Читать книгу Eiland van drome - Malene Breytenbach - Страница 3
1
ОглавлениеIrene is net op pad huis toe ná ’n lang skof in die kliniek, toe Suzette Horn, die hoof- psigiatriese verpleegster, haar by die deur voorkeer.
“Dokter, het jy gehoor dat dokter Nicholas Barton vanmiddag hier aangekom het en personeel wil werf vir die nuwe kliniek in Griekeland?” vra sy.
Suzette is ’n wandelende nuusdiens en weet van alles wat in die kliniek aangaan.
“Nee, ek het nie gehoor hy is hier nie, my dag was nogal dol.”
Suzette se oë blink. “Dis glo op ’n eiland in die Ioniese See, so links van die Griekse vasteland en naby Corfu. Hy soek ervare personeel soos psigiaters, kliniese sielkundiges en verpleegsters. Dit klink so opwindend! Dit moet vreeslik mooi wees daar. Dokter kry altyd sulke goeie resultate met jou werk. Stel jy nie belang om aansoek te doen nie?”
“Ek is heeltemal gelukkig hier waar ek is, Suzette,” sê Irene. “Die verste gras lyk altyd die groenste. Dat dit op ’n Griekse eiland gaan wees, verseker nie dat dit noodwendig beter gaan wees as hier in Kaapstad nie. Deesdae moet die Grieke ook maar hul euro’s omdraai.”
Suzette is egter begeesterd. “Manos is die Nikos-familie se private eiland, hoe kan dit anders as heerlik daar wees? Ek hoor daar’s bosse en woude en private strande. Ari Onassis wat met Jackie Kennedy getrou het, het mos ook ’n private eiland gehad. Dis ook daar iewers. Ek is dol oor Griekeland! Ek het al op Santorini en Mykonos vakansie gehou en daar is niks lekkerder as Griekse kos, bouzouki-musiek en Griekse adonisse nie.”
Irene kan nie anders as om te lag nie. “Adonisse, nè? Hopelik sonder psigiese probleme. Doen aansoek as jy wil, maar ek sal nie.”
As dokter Barton haar in Griekeland wou gehad het, sou hy vir haar ’n pos aangebied het, redeneer sy. Sy werk lekker in die groot, goed toegeruste en besige Kaapse kliniek. Sy werk graag met tieners en het drie tienerpasiënte met wie sy al heelwat sukses behaal het. Skisofrenie is ook een van haar hoofbelangstellings en hier het sy veral een pasiënt wat vir haar belangrik is. Dan is daar Bob Butcher, ’n voormalige oorlogskorrespondent, wat sy vir posttraumatiese stres behandel. Hy wil geen ander psigiater spreek nie.
Nee, haar verpligtinge sal haar hier by die Southeaster Psychiatric Clinic hou. Dit behoort aan die Nikos Trust. Dokter Nicholas Barton, wat na sy pa se dood beheer van die kliniek oorgeneem het, is deels Griek, deels Engelsman. Tot dusver was hy en sy pa voor hom welwillende skadufigure in haar lewe. Toe sy ná haar basiese opleiding as dokter besluit het om in psigiatrie te spesialiseer, het sy ’n beurs van die Nikos Trust gekry. Die voorwaarde is ingebou dat sy later in hulle kliniek sou werk nadat sy haar finale praktiese opleiding hier ondergaan het.
Dit was vir haar duidelik dat haar vordering en prestasies dwarsdeur haar studieloopbaan deur die skadufigure van die Nikos Trust gevolg is, want sy het nie vir hulle beurs aansoek gedoen nie. Een wonderlike dag is dit haar eenvoudig aangebied.
Irene kom nie uit ’n ryk huis nie. Haar pa, wat ’n onderwyser was, is vroeg dood. Haar ma, wat ook skoolgehou het, het haar altyd aangemoedig en met haar beskeie salaris alles probeer bybring. Irene het geweet dat sy beurse moes kry, anders sou sy nie jare lank kon studeer nie.
