Читать книгу Eiland van drome - Malene Breytenbach - Страница 6

4

Оглавление

Op Corfu word die mense van die Nikos Trust baie vinnig deur doeane geneem na ’n luukse bussie met die Trust se blou-en-grys logo op die deur. Die bestuurder dra ’n uniform, soos ’n chauffeur. Nicholas Barton en Maritsa Papas ry saam en sit heel voor. Irene en Suzette sit agter hulle. Irene drink die mooi eiland in. Gou is hulle by ’n hawe waar die seevliegtuig met die bekende logo vir hulle wag.

Nicholas en Maritsa loop vooruit en die ander kom agterna. Irene kyk verwonderd rond, terwyl hulle bagasie gelaai word in die vliegtuig wat lyk of dit op twee ski’s balanseer en liggies wieg op die water langs die kaai. Twee mans help die passasiers in en Irene gaan sit weer agter Nicholas-hulle. Sy wens sy kan vrae vra, maar hy kommunikeer net met sy assistent en praat skaars met die ander mense. Sy kyk van agter na die welgevormde kop, die effens windverwaaide hare, die sterk profiel.

Dit alles maak haar noodwendig lugtig vir hom. ’n Man wat gewoon lyk, sou vir haar makliker wees om mee oor die weg te kom. Nou moet sy heeltyd op haar hoede wees. Dit is nie ’n goeie grondslag vir ’n professionele verhouding nie. Hy is haar baas en sy moet haar afstand handhaaf. Dit lyk darem asof hy syne hou. Hy raak nie eie met sy personeel nie en woon ook nie naby hulle nie.

Die seevliegtuig skeer oor die water en styg met ’n draai op. Irene sug kliphard toe sy afkyk na die skoonheid van die eilande en die kobaltblou en turkoois see.

“Ek het lanklaas so ’n mooi plek gesien,” sê sy vir Suzette.

Tot haar verbasing draai Nicholas om en kyk na haar. Sy het nie gedink hy kan hoor nie.

“Wag tot jy Manos sien. Dit is nog mooier.”

“Ek kan nie wag nie,” sê sy.

Hy glimlag en draai weer weg, praat met sy assistent.

Hulle vlugtyd is taamlik kort. Toe Irene weer sien, daal hulle en vlieg oor ’n beboste eiland met hier en daar ’n spierwit strandjie. ’n Hawe met ’n paar witgekalkte geboue en ’n groot kaai, voertuie en mense verskyn tussen die bome. Met ’n ligte stampie land die vliegtuig op die water en skaats na die kaai.

“Sjoe, kyk net daar,” sê Irene.

“Verruklik, sowaar,” sug Suzette. “ ’n Klein paradysie.”

Toe hulle afklim, voel sy iemand se sterk hand haar arm vat en skrik toe Nicholas sê: “Is jy nie bly jy het gekom nie? Jy het so onwillig gelyk.”

Sy aanraking stuur gloede deur haar lyf. Moenie verspot oorreageer nie, probeer sy haarself vermaan.

“Ek is bly ek het gekom,” verseker sy hom.

“Moenie hier gly nie, anders moet ek induik om jou te red,” skerts hy. Nadat hy sy hand weggevat het, voel sy nog die sensasie van sy kontak.

Weer is daar ’n bussie wat hulle vervoer. Hulle ry van die kaai af op ’n teerpad tussen hoë dennebome. Voor hulle doem ’n wit muur en groot ysterhek op. Daar is twee wagte in grys uniforms met blou pette en epoulette. Op die hek is die kennis­gewing: Nikos Clinic, in Engels en volgens die Griekse alfabet in letters van brons. Die wagte salueer vir Nicholas Barton asof hy ’n generaal is, en die bussie ry deur.

Voor hulle lê witgekalkte geboue met helderblou dakke en koepeltjies. Dit lyk eerder soos ’n vakansieoord as ’n kliniek. So mooi soos die prentjies in toeristebrosjures van Griekse eilande soos Santorini. Dis opvallend dat die tuine pas aangelê is. Op plekke is die plante nog klein, maar daar is ook blomme en struike en groot skadubome wat behoue gebly het toe die kliniek gebou is.

“Mooi, nè?” vra Nicholas, wat uit sy sitplek opgestaan het en vir hulle kyk.

Daar is ’n koor van beïndrukte stemme.

Hulle hou by ’n ingangsportaal stil, klim uit en stap binne. Irene kyk belangstellend rond. Binne lyk dit soos ’n hospitaal en nie ’n hotel nie – baie wit, met blink blou-en-grys vloere. Silwerskoon en klinies. Daar is ’n ontvangstoonbank waaragter twee mans en twee vroue staan. Hulle kom uit om Nicholas Barton te groet en aan die nuwe personeellede voorgestel te word. Irene luister mooi na hul name.

