Читать книгу Ryker as Dawid - Maretha Maartens - Страница 6

Оглавление

Sewe opmerkings

Hierdie opmerkings is bedoel vir dié wat Ryker as Dawid as ’n handleiding vir ’n Bybelstudie- of selgroep wil aanwend.

1 Daar is psalms en daar is Nuwe-Testamentiese Skrif

In Ryker as Dawid vind jy Ou-Testamentiese psalms (nogal voor die hand liggend!) met Nuwe-Testamentiese Skrif daarby.

2 Daar is onderafdelings in die Ou-Testamentiese psalms

In elke Ou-Testamentiese psalm is daar onderafdelings aangebring. Dié onderafdelings laat jou regtig verstaan waaroor die psalm gaan.

In elke klaagpsalm is daar byvoorbeeld ’n minimum van vyf onderafdelings. Dit wys die Ou-Testamentiese geestelike dissipline uit waardeur ’n gelowige van die duisternis na die lig, van radeloosheid na sekerheid beweeg. Daar is baie klaagpsalms in die boek Psalms … jy en jou groep gaan ook ontdek hoe om triomfantelik in die geloof te leef!

3 Daar is baie Skrifverwysings

Die inskrywings in die Nuwe Testament-segment van elke hoofstuk kan in die vorm van ’n gebed wees. Soms is dit ’n teks-vir-teks-uitwysing van die vervulling van Ou-Testamentiese beloftes. Daar is geen vaste vorm nie, maar daar is altyd Skrifverwysings, hetsy in die voetnote of ná ’n versreël of bede. Alles gaan oor daardie Skrifgedeeltes. Slaan hulle na. Lees hulle. Laat dié Skrifgedeeltes die grondslag en die kern van jul Bybelstudiegeleentheid wees.

4 Daar is eenheid

Ryker as Dawid is ’n studieboek oor één God, één Woord, één verbond. Hierin herontdek jy die Ou Testament en die Nuwe Testament as één geskiedenis van God se liefde en trou.

5 Daar is tussenhoofstukke

Tussen die psalms is daar tussenhoofstukke. Jy sal hoofstukke in die reeks vind oor die verbond, die Naam van die Here, Bybelse feeste, ensovoorts. Daar is ook hoofstukke oor argeologiese ontdekkings wat vir sommige gelowiges baie opwindend kan wees.

Die tussenhoofstukke werp lig op die inhoud en die agtergrond van ’n spesifieke psalm of groep psalms. Ons beveel die tussenhoofstukke vir dieptestudie aan.

6 Daar is een lewensveranderende tussenhoofstuk

Ons dink die inhoud van die tussenhoofstuk “Een Woord” tussen Psalm 5 en Psalm 6, is lewensveranderend, dat jy en jou groep daardeur oorweldig sal word, en dat julle God ná die deurwerk daarvan met groter verwondering en dankbaarheid sal aanbid.

7 Daar is feite oor God en oor jou in die psalms

Die waarheid van God is groter as enigiets wat die mens kan bedink.

Ryker as Dawid

Подняться наверх