ook dat dit dalk sy laaste kuier by sy skoonouers is, en dat hulle een van die dae sy eksskoonouers gaan wees? Daar is ’n steek in haar hart. Sy kan hom nie vergewe nie en sien regtig daarteen op om die nuus aan hulle te breek. Tog het sy twee jaar met hom saamgeleef en was daar liefde en geborgenheid.
Sy gaan in, verfris haar en grimeer haar gesig weer liggies. Haar grys oë is troebel in die spieël. Sy borsel haar skouerlengte voshare totdat dit blink. Al is sy nie ’n skoonheid nie, is haar gesig reëlmatig, haar tande ook, en haar vel is vlekloos. Maar Janet het jeug aan haar kant. Sy kan nie ouer as vyf en twintig wees nie. Ferdie kan mollige of vet vroue nie verdra nie. Hy het haar gespot wanneer sy sjokolade – waarvoor sy baie lief is – eet. Geskimp dat sy vet gaan word. Nou eet sy dit weer dikwels, en smul aan elke blokkie. Lindt se donkersjokolade is haar gunsteling-trooskos.
Wat haar die kwaadste maak, buiten die feit dat hy rondgeflenter het terwyl sy behandeling gekry het om ’n baba te kan hê, is dat sy haar pos by Beeld, waar sy besig was om in die bestuur in te beweeg, opgegee het om rustiger te wees, want spanning veroorsaak kwansuis dat vroue nie swanger kan raak nie. Toe het sy vryskut begin werk. Ferdie sou haar onderhou, sy inkomste is goed. Nou moet sy weer gaan vaste werk soek.
Sy raak sommer weer lus vir sjokolade.
“Daar hoor ek nou Bob se Land Rover en die honde se lawaai,” sê Jock. “Soos gewoonlik laat.”
Jock is besig om die vuur in die halwe drom in die toegeboude agterplaas aan die gang te kry en almal het drankies. Erin sit met ’n gin en tonic langs Ferdie. In die verlede het sy salig ontspan wanneer sy die rook en die geur van vleis ruik. Nou is sy so gespanne dat sy dit glad nie kan geniet nie. Die nag lê voor. Daardie dubbelbed en gedeelde badkamer.
Drie mense loop die agterplaas binne – Bob, Marianne en die veertienjarige Riana. Erin staan op en gaan soen hulle. Marianne is mollig, haar gesig mooi en rosig, haar hare dik en ligbruin, haar oë ’n aantreklike groen. Sy het egter ’n onvergenoegde trek om haar mond. Riana lyk nie na haar nie, eerder na haar pa en Erin, met grysblou oë en voshare.
Almal groet soos altyd, asof niks verkeerd is nie. Hulle kom nog niks oor haar en Ferdie agter nie, dink Erin bedroef.
“Jack kuier by die MacFarlanes, want Mac het vir Ewan saamgebring plaas toe,” sê Marianne. “Anne kom nie meer saam nie. Hulle is onlangs geskei.”
“Geskei?” vra Erin verbaas. “Toe ek hulle laas gesien het, het hulle nog so gelukkig gelyk.”
“Ja, die storie is dat sy en ’n ander man … wag, ek skinder.” Marianne bly skielik stil.
Toe almal drankies het en Jock en Bob hulle met die vuur besig hou, sê Bob: “Mac en Sylvia wil ook met Ferdie praat oor die grondeise. Ek het haar vertel dat Ferdie ons kan help.”
“Gaan môre soontoe,” stel Marianne voor. “Gaan drink oggendtee. Hulle is nie mense wat kerk toe gaan nie. Dan kom eet julle middagete by ons.”
Terwyl die tjops en wors op die vuur sis, gaan Erin se ma en skoonsuster na die bykosse omsien.
“So ons hoor dis die Malaza-familietrust wat die grondeise ingedien het, oupa Rob,” sê Ferdie.