Sy is ambisieus. Hoewel sy al ’n streep mansvriende gehad het, wou sy haar nie aan ernstige verhoudings blootstel nie.
Haar aanstellingsbrief het van dokter Nicholas Barton self gekom, waarin hy haar gelukwens, prys en as ’n groot aanwins vir die Nikos Trust beskryf.
Sy het dokter Barton nog nie van aangesig tot aangesig ontmoet nie, maar sedert sy vir hom en sy familietrust begin werk het, het sy dikwels oor die foon en merendeels deur e-pos met hom kontak gehad, maar dit is slegs op professionele vlak. Hy is vir haar ’n misterie. Hy staan bekend as ’n baie private mens, al kom hy uit ’n vooraanstaande en baie ryk familie aan sy ma se kant. Haar pa is die miljardêrskeepseienaar Georgios Nikos, wat die Nikos Trust onderhou.
Irene was nog altyd van ver af gefassineer deur Nicholas Barton en het gehoop sy ontmoet hom een of ander tyd. Op foto’s is hy donker en besonder aantreklik, maar of hy in lewende lywe lank of kort, aangenaam of streng is, dit weet sy nie. Hy is al by die veertig jaar oud. Sy weet nie of hy getroud is of was en of hy kinders het nie.
Wat haar betref, kon hy netsowel op ’n ander planeet gewoon het, al is hy haar grootbaas en weldoener.
Sy verlang vanmiddag na haar ma en besluit om Stellenbosch toe te ry. Haar ma huur ’n woonstel in een van die historiese huise in Dorpstraat en Irene gaan graag soontoe. Dit is oud en gesellig, en vol boeke. Haar ma het haar altyd aangemoedig om wyd te lees en nie net in mediese sake belang te stel nie. Deesdae, ná haar aftrede, skilder sy. Lea Basson se waterverfskilderye is al redelik gesog.
• • •
“Dis nou lekker dat jy so onverwags kom kuier,” lag Lea toe Irene haar by die voordeur soen.
“Ja, ek het gedink ek kom kuier lekker die naweek, Mams. Ek het die afgelope ruk nogal hard gewerk. Ek is jammer as ek Mams afgeskeep het.”
Haar ma glimlag. “My lief, ek weet mos jy het ’n veel-eisende werk. Jy het nie verniet so hard geleer en so presteer nie. Ek is trots op jou en wat jy doen. Kom, ek slaan vir ons ’n lekker pasta aanmekaar. Jy kan vir ons ’n bottel wyn oopmaak. Dan gesels ons ’n slag. Ek wil hoor wat jy alles aanvang.”
Nadat Irene haar tassie in haar kamer uitgepak en gemakliker klere aangetrek het, gaan sy na die knus kombuisie waar die geur van haar ma se pastasous die vertrek vul.
“Dis altyd so lekker gesellig hier by Mams,” sug Irene. “Ek wens ons het nader aan mekaar gewoon.” Sy maak die yskas oop en kies ’n bottel witwyn. “Is sauvignon blanc reg?”
“Perfek.” Lea staan en roer die sous in die kastrol en Irene kyk liefdevol na haar. Haar ma lyk nog verbasend jeugdig. Sy is slank en goed versorg en sy stel in alles belang. Verstok sal sy nooit raak nie. ’n Rolmodel.
Irene maak die wyn oop en skink dit in twee langsteelglase. Haar ma hou mooi glase aan, want sy glo dat wyn lekkerder smaak wanneer dit in ordentlike glase bedien word. Alles doen sy keurig en kunstig.
Irene gee vir haar ’n glas aan en proe aan haar eie. “Heerlik. Waarmee kan ek help?”
“Jy kan net gesels. Ek het jou so half en half verwag en het die sous so te sê klaar gehad. Die pasta kook ook al. En die slaai is in die yskas.”
