Читать книгу Eiland van drome - Malene Breytenbach - Страница 4

2

Оглавление

Irene het die Maandagoggend pas by haar spreekkamer ingestap en haar sak neergesit, toe haar sekretaresse en ontvangsdame grootoog daar inkom.

“Ons heer en meester, dokter Nicholas Barton, is hier op besoek, dokter. Die hele kliniek is in rep en roer. Hy kom mos selde Kaapstad toe. Hy het pas gebel en gevra dat ek vir dokter ’n afspraak met hom moet reël.”

Irene is effens oorbluf. Uiteindelik gaan sy dié skim van ’n weldoener persoonlik ontmoet. Waarom wil hy haar nou sien? Gaan hy haar tog vra om in Griekeland te kom werk, of wil hy haar maar net uiteindelik ontmoet? Sy is hom en sy familie­trust soveel verskuldig.

“Goed, reël dit vir so gou moontlik, Monica. Sommer van­oggend nog, as dit hom pas. Indien nodig, kan ons pasiënte se afsprake skuif.”

Sy moet hom nie laat wag nie en buitendien kan sy haar nuuskierigheid skaars bedwing.

Elfuur op die kop meld sy aan by die klein konferensie­kamer waar Nicholas Barton mense ontvang. Die hoofbestuurder, dokter Harfield, kom by die deur uit toe sy aanmeld.

“A, dokter Basson, ons gaan vanmiddag ’n vergadering van ons personeellede hou waar dokter Barton met ons sal praat, maar hy het spesifiek gevra om jou te ontmoet voordat ons vergader. Julle het mekaar nog nie ontmoet nie, sê hy. Ek kan dit byna nie glo nie. Hy praat met soveel lof van jou.”

Irene glimlag verleë. “Ons het al oor die jare heelwat gekommunikeer maar ek het hom nog nooit gesien nie. Ek het al baie gewonder watse soort mens hy is.”

“Formidabel, maar ’n groot filantroop en baie bekwaam. Nes sy oorlede pa. Gaan in, hy wag vir jou.”

Sy is nogal opgewonde toe sy inloop. Die man wat daar met ’n skootrekenaar sit, staan op en kom haar tegemoet. Amper snak sy na haar asem. Hierdie man oortref die beeld wat sy haar voorgestel het ver.

“Aha, dokter Basson, uiteindelik ontmoet ons mekaar,” glimlag hy, en steek sy hand na haar uit.

“Ja, uiteindelik,” sê sy en neem sy hand, wat groot, warm en sag is, en hare ferm druk.

Hy is langer as wat sy verwag het en sy kyk op in skerp, intelligente donker oë onder swaar swart wenkbroue. Hy is bruingebrand soos ’n buitelugmens en sy vel is soel en vlekloos, sy gesig hoekig. Die kakebeen is eintlik té sterk en langs sy mond en oë is lagplooie. Sy tande is spierwit en reëlmatig. Sy swart hare met hier en daar ’n vlekkie grys is dik, blink en mooi gesny. Onder sy wit baadjie is sy skouers breed en sy lyf lenig.

Sy kan nie glo dat die man wat sy net op foto’s gesien het in die werklike lewe so oorweldigend is nie. Eintlik gans te aantreklik.

Sy skud haar kop effens. Ruk haarself reg. Hy moenie sien hoe beïndruk sy is nie. Vroue val natuurlik links en regs vir hom en sy wil nie lyk of hy háár voete ook summier onder haar uitgeslaan het nie. Vir so ’n man moet mens dubbeld versigtig wees. Hy sal waarskynlik ydel en arrogant wees.

“Kom sit, dokter Basson,” nooi hy.

Sy gaan sit oorkant hom, meteens selfbewus. Skielik oorbewus van haar eie voorkoms, haar netjiese haarstyl, haar min grimering, haar pogings om professioneel onopgesmuk te lyk. Sou hy dié voorkoms goedkeur? Hy dink natuurlik van lankal af dat sy ’n opperste bloukous en professionele enkeling is. Arm grootgeword en derhalwe honger. Sy leefwêreld en ryk familie stel hom natuurlik aan die mooiste vroue bloot. Watter vangs sou hy nie vir hulle wees as hy nie reeds verbind is nie, en watter wye keuse sal hy nie hê nie. Buiten dat hy aantreklik is, is hy natuurlik gesofistikeerd, hoogs intelligent, professioneel suksesvol. Boonop uit ’n ryk familie. Hy verskaf werk aan hoogs opgeleide mense.

