Читать книгу Eiland van drome - Malene Breytenbach - Страница 7

5

Оглавление

Daar is ’n klop aan Irene se deur. Toe sy oopmaak, staan Roelof Schutte daar.

“Ek het by ontvangs gereël dat ons een van hulle poelvoertuie kan gebruik om die eiland te verken,” glimlag hy.

“O, dit klink lekker. Kan Suzette saamkom? Ek het belowe dat ek en sy dit saam sal doen.”

“Nou goed. Sal ons sommer nou gaan?”

“Ja, voordat die son ondergaan.”

Hy het in ’n bussie gekom en sy klim langs hom in. Hulle gaan tel Suzette op wat ’n entjie van die dokters af by die ander verpleegsters woon.

“My plek is nie heeltemal so snazzy soos joune nie, dokter,” sê sy vir Irene. “Maar ek kan nie kla nie. Dis veel beter as waaraan ek gewoond is.”

Irene draai om en kyk kastig streng na haar. “Kyk, ek dink regtig jy moet my liewer Irene noem. Ons ken mekaar mos darem al ’n geruime tyd.”

Suzette grinnik. “Oukei, maar in die kliniek sal ek professioneel wees.”

Roelof ry op ’n pad wat om die eiland gaan, tussen bosse deur en verby ’n strandjie waar die see kalm en helderblou teen die wit sand klots.

“Hoe idillies,” sê Irene. Dit sal lekker wees om hier te kom swem, dink sy.

“Ons moet sommer binnekort kom swem,” sê Roelof, asof hy haar gedagtes lees. “Dis jammer ons het nie nou tyd nie. Netnou is dit donker en ek wil darem die hele eiland sien. Ek wil veral sien waar ons grootbaas woon. Dalk bly hy in ’n paleis, soos dié op Corfu. Dalk is dit nog vol mooi meisies wat sit en wag dat hy huis toe kom.”

Suzette lag. “Soos mens in die flieks sien. Almal lê om die swembad in einaklein bikini’s en deurtrekkers, of bostukloos, en bruin van kop tot tone.”

“Ek glo nie dis hoe hy lewe nie,” mymer Irene.

Hulle ry verby die hawe, wat nou redelik stil is, en aan met ’n pad wat na die oorkant van die eiland loop. Dit kom onontwikkel en wild voor. Voor hulle verskyn ’n heining en ’n oop hek, maar op ’n bord staan in Engels en Griekse letters: Privaat. Oortreders sal vervolg word. Daar is ’n onbemande waghokkie.

“Dis natuurlik dokter Barton se plek dié,” sê Roelof. “Dink julle ons durf ingaan, want van hier af sien ek niks van die huis nie. Die bome is te groot.”

“Snaaks,” merk Suzette op. “Ek sou dink ons baas is so veilig­heidsbewus dat hy agter slot en grendel wil bly. Daar was dan tot twee kragmanne saam op die vliegtuig. Waar is die wagte met gewere, of minstens uniforms?”

“Ek dink darem regtig nie hy voel so bedreig dat dit nodig is om gewapende wagte hier te hê nie,” lag Irene. “Dis so afgesonder en met net die personeel op die eiland. Die pasiënte het nog nie eens aangekom nie.”

“Ry net ’n entjie in tot ons die huis kan sien, toe,” smeek Suzette. “Dan kan ons mos omdraai. Niemand sal weet ons het oortree nie.”

Irene is teensinnig. “Ek dink nie ons moet nie. Netnou sien iemand ons.”

Die ander twee dring egter so sterk aan dat sy toegee en hulle ry tot hulle ’n pragtige tuin teëkom. Die groot wit huis met meer as een verdieping is in ’n ander boustyl as die kliniek.

“So ’n kasteel vir net een mens,” sê Suzette. “Maar ons weet mos dié lot is ryk.”

“Dit ís groot, maar hy moet seker gaste en familie ook akkommodeer,” reken Irene. “Jy het my mos vertel hy het ’n groot familie. As hulle kom kuier, sal hulle nie in die kliniek gaan bly nie.”

