Читать книгу Eiland van drome - Malene Breytenbach - Страница 5
3
ОглавлениеIrene se ma neem haar na Kaapstad Internasionaal. Toe hulle mekaar omhels en soen, is daar trane in albei se oë. Irene moet gaan na waar die Nikos Trust se Lear Jet wag om die passasiers na die eiland Corfu se Ioannis Kapodistrias Internasionale Lughawe te vervoer. Van daar haal hulle ’n vliegtuig van Nikos Sea Lines na Manos wat suidoos van die groot eiland lê. Op Manos is daar ’n hawe waar die seevliegtuig land. Hulle moet deur paspoortbeheer op Corfu gaan. Die reëling van alles, werkpermitte ingesluit, is vinnig en glad deur die Nikos Trust afgehandel.
“Ek hoop jy werk baie lekker daar oorkant, my kind,” sê Lea, en vee haar oë af. Sy glimlag dapper deur haar trane.
“As ek nie daarvan hou nie, kom ek summier terug,” sê Irene wat swaar afskeid neem, al het haar ma belowe om binnekort te kom kuier. Wat haar die meeste pla, is dat haar ma eensaam sal wees en haar sal mis, al het sy ’n groot vriendekring.
“Dis nou hoog tyd dat jy jou van my rokspante losmaak,” probeer haar ma nog terg. “Jy’s mos nou mooi groot.”
Irene wil lag, maar kry dit nie reg nie. “Ja, dis hoog tyd dat ek my vlerke sprei en vlieg. Maar ek sal Mams so mis. Ons sal maar moet skype, dan kan ek Mams alles vertel en wys.”
Sy wuif vir oulaas toe sy haar tas wegsleep. Ondanks die afskeid, sien sy uit na die avontuur. Sy was al in Europa maar nog nie in Griekeland of op enige van die blykbaar wonderlike eilande nie, en sy is nuuskierig om alles te sien.
Toe sy uiteindelik by die Lear Jet aankom, sien sy ’n groepie mense daar staan, op die punt om die trap te bestyg. Daar is Suzette Horn en Roelof Schutte, en Irene is verwonderd toe sy Nancy Dewar ook herken. Benewens hulle vier is daar ’n sielkundige wat sy al ontmoet het, maar nie goed ken nie. Sy weet net sy naam is Lodewyk Seegers.
Iemand kyk by die vliegtuig se deur uit. Nicholas Barton self! Sy het hom nie weer by die kliniek gesien nie en het geglo hy is in Griekeland. Hy kyk rond en verdwyn weer. Die mense begin die trappe klim. Suzette en Roelof wuif vir haar en sy wuif terug.
“Jy’s laat!” roep Roelof. “Jy kan nie die vlug verpas nie, dis spesiaal vir ons gereël. Ons word soos BBP’s behandel.”
“Ons kan bly wees ons vlieg nie ekonomiese klas op Olympic Air nie,” lag Suzette. “Dis so goed of ons vlieg eersteklas. Ek hoop hulle gaan vir ons sjampanje en kaviaar gee. Of minstens lekker Griekse kos.”
Die bemanning is twee mooi Griekse waardinne, ’n loods, navigator en twee manlike kelners. Irene bekyk die binnekant van die vliegtuig. Oral is die Nikos-logo, alles in blou en grys, die Nikos-kleure. Die bemanning dra ook blou uniforms. Aan die agterkant van die binneruim is ’n deel met glasmure afgeskort. Nicholas Barton en ’n vrou sit daar. Dit lyk asof hulle werk, want hulle het rekenaars en fone.
Irene sit langs Suzette en Roelof kom sit naby hulle. Die vliegtuig is ruim en die sitplekke is nie teen mekaar nie. Nancy Dewar en Lodewyk Seegers sit langs mekaar en gesels. Die waardinne neem hulle handbagasie en bêre dit in kaste. Irene bly intens bewus van Nicholas Barton, wat nie te ver van haar af is nie. Hy lyk so besig daar agter sy glasafskorting dat hy glad nie in hulle rigting kyk nie.
“Moet ons die grootbaas gaan groet?” wonder sy hardop.
“Jy kan, maar hy het sy persoonlike assistent by hom en hulle werk nog eenstryk deur,” sê Roelof.
Irene besluit om liewer te bly sit en kyk na die mense in die vliegtuig. Benewens die bemanning en die vyf personeellede van die kliniek, is daar twee mans met donkerbrille.
“Ek dink daardie twee ouens is lyfwagte,” fluister Suzette, wat ook na hulle omkyk. “Mans in pakke met sulke spieëlbrille is gewoonlik lyfwagte of spioene. Onder daai baadjies is spiere en vuurwapens, dink ek. Dis nou ’n ekstra bate om so veiligheidsbewus en in sulke weelde na Griekeland vervoer te word. ’n Ander werkgewer sou ons net saam met die beeste gestuur het. Ek knyp my elke keer wanneer ek aan ons salarisverhogings dink. Ek het uitgewerk, ek sal so baie kan spaar, want ons bly en eet verniet. Ek sal binne ’n jaar ’n windmakermotor kan bekostig.”
