Читать книгу Eiland van drome - Malene Breytenbach - Страница 8
6
ОглавлениеIrene kyk na haar weerkaatsing in die spieël. Na ’n bietjie moeite met haar voorkoms lyk sy vanaand regtig mooi. Sy het haar wit linnerok en sandale aan en dra enkele stukke goue juwele vir die verwelkomingsete. Sy is lig gegrimeer en haar goudbruin hare hang blink en los. Wanneer sy gaan werk, maak sy dit op haar kop vas, maar vanaand wil sy minder styf voorkom.
Handsak onder die arm loop sy met die paadjie langs deur die helder verligte tuin na waar sy mense se stemme vrolik in die personeel se eetsaal hoor opklink. Sy loop in en herken die meeste mense, maar sien ’n paar vreemdes ook. ’n Internasionale mengelmoes, met die Grieke in die meerderheid. Die tafels is gedek met wit tafeldoeke, blommerangskikkings, kerse, dekoratief gevoude servette en langsteelglase. Daar is ’n tafel met sjampanje in ysemmers en ander drank. Dadelik sien sy vir Nicholas Barton raak. Sy kop steek soos altyd uit bo die groep wat hom omring. Langs hom is Nancy Dewar, wat vanaand elegant lyk in swart, Spiridon Kamanlis, Maritsa Papas en drie ander vroue.
Sy huiwer in die deur. Sien dat Roelof vir haar wink, maar Nicholas het haar nou opgemerk en wink haar ook nader. Sy loop soontoe.
“Kom ek stel jou aan ons ander sielkundige, arbeidsterapeut en dieetkundige voor,” sê hy.
Al drie meisies se name klink Brits. Hulle kyk Irene aan met uitdrukkings wat wissel van verbasing tot terughoudendheid, asof hulle iemand anders verwag het.
Nicholas dra ’n ligte linnepak wat na Armani lyk, aantreklik soos gewoonlik.
“Kom ek kry vir jou ’n glas sjampanje, dokter Basson,” sê die superintendent en hy gaan sommer dadelik een haal.
Toe Irene aan die sjampanje teug, kom sy agter dat net die beste hier bedien word. Selfs vir die personeel. Hulle bevind hulle, soos Suzette spot, “in the lap of luxury”.
Nicholas Barton kyk na haar met ’n effens spottende uitdrukking in sy swart oë. “Is jy al tuis, dokter Basson? Het jy die héle eiland gesien?”
Sy lig haar ken en hou haar koel, al is sy effens ergerlik en meer as net ’n bietjie verleë. “Ja, dankie. Amper die hele eiland. Daar is ’n pragtige strand naby die kliniek waar mens lekker sal kan ontspan. Ek sien die grootste deel van die eiland is nog onontwikkeld. Dit is lekker om soveel van die natuurlike plantegroei te sien.”
“Ja, net die hawe, die kliniek en wooneenhede en my woningkompleks kan ontwikkeld genoem word. Ons is mos nie oop vir toeriste nie. Dit is my familie se private eiland en net uitgesoekte mense kan na ons kliniek kom.”
Gaan hy nou vertel van hulle oortreding op sy private eiendom? Sy staal haar teen die verleentheid. Maar nee, hy noem dit gelukkig nie. Praat net verder oor hoe lank dit geduur het om die kliniek te bou en watter fasiliteite inge-rig is.
“Verskoon my,” sê Irene, en beweeg weg na waar Roelof met die sielkundige wat saam met hulle gevlieg het staan en gesels.
“Is jou woonplek ook so mooi?” vra Roelof haar. “Myne is onverbeterlik.”
“Ja, myne is te pragtig. Hallo, meneer Seegers. Is jy al tuis?”
Die man glimlag. “Ja, dankie, dokter Basson. Noem my asseblief Lodewyk, net nie Lood of enige ander afkorting nie. Ek hou nie van byname nie.”
“Goed so, Lodewyk. Ek is Irene.”