Die man is in ’n ánder klas.

“Ek vra om verskoning dat ons nou eers kennis maak,” sê hy. “Jy is egter nie die enigste persoon wat ons deur beurse gewerf het en wat vir ons kom werk het nie. Ek bly op die agtergrond, maar ons kommunikasie was tog gereeld en volledig. Ek hoop jy sien dit so. Ek hoop jy het nooit afgeskeep gevoel nie.”

“Inteendeel, ek het altyd gevoel asof daar ’n Big Brother is wat my ondersteun. Ons het genoeg gekommunikeer. Die Nikos Trust het my soveel gehelp met my studie en loopbaan dat ek skaars weet hoe om dankie te sê. Julle het my pad gelyk gemaak.”

Hy glimlag. Wys weer die volmaakte tande. “Ek is bly om dit te hoor. Sedert my pa hierdie kliniek in die sestigerjare begin het, het ons trust nog altyd presteerders geïdentifiseer en gewerf. Jy was een van dié op wie ons lankal gefokus het. Jy het fenomenaal goed gedoen: Dux-leerling van jou hoër­skool, MBChB met lof geslaag, die beste finalejaarstudent. Jy het ons belegging in jou dubbel en dwars verdien en terugbetaal. Sedert jy gekwalifiseer het, lewer jy uitstekende werk.”

“Dankie.” Sy voel gevlei, oorstelp. Hy lyk opreg.

“Ek weet nie of jy al van ons nuwe kliniek gehoor het nie,” sê hy. “Dis eintlik nog ’n geheim. Ek gaan dit vandag by die personeelvergadering aankondig.”

“Ek hét al iets gehoor. Daar loop ’n storie rond oor dié nuwe kliniek in Griekeland.”

Hy skud sy kop meewarig. “Ai tog, dis moeilik om iets geheim te hou. Die kliniek is reeds voltooi, op die eiland Manos. Ons moet natuurlik personeellede aanstel en ek het reeds begin. Jy is een van ons beste dokters en ek het gehoop dat jy jou daar by ons sal wil aansluit. Ek sal min of meer heeltyds daar wees. Die kliniek is nie baie groot nie. Ons wil die inname van pasiënte beperk tot hoogstens tien op ’n slag. Ons akkommodasie vir die personeel is taamlik luuks en die omgewing is mooi. Kom jy soontoe, sal dit vir jou bevordering en ’n hoër salaris beteken.”

Hy kyk in ’n lêer wat bo-op ’n hopie ander lê. “Jy verdien tans ’n redelike salaris, maar as jy daar vir ons wil kom werk, sal ons dit aanpas.” Hy noem ’n bedrag wat haar verstom, bykans dubbel wat sy tans verdien.

Hy hou haar noukeurig dop. Sy voel asof sy onder ’n kollig is.

Sy huiwer egter voordat sy antwoord. Sy wil nie gretig voorkom nie. “Ek werk lekker hier en ek is lief vir Kaapstad. My weduwee-ma woon in Stellenbosch en ons is na aan mekaar. Dit sal vir my moeilik wees om weg te gaan … ”

“Jy sal dikwels gratis met ons vliegtuig heen en weer kan vlieg. Die Nikos Trust het nie net ’n skeepsredery nie, maar drie private vliegtuie en ’n seevliegtuig. Vervoer is dus nie ’n probleem nie. Akkommodasie ook nie. Jou ma sal enige tyd kan kom kuier, as dit die lewe vir jou makliker sal maak.”

“Dis baie tegemoetkomend en vrygewig, dokter Barton.”

“Dis deel van die aas aan my visstok,” skerts hy. “As ek goeie mense wil trek, moet die Nikos Trust ’n teenprestasie lewer. Die eiland kom wel afgesonder voor, maar as deel van ons byvoordele bied ons gratis vervoer. Ons het nie ’n vliegveld op die eiland nie, maar ons seevliegtuig vlieg gereeld en ook op aanvraag heen en weer tussen Manos en Corfu.

“Pasiënte moet natuurlik ook vervoer word. Ons het die soort private kliniek waarheen beroemde mense graag kom, waar hulle afgesonder kan wees en die pers weggehou word. Ons het genoeg sekuriteit.”

Irene huiwer, slaan haar oë fronsend af.

“Jou naam beteken vrede,” hoor sy hom sê. Sy kyk op. “Irene is die naam van die Griekse godin van vrede. Jy bring vrede in mense se gemoed.”