Roelof ry al te naby aan die huis en Irene keer hom. “Nee, nou moet jy omdraai.” Sy hoor iemand roep, en kreun. “Ag, nee, dis nou te laat! Ek wás bang hulle sien ons.”

’n Seun wat sy in sy laat tienerjare skat, kom armswaaiend aangedraf. “Wat soek julle hier? Kom julle my haal?” skree hy ontsteld.

Irene kan sien dat hy aantreklik is – blond, goed gebou, met ’n mooi gesig en wydgesperde blou oë.

“Hallo, nee, ons kom nie vir jou haal nie … ” begin Roelof deur sy oop venster verduidelik.

“Nou wat kom maak julle dan hier?”

’n Groot, fris man kom aangedraf. Irene herken die sogenaamde skim wat saam met hulle gevlieg het: Yannis. Sy is verleë dat hulle betrap is en klim uit die motor.

“Hallo, Yannis, ons is jammer as ons oortree het, maar ons verken net bietjie … Toe ry ons te ver in.”

Die seun storm om die motor en bekyk haar, vuiste op die heupe. “Wie’s jy?” Toe laat sak hy sy arms. “Jy’s mooi, maar dalk is jy … ”

Yannis neem sy arm stewig vas. “Kom, meneer Gary, die mense het net verdwaal. Hulle kom nie regtig na ons toe nie. Kom ons gaan huis toe.”

Die seun lyk onwillig maar gaan tog saam met die lyfwag. Hy kyk heeltyd terug oor sy skouer terwyl hulle wegstap. Irene wil net terugklim in die motor toe sy iemand anders sien aankom. Sy kreun kliphard. Dié slag is dit Nicholas Barton wat met lang treë oor ’n graspek en tussen hoë struike deur aangestap kom.

Sy spring terug in die motor. “Ry tog, voordat hy by ons kom,” sis sy.

“Te laat, hy waai vir ons,” sê Roelof, wat ook verleë lyk.

“O jinne! Nou’s ons in die moeilikheid,” prewel Suzette, wat grootoog na die naderende figuur kyk.

Irene klim weer uit toe hy by die motor kom en voel tot haar ontsteltenis dat haar gesig vuurrooi is.

“Dokter Barton, ons is so jammer … ” begin sy weer verduidelik.

“Het julle nie die kennisgewing by die hek gesien nie?” vra hy, sy gesig streng.

Sy wens sy kan in die aarde wegsink. “Ons het, maar ver­skoon ons tog, ons was so nuuskierig om jou huis te sien. Ons was nie van plan om nader te gaan nie. Die hek was oop en daar is geen wag nie.”

“O, ek sal hom moet … ” Hy bly stil.

“Ek was op die punt om om te draai, dokter,” sê Roelof wat ook uit die motor geklim het.

Nicholas lyk effens vriendeliker. “As julle die huis wil sien, nooi ek julle op ’n ander dag, maar vandag is dit ongeleë.”

Roelof is vriendelik onderdanig. “Natuurlik, ons ry dadelik. Baie jammer oor die oortreding, dokter Barton.”

Hy en Irene klim terug in die motor. Nicholas Barton staan hulle en dophou, terwyl hulle omdraai en weer by die hek uitry. Irene was lanklaas so verleë, en so vies dat sy in dié ongemaklike posisie is.

Haar wange bly vuurwarm.

“In die vervolg gaan ons, of ek altans, nooit weer waar ek onwelkom is nie,” sê sy kwaai. “Wat moet dokter Barton van ons dink? Ons drie Suid-Afrikaners het waaragtig die vermetelheid om na sy huis te gaan, die verbod te ignoreer en sommer in te ry. En dit op ons eerste dag! Dit lyk so asof ons onbedagsaam is, en nie gewoond aan reëls nie.”

Suzette se stemmetjie is klein. “Ek het groot geskrik. Hy was darem nie lelik met ons nie, maar hy was kwaad oor die wag nie daar was nie. Maar … dink julle nie daardie seun is vreemd nie? Hy is mooi genoeg om meisies mal te maak, maar hy lyk nie normaal nie. Of verbeel ek my? Ek wonder wie hy is en waarom hy so snaaks optree? Iets is nie lekker daar nie.”