“Konstantina sal julle drie dames na julle woonstelle neem,” sê Nicholas Barton. “Maak julle tuis, ons stuur julle bagasie onmiddellik agterna. Kom asseblief binne ’n uur hierheen sodat ek julle op ’n toer deur die kliniek kan neem. Julle moet dit goed genoeg ken om nie te verdwaal nie.”

Die kort, vriendelike meisie in ’n blou-en-grys uniform beduie dat Irene, Suzette en Nancy haar moet volg. Hulle gaan by ’n sydeur uit en al met ’n paadjie langs tot by geboue ’n ent van die hoofgebou af.

“Dis mos soos ’n hotel op Mykonos, net met meer bome,” sê Suzette. “Ek kan my oë nie glo nie.”

“Ek het vooraf foto’s van die plek gesien,” sê Nancy Dewar. “Ek het geweet wat om te verwag.” Nicholas Barton en Nancy is dan blykbaar op meer intiem vriendskaplike voet as wat hy met die ander personeellede is, dink Irene.

Irene se woonstel is die eerste een in die ry. Konstantina sluit ’n helderblou deur oop en hulle betree ’n koel, wit ruimte. Die meubels is van blonde hout en die stoffering van die stoele is blou-en-wit. Die eet- en sitkamer is aaneen en van die kombuisie geskei deur ’n toonbank met hoë stoele. Irene ondersoek alles. Die plek lyk vars en nuut, die kombuis goed toegerus. Die sitkamer loop uit op ’n stoepie met wit houtmeubels. Konstantina maak die skuifdeur oop. Irene hoor die see en sien dat daar slegs ’n grasperk en bome tussen haar stoep en die blouste blou see is.

“Wow,” sê sy met ontsag.

Konstantina lag. “Dokter se slaapkamer, badkamer en kantoor met rekenaar en al die nodige toerusting is bo.”

Sy lei Irene by ’n trap op. Daar is nuwe beddegoed op ’n groot bed in die slaapkamer, ’n pragtig ingerigte badkamer en ultramoderne toerusting in die kantoor.

“Dit is werklik meer as wat ek my ooit kon voorgestel het,” sê sy. “Te luuks vir woorde.”

“Ek hoop dokter bly lekker,” sê Konstantina. “E … u is baie mooi … sulke mooi blou oë, sulke blink goue hare … u lyk amper nie vir my soos … ”

Sy bly verleë stil.

“Soos ’n psigiater nie,” voltooi Irene haar sin.

“Ekskuus … ”

“Toemaar, ek word gereeld onderskat.” Irene lag.

“Gaan my huis ook soos dié een lyk?” hoor sy Suzette agter haar sê. “Ekskuus, ek is so nuuskierig! Ek kan nie wag om te sien hoe dit binne lyk nie.”

“Nie al die suites is binne dieselfde nie,” sê Konstantina. “Dié een is een van die grotes.”

Nadat die ander weg is, kyk Irene haar woonstel goed deur. Verlustig haar in alles. Iemand klop aan die deur en toe sy oopmaak, staan ’n man met ’n trollie bagasie daar. Hy laai hare af en dra dit vir haar op na haar slaapkamer.

Sy pak uit en bêre alles in die nuwe kaste. Hier, glo sy, gaan sy lekker bly.

• • •

Irene loop by die voorportaal van die hoofgebou in. Nancy Dewar is reeds daar. Sy staan en gesels met Maritsa Papas. Nicholas Barton is diep in gesprek met die ontvangspersoneel. Net daarna kom Suzette saam met die twee sielkundiges in.

Nicholas kom na hulle aangestap. “Goed, mense. Ons toer deur die kliniek kan begin. Ná die tyd kan julle die res van die dag ontspan. Vanaand eet julle om seweuur saam in julle eie eetkamer. Maar daar is ook ’n kafeteria met vier-en-twintig uur diens. Ons personeel werk in skofte. Môre kan julle bietjie van die vlugvoosheid herstel. Julle sal darem nie van die begin af ooreis word nie. Ons eerste pasiënte kom eers oor drie dae hier aan en dan kan ons in alle erns begin werk.”

Hy loop voor en Irene probeer naby hom bly sodat sy niks mis wat hy vertel nie. Hy is langer as hulle almal en sy kop steek bo die groep uit.

“Die hele idee met hierdie afgesonderde kliniek is om die maksimum rustigheid, privaatheid en uitstekende sorg in ’n mooi omgewing te bied,” vertel hy. “Hier het ons private wooneenhede met en suite-badkamers, persoonlike sluitkaste, die nuutste platskermtelevisies en foongeriewe. Die alleenstaande eenhede is die duurste.”