Sy glimlag. “Ek hoop ek kry dit reg. Dit was ook my ouma se naam. Sy was ’n saggeaarde en rustige mens. Nie kort van draad en opvlieënd soos ek nie.”

“Opvlieënd? Jy kom nie so voor nie.”

“Darem nie in my werk nie. Ek kán myself beheer … ”

“Dis goed.”

Hy sit vorentoe en kyk haar so stip aan dat sy voel asof sy deurboor word. Haar lyf is snaaks lam.

“Ek verwag nie dat jy dadelik moet ja sê nie, dokter Basson. Dink na oor my aanbod en laat my weet. Ná die vergadering met die personeel. Daar sal ander mense wees wat graag Grieke­land toe wil gaan.”

Hy staan op, meteens saaklik. Die onderhoud is verby.

“Dankie, ek sien jou by die vergadering.”

“Ja, e … dit was aangenaam om jou te ontmoet.” Sy staan op, bewus dat hy vanweë sy lengte afkyk op haar.

“Ja, ’n groot plesier.”

Sy loop uit, voel dat hy haar agternakyk. Alles is skielik onwerklik. Hier ontmoet sy dié uitsonderlike man wat eintlik lankal haar lewe beheer en dit ingrypend kan verander.

Wil sy Griekeland toe gaan?

Hy het gesê dit is waar hy sal wees.

Wil sy wees waar hy is? Sy dink nie sy het al ooit iemand ontmoet wat so ’n onuitwisbare indruk op haar gemaak het nie. Van nou af gaan sy bewus wees van sy bestaan, naby of ver.

Sy gaan altyd wonder waar hy is en wat hy doen.

• • •

Al die mediese personeel is by die vergadering en hulle luister aandagtig terwyl dokter Barton van die kliniek in Griekeland vertel.

“Die administratiewe personeel is plaaslike mense, dit wil sê Griekse burgers,” sê hy. “Maar ek dink ons behoort ’n internasionale spannetjie psigiaters, sielkundiges en verpleegsters te hê, aangesien ons pasiënte van ander lande gaan kry. Ons het reeds nege aansoeke van potensiële pasiënte wat privaatheid soek, en hulle wissel van Britte tot Grieke tot Amerikaners. Bekendes wil nie hê dat mense moet dink hulle gaan na ’n psigiatriese kliniek omdat hulle uitgehaak het of onoorkomelike afwykings het nie. Ons verwag van al ons personeel, hier en daar oorkant, om uiters diskreet te wees.”

Hy skets die omgewing van die kliniek, die byvoordele en die vooruitsigte so aantreklik dat Irene sien hoe dit belangstelling wek.

“Ons is gelukkig in dié opsig dat ons voorsorg getref het sodat die ekonomiese en politieke probleme waarvan julle in die nuus hoor, ons nie so diep raak nie. Maar ons kan slegs vyf mense van hier af neem. Twee psigiaters, twee sielkundiges en een verpleegster. Ons kry heelwat aansoeke van buitemense en Griekse burgers. Die kliniek in Kaapstad kry nuwe personeellede, mense wat pas gekwalifiseer het. Ons glo in nuwe bloed en mense wat met die jongste neigings en vooruitgang op mediese gebied vertroud is.”

Irene, wat moeite doen om kongresse by te woon, artikels te publiseer en die opskerpopleiding te ondergaan, is oortuig dat dokter Barton weet dat sy haar op hoogte van die jongste verwikkelinge in psigiatrie hou, anders het hy haar nie die pos aangebied nie. Sy wonder of hy reeds aan ander mense poste aangebied het.

Ná die sessie verdwyn dokter Barton, sodat sy nie weer met hom kan praat nie. Die ander mense gesels egter oor hom toe hulle saam tee drink.

“Ek ken dokter Barton al taamlik lank en het nou weer gesien watter indrukwekkende man hy is,” sê dokter Nancy Dewar, wat ’n psigiater met langer diensjare as Irene is. “Hy het my oortuig om aansoek te doen. Ongelukkig werk my man tans in Kaapstad en sal hy nie sy beroep wil opgee om my Griekeland toe te volg nie.”

Die hoofverpleegster, Suzette, kom staan by Irene. “Ek doen aansoek. Het dokter al besluit of jy ook soontoe wil gaan?”

Irene wil nie vertel dat sy ’n aanbod ontvang het nie. Dit klink dalk asof dokter Barton haar voortrek.