Oupa Rob snork verontwaardig. “Klomp blikslaers. Byt die hande wat hulle gevoed het. Mandla Malaza is mos nou Bob se voorman. Sy oom Sipho was die plaasvoorman op Annendale sedert die tyd van die Duncans, Sylvia se ouers. Hy is so twee jaar gelede oorlede, maar sy broer se seun Silas het by hom oorgeneem. Sipho se eie seuns, Ngafane, Alfred en Enoch, het op Annendale grootgeword, maar hulle’t almal weggegaan. Nou wil dié klomp jou wragtig vir Annendale en ’n deel van Misty hê, en wat weet hulle van boer af?”
“Die voorbok wat namens die familie eis, is Ngafane,” sê Bob. “Sy een broer, Alfred, is ’n speurder op Ermelo en die ander een, Enoch, is die stasiebevelvoerder van die Lothair-polisie. Daar is van die polisie wat ons kan vertrou, maar dit sluit vir seker nie die blessitse Malazas in nie. Die broers is natuurlik sterk aan die plannetjies smee. Ngafane het jare gelede in die myne gaan werk, maar nou is hy terug, die verdomde kwaadstoker. Die Malaza-clan dink oor hulle op Annendale en Misty gewoon het, kan hulle dit afvat en dan moet ons sommer boedel oorgee.”
“Ngafane was glo by die National Union of Mineworkers betrokke,” sê Jock. “Die bliksem dreig dat Dunedin ook nog onteien sal word. Die boere is al goed moerig vir hom. Hy’s ’n regte opstoker.”
“Ja, maar dis nie so maklik om die grond te kry nie, al is die Malaza-clan al hoe lank in dié geweste,” sê Erin. “Die Bells en Malazas het al lank met mekaar te doen. Sedert die tyd toe Robert Bell die Native Commissioner en vrederegter was en in 1877 deur Mabekani Malaza op Arthur’s Seat vermoor is.”
“Die Malazas is al so lank hier dat dit seker eintlik g’n wonder is dat hulle die grond eis nie,” sê Ferdie.
Daar is ’n kort ongemaklike stilte, wat Riana verbreek. “Oupa-hulle kon nog na die graf van Robert Bell gaan kyk voordat daar bome op die plaas geplant is. In die ou dae het daar elke nag ’n rooi spooklig oor die pad geloop en by Robert Bell se graf verdwyn.” Ferdie glimlag goedig vir haar spookstorie.
“Hier was ook nog altyd oorlog en veediefstal in dié geweste,” sê Jock. “Ons loop goed deur. Hulle steel ons skape en laas jaar is ons trekker gesteel en weer by die Swazilandse grens gekry.”
“In die Boereoorlog het die Kakies die land hier skoongevee van mens en dier,” sê oupa Rob. “Hulle het elke lewende ding hier doodgemaak en die karkasse in die veld gelos om te vrot. Die kommando’s het hier geveg van rant tot rant en pan tot pan. Vroue en kinders, plaaswerkers, almal wat gevang is, is na konsentrasiekampe gestuur. My eige oupa is daar by Lake Banagher gevange geneem en na Ceylon gestuur, na ’n krygsgevangenekamp.”
“Ag oupa Rob, moenie al wéér van die Boereoorlog vertel nie,” kla Riana. “Dit het so lank gelede gebeur en ons het dit al hoeveel keer gehoor.”
Hy frons vir haar. “Julle jonges darem. Julle moet mos julle geskiedenis ken. Dis juis die ou vetes en geskiedenis wat maak dat die Swazi’s nou ons grond eis.”
Aan tafel sê Bob toornig: “Nadat die grondeise in die staatskoerant gepubliseer is, moet ons protes aanteken of boedel oorgee. Sylvia is skoon op haar senuwees.”
“Hulle moet net nie ons huis probeer vat nie,” klink Marianne se stem skril op.
“Bob-hulle se huis is nou die mooiste in Matotoland, afgesien van die MacFarlanes se fensie kasarm op Lothian,” sê Susan. “In die somer is die tuin vol rose, gesiggies, lelies, daisies, alles waaraan jy kan dink. Die mooiste struike. Daar’s ook ’n dammetjie en fonteintjie met waterlelies en koi-visse wat Bob en sy werkers vir Marianne aangelê het.”