“Ek wou vir my ’n meenthuis en nuwe motor gekoop het en ek het gewonder hoe ek alles sal bekostig,” sê Irene. “Nou sal ek genoeg kan spaar om dit reg te kry. My ma het gekla oor ek nog met my ou studentekarretjie rondgery het. Ek het hom nou aan ’n student verkoop vir tienduisend rand.”
Sy kyk vlugtig om na Nancy Dewar, wat diep in gesprek met Lodewyk Seegers is. “Ek het dan gedink dokter Dewar wou of kan nie kom nie omdat haar man nie daarvan sou hou nie.”
Suzette grinnik. “Ek skat sy het haar man tydelik of permanent gelos.”
Irene frons. “Miskien het hy toegestem dat sy maar vir die hoë salaris kom.”
“Gmf, die Dewars is nou nie juis arm nie. Haar man het dan ’n ingenieurspraktyk. Nee wat, ek dink sy’s agter ons aantreklike grootbaas aan. Liewe land, enige vrou sal voor hom swig, maar hy is ’n cool cat. Stel nie in ons gewone ou siele belang nie. Nie dat jy ’n gewone siel is nie, hoor. Ek dink ’n man soos hy sal ’n skatryk, sexy vrou iewers op sleeptou hê. Sy familie en vriende is mos glitterati. Filmsterre en magnate. Hulle is selfs vriende van die Griekse president,” stoom Suzette voort. “Weet jy, ek het gehoor dat ou Georgios Nikos, sy oupa, wat die skeepsredery en vliegtuigrederye en die Nikos Trust begin het, op Nana Mouskouri verlief was. Soos Ari Onassis op Maria Callas. Maar hulle trou blykbaar nie met vroue wat sangloopbane het nie. Hulle het net affairs wat baie aandag trek en dan verlekker hulle hul in die glorie.”
Irene kan nie help om te lag nie. “Jy weet heelwat van dié Grieke af, lyk dit my.”
“Ek maak dit my besigheid om alles uit te vind oor almal wat my pad kruis. Hulle is ’n fassinerende lot, hoor. Ken nie die einde van hulle skatte nie.”
“Hulle is darem filantrope wat hulle medemens help,” merk Irene op. “Dokter Barton kon ’n slapgat pierewaaier gewees het as hy wou, maar ek hoor hy werk baie hard en is goed gekwalifiseer.”
“Hy kon ’n playboy gewees het, ja, maar hy aard seker na sy workaholic oupa en pa. Wat weet dokter van sy agtergrond?”
“Net dat sy ma die dogter is van die Griekse magnaat wat die Nikos Trust begin het, en dat sy pa ’n Engelse psigiater was wat die Southeaster Clinic begin het. Ek weet nie eens of hy broers of susters het nie.”
Suzette kyk haar kastig geskok aan. “Is dit al wat dokter weet? Ek het daai man gegoogle en opgeswot! Kom ek vertel dokter ietsie: Sy ma, Penelope Nikos Barton Jones, ou Georgios Nikos se enigste kind, was met dokter Jeremy Barton getroud. By hom het sy vir George, Maria en Nicholas, ons baas, gehad. Ná Jeremy Barton se dood is Penelope met ene Russel Jones getroud. Hy was ’n kaptein op een van die ou man se veerbote en was glo eers in die Britse Vloot.
“Hulle het ’n seun met die naam Gary wat in sy laat tienerjare is. Ons baas se ouer broer George, wat die kroonprins was, is redelik onlangs in ’n motorongeluk op die Franse Riviera dood. Hý was glo ’n regte pierewaaier en was getroud met Heleni Patsoulas, die Griekse aktrise. Sover ek weet het hulle nie kinders nie. Ons baas se suster, Maria, is getroud met Costa Bravidis wat by kroonprins George oorgeneem het. Bestuur die skeeps- en lugrederye. Die Bravidisse het ook nie kinders nie.
“Nicholas het sy pa, Jeremy Barton, opgevolg en bestuur die klinieke. Die Nikos Trust is ’n moerse groot organisasie met verskeie filiale.”
“Dis ’n mondvol,” glimlag Irene. “Ek sal seker naderhand onthou wie is wie, dit wil sê as ek hulle ooit te sien kry.”
“Die familie bly eintlik op Corfu, hoewel hulle seker oral skilderagtige plekke besit. Dis mos hoe die glitterati lewe. Ek wonder hoe hulle lyk, maar miskien sien ons hulle glad nie. O, Corfu is darem vir jou manjifiek! Ek het dit gegoogle. Die Griekse konings en ou keiser Wilhelm van Duitsland het daar paleise gehad wat nou museums is. Ek wil die eiland so gou moontlik van hoek tot kant gaan bekyk.”
“Ek het Corfu ook gegoogle en wil dit net so graag sien. Ons kan daar gaan rondloop sodra ons verlof kry.”
Roelof Schutte, wat hulle gesprek gevolg het, sê nou: “Ek het al deur Corfu getoer. Ek sal julle enige tyd soontoe vergesel.”
Suzette sê soetjies: “Haai, dis gaaf van jou.”
