Читать книгу Ryker as Dawid - Maretha Maartens - Страница 8
ОглавлениеPsalm 1
Die twee weë
1. WELGELUKSALIG is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;
2. maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.
3. En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.
4. So is die goddelose mense nie, maar soos kaf wat die wind verstrooi.
5. Daarom sal die goddelose nie bestaan in die oordeel en die sondaars in die vergadering van die regverdiges nie.
6. Want die HERE ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan.
Ryker as die Psalmskrywer
• Langs Psalm 1 galm nou ook die blye boodskap aangaande Jesus Christus: “[D]ie Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (Joh 1:14).
• Langs die wete van die psalmis dat elke mens sy/haar eie heil uitwerk deur die keuses wat hy/sy gedurigdeur maak, staan Jesus Christus met God se heilsboodskap aan die hele mensdom: Jou heil, jou lewe, die waarheid wat jy soek, jou lewensin, jou redding, jou hoop en jou veiligheid is ’n Persoon. Jesus Christus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh 14:6, 1983-vertaling).
Jesus Christus is die weg wat na die lewe lei
1. Geseënd is jy wat in Jesus Christus glo
want God het jou uit genade gered.1
En omdat jy in Christus is, het alles – die bron van jou wysheid,
jou denke en jou verhoudings – nuut geword.2
2. Hoe lief het jy die Woord van God,
want dit is die kennis tot geloof in Jesus Christus.3
Hoe ononderhandelbaar en suiwer
is die groot gebod vir jou: om God bo alles lief te hê
en jou medemens so lief soos jouself.4
3. Jesus Christus sê: “Wie in My [as die Wingerdstok] bly, en Ek in hom,
hy dra veel vrug; want sonder My
kan julle niks doen nie.”5
4. Jesus Christus het in ’n liggaam soos ons s’n na die wêreld gekom –
God uit God, Lig uit Lig, Een met die Vader –
en sy eie mense het teen Hom as die Verlosser gekies.6
5. Hoor tog, skuldbelaaide, uitgeputte mens:
God het sy Seun nie na ons wêreld gestuur
om die mense van die aarde te veroordeel nie,
maar sodat verlorenes deur Hom gered kan word.
Hy wat in Jesus Christus glo, word nie veroordeel nie;
maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel
omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.7
6. Niks in die heelal is vir God onsigbaar nie.
Alles lê oop en bloot voor Hom aan Wie ons rekenskap sal moet gee.8
Medereisiger deur die aardse landskap,
Jesus het die blye boodskap van God vir ons gebring:
“Die koninkryk van God het naby gekom.
Bekeer julle! Glo die boodskap van genade en redding.
In die hemel sal daar groter blydskap wees
oor een sondaar wat hom bekeer,
as oor nege en negentig mense wat reg doen
(die voorskrifte van die Wet nakom)
en (in die dwase illusie verkeer dat hulle wat soveel goeie dinge doen)
nie bekering nodig het nie.”9
Langs Psalm 1 staan Jesus Christus.
Die weg is ’n Persoon.
Besprekingsvrae
1. Wat het jy gehoop om in dié psalm te kry?
2. Wat het jy verwag om in dié psalm te vind?
3. Hoe is die Ou-Testamentiese mens volgens dié psalm? Waarom sê jy so? Is ons nog so?
4. Wat (kan) verander wanneer ons in Christus is? Hoe en hoekom sê jy so?
5. Wat het God nou vir jou deur sy Woord aangaande Homself openbaar?
6. Wat wil jy vir die Here sê?
1. Efesiërs 2:8
2. 2 Korintiërs 5:17
3. 2 Timoteus 3:15
4. Matteus 22:37–40
5. Johannes 15:5
6. Johannes 1:1, 11
7. Johannes 3:17, 18 (1983-vertaling)
8. Hebreërs 4:13 (1983-vertaling)
9. Lukas 15:1–7