“Erin, het ons jou al gesê Andrew Buchanan is nou Sylvia en Mac se nuwe plaasbestuurder … en hy woon op Annendale?” vra Jock.
Erin kyk verbaas na hom. “Ek dag hy’s in die weermag.”
“Hy was, maar hy sê hy pas nie meer in die nuwe Suid-Afrika se weermag nie. Mense soos hy word nie meer bevorder nie en hy kon nie meer met voormalige Umkhonto we Sizwes saamwerk nie. Toe bedank hy en kom hiernatoe. Die regering het mos die kommando’s afgeskaf. Nou is hy ons man wat skakel met die plaaswag en die polisie. Ons het mos nou iets wat hulle noem sektorpolisiëring. Andrew sê hy gaan ’n netwerk van informante opbou. Hy gee ook vir die skoolseuns in die dorp skietlesse en leer hulle van die veld.”
“Moenie vir my sê hy woon in dáárdie huis nie … ?” vra Erin geskok.
“O nee, die huis staan nog steeds leeg en dis al bouvallig,” sê haar ma vinnig. “Sylvia het vir Andrew ’n nuwe huis gebou, klein, maar met baie goeie sekuriteit.”
“Het sy vrou saamgekom?”
“Hy is lankal uit sy vrou,” sê haar pa. “Dié het glo in Pretoria agtergebly. Hy het een dogter by haar gehad en dié is al groot.”
Bob kyk na Ferdie. “Andrew Buchanan was voorheen ’n recce. Erin het jou seker van hom vertel. Hy is die oudste seun en enigste oorlewende van die Zimbabwiese gesin wat destyds, in 1989, op Annendale uitgemoor is.”
Ferdie knik. “Ja, ek weet van hom.”
“Hoe kry Andrew dit reg om stoksielalleen daar op Annendale te woon?” wil Erin weet. “Hy moet tog eensaam raak. En waarom moes hy juis dáár gaan bly? Van alle plekke. Ek sou juis nie daar wou gaan woon het as ek hy was nie.”
“Hy wou glo daar gaan bly en nie op Lothian nie,” sê Bob. “Hy en Mac het nie juis ooghare vir mekaar nie. Andrew help om albei plase te bestuur.”
“Ek dink nie hy is so eensaam nie, hy het genoeg vriendinne in die omgewing,” sê Marianne. “Hy’s ’n mooi man. Die Buchanans was sulke mooi mense. Daar was sprake dat hy aan Linette van Rensburg, ons ou tandarts se dogter, verloof sou raak, maar dit het nie gebeur nie. Miskien verbeel sy haar in elk geval dat hy net in haar belang stel. Sy gee skool by Hoërskool Ermelo.”
“Andrew was in die weermag in Suidwes en Angola toe dié vreeslike ding gebeur het,” vertel Bob vir Ferdie. “Hy was baie bitter, en is dit nog steeds. ’n Mens kan hom nie kwalik neem dat hy nie kan vergewe nie. Dit wás vir ons vreemd dat hy juis na Annendale teruggekeer het. Sylvia het sy pa destyds aangestel oor hy familie van haar oorlede man was en toe het sy vir Andrew aangestel nadat hy uit die weermag padgegee het. Sy kry hom natuurlik jammer. Die man loop gewapen rond en om sy huis is hoë elektriese heinings. Sy honde is woes kwaai. Regte veghonde. ’n Mens kan nie daar uit jou motor klim sonder dat hy eers uitkom nie, anders verskeur hulle jou, of jy nou wit of swart is.”
“Ek bly vanaand hier en dan kan ek môre saamgaan na Lothian,” sê Riana. “Oom Andrew sal dalk daar wees, dan kan julle hom sien. Tannie Sylvia nooi hom dikwels vir ete.”
“Wat dink jý van oom Andrew?” vra Erin vir Riana.
“Ag, hy’s seker oukei, tannie. Jack hou van hom. Hy sê oom Andrew is vreeslik macho. Hy skrik vir niks en hy’s fiks en sterk.”
“Dis die weermagopleiding wat hom so gemaak het,” meen Marianne.
Erin bespeur iets in haar stem. Sou sy die man bewonder?