Die deure is toe, almal se sitplekgordels is vas en die personeel kondig aan dat hulle gaan opstyg. Irene geniet die dreuning, die snelheid van die vliegtuig, die opstyg self. Deur die venster kyk sy af op Kaapstad en Tafelberg wat klein word en agtergelaat word.
“Totsiens, ou berg,” sê sy hardop.
Toe hulle hul veiligheidsgordels kan losmaak, kom die kelners bestellings neem.
“Julle kan enige drankie bestel en ons het spyskaarte waarvan julle etes kan kies,” sê die een wat by Irene en Suzette kom staan. “Roep ons enige tyd. Ons is nie soos die gewone vliegtuie waar verversings net sekere tye bedien word nie. Julle kan vir my of waardin Kiri roep. Ek is Savvas. Die ander waardin en kelner sorg net vir dokter Barton en sy P.A.”
Irene en Suzette bestel witwyn en quiche en Irene kyk diskreet na Nicholas Barton se kant om te sien wat daar aangaan. Sy private assistent is ’n vrou in haar dertigs. Sy is nie onaansienlik nie en lyk bekwaam. Hulle word deur die ander kelner en waardin bedien. Irene kyk na hulle lyftaal en gesigsuitdrukkings wanneer hulle met Nicholas Barton praat. Almal om hom lyk so onderdanig. Hy klap sy vingers en hulle skarrel. Maar hy is darem die werkgewer en baas. Hy verwag natuurlik dat almal sal luister en doen wat hy vra.
Hy het háár ook getoor.
Wel, sy gaan professioneel wees en haar werk goed doen. Maar een ding is seker, sy gaan beslis nie so kruiperig onderdanig soos sy ander personeellede wees nie. Dis nie hoe sy is nie. As hy nie gedink het sy is ’n waardevolle toevoeging tot sy nuwe kliniek se personeel nie, sou hy nie so aangedring dat sy kom nie. Sy is sy intellektuele gelyke al was sy nooit so ryk en bevoorreg soos hy nie. Sy moes hard werk vir wat sy bereik het. Hy is met die goue lepel in die mond gebore.
Sowat ’n uur later kom Nicholas Barton en sy assistent uit hulle afskorting om met Irene-hulle te kom praat. Irene is weer bewus van sy sterk teenwoordigheid en hoe aantreklik hy is in sy blou langbroek en spierwit hemp. Hy kyk glimlaggend van die een na die ander, sy donker oë priemend en helder.
“Welkom, mense,” groet hy. “Julle is ’n uitgesoekte klomp. Die Nikos Trust is baie bly dat julle bereid is om in Griekeland te kom werk.”
Irene kyk van hom na die assistent wat langs hom staan. Die vrou is besig om hulle een vir een te ontleed en dit lyk of haar oë skreef toe sy na Irene kyk. Dit skep nie ’n vriendelike indruk nie. Irene vermoed die assistent is die doeltreffende supervrou wat hulle werkpermitte en alles wat daarmee saamgaan, so gou gereël gekry het.
“Laat ek julle voorstel,” sê Nicholas Barton. “Maritsa Papas is my regterhand en sy sal julle met enigiets help. Vra net.” Hy stel hulle elkeen voor en sy groet glimlaggend, hoewel dit gedwonge lyk.
“Daar agter is twee skimme,” sê hy, en beduie na die twee fris mans met donkerbrille. “Julle hoef net te weet dat hulle Spiros, links, en Yannis, regs, is. Hulle moet ongelukkig my skaduwees wees en is so goed opgelei dat niemand met hulle durf mors of handgemeen raak nie. Hulle is ook daar vir julle beskerming.”
Die mans groet net met handgebare.
“Ons land op Corfu, soos julle weet. Daarna word ons reguit na die hawe vervoer waar ons die seevliegtuig kry wat ons na Manos neem. Daar sal nie nou tyd wees vir toer en besigtiging nie, maar julle sal genoeg verlof kry en vervoer hê om dit later te doen. Is daar enige vrae?”
“Ek wil net van iets seker maak,” sê Suzette. “Ons kry mos elkeen ’n eie woonstel by die kliniek, nie waar nie?”
“Ja, en hopelik hou julle daarvan,” glimlag Nicholas Barton. “Die plek is goed toegerus en die tuine word al mooi.”
“Bly dokter ook daar?” vra sy.
Sy glimlag verdwyn. “Nee, ek het ’n huis aan die teenoorgestelde kant van die eiland, met my eie strand en hawe. Die eiland is klein. Ek kom die meeste dae na die kliniek. As daar enige krisis ná ure is, kan ek binne minute daar wees.”
Dit klink nie so nie, maar eintlik is hulle afgesonder, vasgekeer op die eiland, besef Irene, en frons. Sy twyfel of hulle die eiland sommer enige tyd sal kan verlaat. Skielik pla dit haar.
“Is iets verkeerd, dokter Basson?” wil Nicholas Barton dadelik weet en sy swart oë kyk stip, bykans streng, na haar.
“Nee, niks nie, dokter Barton.” Sy glimlag. “In elk geval, nog nie.”
Sy swart wenkbroue lig.