Читать книгу Ryker as Dawid - Maretha Maartens - Страница 12

Оглавление

Psalm 5

Dawid roep God teen dagbreek aan en verewig sy ervaring in ’n lied wat deur die Levitiese koorsangers gesing word.

Psalm 5: Gebed by die môre-offer

1. VIR die musiekleier; met fluite. ’n Psalm van Dawid.

Dawid vra dat God hom goedgesind sal wees

2. O HERE, luister na my woorde, let op my versugting.

3. Gee ag op die stem van my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek.

4. In die môre, HERE, sal U my stem hoor; in die môre sal ek dit aan U voorlê en afwag.

Hoe God is

5. Want U is nie ’n God wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie.

6. Die onsinniges sal voor u oë nie standhou nie; U haat al die werkers van ongeregtigheid.

7. U sal die leuensprekers laat omkom; van die man van bloed en bedrog het die HERE ’n afsku.

Wat God doen vir dié wat aan Hom behoort

8. Maar ek, deur die grootheid van u goedertierenheid mag ek in u huis ingaan, my buig na u heilige tempel, in u vrees.

9. HERE, lei my in u geregtigheid om my vyande ontwil; maak u weg voor my reg.

Die stryd van ’n Ou-Testamentiese gelowige tussen teëstanders

10. Want in hulle mond is niks betroubaars nie; hulle binneste bring onheil; hulle keel is ’n oop graf; hulle maak hul tong glad.

Versugtinge van ’n beleërde Ou-Testamentiese gelowige

11. Verklaar hulle skuldig, o God! Laat hulle val deur hul planne; dryf hulle weg oor die menigte van hul oortredinge, want hulle is wederstrewig teen U.

Dawid besef hy is ryk in God en sy blydskap is oor God en in God

12. Maar laat húlle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel, en beskut U hulle; en laat in U juig die wat u Naam liefhet.

13. Want U seën die regverdige, o HERE, U omring hom met welbehae soos met ’n skild.

Môre-offer van dié wat in Christus is

En ’n ander engel het gekom en met ’n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê; en die rook van die reukwerk het met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgegaan voor God (Op 8:3–4).

1. Vir die koorleiers van die Kerk, met musiekinstrumente wat aan God gewy is

Nou is ons vrye toegang tot God gegee

2. O God wat in ontoeganklike lig woon, die Onsienlike, verhewe bo alle konings, magtiger as elkeen wat ooit sal regeer,35 ek is vanoggend deur die bloed van Jesus, deur die voorhangsel heen – dit is sy gekruisigde liggaam – tot hier by U gebring.36

3. Hoe sal ek, soos die hemelwesens, op my aangesig voor U,

Godstaal met U, die Heilige, kan praat?

U voorsien Hom wat my bystaan; u Gees hou my in u teenwoordigheid vas

En tree vir my in met versugtinge wat nie in mensetaal bestaan nie.37

4. Soos Jesus Christus wat my Syne gemaak het

het ek met ligdag opgestaan en buitentoe gekom, alleen,

om alleen met U te wees.38 U is Gees. Deur die Gees aanbid ek U.39

U Gees lei my in die volle waarheid aangaande u Seun

en aangaande die dinge wat gaan kom.40

U is God

5. Heilig, heilig, heilig is U, Here God, die Almagtige,

U wat was en wat is en wat kom.41

Met my ou natuur, beset en bewoon deur drifte wat vrugte van die dood dra,42

was daar eens vir my geen plek by U gewees nie.

Wanneer U hoog bo die opgeefsels en gedruis verskyn –

die skuilplek en woonplek van die dwaas43

sal dié wat daarin is, voor U beswyk.

Wat God doen vir dié wat in Christus is

8. Maar ek verskyn met Christus beklee voor U, die Heilige.44

U wat ’n woord gespreek het, en daar was lig,

het ook lig in my hart gespreek en my verlig

met die kennis van u heerlikheid wat van Jesus Christus uitstraal.

9. Ek, die draer van hierdie skat, is ’n kleipot wat maklik breek:

Die krag wat sterker as my vlees en elke aanslag is,

kom van U, my God, nie van mense nie.45

Die lewe in die tyd voordat die Here kom

10. In hierdie laaste dae sal die afvalligheid en misleiding geweldig wees.46

11. HERE47, laat my bly by wat ek geleer het en wat ek vas glo.48

Maak my ’n draer van die boodskap van versoening

wat U aan ons toevertrou het:

dat U die wêreld deur Christus met Uself versoen het

en dié vryspreek wat in die HERE49 glo.

Ons blydskap is Christus, ons rykdom die genade van God

12. Laat daar blydskap straal uit ons wat in Jesus Christus is;

laat dié wat deur die bloed van die Lam gewas is, van Hom getuig

en laat dié wat die Naam van Jesus liefhet, oor Hom juig.

13. U seën dié wat die Seun eer, HERE. Elkeen van hulle leef in u genade.

Besprekingsvrae

1. Wat het jy gehoop om in dié psalm te kry?

2. Wat het jy verwag om in dié psalm te vind?

3. Hoe is die Ou-Testamentiese mens volgens dié psalm? Waarom sê jy so? Is ons nog so?

4. Wat (kan) verander wanneer ons in Christus is? Hoe en hoekom sê jy so?

5. Wat het God nou vir jou deur sy Woord aangaande Homself openbaar?

6. Wat wil jy vir die Here sê?

35. 1 Timoteus 6:15–16

36. Hebreërs 10:19–20

37. Romeine 8:26–27

38. Markus 1:35

39. Johannes 4:24

40. Johannes 16:13

41. Openbaring 4:8

42. Romeine 7:5

43. Lukas 12:19–21

44. Galasiërs 3:26–27

45. 2 Korintiërs 4:6, 7

46. 2 Timoteus 3:1–5

47. In “Josef die timmerman” is die frase “die timmerman” ’n bystelling of apposisie tot die naam Josef. In “Adonai Jehôvâh” is die “Adonai” (Oppermagtige), ’n bystelling of apposisie tot die Godsnaam Jehôvâh. Die Godsnaam met hierdie bystelling word in Afrikaans geskryf as “Here HERE” en in Engels as “Lord God”, “Almighty LORD” of “LORD All-Powerful”. God se heilige Naam (HERE in Afrikaans en LORD in Engels) word in hoofletters geskryf. Die apposisie tot Adonai (Here in Afrikaans) word met ’n hoofletter en verder kleinletters geskryf.

48. 2 Timoteus 3:14–17

49. 2 Korintiërs 5:17–19

Ryker as Dawid

Подняться наверх