Irene dink ook so, maar bly liewer stil. Is daar soveel sekuriteit by daardie huis om mense uit te hou? Of is dit ook daar om iemand veilig binne te hou?

Daar is ’n rede waarom Nicholas Barton nie wil hê sy personeel moet by sy huis gaan kuier nie. Sy twyfel sterk of hulle ooit soontoe genooi sal word.

• • •

Dokter Spiridon Kamanlis, die superintendent van die kliniek, is die volgende oggend daar toe Irene vir werk aanmeld. Hy is ’n lywige, donker man in sy middeljare, so lank soos sy. Sy swart weglêsnor is indrukwekkend.

Sjarmant verwelkom hy haar: “Aha, dokter Irene Basson. Ek het u briljante rekord gesien. U kom hoog aanbeveel, hoor.”

Deur wie? Nicholas Barton?

“Ek het nie verwag … ”

Sy kyk hom stip aan. “Wat het u nie verwag nie, dokter?”

“U lyk baie jonk. Maar u is oud genoeg om al vele prestasies agter die rug te hê. Ons voel bevoorreg om u hier te hê. Kom ek gaan stel u aan almal voor wat vandag aangemeld het. Daarna sal ons u werk bespreek en die eerste pasiënt wat aan u toegewys sal word. Dokter Barton het u ingelig dat ek en hy pasiënte toewys en dat hier geen ongevalle is nie. Ons kliniek is uniek en nie enigeen sal kan bekostig of toegelaat word om hierheen te kom nie. Ons sal eers volgende week in volle werking wees.”

Hy stel haar voor aan mense wat almal Grieks van herkoms is. Hulle loop deur die kliniek en hy wys haar weer alles wat Nicholas Barton reeds gewys het. Toe neem hy haar na haar kantoor waar hulle haar pligte bespreek.

“Ek sal beslis ’n bietjie Grieks moet aanleer,” sê sy. “Hoewel dit vir my klink asof almal Engels goed magtig is.”

“Ja, hulle moet wees. Ons pasiënte kom van oraloor die wêreld. Ek praat Duits ook. Dokter Barton is benewens Engels en Grieks nog Duits, Frans en Italiaans ook magtig.”

“Dis omtrent indrukwekkend.”

“Ja, hy het na topskole en -universiteite gegaan. Hy het ook in Italië en Frankryk gestudeer. Daarom is hy nie slegs ons direkteur nie, maar help hy om psigiatriese pasiënte te behandel. Hy is ’n merkwaardige mens. Sy oupa, Georgios Nikos, wat homself uit armoede tot groot hoogtes opgewerk het, het graag mense se potensiaal ontgin. Hy het dokter Barton se pa, Jeremy Barton, laat leer en hulle het vroeg Nic se potensiaal raakgesien. Sy ouer broer het ongelukkig … ” Hy kug. “Dit was ’n gegewe dat dokter Barton sy pa se klinieke sou oorneem en uitbou. Sy pa het altyd gesê jy kan geen beter diens aan jou medemens lewer as om sy gees gesond te probeer maak nie.”

“Ek stem saam. Dit is vir my ’n uitdaging om mense in dié opsig te help.”

Hy kyk goedkeurend na haar. “Vandaar jou sukses.”

“Wie gaan my eerste pasiënt wees, dokter Kamanlis?”

Hy kug weer, kyk af en weer in haar oë. “Sy naam is Gary Jones.”

Sy knik. Dié naam ken sy al. Die eienaardige seun by Nicholas Barton se huis is deur Yannis as Gary aangespreek, dus … “Hy is dokter Barton se halfbroer,” verduidelik dokter Kamanlis. “Hy is met skisofrenie gediagnoseer.”

Irene weet nou waarom Nicholas Barton haar so graag hier wou hê. Haar sukses met tieners in Kaapstad het hom natuurlik oortuig dat sy die aangewese persoon is om dié seun te behandel. Daarby het sy ’n besondere belangstelling in skisofrenie.

Nou verstaan sy ook Gary se optrede. Hy is paranoïes en dink almal wil hom vervolg.

Eiland van drome

Подняться наверх