Hy neem hulle na een van die wooneenhede, wat so ruim en pragtig ingerig is soos ’n suite in ’n baie duur hotel. Dit is natuurlik vir pasiënte wat net aan die beste gewoond is, dink Irene.

Hy wys hulle die rokers en nierokers se sitkamers, die goed toegeruste biblioteek en leeskamer, die speletjieskamer en ’n gimnasium wat, glo Irene, moeilik oortref sal word. Sy sal soms hierheen kom, hoewel sy gewoonlik eerder gaan draf.

“Die pasiënte mag die gim tydens stil tye gebruik,” sê Nicholas Barton. “Vroegoggend of in die aande is die beste. Ons het nie buitepasiënte nie. Mense bespreek om hierheen te kom en bly dan so lank as wat nodig blyk te wees. Ons sal dit verwelkom as julle artikels oor julle werk en bevindings publiseer. Dit sal terselfdertyd as advertensie vir ons kliniek en dienste dien.” Hy kyk na Irene. “Jy het ’n goeie publikasie­rekord, dokter Basson.”

Irene knik. “Ja, dankie. Ek dink altyd ’n mens behoort enig­iets nuuts bekend te maak. Tot voordeel van ander navorsers.”

Hy wys hulle die groot eetsaal en twee kleiner eetsale, waarvan een slegs vir personeel is, die kombuis waar personeel in wit werskaf, die groot stoepe met tafels, gemak- en lêstoele. Daar is ’n helderblou, Olimpiese grootte swembad.

“Ons het ’n swembad vir dié wat nie in die see wil swem nie,” sê Nicholas. “Maar daar is natuurlik ’n lekker strand ook hier naby.”

Irene loop langs hom. Sy probeer om nie te wonder hoe hy in ’n baaibroek sal lyk nie.

Dit help nie sy probeer dit ontken nie. Die wete dat hy hopelik meestal hier sal wees, dat sy hom gedurig te sien gaan kry, is nie onaangenaam nie.

“Ons personeel wat skoonmaak, wasgoed doen en die kombuis en terrein beman, woon ’n halfkilometer suid hiervandaan,” sê Nicholas. “Die geneeskundige span is nader, vir noodgevalle. Julle moet byderhand en eintlik altyd op roep wees. Oormôre hou ons personeelvergadering. Ons personeel bestaan uit psigiaters, kliniese sielkundiges, arbeidsterapeute, psigiatriese verpleegsters en dieetkundiges. Ons volg sowel gevestigde as meer eksperimentele metodes en ek wil hê ons moet so ’n goeie, geïntegreerde span wees soos by die South­easter Clinic in Kaapstad. Al die personeellede is noulettend gekeur en het die beste moontlike kwalifikasies. Julle is dus uitgesoekte, hoogs professionele mense en ons het volle vertroue in jul vermoëns.”

Hy loop in ’n gang af en wys aan elkeen sy of haar goed toegeruste spreekkamer.

“Aansoeke en verwysings word direk aan my of die superintendent, dokter Spiridon Kamanlis, gerig. Ons ken dan die pasiënte toe aan wie hulle ook al moet behandel. Dokter Kamanlis sal môre hier wees. Hy moes eers sake by ons kantoor in Corfu afhandel.”

Nadat hulle deur die hele sentrale fasiliteit gestap het, is hulle weer terug in die voorportaal by ontvangs.

“Ons verwelkomingsete is eers môreaand, wanneer die personeel voltallig is,” sê Nicholas Barton. “Julle mag enige tyd enigiets by die kombuispersoneel bestel, binne perke, natuurlik. Dis tog nie ’n koshuis nie.”

“Nee, dis iets tussen ’n koshuis en ’n vakansieoord,” grap Suzette.

Hy lag. “Wel, dit kom seker so voor. Ek hoop julle sal die omgewing inspirerend vind. Nou kan julle ontspan. Ek gaan na my huis aan die ander kant van die eiland. Indien julle my dringend soek, vra die ontvangspersoneel om my te skakel. Ek verwag egter dat dit slegs in uiterste noodgevalle sal gebeur. Dankie, dames en here, geniet julle verblyf op Manos. Ek vertrou dat ons lekker sal saamwerk.”

Irene verbeel haar sy blik talm op haar.

Sy besef sy frons. Vinnig glimlag sy. “Baie dankie, ek is seker ons sal goed saamwerk,” sê sy.

Toe hy terugglimlag, voel sy skoon week.

Eiland van drome

Подняться наверх