Irene glimlag. Dit is altyd vir haar snaaks dat haar ma kan aanvoel wanneer sy kom kuier.
“Jy moet daaraan dink om ’n nuwe motor te koop,” sê Lea. “Jy ry al lank met daardie ou Fiat. Ek hou nie daarvan dat jy in so ’n ou motor op die N2 of N1 is nie. Toe jy in jou studentejare nog in dodgy plekke moes inry, moes jy ’n onopvallende motortjie hê, maar nou moet jy iets beters kry. Ek wil nie hê jou motor moet onklaar raak en dat jy langs die pad gaan staan nie.”
Irene teug aan haar wyn. “Noudat Mams dit noem, ek hét oorweeg om ’n nuwe motor te gaan soek. Ek het net nog nie so ver gekom nie.”
“Wat is nuus?” vra haar ma, wat altyd belangstel in haar werk en pasiënte.
Irene vertel haar van die kliniek wat dokter Barton op die Griekse eiland gaan open. “Hy soek personeel, maar hy het my nie genader nie en ek gaan nie aansoek doen nie.”
Haar ma hou op met roer en kyk skalks na haar. “Dalk nader hy jou wel. Sou jy dán wou gaan?”
“Nie regtig nie. Dis te ver van Mams af.”
Lea glimlag. “Ja, dis nie ’n lekker vooruitsig nie, maar jy moet gaan waar jy goed kan doen. Bevorder word. Ek kan altyd kom kuier. Noudat ek afgetree het, regeer skoolkwartale nie meer my lewe nie.”
“Ag, ek weet nie of ek wil weggaan nie. Ek het altyd gesê ons sal meer tyd hê vir kuier wanneer Mams aftree … ”
“Ek kan dalk baie tyd hê, maar jý is vreeslik besig, Irene. En dit lyk vir my asof jy in die toekoms ál besiger sal raak, want jou pasiënte word net meer.”
Irene sug. “Ons sal sien wat gebeur. Of dokter Barton my enigsins sal nader. Ek hou my opsies oop. Ek was van plan om op te hou huur en vir my ’n lekker meenthuis iewers te kry. Dis ’n belegging. Dit gaan in die algemeen goed, behalwe vir professor Mears se gekarring.”
Haar ma kyk ’n oomblik nadenkend na haar. “Julle het aanvanklik so goed saamgewerk toe jy nog onder hom geswot het. Hy het genoeg van jou gedink om saam met jou artikels te publiseer oor navorsing. Ek dink ek weet waarom hy jou nou so stief behandel.”
“Waarom dan?”
“Die man is eenvoudig jaloers op jou. Jy publiseer dalk meer as hy, of jy het oorspronkliker navorsing om te bied. Toe jy nog sy student en mindere was, was dit orraait, maar nou trek jy te veel aandag.”
Irene frons en skink vir haar nog wyn. “In die soetste wyn is ’n druppel gal,” spot sy. “Ek weet ek is te fyngevoelig en word maklik kwaad en opstandig, maar ek kon daardie man al vermoor het. Dis lyk asof hy net onnodig hare kloof. Soek gedurig fout in wat ek skryf.”
“Jy hoef natuurlik nie saam met hom oor jou navorsing te skryf nie. Jy het mos ’n keuse. Jy is nou in ’n praktyk en lankal nie meer sy student nie. Jy doen dit tog net vir erkenning … ”
Irene moet haar irritasie onderdruk. “Erkenning, ja, maar mense in ons veld moet tog van nuwe navorsing en verwikkelinge bewus gemaak word. Ek wil nie verstok nie.”
“Ja, ja,” paai haar ma. “Maar erken tog jy is soms te ambisieus.”
Irene sug innerlik. Dis waar. Sy kan so verbete wees, sy gee almal seker ’n pyn.
“Wel, as dokter Barton my hier wil wegneem, sal hy met ’n vervlakste goeie aanbod moet kom.”