Hulle gesels ’n rukkie, maar toe kondig Nicholas Barton aan dat hulle kan gaan sit, daar is naamkaartjies op die tafels. Irene vind dat sy aan tafel sit saam met hom, die superintendent, Nancy Dewar, die private assistent, Maritsa Papas, en die sielkundiges. Sy sit tussen Nicholas en dokter Kamanlis, terwyl Nancy Dewar aan Nicholas se ander kant plaasneem.
Nadat almal gaan sit het, kom kelners en bedien sjampanje. Nicholas staan op en tik teen sy glas sodat stilte daal.
“Mense, ek wil nie ’n lang toespraak afsteek nie. Die Nikos Trust is baie bevoorreg om julle hier te kan hê. Ons heet julle dus graag welkom op Manos en hoop julle sal lekker bly en werk. Lig asseblief julle glase en drink ’n heildronk op ons kliniek en al die mense wat hier is en gaan wees.”
Glase klink en mense drink.
Hy gaan voort. “Ek wil beklemtoon dat ek bloot ’n skim in julle lewens is. Dit is nie na my wat julle met vrae, probleme en ander dinge kom nie, maar na ons superintendent, die bekwame dokter Spiridon Kamanlis, hier aan my regterkant, en na my bekwame assistent, Maritsa Papas, aan sý regterkant. Ek stel dokter Spiridon aan die woord.”
Hy gaan sit weer. Die man wil nie hê ons moet hom lastig val nie, dink Irene. Maar sy twyfel nie dat hy hulle sal dophou en weet as hulle verbrou nie. Sy weet mos dat sy self deur die jare dopgehou is, want hy weet soveel van haar af. Hy verwag prestasie, maar nou moet ’n mens erken hy beloon dit ook.
Die lywige superintendent staan met ’n glimlag op. Terwyl hy van die kliniek praat, luister Irene net hier en daar, want sy is te intens bewus van Nicholas se teenwoordigheid. Sy durf nie na hom kyk nie, maar let op dat ander vroue se oë gedurig in sy rigting kyk. Die naskeermiddel wat hy aanhet, is subtiel. Sy hand wat die sjampanjeglas se steel liggies vashou, is groot en bruingebrand, met klein swart haartjies aan die rugkant, kortgeknipte skoon naels. Hy dra geen ringe nie.
Nadat hulle ’n heerlike seekosvoorgereg geëet het, draai Irene na Nicholas Barton en sê sag: “Ek hoor my eerste pasiënt is jou halfbroer, Gary Jones.”
Hy kyk na haar, sy oë aandagtig. Nou sien sy duidelik hoe dig die swart wimpers is. “Ja, Gary is my halfbroer, my ma se seun by haar tweede man. Omdat ons familie is, kan ek nie die een wees wat hom behandel nie. Toe kry ek vir hom die beste psigiater wat ek kon vind.”
“Ek?” Sy kan nie help om gevlei en geëerd te voel nie.
“Ja, jy.” Hy glimlag.
Gelukkig draai hy net daarna weg en praat met Nancy Dewar.
Irene, wat haar gloeiende wange wil wegsteek, neem ’n slukkie sjampanje en draai na Roelof, wat haar heeltyd sit en dophou. Sy begin met hom gesels.
Die ete is keurig, die wyn ongetwyfeld fyn uitgesoek. Nicholas gesels nou en dan kortliks met Irene, maar dit lyk asof die hele tafel sy aandag vereis. Hy kry skaars iets geëet.
Die aand vlieg om.
Nicholas groet en vertrek direk ná ete. Hy drink nie saam met hulle koffie nie. Irene en die kollegas gesels egter nog ’n rukkie terwyl hulle koffie en sjokolade geniet.
“Ons is bevoorreg om hier te kan werk,” sê Nancy. “Ek het vir my man gesê dit is eenvoudig ’n geleentheid wat ek nié gaan misloop nie. Ek sal dit minstens ’n jaar probeer volhou. Hy moet maar net aanvaar dat ons ’n langafstandhuwelik gaan hê. Ons is tog al tien jaar lank getroud. Dis nie asof ons nog heeltyd by mekaar wil wees nie.”
