Читать книгу Ryker as Dawid - Maretha Maartens - Страница 11

Оглавление

Psalm 4

’n Aandlied

1. VIR die musiekleier; met snaarinstrumente. ’n Psalm van Dawid.

2. As ek roep, verhoor my, o God van my geregtigheid! In benoudheid het U vir my ruimte gemaak; wees my genadig, en hoor my gebed!

3. O Manne, hoe lank sal my eer tot skande wees? Hoe lank sal julle die nietigheid liefhê, die leuen soek? Sela.

4. Weet tog dat die HERE vir Hom ’n gunsgenoot afgesonder het; die HERE hoor as ek Hom aanroep.

5. Sidder, en moenie sondig nie; spreek in julle hart op julle bed, en wees stil. Sela.

6. Offer offerandes van geregtigheid en vertrou op die HERE.

7. Baie sê: Wie sal ons die goeie laat sien? Verhef oor ons die lig van u aangesig, o HERE!

8. Groter vreugde het U in my hart gegee as wanneer hulle koring en hulle mos oorvloedig is.

9. Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o HERE, alleen laat my in veiligheid woon.

Ryker as Dawid

• Langs Dawid, wat homself met al sy probleme vir die nag in geloof oorgee aan die beskerming van die God wat hy nog nooit gesien het nie, sing ook óns ons aandlied voor die hoë God wat ons sy kinders gemaak het.

• Langs Dawid, wat in die geloof aanvaar dat God aan sy kant is, kniel óns wat gesien het dat God vir ons is. Aan óns het die hoë God die geheimenis van die eeue onthul: Jesus Christus is God met ons, Hy is ons hoop op die heerlikheid van die toekomstige werklikheid.25

Aandlied van die verlostes

1. Vir die leiers van die kore van die Kerk,

met musiekinstrumente wat aan God gewy is.

2. Hoë God, vir wie ons Abba, dit is Vader,26 mag sê,

Gewer van die Gesalfde wat Homself vir ons sondes gegee het

om ons uit hierdie goddelose wêreld te verlos

sodat ons u wil kan doen en in die blydskap daarvan kan leef.27

Ons het deur die bloed van die Seun vrye toegang tot die heiligdom,

pelgrims op die nuwe weg wat na die lewe lei.28

Weer daal die nag om aardse dag van aardse dag te skei

en ons is in die wydte en ruimte, in die hoogte en diepte

van ’n liefde wat ons verstand te bowe gaan.29

3. Vader, ek ken die sinlose bestaan van haat en verset.

Voorheen was ook ek onverstandig, ongehoorsaam, dwalend,

vasgevang in die begeertes van die vlees.

Ek was daar: In my haatlikheid het ek gehaat.

Kwaadwilligheid en jaloesie was my bestaan.

Sela. Word stil, my siel, en onthou waarvandaan jy uitgeval het.

4–6. Ek het u genade in my onverdienstelikheid ontvang,

slegs op grond van wat U U voorgeneem het om te doen.30

Die profesie van Abraham is ook vir my vervul:

“God sal sy eie offerlam voorsien.”31

Sela. Word stil, my siel, en onthou waarvandaan jy uitgeval het.

En nou sal hierdie nag lig wees soos dag.

Niemand wat in Jesus Christus glo,

word ooit teleurgestel nie.32

God van ontferming, maak my ’n getuie daarvan.

7. Daar is niks om voor te leef nie, sê tienduisende:

geen vreugde, hoop of toekoms nie.

8. My God, in die diep donker van die nag fluister ek u Woord:

Wat die oog nie gesien, die oor nie gehoor

en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie,

gee U vir dié wat U liefhet.33

9. Ek gaan die rus van die liggaam in,

vreesloos in die dieper rus van u guns.

En voordat ek alles hier nogmaals kortstondig agterlaat

asof in ’n skadutog van my siel se hemelvaart,

besing ek die lof van U in Wie ek leef:

“Heilig, heilig, heilig is die Here God,

“die Almagtige,

“Hy wat was en wat is en wat kom.”34

Besprekingsvrae

1. Wat het jy gehoop om in dié psalm te kry?

2. Wat het jy verwag om in dié psalm te vind?

3. Hoe is die Ou-Testamentiese mens volgens dié psalm? Waarom sê jy so? Is ons nog so?

4. Wat (kan) verander wanneer ons in Christus is? Hoe en hoekom sê jy so?

5. Wat het God nou vir jou deur sy Woord aangaande Homself openbaar?

6. Wat wil jy vir die Here sê?

25. Kolossense 1:24–27

26. Romeine 8:15

27. Galasiërs 1:3–5

28. Hebreërs 10:19–20

29. Efesiërs 3:18–19

30. Titus 3:4–5

31. Genesis 22:6–14

32. Romeine 10:11

33. 1 Korintiërs 2:9

34. Openbaring 4:8

Ryker as Dawid

Подняться наверх