“Ek dink nog. Jy weet, Griekeland is ver.”

“Ek oorweeg dit,” hoor sy agter haar en draai om. Roelof Schutte, een van die sielkundiges, staan daar. Hy is ongeveer haar ouderdom, redelik aantreklik en bekwaam, maar hy is eenvoudig nie haar soort man nie, het sy lankal besluit. Hy maak niks in haar wakker nie.

“Ja, doen dan aansoek,” moedig sy aan.

“Wil jy nie ook kom nie? Mens kry meer geld en die byvoordele is fenomenaal.”

Sy draai om, sit haar teekoppie op die tafel neer. “Nee wat, ek bly liewer hier.”

• • •

Irene het pas ’n sessie gehad met die oorlogsverslaggewer wat aan posttraumatiese stres ly. Soos gewoonlik voel sy gedreineer. Hy tap ’n mens se energie en sy dink hy het boonop te verknog geraak aan haar. Die verpleegsters is gaande oor hom, want hy gebruik sy ruwe manlikheid om met hulle te flankeer. Irene weet egter dat hy diep versteurd is en dat hy die een vrou ná die ander gehad en gelos het.

“Ek maak hulle bang,” spot hy. “Hulle soek my lyf, maar ek skree in die nag.”

Sy haal Lindt-sjokolade uit haar laai en breek ’n blokkie af. Dit gee haar energie, glo sy. Eintlik is dit haar verslawing. As sy so gedurig lus kry vir iets wat vet maak, en haar die plesier nie ontsê nie, laat dit haar verstaan hoe mense aan ander goed verslaaf kan wees. As student kon sy nooit geld op sjokolade mors nie. Nou gaan sy oorboord.

Sy maak haar e-pos oop en sien dat daar ’n boodskap van professor Mears is. Terwyl sy die soetigheid geniet en bietjie agteroorsit, maak sy dit oop. Verstik dan amper.

“Ek sien jy het sonder my medewete of toestemming ’n artikel oor posttraumatiese stres in die Medical Journal gepubliseer. Dit grief my werklik dat jy my nie eens daarvan in kennis gestel het nie.”

Woede stoot vuurwarm deur haar wese. Dit is nou wragtig die laaste druppel wat die emmer laat oorloop! Verwag die man dat sy sý toestemming moet vra wanneer sy enigiets wil publiseer? En die artikel gaan nogal oor haar eie pasiënte wat niks met hom te doen het nie!

Tandeknersend antwoord sy. Vandag breek sy bande tussen haar en haar voormalige dosent.

Sy is so verwoed aan die tik dat sy nie hoor hoe iemand aan haar deur klop nie. Toe sy sien, staan die persoon voor haar lessenaar.

“Klop jy nie … ?” bars sy uit, maar skrik toe sy sien dit is dokter Nicholas Barton.

“Jammer, ek hét geklop, maar jy het nie geantwoord nie. Toe kom ek maar in. Ongelukkig is ek haastig terug Griekeland toe. Het jy al besluit of jy die pos wil hê?”

Sy staan op. Hy klink dwingend en kortaf.

“Nee … nog nie … ”

“Ek het reeds twee aansoeke van personeellede hier gekry, en hulle is goed. Ek het net gedink ek gee jou die eerste opsie.”

Hy kyk haar fronsend aan en oorheers die kantoor met sy groot gestalte en persoonlikheid. Sy is gevlei dat hy haar werklik wil hê.

Dié professor Mears het haar nou weer so kwaad gemaak. Dalk moet sy tog nuwe weivelde gaan opsoek en afstand tussen hulle sit. Buitendien is daardie salaris nie te versmaai nie … “Goed, ek neem die pos,” hoor sy haarself sê.

Hy knik tevrede. “Jy sal nie spyt wees nie. Ons tref die reë-lings. Kry jou dinge in orde. Nou moet ek lughawe toe jaag, totsiens eers, dokter Basson.”

Irene kyk hom effens verdwaas agterna. Sy het haar verbind! Sy weet meteens nie of sy jammer of bly is nie. Nee, sy voel regtig gevlei. Maar dit gaan ontwrigting meebring … Sy kom agter dat haar hart aan’t rumoer is. Dié man laat haar dans. Sy, wat nog nooit toegelaat het dat enige man haar manipuleer nie.

Maar Nicholas Barton is nie énige man nie!

Eiland van drome

Подняться наверх