Irene luister en kry Nancy se man jammer. Dié vrou lyk beslis of sy haar eie neus volg en nie na ander se pype dans nie. Dat sy bekwaam is, is ongetwyfeld. Dis nie net in Kaapstad dat sy besig is om ’n goeie reputasie op te bou nie. Sy het ook voorheen goeie werk in Londen en Europa gedoen.
“Volgende week kom die eerste sewe pasiënte van oorsee na Manos,” kondig dokter Kamanlis aan. “Berei julle dus voor op ’n besige tydjie. Sal julle my asseblief verskoon? Môre is vir my ’n bedrywige dag met administrasie en skakeling. Rustige nag, almal.”
Nadat hy geloop het, sit Irene haar leë koppie neer en tel haar handsak op. “Ek gaan ook nou huis toe. Nag, julle almal.”
Roelof begin opstaan, maar tot Irene se verbasing sê Nancy: “Wag, ek stap saam met jou. Ons het nog nie regtig kans gekry om te gesels nie.”
Hulle loop saam uit en met die paadjie langs na hulle woonplekke, wat langs mekaar geleë is.
“Ek hoop regtig ons twee se belange bots nie te veel hier op Manos nie,” hoor sy Nancy sê.
Irene kyk effens geskok na haar. “Wat bedoel jy? Watter belange? Daar sal seker genoeg pasiënte wees … ”
“Ja, maar dis nie wat ek bedoel nie.”
“Wat bedoel jy dan?” Irene voel hoe die ergerlikheid deur haar begin brand. Wat makeer die vrou om haar sommer te konfronteer?
Nancy gaan staan. In die lig wat op die paadjie skyn, sien Irene dat sy frons.
“Ek ken die familie al lank en goed. Dokter Barton se ouer broer, George, wat verongeluk het, was tot kort voor sy dood een van my pasiënte. Hy het aan bipolêre gemoedstoornis gely. Toe blyk dit dat die kind wat dokter Barton se ma by haar tweede man het, ook ’n groot probleem het. Hy weer is met skisofrenie gediagnoseer. Aangesien ek die familie so goed ken en lank saam met hulle werk, het ek gedink … ” Sy bly ’n oomblik stil.
“Dat hý ook jou pasiënt sou wees,” voltooi Irene kil haar sin.
“Ja, ek het natuurlik so gedink. Maar tot my skok en verbasing moet ek hoor dat hy na jou verwys word. Ek kon dit nie glo nie!”
Irene staar haar aan. Beteuel haar om die vrou nie te kap nie. Nancy voel so te na gekom dat sy werklik onprofessioneel optree.
“Ek werk graag met tieners en dit is waarom ek hom stellig gaan kry,” sê Irene afgemete. “Dit is geen refleksie op jou bekwaamheid nie, dokter Dewar. Ek is seker as jy aandring om dié pasiënt te behandel, sal dokter Barton hom eerder na jou stuur. Dit maak geen verskil aan my nie.”
“Ek het reeds beswaar gemaak,” sê die vrou, ysige woede in haar stem.
“Het jy?”
“Ja, maar dokter Barton dring aan dat jý, ’n jong psigiater met minder ondervinding as ek, die seun moet behandel.”
Irene klem haar kake op mekaar. Nancy gee mos nou te kenne dat Irene nie opgewasse is vir die taak nie. Sy gaan haar beslis nie nederig hou en die minste probeer wees nie.
“Dan is daar seker niks aan te doen nie,” sê sy styf en loop vinnig weg na haar wooneenheid. Om te dink dat sy sommer hier met die intrapslag aan iemand se nyd blootgestel is! Sy het nie sulke gedrag van die ouer psigiater verwag nie. In Kaapstad was hulle wel nie intieme vriende nie, maar hulle het ’n goeie werksverhouding gehad.